“Daar is ’n oorsaak vir elke gevolg”, is ’n eenvoudige bewering, maar hoeveel mense dink regtig daaraan of verstaan dit enigsins? Hoeveel mense besef dat die persoonlike toepassing van sulke praktiese wyshede hulle lewens kan verander?

Ek was ongeveer 20 jaar oud toe hierdie idee aan my bekendgestel is. Hoe diepsinnig!

Hoe eenvoudig! Tog word universiteitstudente van vandag eerder die aanname van verontregting geleer: ’n Mens is nie suksesvol nie, u is nie gelukkig nie en u kan ook nie wees nie, want u word onderdruk deur Jode, Christene, konserwatiewes, “wit Europese mans”, mans in die algemeen of enige ander waarneembare bevoorregte groep.

Die begrip dat daar ’n oorsaak vir elke gevolg is, strek egter verder as die “slagoffer”-mentaliteit. Op alle lewensterreine leef mense betekenislose lewens. Baie mense voel dat hulle lewens nie waarde het nie. Hulle verhoudings werk nie. Hulle is depressief, ongelukkig en voel onvervuld. Hulle weet egter nie waarom nie. Beskryf dit enigsins hoe u voel? Ek hoop nie so nie, maar ek weet dat baie mense “ja” sal sê. Baie van hierdie individue lyk op die oog af of hulle suksesvol is. Hulle bankrekenings is sterk. Ja, hulle het pret en baie om oor te lag. Wanneer die gelag egter verby is en die plesierrit eindig, is daar ’n gevoel van leegheid. Mense glo dat hulle alles gedoen het wat ander mense gesê het hulle gelukkig sal maak en tog is hulle nie gelukkig nie. Dalk is dit tyd om daardie soort advies te bevraagteken.

Die meeste mense dink dat indien hulle meer geld gehad het, sou hulle gelukkiger gewees het. Met betrekking tot hierdie onderwerp kan die dramatiese toename in Chinese welvaart ons iets leer. Let op hierdie berig uit Kanada se Maclean’s-tydskrif:

Dit is meer as 30 jaar sedert die Chinese leier, Deng Xiaoping, die land oopgestel het en die Kommunistiese party die slagspreuk van “dit is wonderlik om ryk te word” gretig aangeneem het. Sedertdien is honderde miljoene mense uit armoede opgehef ... Die Chinese is vandag vier keer ryker as 20 jaar gelede en mense ... het geleenthede en fisiese geriewe wat ’n generasie gelede ongehoord sou wees. Ondanks China se ekonomiese wonderwerk, dui onlangse studies daarop dat die Chinese nie gelukkiger is as in die vroeë 1990’s nie ...

In plaas daarvan om geluk te laat toeneem, het welvaart die teenoorgestelde uitwerking gehad volgens dieselfde artikel het: “Die Chinese mense se lewensvreugde het eintlik tussen 1990 en die middel van die 2000’s afgeneem – ’n periode toe die bruto binnelandse produk en die gemiddelde verbruik viervoudig toegeneem het” (“Why are the Chinese so sad?”, Maclean’s, 4 Februarie 2013).

Wat is die geheim van geluk en sukses? Sommige mense wend hulle tot alkohol of dwelmmiddels vir die antwoord, maar diegene wat hierdie uitweg kies, vind dat dit op die ou einde nie bevredig nie. Dus, wat is die weg na ’n beter lewe?

’n Bekende koning het eenkeer wyse spreuke opgeteken om sy seun te leer hoe om te leef. Een van daardie spreuke sê vir ons: “Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is ’n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie” (Spreuke 26:2). Met ander woorde, daar is ’n oorsaak vir elke gevolg. Daar is ’n rede vir geluk, net soos wat daar ’n rede vir depressie, ’n gevoel van leegheid en eensaamheid is. Sommige oorsake van depressie kan geneties of klinies wees, maar dit verklaar nie waarom so baie mense die lewe onbevredigend vind nie. Daar is ’n rede vir sukses en om ander mense te blameer vir ’n mens se persoonlike mislukking dra nie daartoe by om die probleem op te los nie. Dit laat die probleem in werklikheid voortduur.

