Die meeste mense gaan maar selfvoldaan deur die lewe met idees en oortuigings wat hulle nog nooit BEWYS het nie! Wanneer dit menings oor sportspanne of wie die wêreld se grootste politikus was, wie die mooiste aktrise is of dinge van daardie aard raak, is dit dalk nie te gevaarlik nie.

Wanneer dit egter ’n mens se ewige lewe raak – wanneer dit die hele DOEL van die mens se bestaan raak – dan beter ons absoluut SEKER wees van ons menings. Dit wat ons glo, beter ons bo alle twyfel BEWYS!

Ek onthou my kinderdae in ’n klein mid-westerse stad goed. In die meeste opsigte was my gesin gemiddeld. Die gesin het bestaan uit Ma, Pa, Patty, Kathryn en ek – ek was die oudste kind. Ons het een van die grootste en mees gerespekteerde “algemene kerke” bygewoon. Beide my ouers het hul kwalifikasies aan ’n klein vrye-kunstekollege verwerf wat deur ons kerk geborg is. Hulle was baie toegewy aan die kerk, hoewel nie op opdringerige of fanátiese wyse nie.

Van my vroegste herinneringe is dié van Kersfeesvieringe. Daar is vir my en my susters vertel dat Kersvader die aand voor Kersfees suutjies deur ons skoorsteen sou glip en vir ons geskenkies sou bring. Dit was ’n opwindende tyd – baie geskenke, ’n groot gesinsete en skoolvakansie!

Ons het ook geleer dat die ”Paashaas” eiers sou lê en dat ons Paassondag oggende die huis daarvoor moes deursoek. Daar is later vir ons vertel dat Christus uit die dood opgestaan het op Paasdag, maar dít was verseker nie die fokus van ons aandag nie.

In Sondagskool het ons kaarte geteken van die Heilige Land en die “Onse Vader” gememoriseer saam met ’n paar ander sentimentele verse. Toe ons die “Onse Vader” ingedril is, is daar egter nooit aan ons verduidelik wat “laat U Koninkryk kom”, of die lewensbelangrike reël “laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” eintlik beteken nie.

Pleks daarvan is ons geleer dat, indien ons oor die algemeen “soet” seuns en meisies was, ons reguit “hemel toe gaan” wanneer ons doodgaan. Jesus se direkte stelling dat “NIEMAND het opgevaar in die hemel nie” (Johannes 3:13) is nooit bespreek nie. En daar was beslis geen bespreking oor die talle skrifture wat duidelik die Christen se DOELWIT om Christus by te staan met die regering van hierdie aarde beskryf nie – soos in 1 Korintiërs 6:2–3: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?”

Die liewe ou dame wat vir ons Sondagskool gegee het, het soos andere na haar, baie vir ons gesê dat Jesus in gelykenisse gepraat het om die betekenis van dit wat Hy sê duideliker te maak. Klaarblyklik was hierdie liewe dame – soos honderde opregte predikante en leraars – onbewus van Jesus se direkte verduideliking van waarom Hy in gelykenisse gepraat het. “En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en NIE sien nie; en hoor en hoor, en NIE verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie” (Markus 4:11–12).

Maar, mag u dalk wil betoog: “Het Jesus nie almal probeer red nie?”

NEE, Hy het nie, vreemd soos dit mag blyk. Want Hy self sê: “NIEMAND kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom NIE trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). En ter beklemtoning, het Jesus daardie skokkende stelling herhaal: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat NIEMAND na My toe kan kom as dit hom NIE deur my Vader gegee is nie” (vers 65).

Dit, my vriende, is WAAROM die meeste mense op aarde nog nooit enigsins ’n Christen was, of tans is nie. Slegs nagenoeg een derde van die aarde se bevolking bely die naam van Jesus Christus. Tog sê die apostel Petrus: “want daar is ook GEEN ANDER NAAM onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).

