Baie van u het die rolprent, The Perfect Storm gesien, wat in 2000 vrygestel is en waarin die sameloop van die uiterste ongunstige weersomstandighede aan die noordkus van Noord-Amerika in 1991 uitgebeeld word. Dit het meer as $200 miljoen se skade veroorsaak en golwe veroorsaak wat ’n rekordhoogte van 30,7 meter (ongeveer 101 voet) bereik het langs die kus van Nieu-Skotland. Vandag is die term “perfekte storm”, in die hoofstroom woordeskat opgeneem, wat gebruik word om ’n dinamiese sameloop van gebeure te beskryf wat, indien dit gelyktydig plaasvind, baie erger gevolge meebring as wat die individuele gebeurtenis sélf sou veroorsaak.

’n Ander term wat ons deesdae hoor, is swart swaan”. Soos Investopedia.com verduidelik, word die term gebruik om “’n onvoorspelbare gebeurtenis te beskryf met meer verreikende gevolge as wat normaalweg van ’n situasie verwag sou word en wat potensieel ernstige gevolge kan hê. Swart swaan-gebeurtenisse [Black Swan] word gekenmerk deur hulle uiterste seldsaamheid, hulle hewige impak en die wydverspreide aandrang agterna dat dit definitief duidelik aan die kom was”.

Die jaar 2020 het die sameloop van ’n verskeidenheid lewensveranderende omstandighede en ’n baie buitengewone gebeurtenis beleef. Neem die volgende in oënskou.

’n Perfekte storm skeur die Europese Unie

Ons hier by die Wêreld van Môre, voorspel lank reeds – in teenstelling met gesaghebbendes en konvensionele wysheid – dat die Verenigde Koninkryk uiteindelik die Europese Unie sal verlaat. Het ons dit geweet omdat ons slimmer was? Beslis nie. Ons het dit verstaan op grond van die Bybel se profesieë. Om dieselfde rede het ons die ineenstorting van die Ystergordyn voorsien – dit moes gebeur sodat profesie vervul kon word. Net soos Brexit, het die val van die Berlynse muur in 1989 redelik vinnig gebeur – oor ’n tydperk van slegs ’n paar maande. Elke gebeurtenis het die wêreld geskok, maar diegene wat die Bybel verstaan, was nie geskok nie.

Die Europese Unie het Brexit nie sien kom nie. Hulle het nie geglo dat die Britte dit sou doen nie! Selfs baie mense in die VK kon dit nie sien aankom nie. David Cameron het die belofte nagekom wat hy gedurende sy veldtog gemaak het, naamlik om ’n referendum uit te roep om te bepaal of die Britte in die Europese Unie behoort te bly of dit te verlaat. Dit was ’n waagstuk wat hy gedink het hy kan wen.

Op 23 Junie 2016, die dag van die stemming, was ek in Brussel en dit het gelyk of die waagstuk suksesvol sou wees. Twee van die mees vooraanstaande leiers van die “uittree”-faksie, die immer uitgesproke Nigel Farage en die flambojante Boris Johnson, het daardie aand op televisie toegegee dat, hoewel hulle hul bes gedoen het, hulle nie sou slaag nie. Die volgende oggend, tot almal se verbasing, het ons verneem dat die Britte gedoen het wat niemand gedink het hulle ooit sou doen nie: Hulle het gestem om die EU te verlaat.

Brexit het die Europese Unie tot in sy fondamente geskud. Slegs diegene wat Bybelprofesie verstaan, was nie geskok nie. Verbaas, ja, maar nie geskok nie, want selfs wanneer ’n mens verwag dat iets sal gebeur, kan dit soms nog steeds ’n verrassing wees wanneer dit wél gebeur. Ons boekies Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? en Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of Werklikheid? verduidelik waarop hierdie verwagting gebaseer is.

Noudat die Britte uitgetree het, wie anders mag dalk ook die EU verlaat – veral met soveel ontevredenheid onder die burgers van verskeie lande? Referendums en meningspeilings dui daarop dat die burgers van ’n toenemende aantal EU-lande verkies om die EU te verlaat.

