Waardeer ons regtig die seëninge wat God aan ons gegee het terwyl ons oorlaai is met so baie “eerste-wêreldse probleme”?

Jesus Christus sê in Mattheüs 6:25: “Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?”

Waarom is ek altyd bekommerd oor hierdie dinge wanneer die Verlosser van die mensdom dit sê.  Nog ’n huispaaiement; die oond word ouer; voedselpryse raak belaglik; my beste pak klere raak ’n bietjie verslete (het u gesien wat die nuwes kos?). Het ek die motor genoem?

My huis. My oond. My kosrekening. My pak klere. My motor. Ons het hierdie dinge in oorvloed in ’n wêreld waar die helfte van die bevolking ’n gebrek aan selfs die basiese dinge het om van te lewe. Statisties gesproke leef byna drie miljard mense van minder as twee dollar [R22] per dag. Volgens die Verenigde State se Sensusburo, was die gemiddelde huishoudelike inkomste in Amerika in 2012, $51 371 [R565,000], ’n bietjie meer as $140 [R1,540] per dag. Die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Maatskaplike Dienste definieer die “broodlyn” as $11 670 [R128,370] vir ’n enkellopende persoon; of $32 [R350] per dag. Vir ’n gesin van vier, word armoede gedefinieer as ’n huishoudelike inkomste van minder as $23 850 [R262,350], of sowat $65 [R715] per dag.

Op 27 November 2014 sal miljoene mense regoor die VS aansit by ’n nasionale maaltyd wat in groot dele van die wêreld vergelyk kan word met ’n koning se banket en in terme van kalorieë, sal dit die gemiddelde gesin wat in die wêreld in armoede leef, vir ’n week lank kan voed.

 Volgens die Brood vir die Wêreld-instituut ly 805 miljoen mense regoor die wêreld honger. Sowat 1,2 miljard mense leef op minder as $1,25 [R13,75] per dag. Elke dag sterf meer as 7,000 kinders van honger-verwante oorsake, meer as vier kinders elke minuut.

Jesus se stelling, “Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?” sal nie voorop in die gedagtes van die gemiddelde Amerikaner wees op Dankseggingsdag nie. Vir baie mense sal dit die “vermaak” en die Kersinkopies op die volgende dag wees, besigheid soos gewoonlik, terwyl ons die vierdaagse vakansie-naweek geniet.

Hoeveel dankbaarheid sal daar wees wanneer gesinne aansit vir ’n ete en ’n kort gememoriseerde gebedjie opsê: “Kom Here Jesus, wees ons gas en laat hierdie gawes aan ons geseënd wees, Amen”?

Nadat Abraham Lincoln Dankseggingsdag ingestel het, het hygesê: “Dit is die plig van nasies, sowel asvan individue, om hulle afhanklikheid van die oorheersende mag van God te erken; om hulle sondes en oortredings in nederige berou te bely, maar tog met versekerde hoop dat ware bekering sal lei tot genade en vergifnis; en om die verhewe Goddelike waarheid te erken, soos in die Heilige Skrif aangekondig en deur die geskiedenis bewys is: Dat daardie nasies wie se God die Here is geseën sal wees”. President Lincoln het Psalm 33:12 aangehaal.

In vandag se Amerika sou daardie woorde hom waarskynlik deur die ACLU in die hof laat beland het en hy veroordeel geword het deur die polities-korrekte politici en joernaliste. President Lincoln was wel reg deur te verkondig: “Ons was die ontvangers van die beste skatte van die hemel; ons is baie jare lank in vrede en voorspoed bewaar; ons het gegroei in getalle, rykdom en mag soos geen ander nasie gegroei het nie. Ons het God egter vergeet ... en ons het ons verniet verbeel, deur die verleiding van ons harte, dat al hierdie seëninge meegebring is deur ’n soort meerderwarige wysheid en deugde van ons eie”.

Waaroor behoort ons te dink en te bid wanneer ons gaan aansit om hierdie Dankseggingsdag-ete te geniet? Indien ek die geleentheid gegun word om by so ’n ete te bid, sal Jesaja 63:7 in my gedagtes opkom: “Ek sal die goedertierenhede van die Here prys, die roemryke dade van die Here, ooreenkomstig alles wat die Here aan ons bewys het ... na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede”.

Waarom? Omdat ek ook regtig dankbaar is. Die huis, die oond, die kos, die klere en ja, selfs die motor, het nie gekom deur my besonderse wysheid of deug nie. Dit is wonderlike seëninge wat ’n liefdevolle God aan my gegee het, hoewel ek deel is van ’n nasie van wie die meeste mense nie die Woord van Sy waarheid hou nie en wat Sy naam ontken.