Die oorlog wat die Verenigde State van Britse heerskappy afgesny het, het beter oorsake en gevolge gehad as wat baie mense besef. Dit was deur God gebruik om Sy wil vir beide nasies te laat geskied.

Sowat 3.2 kilometers van my huis in Somerset, Engeland, staan Dillington Huis, die eertydse landgoed van Lord Frederick North, die premier van Groot-Brittanje tussen 1770 en 1782. Sy Tory-regering het gedien onder George III, die berugte Hanoveraanse koning, wat later in sy lewe aan ’n ernstige en aftakelende geestesongesteldheid gely het (volgens hedendaagse denke word dit deur porfirie, ’n genetiese bloedsiekte, veroorsaak).

Koning George en Lord North se blywende aanspraak op roem is dat dit “gedurende wagstaantyd” is dat hulle 13 Amerikaanse kolonies in die Rewolusionêre Oorlog van 1775-1781 “verloor” het of soos dit later bekend geword het, die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog.

Die skeiding van die Amerikaanse kolonies van Brittanje het bewys dat dit een van die groot keerpunte in die geskiedenis was aangesien Amerika van nederige oorsprong gegroei het om die dominante wêreldmoondheid te word, spruitende uit die ideale van “lewe, vryheid en die nastreef van geluk” soos dit uitgedruk word in die beroemde Onafhanklikheidsverklaring. Gedurende die afgelope eeu het die V.S. invloed oor die hele wêreld uitgeoefen en oorheers in taal, kultuur, besigheid en handel en die uitoefening van oorweldigende militêre bekwaamheid.

Hoe het dit gebeur en waarom? Watter lesse kan geleer word uit die geboorte van die magtigste nasie wat die wêreld nog ooit geken het, veral vanuit die perspektief van die Britse Ryk – die grootste Ryk wat die wêreld ooit geken het?

Oorlog teen die Franse

Die verhaal van hoe dit alles begin het, begin op ’n tyd toe Brittanje ingesien het dat die sleutel tot haar toekomstige voorspoed en invloed in die skepping van ’n wêreldwye handelsryk lê. Die koloniale mededinging in Europa, veral van die Franse, was van Brittanje se grootste uitdagings. Die Franse het in 1756 ’n algehele aanval op die Britse strewe na koloniale oppergesag geloods en dit was die begin van die Sewejarige Oorlog.

In Noord-Amerika het Frankryk – wat die sentrale deel van die vasteland beheer het – kant gekies met die Abenaki-konfederasie van inheemse Amerikaners teen Britse belange; die dertien kolonies in die ooste en daardie in die noorde van Kanada. Die koloniste het uitsonderlike lojaliteit teenoor Brittanje betoon deur tienduisende troepe te verskaf om deel te neem aan die stryd. Brittanje en die koloniste het die oorlog beslissend gewen, wat met die Verdrag van Parys, in 1763 tot ’n einde gekom het, waarvolgens Brittanje oor Kanada van die Franse, en Florida van die Spanjaarde, beheer gekry het.

Alles was egter nie wel in die verhouding tussen die Amerikaanse kolonies en Brittanje nie. Die koloniste wou bowendien met groter respek en oorlegpleging behandel word en nie net deur die Koning van Engeland en die Parlement in Londen voorgeskryf word nie. ’n Toenemende botsing van perspektiewe en prioriteite het daarna ontwikkel, met die koloniste wat toenemend gevoel het dat hulle belange nie voldoende verteenwoordig word nie.

’n Koninklike Proklamasie van 1763 het ’n beperking geplaas op die westelike uitbreiding van die Amerikaanse kolonies. Die doel was om koloniale uitbreiding na die noorde (Nova Scotia) en na die suide (Florida) te herlei. Hierdie beperking was ongewild met ’n veelseggende minderheid en het bygedra tot ’n toenemende gevoel van konflik tussen die koloniste en hulle Britse meesters.

