In ’n wêreld waar nederigheid aan die afneem is, het ons dit meer as ooit nodig.

“Dit is verootmoedigend”. Die eienaar van ’n klein onderneming het sy gevoel oor die COVID-19-krisis, wat vinnig besig was om te begin ontwikkel, met my gedeel. Ons het net ’n rukkie tevore ontmoet en het ’n gesprek aangeknoop terwyl ons vir ons afsprake gewag het. Hy het aan my vertel dat hy ongeveer 70 werknemers in sy vervaardigingsonderneming het en dat hy sukkel om voor te bly met die gebeure. Dit was aan die begin van die virus se impak regoor Amerika en inperkings was nog nie in plek nie. Hierdie bekommerde sakeman het gesukkel om die oorweldigende hoeveelheid nasionale, staats- en plaaslike riglyne te verwerk en hoé sy onderneming sou kon funksioneer in die nuwe pandemie-omstandighede. Hy het die maatskappy se beleide geskryf en herskryf en gesorg dat sy onderneming aan ’n reeks nuwe regulasies voldoen, terwyl hy boonop nog geworstel het met die uitdaging om sy werknemers veilig en beskermd te hou. Sy besigheid was nie een van daardie besighede wat as “noodsaaklik” beskou is nie en baie min van sy werknemers kon van die huis af werk. Die toekoms was vir hom kommerwekkend.

Deurgaans was ek getref deur sy opmerking: “Dit is verootmoedigend”. Soveel as wat ek simpatie gehad het vir die man se situasie, kon ek nie anders as om beïndruk te wees deur sy gesindheid nie. Hy was waarlik bekommerd. Hy het sy reaksie te kenne gegee op ’n manier wat gedui het op sy diepe en grondige erkenning dat hy nie ál die antwoorde het nie en dat hy hulp sou moes soek buite homself.

’n Seldsame gesindheid

Ons hoor deesdae nie veel van nederigheid nie. Ons prys nie die nederiges nie; ons prys die hoogmoediges. Al te dikwels volg ons die stroom van die samelewing rondom ons en beklemtoon die boodskap aan ons kinders dat om seker van onsself te wees en selfvertroue te hê, die sleutel tot sukses in die lewe is. Een radikale gedeelte van die samelewing het selfs die woord “trots” as ’n visitekaartjie aangeneem, asof arrogansie en waagmoedigheid eienskappe is om bewonder te word.

Toe koning Salomo die tempel in Jerusalem ingewy het, het hy gebid dat God vir Sy volk sal ingryp wanneer hulle rampspoed in die gesig staar. God se antwoord aan Salomo mag dalk in die hele Bybel een van die mooiste en bemoedigendste gedeeltes wees, met die belofte dat as “... my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kronieke 7:14). Nader ons God met nederige verootmoediging wanneer ons om hulp roep?

Jesus Christus het ons die waarde van nederigheid geleer. “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (Matthéüs 23:12). Ons Verlosser was die volmaakte voorbeeld van nederigheid – selfs tot met Sy dood. “... en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Filippense 2:8). Nederigheid is nie net sommer een of ander sentimentele vorm van beleefdheid of manier van praat nie; dit is ’n lewenswyse. God slaan ag daarop. Die apostel Jakobus het een van die spreekwoorde van Salomo aangehaal en herinner ons: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jakobus 4:6; vergelyk 1 Petrus 5:5; Spreuke 3:34).

Nederigheid is een van die grondliggende deugde van die bekeerde Christen (Kolossense 3:12; Titus 3:2). Dit vorm die manier waarop ons onsself en ons plek in die heelal sien. Dit behoort die kern van ons verhouding met ons Skepper te vorm – veral in tye van nood. Of u nou ’n eienaar van ’n besigheid is wat verantwoordelik is vir die lewensbestaan van baie werknemers of ’n ouer wat verantwoordelik is vir die veiligheid en ontwikkeling van u kinders of ’n werker wat sukkel om met sy geld uit te kom te midde van ekonomiese chaos, u het u deel van Godgegewe verantwoordelikheid. Die heel belangrikste verantwoordelikheid van alles is om te erken: “Ek moet my deel doen, maar dit is God wat in beheer is, vir wie ek moet liefhê en gehoorsaam”.

Nou, meer as ooit, is dit tyd vir nederigheid.