Toe kom die onverwagte swart swaan te voorskyn. Indien die Europeërs, Brexit nie sien kom het nie, was hulle selfs nog minder bewus van COVID-19 wat aan die kom was, selfs al was daar baie stemme – met inbegrip van ons eie hier by die Wêreld van Môre – wat gewaarsku het dat ’n ontwrigtende siekte-uitbreking nie net ’n kwessie van of is nie, maar van wanneer. Indien Brexit die kontinent uitmekaar geskeur het, het hierdie mikroskopiese vyand dit byna heeltemal verpletter toe paniek ingetree het en dit “elkeen vir homself” geword het.

Die Financial Times het Emmanuel Macron aangehaal toe hy die situasie in Europa “’n oomblik van waarheid” genoem het. Na ’n onderhoud op 17 April 2020 met die Franse president, is daar in die koerant berig dat “die EU sal ophou om as ’n politieke projek te bestaan indien hulle nalaat om lande te help wat deur die koronavirus verwoes is. Mnr. Macron het ook te velde getrek teen die skynheiligheid van die noordelike lidlande wat voordeel trek uit die unie, maar nie daarin slaag om die ‘laste’ te deel nie ... die Franse president het gesê dat daar ‘nie ’n ander keuse’ is nie as om ’n fonds te stig wat vir ‘gemeenskaplike skuld ’n gemeenskaplike waarborg kan uitreik’ om lidlande te finansier volgens hulle behoeftes, in plaas van volgens die grootte van hulle ekonomieë”. Hy het toe die angswekkende waarskuwing bygevoeg: “Indien ons dit nie vandag kan doen nie, sê ek aan u dat die populiste sal wen – vandag, môre, die dag daarna, in Italië, in Spanje, miskien in Frankryk en elders” (Mehreen Kahn, “Brussels scuffles with car industry over green targets,” The Financial Times, 17 April 2020).

Hoé suksesvol leiers sal wees om die EU aanmekaar te hou, moet nog gesien word. Bybelprofesie dui egter aan dat tien “konings”, leiers of nasies aan die einde van hierdie tydperk hulle mag sal oorgee aan ’n charismatiese leier wat “die dier” genoem word (Openbaring 17:12-13). Ons kan dus in die nabye toekoms een of ander soort heraanpassing in Europa verwag, hetsy as gevolg van hierdie krisis of van een wat nog kom.

’n Perfekte storm trek saam uit alle oorde op Australië

Enigiemand wat op hoogte van die nuus is, kan insien dat Australië die afgelope jaar of twee meer as sy deel van slegte nuus gehad het. Vir Australiërs is droogtes, brande en oorstromings nie vreemd nie en hulle is ’n geharde klomp mense. Onlangs het hulle egter een tragedie na die ander beleef. Eerstens was daar die droogte van sewe jaar in die noorde van Queensland. Daarna, toe dit uiteindelik aan die einde van Januarie 2019 begin reën, het dit net aangehou reën. Aanvanklike ramings het aangedui dat die oorstromings in Februarie ’n halfmiljoen beesvrektes tot gevolg gehad het, maar later is beraam dat dit ongeveer 600,000 was. Wildbevolkings was ook uitgewis.

Dit was nie ’n goeie begin vir 2019 nie, maar dit sou nie die enigste ramp vir dié jaar wees nie. In die grootste deel van Australië was dit die warmste en droogste jaar wat nog ooit aangeteken is asook een van hulle ergste brandseisoene. Nieu-Suid-Wallis en Queensland was veral hard getref. Geen gebied het egter die verwoestende bosbrande vrygespring nie. Dit het oor ’n gebied gestrek so groot soos die VS-staat Pennsilvanië, voordat dit in Februarie 2020 uitgebrand het. Na raming is een miljard wilde diere uitgewis in ’n verwoestende slag vir die kangaroe- en koala-bevolkings. Dit het ernstige skade aangerig aan Australië se uiteenlopende en unieke versameling van natuurlewe.

Dit lyk toe asof dinge nie erger kan word nie, maar daar land die COVID-19 swart swaan ook in Australië – “the land down under”. Leiers van baie lande bid tans vir die genade van God, maar die premier van Australië, Scott Morrison, het dit openlik gedoen. Ons wens die beste vir sy nasie toe. Indien daar egter nie ’n ware terugkeer na God is en ’n wegdraai van die onsedelike gedrag van Australië en ander nasies nie, sal nog erger plae ons lot wees.