Daarna het ’n finansieel-gestremde Brittanje, wat ná die Sewejarige Oorlog gesukkel het om sy groterwordende wêreldryk te finansier, gedink dat dit vir die uitbreidende kolonies gepas sou wees om by te dra tot hulle eie verdediging teen Indiaanse opstande en die moontlikheid van toekomstige Franse invalle. Die koloniste het bitterlik gekla, nie direk oor die belasting nie, maar oor die vraag of die Parlement sonder hulle goedkeuring ’n belasting op die Amerikaanse koloniste kon hef. Amerika het per slot van rekening geen verteenwoordiging en stem in die Parlement gehad nie. Die koloniste was nie juis opstandig nie; hulle het hul gedra soos alle “goeie” Engelse tuis, wat aangedring het op “geen belasting sonder verteenwoordiging nie”! Hierdie slagspreuk was nie werklik ’n verwerping van Britse gesag nie, maar eerder ’n uitdruklike handhawing van hierdie beginsel. (Ferguson, Niall, Empire – How Britain Made the Modern World, Penguin, 2003. bl. 93).

Die voorbereidings is stelselmatig getref vir ’n magtige konfrontasie. In 1765 het die Parlement die Seëlwet ingestel, wat ’n seëlbelasting gehef het op elke dokument in die Britse kolonies van Noord-Amerika. Hierdie belasting is moontlik opsetlik gehef om die radikaliste, wat koerante gepubliseer het wat hierdie belasting veroordeel het, die swaarste te tref. Protes het gevolg en gevolglik ook weiering van die kolonies om daaraan te voldoen.

’n Verandering van die regering in Londen het die Seëlwet in 1766 herroep. Daar was wydverspreide gejubel in die kolonies. Londen het egter ook uitdruklik verklaar dat die Parlement die absolute gesag gehad het om na goeddunke enige wette of veranderings op sy kolonies bindend te maak – selfs al was die koloniste nie in die Parlement verteenwoordig nie. Daar was uitroepe van ontsteltenis in die kolonies vir wat gesien was as die ontkenning van Anglo-Saksiese-vryhede wat oor baie geslagte heen verkry is.

In 1767 was swaar invoerheffings op ’n verskeidenheid produkte (met inbegrip van tee) geplaas wat Amerika binnegekom het. Die doel was eenvoudig om geld in te samel om vir die koste van die administrasie van die kolonies te betaal. Die reaksie was egter meer afgryse en vervreemding – wat in 1769 gegrens het aan opstand en verraad deur Noord-Amerikaanse gemeenskappe.

Die Ryk slaan terug

In 1770, het Lord North die leisels oorgeneem. Een van sy eerste take was om al die onlangs ingestelde belastings af te skaf, behalwe die een op tee. Alhoewel dit deur die koloniste verwelkom was, het hulle goedere uit Brittanje geboikot wanneer dit hulle gepas het en hulle het oor die algemeen geweier om saam met Londen te werk. Lord North se regering het in elk geval voortgegaan met sy planne en die invoer van groot hoeveelhede surplus tee wat deur die Oos-Indiese Kompanjie gehou was op Amerika afgedwing, maar teen ’n veel laer belastingkoers as wat vir Brittanje opgelê is. Die idee was dat een deel van die Britse Ryk ’n ander deel van die Ryk aan die teenoorgestelde kant van die wêreld moes help.

Dit was nogtans nie hoe baie Amerikaners dinge gesien het nie. Tee was inteendeel nog nooit goedkoper nie. Die Oos-Indiese maatskappy het alleenreg ontvang om tee na Amerika in te voer en diegene wat die meeste daaronder gely het, was die ryk Boston-smokkelaars. Dit was hulle wat die bekende Boston Tea Party op 16 Desember 1773 georganiseer het, toe mense wat as Mohawk-Indiane vermom was, 342 bokse tee wat nog nie van die skepe afgelaai was nie, in die Boston hawe gestort het. Hierdie relatief onbelangrike gebeurtenis van nasionale teëstand het geblyk ’n opruiende oomblik te wees.

Lord North se regering het skerp gereageer met ’n reeks wette in 1774. Dit was gesamentlik deur die Amerikaners as Die ondraaglike wette beskou. Boston Harbour sou gesluit bly totdat voldoende vergoeding vir die verlore tee deur die dorpsmense beskikbaar gestel is. Die handves van die Massachusetts-kolonie is herroep en die goewerneur van Massachusetts het magtiging ontvang om enige van sy troepe in die huis van enige setlaar te plaas wat hy verkies het.

