Hierdie artikel het ek in die pragtige British Columbia begin skryf – een van my gunstelingplekke op hierdie planeet wat ons ons tuiste noem. In Kanada waar ek onlangs was, is drie van my Kanadese weergawes van Tomorrow’s World-beeldsendings opgeneem. Ek het drie Tomorrow’s World-aanbiedings in Kelowna gegee en het ook deur middel van ’n Internet-konneksie met ons gemeentes in Wes-Kanada gepraat. Daarna het ek vir ’n paar dae saam met vriende by ’n afgeleë hut aan die oewer van ’n meer ontspan, waar ek my nou bevind en hierdie brief aan u skryf.

Buite sien ek majestueuse berge en sagte wit wolke geverf teen ’n pragtige blou agtergrond. Het u al ooit daaraan gedink hoe werklik merkwaardig ons aardse tuiste is? Dit is so maklik om dit as vanselfsprekend te aanvaar. Dit maak nie saak waar mens reis nie. ’n Mens vind oral oorvloedige aardse skatte. Daar is tropiese eilande waar heerlike vrugte aan inheemse bome hang. Die koringlande van Iowa en Nebraska verskaf voedsel aan beide mens en dier. Dan is daar die hemelhoë sneeubedekte bergreekse van Europa, Asië en Suid-Amerika wat gedurende die somerhitte water aan laerliggende streke voorsien. Ons verwonder ons aan die vreemde, kleurvolle wesens wat ons oseane bewoon. Ons kan dit egter steeds alles as vanselfsprekend aanvaar.

Is daar lewe daar buite?

Ek het in die hoërskool gehoor dat daar dalk lewe gevind kan word op Mars of Venus, ons naaste bure, maar sulke verwagtings is dekades gelede deur latere wetenskaplike ontdekkings verpletter. Wetenskaplikes begin nou verstaan hoe uniek ons planeet werklik is. Baie mense dink dat met soveel sterrestelsels, soveel sterre en soveel planete daar buite, lewe êrens anders in ons heelal moet bestaan. Namate wetenskaplikes egter meer leer van die toestande wat nodig is om lewe moontlik te maak, selfs sogenaamde primitiewe lewe, hoe skraler word die kanse. Nog belangriker is daardie probleem van hoe lewe ooit op enige plek uit nie-lewende materiaal sou kon ontwikkel. Die waarskynlikheid om selfs ’n enkele proteïen te ontwikkel, is ontsaglik klein. Dit is statisties onmoontlik. Niemand het regtig nuwe lewe uit nie-lewende materiaal voortgebring nie en niemand kan ’n aanvaarbare verduideliking, wat deur navorsing bewys kan word, gee van hoe dit ooit sou kon gebeur nie.

Die feit dat u hierdie tydskrif lees, dui waarskynlik daarop dat u die wonder van ontwerp in elke lewende wese sien asook die noodsaaklikheid van ’n Skepper, ’n Ontwerper, ’n Lewegewer, erken. Dit bring my by ’n baie belangrike vraag: Waarom is ons hier?

By die Tomorrow’s World-aanbieding in Kelowna het ek daarop gewys hoe min mense probeer om oor die sin en doel van die lewe na te dink. Waarom het ’n intelligente Wese ons op hierdie spesiale plek geplaas? Hoekom is dit vir ons selfs moontlik om so ’n vraag te oorweeg?

Min mense bestee tyd daaraan om die antwoord te probeer ontdek. In plaas daarvan haas hulle hul van een opwindende aktiwiteit na ’n ander. Hulle moedig hulle gunstelingspan aan en leef vir die volgende wedstryd. Hulle maak soveel geld as moontlik, koop soveel speelgoed as wat hulle kan bekostig (of nie kan nie) en volg die gebruike wat aan hulle oorgelewer is. Hulle is onbewus van die waarom vraag. Baie mense probeer om, wat hulle beskou as ’n “goeie lewe”, te leef en glo dat hulle powere pogings hulle op een of ander manier, lewe na die dood kan gee. Hulle besluite maak dit egter duidelik dat lewe na die dood nie hulle belangrikste prioriteit is nie. In plaas daarvan leef hulle eerder ’n “net ingeval” lewe – dit wil sê, 'n lewe op ’n soort van halfhartige manier “net ingeval” daar ’n God is en “net ingeval” daar lewe na die dood is.

Ons bestaan omdat ’n Verstand, veel groter as ons eie, ons ontwerp, kunstig gevorm en geskep het. Indien dit waar is – ek glo die meeste van u wat hierdie artikel lees glo dit is – dan moet daar ’n doel wees. Te min mense (miskien sommige van u ook) gee nogtans egter genoeg om, om daardie doel te probeer ontdek. Hoe jammer!

