Byna meer as ’n eeu het verstryk sedert die beëindiging van die Eerste Wêreldoorlog. Soos tyd verbygaan, vervaag die mensdom se herinneringe aan die “oorlog om alle oorloë te beëindig”. Watter lesse moet ons leer?

In Flanders fields the poppies blow

Between the crosses, row on row,

That mark our place; and in the sky

The larks, still bravely singing, fly

Scarce heard amid the guns below.

We are the Dead. Short days ago

We lived, felt dawn, saw sunset glow,

Loved and were loved, and now we lie

In Flanders fields.

Take up our quarrel with the foe:

To you from failing hands we throw

The torch; be yours to hold it high.

If ye break faith with us who die

We shall not sleep, though poppies grow

In Flanders fields.

—John McCrae

Wanneer u deur Ottawa in Ontario, geleë in die suide van Kanada, op die 416-snelweg ry, mag u advertensieborde in Engels en Frans opmerk wat ’n eenvoudige boodskap bevat: “Lest We Forget [Sodat ons nie vergeet nie]”. Hierdie snelweg is ’n gedenkteken aan die oorlogsveterane en die opofferings van so baie mense wat hulle lewens opgeoffer het sodat ons vryheid kan geniet. In die boonste regterkantste hoek van elke advertensiebord is ’n rooi papawer – die blom wat ’n simbool van opoffering tydens die Eerste Wêreldoorlog geword het – hoofsaaklik as gevolg van die gedig, “In Flanders Fields” deur die Kanadese chirurg John McCrae.

Op 11 November 2018 was die 100ste herdenking van die afsluiting van die Eerste Wêreldoorlog. Dit was op die 11de uur van die 11de dag van die 11de maand in 1918 dat die “oorlog om alle oorloë tot ’n einde te bring”, amptelik beëindig is. Beramings van die aantal mense wat in die oorlog gedood en gewond is, wissel baie, maar dit wil voorkom asof daar tussen 15 en 20 miljoen mense gesterf het terwyl nog 20 miljoen in daardie verwoestende konflik gewond is. Jong mans van elke bewoonde vasteland het hulle bloed in ’n slagting wat meer as vier jaar geduur het, gestort.

Die borde langs die 416-snelweg herinner ons daaraan om nie te vergeet nie en stel ook ’n ernstige vraag: Wat is ons veronderstel om te onthou? Tien mense kan tien effens verskillende antwoorde gee, waarvan die meeste ongetwyfeld sal wees dat ons die baie lewens behoort te onthou wat in die sinnelose en brutale bloedbad kortgeknip is. Sommige mense mag sê dat ons die lesse van die geskiedenis moet onthou, sodat ons nie ons foute vergeet en herhaal nie. Om geskiedenis te onthou, is ongelukkig nie een van die mensdom se sterk punte nie.

Wat ook al die geval is, was die Eerste Wêreldoorlog nie die “oorlog om alle oorloë tot ’n einde te bring” nie. Daardie hoop is sowat 20 jaar later, met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, pynlik verpletter. Verskeie oorloë, konflikte en “polisie-optredes” het gevolg. Volksmoorde in Kambodja en Rwanda het getoon dat selfs die gruwels van die slagting van die Jode [Holocaust] ons maar min geleer het.

Wanneer sal ons onthou? Sal daar ooit ’n tyd sonder oorlog wees? Hoewel baie mense ernstig nadink oor die lewens wat in die oorloë verloor is en ander weer dink oor die gebeure wat lei tot oorlog, neem die meeste mense nie die  oorspronklike oorsake van oorlog in ag nie.

Nasionale selfbelang

Die voormalige president van die Verenigde State, Richard Nixon, het die mens se nuttelose pogings om ware vrede te bewerkstellig, verduidelik.

Diegene wat eerder agter die tikmasjien vrede maak as by die onderhandelingstafel, het die luukse om vredemakers te wees, sonder om met die komplekse probleme te worstel in die deurmekaar wêreld van werklike internasionale diplomasie. Vir hulle is die enigste struikelblok op die pad na vrede die betreurenswaardige gebrek aan leiers wat so onbaatsugtig en idealisties is soos wat hulle beweer om te wees en wat wél bereid is om hulle bekrompe nasionale belang opsy te skuif ter wille van vrede in die wêreld. Hulle hoop dat hierdie era die een sal wees waarin selfbelang – die dryfkrag agter die geskiedenis – sedert die begin van geskiedenis, net sommer sal verdamp (Real Peace, Richard Nixon, bl. 4).