’n Perfekte plaag storm Afrika binne

Dit lyk asof Afrika altyd swaarkry en 2019 was veral ’n baie moeilike jaar, aangesien baie lande op dié vasteland deur droogtes en oorstromings geteister is. Ongewone nat weer in die Horing van Afrika het ’n buitengewone ryk oes opgelewer, maar daarmee saam het die woestynsprinkane gekom. Soos in die Globe and Mail in Januarie 2020 berig is, het “sprinkane wat bykans Bybelse afmetings aangeneem het, die jongste bedreiging geword vir verarmde boere wat deur die onlangse klimaatverwante rampe oor die rand van die afgrond gestoot is”. Die verslag het voorts gelui: “’n Enkele sprinkaan kan 150 kilometer [93 myl] ver vlieg en vreet elke dag soveel as sy eie gewig aan kos – ongeveer twee gram. ’n Klein swerm van so 40 tot 80 miljoen sprinkane, wat ’n vierkante kilometer oordek, kan soveel kos per dag verorber as wat 35,000 mense in ’n dag eet. Die grootste sprinkaanswerm in die noordooste van Kenia, strek oor ’n area van 60 kilometer by 40 kilometer – drie keer so groot soos Toronto – wat uit soveel as 190 miljard sprinkane bestaan, wat daagliks soveel as 90 miljoen mense se kos verorber”. (“Sprinkaanswerms in Kenia, die ergste in 70 jaar en neem steeds toe,” TheGlobeAndMail.com, 28 Januarie 2020).

Dít was in Januarie 2020. Tans bedreig “’n tweede vlaag woestynsprinkane Oos-Afrika en dit word beraam dat dit 20 keer erger sal wees as die plaag wat twee maande tevore op hulle toegesak het” (“Tweede vlaag sprinkane in Oos-Afrika klaarblyklik 20 keer erger,” The Guardian, 13 April 2020).

Daar word opgemerk dat die woestynsprinkaan beskou word as “die mees vernietigende trekpes in die wêreld”, het die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie berig: “Die toename in die getalle van die Woestynsprinkaan bly steeds kommerwekkend, veral in Ethiopië, Kenia en Somalië, waar dit ’n ongeëwenaarde bedreiging vir die beskikbaarheid van voedsel en lewensbestaan is. Ongeveer 20 miljoen mense in die Ses lande van Oos-Afrika – Ethiopië, Kenia, Somalië, Suid-Soedan, Uganda en Tanzanië – wat die ergste geraak word of gevaar loop vir sprinkane, asook ’n verdere 15 miljoen mense in Jemen, wat ook deur die plaag geraak word, ervaar reeds ernstige onsekerheid oor die beskikbaarheid van voedsel” (Die “FAO [Food and Agriculture Organization] gaan voort om ’n hernude vlaag sprinkane in Oos-Afrika en Jemen te beveg ten spyte van COVID-19 se inperkings” UN.org, 14 April 2020).

Dit is egter nie net Afrika wat bedreig word nie. Volgens Business Insider word woestynsprinkane “in ongeveer 30 lande regdeur Afrika, Asië en die Midde-Ooste aangetref en hulle kan deur een vyfde van die landmassa van die aarde trek” (“Sprinkaanswerms dwing Somalië om ’n nasionale noodtoestand te verklaar. Grillerige foto’s wys hoe dreigend hierdie plae kan wees,” 28 Februarie 2020). Swerms beweeg alreeds van die Horing van Afrika na die Midde-Ooste tot so ver as Jemen, Saoedi-Arabië, Iran en Pakistan.

Hierdie perfekte sprinkaanstorm is “op steroïede”, want die swart swaan wêreldwye pandemie, belemmer pogings om die plaag te beheer: “Amptenare van Kenia het gesê die koronavirus se streng ingrypingsmaatreëls belemmer pogings om die plaag te beveg, omdat dit moeiliker word om grense oor te steek en die aflewering van plaagdoders word vertraag. Lugbespuiting is die enigste effektiewe manier om sprinkane te beheer, maar daar was al klagtes dat vee deur die plaagdoders aangetas word” (The Guardian, 13 April, 2020).

Volgens Weather.com: “Die terugslae word vererger deur die wêreldwye maatreëls wat geneem word om die verspreiding van COVID-19 te bekamp. Kundiges kan nie meer binnelands rondreis om vergaderings by te woon om plaaslike inwoners op te lei om die sprinkaanbedreiging te bekamp nie” (“Ongelooflike groot sprinkaanswerms bedreig die Midde-Ooste,” 18 Maart 2020).