Kosbare kennis

Baie van ons boekies, tydskrifartikels en Tomorrow’s World-beeldsendings, spreek hierdie onderwerp aan. Dit is kosbare kennis wat ek nooit persoonlik in die hoofstroomkerke wat ek bygewoon het, terwyl ek grootgeword het, geleer het nie. Ek is seker dat u dit ook nie geleer het waar u Sondagdienste bygewoon het nie. Die dood, begrafnis en opstanding van Jesus het onoortreflike betekenis vir elke menslike wese, alhoewel die meeste mense geen idee het wat dit alles beteken nie. Wat was die boodskap wat Jesus egter voor Sy dood, begrafnis en opstanding gebring het?

In vers na vers in die Nuwe Testament van die Bybel, lees ons van die Koninkryk van God – maar wat beteken dit? Dit is nie wat die meeste kerkgangers dink nie. Dit gaan nie oor hemel toe gaan nie. Dit is nie die groot gholfspel, visvanguitstappie of die leë belofte van marijuana nie. In plaas daarvan het Jesus Christus Sy dissipels geleer dat Hy weer sal terugkeer en ’n Koninkryk op hierdie aarde sal vestig waarvan ons deel kan wees om saam met Hom te regeer.

’n Man het eenkeer na Jesus toe gekom en gevra: “Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” Hy is aangesê: “... onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:16-17). Dit klink eenvoudig genoeg, maar teen die einde van die gesprek was dit duidelik dat die persoon nie bereid was om “voluit te gaan” om God te gehoorsaam nie. Die man se god was sy geld en Jesus het aan Sy dissipels gewys hoe moeilik dit is vir iemand wat ryk is om God eerste te stel. Hierdie leerstelling het Sy dissipels verstom. Hulle het alles opgeoffer om Hom te volg en in wese wou hulle weet wat hulle daarby sou baat (verse 21-27).

Jesus het geantwoord: “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (vers 28). Dit behoort verskeie vrae in ons gedagtes te laat opkom. Byvoorbeeld, het tien van die twaalf stamme nie in die geskiedenis verlore geraak nie, opgeneem in ander nasies en volke, soos baie mense beweer nie? Hoe kan daar dan twaalf verskillende stamme wees ná Christus se Wederkoms? Ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? verduidelik hierdie raaisel in detail.

Ons lees ook dat koning Dawid opgewek sal word en oor al twaalf stamme van Israel sal regeer (Jeremia 30:9; Eségiël 37:24). Eségiël 34:24 maak dit duidelik dat hierdie gedeeltes nie na Christus verwys nie, maar na Dawid self, omdat dit beide die Here en Dawid vermeld: “En Ek, die Here, Ek sal vir hulle ’n God wees, en my kneg Dawid ’n vors in hulle midde.”

Jesus se dissipels het eers gedink dat Hy Sy Koninkryk gedurende hulle leeftyd sou vestig, maar Hy het vir hulle ’n gelykenis gegee om van daardie idee ontslae te raak (Lukas 19:11-27). In die gelykenis word belonings gegee aan diegene wat aktief gehoorsaam was aan die opdragte wat aan hulle gegee is. Die eerste man het die pond wat aan hom gegee is tienvoudig vermeerder. “En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17). Die man wat sy pond vyfvoudig vermeerder het, sou gesag ontvang om oor vyf stede te heers (vers 19).

Ons sien hierdie patroon in wat voorspel is om te gebeur. Wanneer Christus weer kom, sal Hy Koning wees oor die hele aarde (Sagaria 14:9). Onder Hom sal Dawid wees oor al twaalf stamme van Israel. Onder Dawid sal Jesus se twaalf Apostels wees, wat elkeen oor een van die twaalf stamme sal heers en ons vind dat die ander dienaars van God oor verskeie stede sal heers om vrede en voorspoed vir hierdie gekwelde wêreld te bring. Verskeie Skrifgedeeltes wys daarop dat die beloning van God se dienaars op hierdie aarde sal wees (Openbaring 5:10; Daniël 7:27).

Hierdie is slegs ’n klein gedeelte van ’n baie groter prentjie van waarom u gebore is. God het ’n groot doel vir u in gedagte. Is dit nie tyd dat u die betekenis van u lewe ontdek nie?

Indien u meer te wete wil kom – veel meer as wat u sal kan leer tydens ’n erediens op ’n Sondag-oggend – vra ons gratis boekie, U uiteindelike Lotsbestemming, aan. Die streekkantoor die naaste aan u, soos gelys op bladsy 2, sal graag, op u versoek, ’n kopie aan u stuur.