Mnr. Nixon het die behoefte aan verandering in die mensdom se basiese natuur erken, maar hy was nie optimisties oor die vooruitsigte van hierdie verandering nie.

Op die langtermyn kan ons hoop dat godsdiens die natuur van die mens sal verander en konflik sal verminder. Met betrekking tot bogenoemde blyk die geskiedenis egter nie bemoedigend te wees nie. Die bloedigste oorloë in die geskiedenis was godsdienstige oorloë. Manne wat dieselfde God aanbid, het mekaar by die duisende afgemaai in die Amerikaanse Burgeroorlog asook by die miljoene in die Eerste en Tweede Wêreldoorloë. Tensy mense verander, moet ware vrede gebou word op die veronderstelling dat die beste wat ons kan doen, is om te leer om met ons verskille saam te leef, eerder as om daarvoor te sterf (Nixon, bl. 14).

Die Amerikaanse vyfster-generaal Douglas MacArthur het treffend beskryf hoe die mensdom se pogings om vrede te bring al misluk het. Hy het tereg opgemerk: “Dit moet van die gees wees as ons die vlees wil red” (“Radio Broadcast to the Nation Following the USS Missouri Surrender Ceremony”, AmericanRhetoric.com).

Geeneen van hierdie mans het lank genoeg geleef om die afskuwelike gebeure te aanskou van die terroriste-aanvalle van 11 September 2001 op die Wêreldhandelsentrum en die Amerikaanse Pentagon, die twee Golfoorloë, die talle addisionele konflikte en volksmoorde wat die afgelope 20 jaar plaasgevind het nie. ’n Mens kan jou net indink dat nie een van die mans verbaas sou wees nie – gesien in die lig van die toename en vermenigvuldiging van wapens van ondenkbare massavernietiging. Die mensdom se vindingrykheid om te vernietig en dood te maak, is merkwaardig!

Staatsmanne soos Nixon en MacArthur lyk vir die jonger geslagte onbelangrik. Elke generasie voel dat dit anders is en dat hulle immuun is teen die foute van vorige generasies of dit nou met aandelemarkte of internasionale konflikte verband hou. Dit is veral waar van die laaste paar geslagte, wat nog nooit ’n enkele konflik beleef het wat miljoene lewens gekos het nie. Iemand van aansien soos die voormalige leier van die Sowjet-Unie, mnr. Mikhail Gorbatchev, het egter minder as twee jaar gelede aan die tydskrif Time genoem dat “Alles daarop dui dat die wêreld vir oorlog voorberei” en sommige van die ouer leiers het ten minste daarvan kennis geneem (Time.com, Januarie 2017).

Verrassend soos dit mag wees, het Jesus Christus sowat 2,000 jaar gelede voorspel dat die mensdom se liefde vir en vaardigheid in oorlogvoering ons tot op die punt sou bring, waarsonder Sy direkte ingryping, alle lewe op hierdie planeet uitgewis sou word. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22).

Later het Jakobus – die broer van Jesus – in die Bybelse boek wat sy naam dra die vraag gevra en beantwoord oor wat menslike konflik veroorsaak: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:1-3).

Die menslike natuur is duidelik die kern van die probleem en omdat ons geen gemeenskaplike begeerte het om ons aard of natuur te verander nie, sal ons in die nabye toekoms klaarblyklik geen vrede hê nie. Dit is eers ná die Wederkoms van Jesus Christus en wanneer ons verlos is van die gees wat nou ons geaardheid beïnvloed en die verloop van hierdie wêreld bepaal, dat ons uiteindelik vrede sal geniet (Romeine 3:17; Efésiërs 2:1-2; Openbaring 20:1-3). Dit is een les wat ons nooit behoort te vergeet nie!

Dit is belangrik om die lesse uit die geskiedenis en die lewens wat deur oorlog kortgeknip is te onthou, maar is daar ’n les wat bykans die hele wêreld geheel en al vergeet het?

Sodat ons nie ons Skepper vergeet nie

Alhoewel baie mense erken dat die menslike natuur die oorsaak van konflikte tussen bure en nasies is, verstaan min mense die belangrike rede naamlik die waarom. Die Bybel openbaar dat God in die sake van nasies ingryp en soms beteken dit dat Hy die aangebore natuur van een nasie gebruik om ’n ander een te straf. Dit is veral waar met betrekking tot Israelitiese nasies, wanneer hulle versuim om te leef volgens die verantwoordelikhede van hulle spesiale roeping en hulle Skepper vergeet!