Daarbenewens het die Parlement ingestem om die Franse siviele regstelsel te behou en 70,000 Franssprekende Katolieke in Kanada toe te laat om hulle geloof sonder boetedoening te beoefen en om hulle kerk met tiendes te ondersteun. Vir die meerderheid van die Protestantse Amerikaners het hierdie verwikkelings hulle ergste vrese oor die heerskappy van Londen versterk. Vir hulle het dit verhore sónder juries ingelui, die einde van habeas corpus en ’n regering sonder ’n verkose verteenwoordiging (Shama, Simon. A History of Britain, Vol. 2 The British Wars, 1603-1776. BBC, 2001. bll. 464-470; Lee, Christopher, This Sceptered IsleEmpire. BBC, 2005. bll. 173-176). Amerika was nou reeds ver verby die punt om selfs die beginsel van om belas te word deur die Parlement in Londen, te aanvaar.

Die reaksie in Londen oor wat oorsee gebeur het, was bitterlik verdeeld. Winkeliers en handelaars was bevrees vir hulle lewensbestaan indien oorlog sou uitbreek. Die stemming van die koning en die parlement was daarop gerig om die “rebelse” Amerikaners ’n les te leer wat hulle nooit sou vergeet nie. Dus was die dobbelsteen gegooi en koning George III het verklaar dat die Amerikaners in ’n staat van “openlike en verklaarde opstand was” wat konflik aangewakker het “ten einde ’n onafhanklike Ryk te vestig”. Oorlog was ’n voldonge feit.

Sover dit die Amerikaners aangegaan het, indien ’n oorlog wél geveg moes word, was dit met ’n Ryk wat korrup geraak het en nie meer vryheid verteenwoordig het nie, maar nou ’n verdorwenheid van die beginsels beliggaam waarop dit gestig is (Shama, bl. 477).

Die oorlog self

Die Britse Parlement het gehoop dat hulle uitmuntende gewapende magte, bondgenote sou word van daardie Amerikaners wat getrou aan die Kroon gebly het (“lojaliste” genoem), ’n vinnige dodelike slag sou toedien aan die strewes na onafhanklikheid en vinnig weer die kolonies in pas bring, terug na onderdanigheid aan Britse heerskappy.

Dinge het egter nie uitgewerk soos die Britte dit beplan het nie. ’n Stryd waarvan nog lank gepraat sou word het plaasgevind. Die uiters goedopgeleide en toegeruste Britse vloot- en landmagte het teen ’n slordige, swak gedissiplineerde, swak opgeleide, swak toegeruste en slegs onlangs saamgestelde Kontinentale Weermag, te staan gekom. George Washington was die voortreflike en ervare generaal wat belas was met die moeilike taak om die weermag te vorm in ’n geloofwaardige vegkrag wat uiteindelik kon seëvier.

Die Britte was ietwat gekortwiek, deels deur ’n onwilligheid om ten volle betrokke te raak in wat vir baie mense kenmerkend was van ’n burgeroorlog tussen wesenlik dieselfde mense en deels deur die noodsaaklikheid om hulle magte elders in die wêreld op ander fronte, (teen die Franse) wat alreeds aan die gang was, aan te wend. Die voortdurende hoop was dat die swakker Amerikaanse magte die hopeloosheid van hulle saak sou insien en eenvoudig die aftog sou blaas.

Frankryk, Spanje en Nederland het vol verwagting by die konflik betrokke geraak en by die kant van die Amerikaners aangesluit. Hulle het gehoop dat hulle hierdeur die gebiede sou herwin wat in die Sewejarige Oorlog verloor is. Die oorlog het in Oktober 1781 ’n hoogtepunt bereik met die berugte nederlaag vir die Britte in die suide van Yorktown, met die Franse vloot wat ontsnapping deur die see geblokkeer het en die nou bobaas Frans-Amerikaanse troepe wat die land oordek het. Generaal Cornwallis het geen ander keuse gehad as om die nederlaag namens Brittanje te aanvaar nie en die vyandelikhede is vinnig beeindig. Twee jaar later is ’n vredesverdrag onderteken waarvolgens die Britse regering Amerikaanse onafhanklikheid erken het (James, Lawrence. Warrior Race – A History of the British at War. Abacus, 2001, bl. 242). Een van die eerste dinge wat Washington gedoen het nadat die oorwinning afgehandel was, was om die Kontinentale Weermag te ontbind en terug te keer na sy geliefde “Mount Vernon”-plantasie in Virginia om die volgende stappe vir die nuwe nasie te beplan.