Spreek die werklike oorsaak aan

Die antwoord is nog die hele tyd voor die hand liggend, maar die meeste mense weier om dit te aanvaar. Op ’n manier is ons almal ten minste bietjie narsisties – met ander woorde, selfgesentreerd. Ons vind dit moeilik om te erken dat die keuses wat ons maak, die probleem kan wees. Dit is soveel makliker om ons persoonlike “slagoffertroefkaart” te speel as om te erken dat ons keuses die oorsaak kan wees vir die gevolge wat ons ervaar. Van jongs af dink ons dat ons weet wat ons gelukkig sal maak, terwyl dit regtig nie die geval is nie. Meer geld, meer dinge, meer plesier – dit alles stel ons teleur.

Die profeet Jesaja was geïnspireer om te skryf: “Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” Die konteks wys dat hy nie van letterlike kos en drank praat nie. Hy praat met diegene wat honger en dors na vervulling in die lewe, maar wat ’n gevoel van leegheid ervaar. Hy vra dan: “Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig” (Jesaja 55:1-2).

Ja, waarom wend ons pogings en energie aan om dinge na te streef wat nooit blywende geluk bring nie? Kyk rondom u. Wat sien u? U sien baie ongelukkige mense wat op allerlei verkeerde maniere en op al die verkeerde plekke na geluk soek. U sien mense op ’n mallemeule van hoogtepunte en laagtepunte, wat wissel tussen opwinding en opgewondenheid en verveling en depressie. U sien dat mense na meer streef as dit wat hulle reeds het en dink dat indien hulle net ’n bietjie meer het, hulle tevrede en vervuld sal wees. Indien roem, voorspoed en plesier egter werklik geluk bring, waarom het ons so ’n hoë selfmoordsyfer onder die rykes en beroemdes wat oënskynlik alles het?

’n Ander manier van leef

Ons is geskape om ’n verhouding met ons Skepper te hê en om die weg uit te leef van uitreikende besorgdheid vir ons medemens. Ons wil van nature alles vir onsself hê, maar God sê vir ons dat die weg na ’n vervulde lewe is om die teenoorgestelde te doen: Ons moet die manier van gee, die manier waarop ons vir ander omgee, leer en beoefen. Dit is die weg na ware geluk. Die apostel Paulus gee ’n opdrag aan ons dat ons “die woorde van die Here Jesus moet onthou, ... dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35).

Dit is nie duidelik wanneer Jesus dit tydens Sy bediening gesê het nie. Moontlik was dit een van Sy gewilde leerstellings wat algemeen bekend was, maar nie elders in die Skrif aangeteken is nie of moontlik is dit ’n opsomming van hierdie stelling: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Lukas 6:38). Dit is ’n moeilike begrip vir ons fisiese denke want dit klink so onlogies. Dit is beslis nie soos wat ’n kind dink wanneer hy in ’n lekkergoedwinkel staan met ’n rak vol lekkergoed voor hom nie. Is ons enigsins anders wanneer ons daardie blink nuwe motor of pragtige nuwe rok sien?

Soos ons egter almal uit ondervinding behoort te weet, word daardie nuwe artikel vinnig oud en wat ons gedink het ons gelukkig sou maak, doen dit net vir ’n kort tydjie voordat ons weer doelloos gelaat word.

God raai ons aan om na Hom toe te kom en die leë siel te vul met dit wat duursaam is, wat sonder geld en sonder prys beskikbaar is. “Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe, ... Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here” (Jesaja 55:3, 6-8).

Ons is nie bloot slagoffers in hierdie lewe, wat voortdurend nie in staat is om ons toekoms te verander nie. Ons artikel “Sewe stappe na ’n gelukkige lewe” elders in hierdie uitgawe, bevat ’n lys van verskillende stappe – groot en klein – wat elkeen van ons kan neem om ons gevoel van tevredenheid met ons lewens te verbeter. Elkeen van hierdie stappe is slegs ’n klein deeltjie van ’n veel groter benadering met betrekking tot die uitleef van ons lewens.

Indien u nog nie ons boekie, Wat is ’n ware Christen, gelees het nie, moedig ek u aan om dit te doen. Dit verduidelik ’n ander manier van leef, die regte oorsaak vir die gevolg wat u verlang en dit is gratis vir u beskikbaar. Lees dit aanlyn op wvm.co.za of bestel dit van ons streekkantoor, waarvan daar ’n lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif verskyn. Die Bybel leer ons ’n lewenswyse wat vreugde bring. Min mense ken daardie weg, maar u kan!