Baie Wêreld van Môre-lesers verstaan dat die volk wat in die Bybel bekend staan as Israel baie meer insluit as die klein volkie wat hulleself vandag Israel noem. Ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, openbaar die waarheid wat ons toelaat om huidige gebeure te verstaan in die lig van Bybelse profesie.

Dit is belangrik om te verstaan dat wanneer ons na die “uitverkore volk” verwys, ons erken dat al het God Israel wel vir ’n spesiale doel gekies – nie net die Jode nie, maar al twaalf stamme – dit nie was omdat hulle beter was as ander nie. Inteendeel, die Bybel verklaar spesifiek dat hulle nie is nie! Terwyl God gedurende die antieke tye Israeliete gebruik het om ongelooflike bose nasies te verdryf (sien Levitikus 18:24-28), was dit nie te danke aan hulle eie geregtigheid nie: “Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die Here jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die Here vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het. Weet dan dat die Here jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ’n hardnekkige volk” (Deuteronómium 9:5-6).

God het die Israelitiese volk gewaarsku dat menigvuldige vloeke die gevolge sou wees indien hulle Sy Wette en Gebooie sou verwerp. Een van die vloeke sou oorlog wees. “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie ... Ek sal ’n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen ... en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word” (Levitikus 26:14, 25).

Terwyl die mens se bedorwe natuur, selfsugtige begeertes van leiers en nasionale trots, intense en wydverspreide lyding veroorsaak, gryp God ook van tyd tot tyd direk in menslike sake in om hulle wakker te skud. Dit kom daarop neer dat God soms sulke dinge soos oorlog, siekte en natuurrampe gebruik om rebelse nasies te tugtig en na Hom terug te bring.

Benewens die begrip rakende die identiteit van elke Israelitiese stam – nie net die stam van Juda nie – is dit belangrik om die identiteite van ander Bybelse nasies in hulle moderne konteks te verstaan. Twee keer gedurende die laaste eeu het Duitsland teen die volke van Britse afkoms, die Verenigde State en sekere Europese nasies oorlog gemaak. Die meeste van hierdie lande wat teen Duitsland gekant was, is afstammelinge van wat in antieke tye bekend gestaan het as die huis van Israel. Dan praat ons nie eers van die anti-Semitiese menseslagting [holocaust] tydens die Tweede Wêreldoorlog nie! Soos in ons artikel “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich? verduidelik word, is moderne Duitsland hoofsaaklik uit antieke Assirië afkomstig.

In die Heilige Skrif openbaar God aan ons dat Hy moderne Assirië gebruik soos Hy antieke Assirië gebruik het: Om Sy uitverkorenes vir hulle sondes te straf. God noem Assirië, “die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid” (Jesaja 10:5).

Hierdie profesie in Jesaja gaan voort: “Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid” (vers 6). Daarna volg ’n onthullende stelling met betrekking tot die heerser van die Assiriese volk. “Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie” (vers 7). Met ander woorde, die koning van Assirië, wat só vol trots is (sien verse 8-11), verstaan nie dat dit God is wat hom laat draai, in die eerste plek teen die tien stamme, wat bekend staan as die huis van Israel en dan tweedens teen die huis van Juda (die Jode) nie.

’n Vroeëre voorbeeld van die vervulling van hierdie profesie het plaasgevind toe die Assiriese Ryk die noordelike tien stamme van die huis van Israel in ongeveer 720 v.C. in gevangenskap geneem het. Assirië het ook probeer om die huis van Juda onder sy juk te bring, maar dit was nie God se tyd dat Juda verslaan moes word en in ballingskap gaan nie. Daardie tyd sou meer as ’n eeu later aanbreek toe God, Nebukadnésar en sy Babiloniese Ryk sou oorreed om Juda gevange te neem. Die belangrikste vervulling van Jesaja se profesie is egter nog in die nabye toekoms.

Waarom sulke strawwe?

Die profeet Jesaja wys ons daarop dat God Assirië, waarvan baie Duitsers afgestam het, as Sy staf van tugtiging teen rebelse Israel gebruik. Die volke van Britse afkoms, die Verenigde State, Frankryk en verskeie ander nasies wat in Noordwes-Europa gevind word, het tradisioneel aan hulleself as regverdige, Christelike nasies gedink, maar is hulle? Is die moderne, wydverspreide vorm van Christelikheid waarlik die godsdiens wat deur Jesus oorgelewer en deur die Apostels en die eerste-eeuse Kerk van God beoefen is? Die antwoord is dat dit nie is nie! ’n Insiggewende reeks oor die Protestantse Hervorming deur wyle dr. Roderick C. Meredith – wat die afgelope jaar in hierdie tydskrif gepubliseer is – behoort dit heeltemal duidelik te maak.

