Baie van ons het die afgelope tyd ’n baie hoër vlak van fisiese isolasie beleef as wat ons nog ooit tevore ervaar het en boonop vir ’n langdurige periode, omdat die regerings se inperkings gedurende die piek van die COVID-19-pandemie, soveel as ’n derde van die wêreldbevolking geraak het. Diegene wat egter in die uithoeke van die aarde woon, het dalk in ’n mindere mate die verskil opgemerk. In yl bevolkte gebiede waar dit is, kan mense die meeste van die tyd afgesonder wees van mekaar en “sosiaal verwyderd” wees van vriende, bure en familielede.

Hierdie tydskrif het intekenare in afgeleë wêrelddele, waaronder sommige van hulle in streke noord van die Noordpool-sirkel woon. In hierdie uitgawe wil ons lig werp op die lewe van een van ons intekenare wat in so ’n streek woon.

Die perspektief van ’n verafgeleë intekenaar

Gjoa Haven is ’n klein dorpie met minder as 1,200 lede van die Inuit-stam in die noordelike gebied van Nunavut. Dit is geleë binne die Arktiese Sirkel – nader aan die Noordpool (minder as 2,400 km) as aan die Kanadese hoofstad Ottawa. Die dorp het ’n gemiddelde daaglikse temperatuur van net 6,1° Fahrenheit (-14,4° Celsius). Om dit in ’n duideliker, ysige perspektief te plaas: Die gemiddelde jaarlikse reënval in Gjoa Haven is net 3 duim (7,8 cm), terwyl die gemiddelde jaarlikse sneeuval 51 duim (130 cm) is!

Die plaaslike taal is Inuktitut en die Inuïte noem hierdie plek Uqsuqtuuq wat beteken “’n groot hoeveelheid vet”, vanweë die magdom van see-soogdiere in die streek. Die Engelse naam vir die gemeenskap verwys na hulle geskiedkundige rol in Roald Amundsen se ontdekking van die “Northwest Passage” (see “Gjoa Haven, Nunavut”, in the November-December 2017 issue of the Tommorow’s World magazine). Gjoa was die naam van Amundsen se skip. Die manne op hierdie ekspedisie het twee winters in hierdie streek deurgebring en het interaksie met die plaaslike Inuit-bevolking gehad en van hulle geleer.

Adam Hatkaitok is gebore en het grootgeword in Gjoa Haven. Hy lees en bestudeer die Engelse uitgawe van die Wêreld van Môre al vir ’n aantal jare. Ons het ’n onderhoud met hom gevoer oor die lewe in so ’n geïsoleerde streek en hoe hy met ons publikasie in aanraking gekom het.

Wêreld van Môre (WVM): Hoe was dit om in Gjoa Haven groot te word?

Adam Hatkaitok (AH): Wel, die eerste antwoord wat ek vir u kan gee is: “nogal koud”, maar dit is in die haak. Ons kan die isolasie hanteer. Wanneer ’n mens al so lank in die noorde woon, word die koue soort van pret, soos om in die sneeu te speel wanneer ’n mens grootword. Die meeste skoolwerk is basies dieselfde as in enige ander plek in Kanada, hoewel skole tans gesluit is weens COVID-19.

WVM: Voel u afgesonder van die res van die wêreld of het die afstand nie ’n uitwerking op u nie?

AH: As gemeenskap ken ons almal mekaar baie goed, daarom is ons bymekaar betrokke. Is ons egter afgesonder van die wêreld? Ja, ons voel dit baie duidelik. Wanneer ons vir mediese redes reis, beskou die meeste mense dit as iets opwindends en onderneem hulle die reis met vreugde.

WVM: Selfs al het hulle ’n gesondheidsprobleem, is hulle stééds opgewonde om vir ’n kort rukkie buite die gemeenskap te reis?

AH: O ja, verseker!

WVM: Het die reaksie op COVID-19 u of u gemeenskap beïnvloed? Is dit ’n voordeel om tydens hierdie krisis geïsoleerd te wees?

AH: Vir die eerste keer in Nunavut se geskiedenis bestel mense hulle kruideniersware aanlyn. Nunavut is een van die laaste plekke in die wêreld wat geen gevalle van COVID-19 het nie.

WVM: Indien u geen gevalle in die dorp het nie en van buitestaanders afgesluit is, waarom is dit dan nodig om enigiets te verander?