Wat meer is, “Uganda se minister van landbou het gesê dat die owerhede nie genoeg plaagdoders uit Japan kan invoer nie en het verwys na die ontwrigting van internasionale skeepsvrag-versendings” (“Nuwe groter vlaag sprinkane bedreig miljoene mense in Afrika,” APNews.com, 10 April 2020).

Ja, toestande kan vererger en dit het. Vandat ek begin het om hierdie artikel te skryf, het gietende reën oorstromings in Oos-Afrika veroorsaak gedurende Mei 2020. Ons Wêreld van Môre se verteenwoordiger in Kenia het ons oor hierdie verwikkelings ingelig:

Lande in Oos-Afrika ondervind ’n “drievoudige aanslag” van sprinkane, COVID-19 en oorstromings. Daar is bykans 300,000,000 mense wat deur hierdie gebeure geraak word. Oorstromings het ál die gewasse wat die sprinkane nie verorber het nie, vernietig. Langdurige reënval het die ergste oorstromings ooit in sommige gebiede veroorsaak. Victoria-meer het met meer as twee meter (ses voet) gestyg en riviere het verwoestende strome geword. Derduisende mense is dakloos gelaat, ’n aantal het verdrink, sommige gesinne is lewendig onder modderstortings begrawe en honderde skape, bokke en beeste is meegesleur. Verskeie brûe is ook deur die vloedwater verwoes, wat vervoer lamgelê het. Intussen is die swaar reënval en die warm temperature ideaal vir sprinkane om uit te broei en daar word selfs meer skade deur hulle verwag.

Die perfekte lente-storm

Lente gaan oor blomme. Blomkwekers en kweekhuise regoor die wêreld het op groot skaal voorberei vir die lente in die Noordelike Halfrond. Van San Francisco, na Suid-Amerika, na die Nederlande, het die blombedryf egter oornag in duie gestort. Die San Francisco Chronicle het in Maart 2020 berig, “Meer as $1 miljoen se blomme is die vorige week op die San Francisco Blommemark vernietig toe hulle gereed gemaak het om te sluit. Boere het toegekyk hoe hulle lewensonderhoud aan die stingel verlep” (“Die blombedryf is erg benadeel deur die koronavirus-epidemie en besigheid het tot stilstand gekom,” SFChronicle.com, 30 Maart 2020).

Kalifornië se totale snyblombedryf van $360 miljoen het verwelk. Blomkwekers het reeds voor die tyd al gesukkel en het op die minimum winsgrens gewerk as gevolg van buitelandse mededinging en vir baie mense beteken COVID-19 die einde van hulle besighede. “Daar sal waarskynlik nie ’n groot heropening wees vir die Lompoc-gebaseerde Ocean View Flowers wat slegs twee jaar tevore 40 miljoen stingels snyblomme opgelewer het nie. Volgens maatskappy- en industriebronne het die firma se moedermaatskappy, Santa Barbara Farms, wat die blomme produseer, die blomonderneming permanent gesluit” (“Koronavirus tref Kalifornië se snyblom-industrie op die slegste tyd,” LATimes.com, 4 April 2020) Op ’n persoonlike vlak vind ek dit hartseer, aangesien ek gedurende my hoërskooljare, in die somer in Lompoc se blomlande gewerk het. Lompoc is ’n klein, stil, afgeleё dorpie met inwoners van ’n gemiddelde inkomste. Die meeste mense het nog nooit van die plekkie gehoor nie en nog minder kan hulle die naam behoorlik uitspreek (dit is LOM-poke). “‘Hierdie is ons besigste en mees winsgewende tyd van die jaar,’ het Mellano [’n derde generasie kweker en groothandelaar] gesê. ‘Dit is dus absoluut die slegste tyd vir so iets om te gebeur.’”