Moderne Assirië het pyn en verdriet aan God se verbondsvolk besorg, maar God het ons vir Sy doel bewaar. Nadat God Israel gestraf het, sal Hy Hom na die sondes van die nasie wat Sy staf is wend om met hulle af te reken. “Maar as die Here al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë” (Jesaja 10:12). God vra: “Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek” (vers 15).

Wat duisende jare gelede met Israel en Juda gebeur het, is net ’n vooruitskouing van toekomstige gebeure. Ons het presies gedoen wat ’n liefdevolle God ons gewaarsku het om nie te doen nie – om te vergeet! “En as die Here jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ’n eed beloof het om jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie – en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die Here nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie” (Deuteronómium 6:10-12). Dit is duidelik dat hierdie ’n direkte waarskuwing was aan die geslagte wat uit Egiptiese slawerny gekom het, maar baie profesieë is nog nie vervul nie en die waarskuwing, “dat jy die Here nie vergeet nie”, is vandag nog meer van toepassing op die Israelitiese volke.

Na aan die einde van die boek Génesis spreek die patriarg Jakob ’n merkwaardige profesie uit wanneer hy voorspel wat met elkeen van sy twaalf seuns aan die einde van die tyd sal gebeur. Ons lees in Génesis 49:1: “Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” Ons leer dat Josef se afstammelinge baie vyande sal hê, maar God sal hulle help. “Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob – daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is” (verse 23-24).

Hierdie profesie gebruik terme wat verstaanbaar was vir diegene wat geleef het toe dit geskryf is, maar die tyd waarna dit verwys, word as “aan die einde van die dae” aangedui. ’n Soortgelyke eindtydse profesie wat op Josef betrekking het word in Deuteronómium 33:13-17 aangetref. Horings is ’n simbool van militêre mag en aan ons word vertel, “Sy eersgebore stier – heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam” (vers 17). Kan daar ’n meer akkurate beskrywing wees van wat in die Tweede Wêreldoorlog gebeur het toe Brittanje, Amerika, Kanada, Australië en hulle bondgenote hulle vyande letterlik na die einde van die aarde verdryf het?

Twee wêreldoorloë moes ons nederig gelaat het, maar in plaas daarvan het ons arrogant en hoogmoedig geword terwyl ons God en Sy Gebooie verag. Dit is geen wonder dat terrorisme na ons grensgebiede gekom het nie. “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking [terrorisme] oor julle beskik ...” (Levitikus 26:14-16). Hy waarsku ons verder: “En Ek sal julle trotse mag verbreek ...” (vers 19). Ons trots sal lei tot verdere bestraffing omdat ons die Een vergeet wat groot seëninge oor ons uitstort.

Baie mense gee toe dat die menslike natuur ’n oorsaak van oorlog en twis is, maar min van hulle besef dat God natuurlike menslike geneigdhede gebruik om rebelse nasies te straf en om hulle daardeur tot berou te bring. God het twee keer deur die afgelope eeu toegelaat dat moderne Assiriërs dood en verwoesting oor hardkoppige nasies van Israel bring. Terselfdertyd het Hy ons nasies deur Sy magtige arm versterk en ons van volkome vernietiging gespaar terwyl die een wat straf toedien, gestraf word, maar ons het nie uit hierdie konflikte geleer nie. Amerika en sy bondgenote is hoogmoedig en verval in onsedelikheid terwyl hulle weier om aan God die eer te bewys wat Hom toekom. God sal nie so sagkens met ons werk volgende keer nie! Nederlae lê vir ons voor in die toekoms!

Ons sien onsself as die bron van ons eie ekonomiese krag, terwyl ons die ware Bron vergeet het. “Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe” (Deuteronómium 8:18). Soos menige ander profesieë aantoon, lê daar verdere straf vir die Israelitiese nasies in die toekoms voor. Die profeet Jeremia het na ons volke verwys toe hy geskryf het: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7).

Desnieteenstaande sal miljoene mense in die toekoms sterf, omdat ons vergeet het!

Maak seker dat u John Meakin se artikel “Dit is Londen wat roep” in hierdie uitgawe lees om addisionele perspektief op die 100ste herdenking van die einde van die Eerste Wêreldoorlog te kry.