AH: Hulle wil COVID-19 uit die Nunavut-gebied hou omdat ons geen hospitale of dokters in die meeste gemeenskappe het nie – ons het verpleegsters en plaaslike gesondheidsklinieke. Indien dit Nunavut wél sou raak, sal dit ’n baie negatiewe uitwerking op ons gemeenskappe hê, want daar is baie mense met asemhalingsiektes.

WVM: Hoe het u gemeenskap verander sedert u jonk was of is dinge nog dieselfde?

AH: Daar was geringe veranderings. Wel, die huidige dwelmaktiwiteit – kinders onder die ouderdom van twaalf jaar, begin dagga gebruik. Sommige kinders gaan nie skool toe nie. Dit is waarskynlik een van die grootste probleme, asook ’n algemene gebrek aan respek wat in die gemeenskap die rondte doen en wat nou ernstig geword het.

WVM: Waarom dink u, is dit besig om te gebeur?

AH: Ek kan slegs die vinger wys na sosiale media. Almal hier is deesdae versot op die Internet, kletsrym musiek en soortgelyke dinge. In my jong dae was ek toegelaat om na die musiek te luister waarvan ek gehou het, maar ek mag nooit ooit hulle voorbeelde gevolg het nie. Selfs films en TV-reekse – ons was toegelaat om daarna te kyk, maar mag ook nooit húlle voorbeeld gevolg het nie. Ek dink egter die probleem is deesdae wêreldwyd. Ons sien baie van die jeugdiges wat na hierdie dinge kyk en luister en in sommige gevalle dit op hulleself van toepassing maak. Die jeug het nog steeds baie respek vir die ouer garde. Daar word net sóveel geduld voordat hulle moet luister na wat ouer mense sê. Wanneer die ouers of selfs grootouers agterkom dat die jong mense gemeen is met mekaar, sal hulle gaan sit en met hulle praat en hulle [die jeug] sal ag slaan op hulle raad.

WVM: Hoe lank is u al ’n intekenaar op die Engelse weergawe van die Wêreld van Môre en hoe het u die eerste keer van ons gehoor?

AH: Wel, dit het soort van begin toe ek klein was. Ek het na die radio geluister en het hierdie man met die naam, Herbert W. Armstrong, gehoor en hy het iets gesê oor ’n komende Koninkryk. Daar was heruitsendings op die plaaslike radio – soos byvoorbeeld waar hulle musiek en onderhoude uit jare gelede speel. Daarna [in 2010] het ek Roderick C. Meredith op VisionTV gesien en dit is hoe ek aandag daaraan begin gee het. Ek het geen idee gehad van die verband tussen hulle totdat ek meer ondersoek ingestel het na die Tomorrow’s World program nie. Alles, van aanlynmateriaal, boekies asook die tydskrif – dít was toe ek besef het dat mnr. Meredith nóu met mnr. Armstrong saamgewerk het.

WVM: Indien u tydens hierdie COVID-19-krisis ’n boodskap aan die Wêreld van Môre-intekenaars kan stuur, wat sou u sê?

AH: Wel, ek het soveel jare in isolasie geleef dat ek beslis kan sê dat ons aanpasbaar is. Ons kán aanpas. Dit lyk na ’n lang tyd, maar ek leef in isolasie en is nog steeds by my volle positiewe. Vir diegene wat deur hierdie moeilike tye gaan, kan ek sê dat dit op sekere maniere ’n seën kan wees, omdat ’n mens byvoorbeeld meer tyd met die gesin kan deurbring.

’n Volgehoue missie

Ons dank aan mnr. Hatkaitok dat hy tyd aan ons afgestaan het om sy interessante perspektief met ons lesers te deel!

Herbert W. Armstrong, ons voorganger in hierdie werk, het vanaf die vroeë dertigerjare oor die radio uitgesaai waarna hy na televisie uitgebrei het voor sy dood in 1986 en het die verste uithoeke van die wêreld bereik met die tydskrif, Plain Truth. Ons gaan voort met die Werk, deur hierdie publikasie en ander Wêreld van Môre-media en deur te preek en onderrig te gee oor die komende Koninkryk van God. Dit is die Goeie Nuus, die boodskap wat Jesus Christus aan Sy Kerk gegee het om onder al die nasies van die wêreld te versprei tot en met Sy Wederkoms.