Daar is elders soortgelyke verhale – almal om dieselfde rede. Twee lande wat veral swaar getref is deur die sameloop van hierdie twee “storms” (sprinkaanplae en die koms van COVID-19) is Kenia en Ethiopië. Hulle is ook Afrika se belangrikste blomkwekers en tussen die twee van hulle het hulle 500,000 werkers in diens. Die blombedryf dra jaarliks $1 miljard by tot Kenia se ekonomie en is verantwoordelik vir ’n kwart van Ethiopië se uitvoerverdienste. Die pandemie het die gevolge van die sprinkaanplae vererger, wat albei lande verwoes het. Rose is veral ’n spesialiteit in Kenia en plante gaan agteruit tensy hulle besproei, bemes, gesnoei en algemeen versorg word. Kwekers word geknel tussen verlore inkomste en wat dit kos om hulle toekoms te verseker. “‘Hierdie is ook die periode met die belangrikste dae vir die blombedryf, soos Valentynsdag, Internasionale Vrouedag en Moedersdag’, het Van Schie [van Royal FloraHolland Co.] gesê. ‘Die krisis waarmee ons nou te kampe het, kon nie op ’n slegter oomblik gekom het as hierdie nie’” (“Oos-Afrika se blombedryf verwelk as gevolg van verkope aan Europa wat opdroog,” VOANews.com, 17 April 2020).

Die perfekte oliestorm

Oliepryse het nog altyd gestyg en weer gedaal. Baie van ons kan nog die prysoorloë van brandstof van die vyftigerjare onthou, toe groot ketting-vulstasies hulle pryse van tyd tot tyd ónder die winsgrens verlaag het om die onafhanklike vulstasies te dwing om hulle besighede te sluit. Hierdie “brandstof-oorloë” het verbruikers goed gepas omdat dit ten minste vir ’n tyd lank goedkoop brandstof beteken het.

Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (OPUL2) is in 1960 deur vier Midde-Oosterse state en Venezuela gestig. Dit het intussen uitgebrei na baie meer lande, waarvan die meeste in die Midde-Ooste en Afrika is. Min mense het eintlik aandag aan OPEC gegee tot Oktober 1973, toe die Arabiese lede van OPEC ’n uitvoerverbod ingestel het teen die lande wat Israel ondersteun het teen sy Arabiese bure tydens die Joom Kippoer [Versoendag]-oorlog. Pryse het gestyg, brandstof is gerantsoeneer en laer snelheidsgrense is regoor die Verenigde State [asook in Suid-Afrika] ingestel. Die dae van goedkoop olie was verby – ten minste vir ’n paar dekades. Alhoewel die verbod in Maart 1974 geëindig het, het die prys gestyg van 25 Amerikaanse sent per gelling in dele van die V.S. tot $1.50 en meer, voor die einde van die dekade.

Daar was ’n tyd toe dit gelyk het of die Verenigde State, die wêreld se grootste verbruiker van brandstof, waarskynlik aan die genade van olieprodusente in die Midde-Ooste oorgelewer sal bly. Daar kom toe egter hidrobreking [fracking] – ’n tegniek wat oorspronklik gebruik was om aardgas uit olieskalie te onttrek en later is bevind dat dit ook koste-effektief is om die olie te onttrek. Dit het gelei tot die ontwikkeling van die olieskalie-neerslae in Noord-Dakota, Oklahoma en talle ander state. Binne ’n paar jaar het die Verenigde State ’n netto-uitvoerder van olie geword en pryse het begin stabiliseer, selfs begin om te daal. Dit het ook beteken dat daar ’n ander mededinger in die mark was. Ander olieproduserende lande sou graag wou sien dat hidrobrekers se sake ondergaan.

Om energie-onafhanklik te word, behoort goeie nuus te wees, ten minste vir die Verenigde State, al is dit nie vir ander olieproduserende gebiede in die wêreld die geval nie. Toe het die onverwagte, “swart swaan” – die koronavirus – die “swart goud” se plek ingeneem, as die bedryf se bekommernis. Vliegtuie het nie meer gevlieg nie. Mense het opgehou om te ry. Toe die groot olieprodusente, Saoedi-Arabië en Rusland, sien hoe hulle inkomste soos mis voor die son verdwyn, het hulle begin met ’n olie-oorlog en pryse so laag laat daal dat termynkontrakte van olie op 20 April 2020 vir ’n kort tydjie negatief geraak het, wat beteken dat u betaal sou word sodat hulle daarvan ontslae kon raak!