Amerika floreer

Die gevolge van die oorlog was op talle maniere vir Amerika baie belangrik. Amerika het nou die vryheid gehad wat hulle begeer het om te ontwikkel soos hulle wou sonder die koloniale onderdanigheid wat die koning en die parlement vereis het. Amerika het “die land van die vrygemaaktes en die tuiste van die dapperes” geword, wat uiteindelik ’n unieke opgestelde grondwet geskep het om die Onafhanklikheidsverklaring se beginsels van “lewe, vryheid en strewe na geluk” te beskerm.

Baie mense het begin dink dat Amerika ’n “bewese bestemming” het om oor die vasteland te versprei – deur God bedoel om buitengewoon te wees en om daardie blink “stad op ’n heuwel” te word om ’n beter lewenswyse vir die wêreld te verteenwoordig.

Die skitterende opkoms van Amerika kon voortgaan en versnel, gebou op ’n stygende gety van immigrante wat in die Amerikaanse identiteit, vryhede en vooruitsigte ingekoop het. Die groot potensiaal van Amerika se natuurlike hulpbronne kon ten volle ontwikkel word: In steenkool, olie en gas, in staal, in hout en in die landbou. Lewe en vryheid was volop vir almal en geluk kon nou heelhartig nagestreef word (tog het dit ’n bloedige burgeroorlog geneem asook baie ander maatskaplike veranderings om sulke geleenthede vir almal te bied wat binne die grense van Amerika geleef het, te verseker). Die V.S. se handel met die res van die wêreld kon onbeperk en ongehinderd voortgaan.

Aangesien die Britse vloot nie meer die V.S. se belange beskerm het nie, het ’n Amerikaanse vloot gou begin vorm aanneem om die werk self te doen, wat begin het met die Noord-Afrikaanse Barbary-kus. Dit was ’n vloot wat bestem was om eendag die krag van die Britse Vloot totaal te oorskadu en wat uiteindelik ongehinderd dwarsoor die wêreld se oseane sou kon vaar – sowel as onder hulle. Die V.S. lugmag sou eendag die lug regeer en Amerika se eens slordige militêre mag sou opgang maak sonder enige gelyke.

Brittanje floreer ook

Wat gelyk het na ’n dodelike slag vir die Britse Ryk het toe nie gerealiseer nie. Inderdaad, Brittanje se verlies van Amerika was eintlik net ’n geleentheid vir haar om met meer ywer elders uit te brei en te floreer. Opeenvolgende regerings het oor die katastrofiese gebeure besin en stadig tot die gevolgtrekking gekom dat “dit onverstandig en onprakties was om Britte van wetlike en politieke regte te ontneem net sodra hulle hul tuiste verlaat het om oorsee te vestig” (James, bl. 243).

Vyftig jaar of so later het die Durham-verslag van 1839 oor Brits-Noord-Amerika tot die gevolgtrekking gekom: “Diegene wat die wit kolonies regeer, behoort aanspreeklik gehou te word om verslag te doen aan verteenwoordigende vergaderings van die koloniste en nie slegs aan die agente van ’n verre koninklike gesag nie”. Dit is presies wat die vorige generasie Britse politici vir die Amerikaanse kolonies ontsê het. So is die magsewewig beslissend verskuif na die verkose verteenwoordigers van die koloniste, met goewerneurs wat ’n meer dekoratiewe rol gespeel het, saam met dié van die monarg. Die resultaat was verreikend: Die beginsel van die Ryk kon versoen word met die beginsel van vryheid, sonder die noodsaaklikheid van onafhanklikheids-oorloë.

Hierdie belangrike les is goed geleer. Kanada, Australië, Suid-Afrika en Nieu-Seeland het almal selfregerend geword. Indië het gevolg. Self-regering het uiteindelike onafhanklikheid voorsien. Die Britse Ryk het dus ’n soort ingeboude veroudering gehad – die eindresultaat van respek vir die beginsels van ongebondenheid en vryheid. Die Britse Gemenebes is ’n onomstootlike getuienis van waarheen respek vir vryheid kan lei: Na ’n groep nasies wat vrywilliglik dieselfde waardes van regering deel en op wedersydse respek en vryheid gebaseer is. Waarlik, “die Onafhanklikheids-oorlog het die toekomstige vorm bepaal en daarom die uiteindelike lot van die Britse Ryk” (James, bl. 243).