U moet verstaan dat – indien u gewillig is om die duidelike woorde van die Bybel te aanvaar – mense nie waarlik “Christene” is bloot omdat hulle die “naam” van Jesus Christus bely nie. Die meeste algemene godsdienste het PRESIES DÍT gedoen! Want hulle heg gedurigdeur Jesus se naam aan ALLERLEI onbybelse idees en oortuigings. Jesus sê egter duidelik: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Jesus benadruk dit weereens toe Hy baie duidelik sê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”(Mattheus 7:21–23).

Het u dus eerlikwaar en objektief die tyd geneem om te BEWYS wat Jesus Christus werklik onderrig het? Is u bereid om te HANDEL volgens daardie bewyse sodra dit in u verstand duidelik raak? Of is u ook soos die meeste mense, wat te bang is om die Waarheid te aanvaar omdat dit hul families, vriendskappe, werk of “sosiale stand” mag raak? Is u dalk onbewustelik ’n bietjie soos die Fariseërs van Jesus se tyd? “Want hulle het die EER van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:43).

Ek weet dat baie van u wat hier lees predikante of een of ander tipe godsdiensonderrigters is. Dit is vir u ewige lewe – EN VIR ALMAL VAN ONS – belangrik om die woorde en ervaringe van ’n groot predikant wat ek gaan aanhaal te verstaan, wat ’n soortgelyke dilemma in sy lewe beleef het oor bereidwilligheid om op te staan vir die WAARHEID, ongeag of dit sy professionele of sosiale stand sou skaad. In volume 1 van sy Outobiografie, bl. 528, skryf Herbert W. Armstrong:

Ek weet van evangeliste wat waarskynlik opreg is in hulle veronderstelling dat hulle God dien – en wat graag vry sou wou wees om baie waarhede te verkondig wat hulle nou terughou. Hulle redeneer min of meer as volg: “Indien ek verder gaan en daardie dinge verkondig, sal ek al my ondersteuning verloor. Ek sal uit die bediening gesit word. Dan kan ek NIKS verkondig nie. Dit is beter om God te dien deur soveel moontlik van die Bybelse waarheid te verkondig, eerder as om verhoed te word om enigiets te preek”.

Hulle maak staat op die finansiële ondersteuning van MENSE, of organisasies van mense. Enigiemand in daardie moeilike posisie is die DIENAAR van MENSE en NIE van God nie, of hulle dit besef aldan nie.

In die herfs van 1933 het ’n man my trompop geloop terwyl ek in die gruispaadjie tussen die Firbutte- en Jeans Skool gestap het.

“Jy sal nie ver kom nie,” het hy gesê. “Jy preek die regte waarheid van die Bybel. Dit affronteer mense. Die Bybel is soos ’n skerp tweesnydende swaard. Dit sny – dit vermaan, korrigeer, dit wys tereg – mense sal nie daardie soort prediking steun nie! Jy sal nie ver kom nie”.

Ek het egter nie op MENSE se steun staatgemaak nie. Indien mense my betaal het, sou ek mense moes dien. Indien ek God wou dien, moes ek uitsluitlik na God kyk vir steun!

Natuurlik werk God deur menslike instrumente. Maar ek moes op God staatmaak om dit in mense se harte te lê om die soort prediking te steun wat Jesaja 58:1 gehoorsaam, naamlik om HARD uit te roep – my stem te verhef en die mense hul SONDES uit te wys!

Elkeen van ons moet dit wat ons werklik glo aan onsself BEWYS. God se Woord vertel ons herhaaldelik dat Satan die duiwel “die hele wêreld VERLEI” (Openbaring 12:9); dat Satan binnekort gebind sal word “sodat hy nie meer die nasies kan MISLEI ... nie” (Openbaring 20:3 NV); dat Satan die “god” is van die huidige era wat diegene wat nie glo nie, VERBLIND (2 Korintiërs 4:4) en dat Satan valse predikers het wat ’n “ander Jesus”, ’n “ander gees” en ’n “ander evangelie” sal voorhou (2 Korintiërs 11:4).

Wanneer ewige lewe ter sprake is, moet ons SEKER wees. Ons moet dus na God uitroep vir werklike begrip. Dan moet ons bereid wees om die Waarheid te volg, waarheen dit ons ook al lei. Met God se hulp sal elkeen van ons regte geloof en MOED moet uitoefen om dit wel te doen.