Let op hoe Forbes die effek van negatiewe termynkontrakte van olie beskryf: “Een termynkontrak van olie koop 1,000 vate, wat dus ’n negatiewe prys van $-40 beteken, is dus dat ’n mens, teoreties, die regte op 1,000 vate olie kon kry en terselfdertyd ’n betaling van $40,000 ontvang kan ontvang. Indien dit na gellings oorgesit word, kan mens ongeveer 42,000 gelling ru-olie ontvang en boonop vir die olie $40.000 betaal word! Dink daaraan – vir elke gelling ru-olie sou u die ru-olie en ook nog ’n dollar kon kry, [voordat u te opgewonde raak, hier is die waarskuwing:] slegs indien u dit amptelik iewers kon opberg” (“Negatiewe olieprys wys vir ons dat iets anders volgende ineen gaan stort,Forbes.com 21 April 2020).

In ’n nuusbrief van 23 April 2020 het die finansiële kundige, dr. Martin Weiss, dit so gestel: “Olieprodusente moes $40.32 per vat betaal net om kopers sover te kry om daarvan ontslae te raak. Olie was onmiddellik verlaag tot suiwer, giftige rommel – goed wat selfs vullisversamelaars nie sommer sou wegdra sonder ’n aansienlike fooitjie nie”.

Die vraag wat ons moet vra

Bogenoemde is voorbeelde van wat in elke land en in duisende sektore wêreldwyd met die ekonomie gebeur. Dit is ’n deurslaggewende tyd in die moderne geskiedenis. Dit sal ongetwyfeld ’n geruime tyd duur, selfs jare – lank nadat hierdie pandemie geskiedenis geword het – voordat die volle uitwerking daarvan bekend sal wees.

Op verskillende maniere het perfekte storms en ’n onverwagte gebeurtenis (swart swaan) gelyktydig op die hele wêreld toegesak in Maart 2020. Een vraag bly egter oor: Indien God ’n liefdevolle God is, waarom sou Hy dan soveel lyding toelaat? Ondanks die vele teoloë wat hulle skouers ophaal en kleitrap met die antwoorde, is daar ’n baie duidelike verklaring. Ons wêreld het ’n tyd van groot opstand teen ons Skepper betree.

Die mensdom as geheel het nog nooit die Een deur wie ons geskep is, gerespekteer nie – die meerderheid van die mensdom het Hom eerder gesamentlik geminag. Baie mense ontken Sy bestaan en bespot diegene wat in Hom glo. Ongelukkig ken baie mense wat bely dat hulle Hom ken, Hom glάd nie, want soos die apostel Johannes aan ons vertel: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:3-4). Johannes vertel ons verder wat sonde is (3:4) en dat God se Gebooie nie swaar is nie (5:3).

Tot op ’n punt laat God ons aan onsself oor om “ons eie ding te doen”, sodat ons uit die natuurlike gevolge van ons besluite kan leer (Jeremia 2:19). Die Bybelse geskiedenis toon ook dat wanneer ’n volk tot op ’n sekere vlak van onsedelikheid en opstandigheid teen God en Sy Wette gedaal het, Hy sal ingryp. Ons het die voorbeeld van die vloed in die tyd van Noag: “Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was” (Génesis 6:5). Ons het die voorbeeld van die vernietiging van Sodom en Gomorra (Génesis 19). Ons weet ook dat God nie toegelaat het dat Abraham se nageslag eers die heidense volke van die Beloofde Land vervang het, tot geslagte later nie, “ ... want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie” (Génesis 15:16). God se geduld moenie verwar word met Sy toestemming nie.

Indien ons nadink oor sulke arrogansie teenoor ons Skepper, behoort ons nie verbaas te wees wanneer die kombinasie van die volgende perfekte storm en “swart swaan” aanbreek nie. Hy hét ons gewaarsku. Dit is nie die einde nie – dinge gaan nog erger word voordat ons ons les geleer het. Tensy ons ons bekeer en verander, kan ons verseker wees dat groter rampe in die toekoms op ons wag.

Daar kom egter ’n tyd wanneer die Een wat deur ons gekruisig is ons sal red van ons opstandige waansin en Sy Koninkryk hier op aarde sal vestig (Daniël 2:44; Sagaría 14:9, 16-19). Dít is ’n verbasende mededeling en baie mense wat hierdie artikel lees, sal dit waarskynlik moeilik vind om te glo. Dit is egter die boodskap wat Jesus gebring het. Indien u dit nog nie gedoen het nie, bestel gerus ons gratis boekie Glo u die ware Evangelie? Te midde van al die slegte nuus, is dit die goeie nuus en die rede waarom ons bid: “... laat u koninkryk kom”!