’n Antieke belofte het waar geword

Vreemd genoeg het baie van die Britte ook hulle eie land en Parlement gesien as ’n model van vryheid en hulle vordering in die wêreld as “uitsonderlik”. Inderdaad, beide Amerika en Brittanje het hulleself gesien as uitverkies deur ’n hoër gesag om ’n magtige impak op die wêreld te hê – dit het hulle beslis gedoen, ten goede of nie.

Wat ookal u perspektief hieroor is, die Britse en Amerikaanse heerskappy het ’n grootliks vrye wêreld geskep wat gebaseer was op demokrasie, vryheid en die oppergesag van die reg. Vir enige persoon wat nie saamstem nie, kan mens net vra hoe die wêreld sou lyk indien dit deur ’n duisendjarige Nazi-Ryk of ’n kommunistiese kollektiewe regering regeer was – ’n outoritêre regering in diktatoriale hande. Mens sidder om daaraan te dink.

Het Brittanje en Amerika belangrik geword as gevolg van die uitnemendheid van hulle grondwetlike ooreenkomste of omdat die mense inherent beter mense as ander is? Nee! Daar is ’n verrassende Bybelse rede vir die uitstyging van Brittanje en Amerika.

Nadat die sterwende patriarg Jakob (Israel) God se seëninge aan sy kinders oorgedra het, het hy veral twee van sy kleinkinders uitgekies – die seuns van Josef. Manasse, die eersgeborene, sou ’n groot nasie word, maar sy jonger broer, Efraim, sou selfs groter wees en ’n menigte van nasies word (Génesis 48:1-22). Dit was ’n profesie vir “die einde van die dae” (Génesis 49:1) en bied onbetwisbare redes om Manasse met die Verenigde State van Amerika, en Efraim met Groot-Brittanje en haar nasionale familie van bloedverwante te verbind.

Hierdie seuns van Josef was gesamentlik merkwaardige seëninge bo die ander broers belowe (Génesis 49:22-26). Hierdie ooreenkomste van identiteite kom met ’n lang pad tot by die oplossing van ’n paar basiese vrae wat uit die geskiedenis ontstaan het en die gevoel van identiteit, doel en “uitgesonderdheid” wat deur die Amerikaanse en Britse volke besit word. Hierdie kennis gee ’n groter diepte om die geskiedenis en God se toekomsplanne te verstaan – meer as wat die meeste mense hulle vandag selfs kan indink. Skryf gerus vir ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, om meer uit te vind.
 


Ware vryheid en geluk

Een van die groot menslike dryfvere is die hunkering na vryheid – die vermoë om in vrede te leef en in vryheid met ons lewens aan te gaan binne redelike en aanvaarbare wette. Geen menslike pogings om vryheid en geluk te verseker kan ooit heeltemal suksesvol wees nie – lewe en menslike natuur is eenvoudig onvolmaak en word deur selfsug gelei.

Dit alles dui op ’n oorkoepelende vraag van die uiterste belang. Is daar ’n definitiewe bron van geluk en vryheid? Een wat op almal van toepassing kan wees, ongeag ras of nasionaliteit? Is daar ’n universele pad om hierdie ideale te bereik?

Die antwoord is ja! Dit word in die bladsye van die Bybel gevind, die geskrewe uitdrukking van God se wil en doel. Geloof in God en die uitlewing van Sy weë lei tot uiteindelike geluk, vrede en vryheid. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde” (Galasiërs 5:13).

Ware vryheid is – in sy kern – ’n innerlike kwaliteit wat voortspruit uit ’n intieme verhouding met God en met die Heilige Skrifte, wat bepaal wat vryheid in die praktyk beteken. Hou aan om die Wêreld van Môre-tydskrif te lees om uit te vind hoe u hierdie ware vryheid self kan hê en hoe dit eendag na die hele wêreld uitgebrei sal word.