Direk nadat die orkaan Sandy New York en New Jersey getref het, het New York Stad se burgemeester, Michael Bloomberg, gesê dat “klimaatsverandering” die “nuwe normaal” gaan word. Ander politici het sy kommentaar beaam en die aanname gemaak dat toenemende groot storms net nog ’n voortgesette gevolg is van die mensdom se swak rentmeesterskap van planeet Aarde.

Regtig?
Wat hierdie leiers nie weet nie, is dat die grote God wat aan ons lewe en asem gee, direk in die geïnspireerde Skrif geprofeteer het dat werklik “abnormale” weer sal voorkom net voor Christus se wederkoms. Jesus Christus Self het – toe Hy eindtydse gebeure beskryf het – verklaar: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:25-28).

Die meeste belydende Christene is nie geleer dat die baie werklike God wel ingryp in Sy skepping en soms die “weer” verander, ten einde wêreldgebeure te beïnvloed of om Sy wil te laat geskied in ’n bepaalde situasie nie. Sal daar dus toenemende “klimaatsverandering” wees in die jare wat voorlê? Indien wel, sal dit wees as gevolg van die woorde van Al Gore – of van die Almagtige God?

’n Baie slim Satan die duiwel probeer dikwels om God “voor te spring” deur aan mense “voor die tyd” verkeerde idees te gee aangaande wat voorspel is om te gebeur. Ek hoop baie van u het mnr. Dexter Wakefield se uitstekende artikel “Onnatuurlike Rampe” in die November-Desember 2012-uitgawe van hierdie tydskrif gelees. Hy het in detail verduidelik hoe Satan besig is om so baie van die populêre media te lei om ontsettende groot rampe, invallers van die buitense ruim en eindtydse “Armageddon”-tipe oorloë uit te beeld – dit is so realisties, dat wanneer die ontsagwekkende geprofeteerde gebeure wel werklik plaasvind, dit vir miljoene verwarde mense soos “déjà vu” sal lyk. Hulle sou tog alreeds – op televisie of in die flieks – soortgelyke gebeure “gesien het”, soveel so dat die ware Jakob minder betekenis en impak sal hê. Nog belangriker, ’n verkeerde begrip van hierdie gebeure sou alreeds in die denke van daardie misleide mense geplant wees.

Satan is die slimste en magtigste bedrieër in die ganse heelal! Die Ewige God is die Skepper en Opperheerser van die hemel en aarde – wat beslis die weer insluit! My vriende, God verkondig in die Bybel, Sy geïnspireerde openbaring aan die mensdom, dat Hy direk sal ingryp in weerpatrone en mense sal seën wat gehoorsaam is aan Sy wil. Daardie mense wat in opstand is teen Sy wil, sal verneder en gestraf word. Ons hemelse Vader doen dit in liefde om die nodige tug uit te oefen wanneer dit nodig is – individueel of gesamentlik.

God het aan Sy volk Israel gesê: “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee” (Levitikus 26:3-4). God waarsku dan ook: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; ... En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie” (verse 14, 19-20).

Verskriklike droogte en hongersnood sou dus volg as Israel ongehoorsaam bly!
Later het die Almagtige God Koning Salomo van ouds geïnspireer ten tye van die inwyding van die tempel, toe hy – uiteraard onder God se inspirasie – gebid het: “As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe – want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel – engee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het” (2 Kronieke 6:26-27). Dit is duidelik dat God beslis die weer beheer! Letterlik dosyne gedeeltes in die Bybel maak dit baie duidelik – indien u die Bybel letterlik opneem en glo wat God in Sy Woord geïnspireer het. Terloops, indien u meer gedetaileerde inligting wil bekom oor hierdie hele onderwerp, kan u ons skakel of dadelik aan ons skryf en ’n gratis kopie aanvra van ons ware insiggewende boekie getiteld: Wie Beheer die Weer?

Sommige mense het die idee dat, aangesien party van hierdie gedeeltes in die Ou Testament van die Bybel is, dit net “Ou-Testamentiese goed” is. Nee! Selfs Jesus se broer Jakobus skryf na aan die einde van sy Nuwe-Testamentiese brief: “Elía was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (Jakobus 5:17-18).

My vriende, die belangrikste beginsel waarby u kan baatvind in hierdie artikel, is dat indien u die God van die Bybel eerbiedig en Sy seëninge wil ontvang, u bereid behoort te wees om te luister na wat Hy aan u in die Bybel sê. Wees bereid om te verstaan ​​dat wanneer werklike massiewe weerversteurings op die mees ongewone wyse plaasvind, dit dalk veel meer mag wees as net “’n verandering in weerpatrone”. Soos ek in my artikel elders in hierdie uitgawe verduidelik, sal die grootste deel van die wêreld in opstand kom teen God en elke greintjie oorblyfsel van Sy ware boodskap heeltemal verwerp. Ons is besig om die einde van ’n era te nader. God gebruik nogtans Sy dienaars – sowel as hierdie ware Werk – om ons mense kragtig te waarsku voordat dit te laat is!

Wanneer Jesus Christus ons dus net voor Sy wederkoms waarsku: “... daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mattheüs 24:7), moet u liewer glo dat baie van hierdie voorvalle ’n teken van u Skepper af is dat Hy van plan is om in te gryp. U behoort ook te onthou dat wanneer mense hulle distansieer van God en Sy wette; wanneer hulle voortdurend God se gebooie verbreek, dan is dit heel moontlik dat Hy sal ingryp en aan daardie mense liefdevolle tugtiging sal gee! Wanneer massiewe en ongekende aardbewings begin plaasvind – reg hier in die VSA – sal mense probeer om die blaam op “klimaatsverandering” te plaas? Kan hulle “klimaatsverandering” blameer vir al hierdie komende profetiese gebeure? Nee!

Alhoewel die onsigbare Satan graag hierdie wêreld – vroegtydig – sal wil verwar om nie ag te slaan op God se waarskuwingstekens en nie te luister na Sy ware leraars nie, behoort u nie toe te laat dat dit met u en u gesin gebeur nie! Ons in hierdie Werk van die grote God het egter herhaaldelik aan u vertel, nie net van “weersprobleme” nie, maar ook van ’n komende Verenigde State van Europa, van die feit dat God alreeds die meeste van die groot “seepoorte” wat Hy aan die volke van Amerika en Brittanje gegee het, weggeneem het, van die daling van ons geldeenheid se waarde en die uiteindelike ondergang van die mense van Amerikaanse en Britse afkoms. Al hierdie dinge en baie ander gebeure wat nie verband hou met klimaatsverandering nie, is as waarskuwing gegee deur hierdie Werk! Vir u eie beswil dus, bestudeer assebliefdie geïnspireerde Woord van God en wat dit werklik sê!

Namate die Ewige God kragtiger as ooit tevore begin om in te gryp deur massiewe aardbewingssiekte-epidemies en onbestendige weer, besef asseblief dat dit Godis wat in beheer is – nie mensgemaakte “klimaatsveranderings” nie. Wanneer u hierdie dinge sien gebeur op die aarde, met “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:25-26) – wees dan gewillig omag te slaan op die boodskap wat u Skepper aan u stuur. Hy en slegs Hy alleen – is die grote God. Hy is die Een wat u moet gehoorsaam wanneer hierdie dinge beginontvou, presies soos Hy voorspel het! Mag God u hart versag, u verstand open en u help om gewillig te wees om na u Skepper te luister deur Sy dienaars. Mag God u help om Hom met u hele hart te soek, sodat u beskerm kan word teen hierdie komende gebeure, soos God gesê het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en ​​voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).