Die uitvinding van die Wêreldwye Web het die wêreld verander. Hierdie tegnologiese noodsaaklike produk van die moderne lewe het egter nou ’n donker kant ontbloot en die uitvinder daarvan hoop om dit te red.

Tydens die skouspelagtige openingseremonie van die 2012 Olimpiese Somerspele in Londen het die lawaaierige stadion met afwagting stil geraak toe die ligte verdof is. Die aandag was gou op ’n enkele lessenaar gevestig, waar ’n middeljarige man in ’n wit baadjie op die sleutelbord van ’n rekenaar getik het.

Die woorde “Hierdie is vir elkeen” het vinnig in LCD-ligte geflits voor die meer as 60,000 toeskouers wat in die stadion gesit het en terselfdertyd is dit ook uitgesaai na ’n geskatte een miljard mense wat oor die hele wêreld daarna gekyk het. Die man by die lessenaar was Tim Berners-Lee, ’n beskeie, stil rekenaargenie. Hy was vereer as die skepper van die Wêreldwye Web wat hy ’n paar jaar vantevore uitgevind het.

“In 2019 het die “Web” 30 jaar oud geword en dit word nou deur die helfte van die mense op die planeet gebruik – ongeveer vier miljard mense. Dit is ’n platform van dienste en sagteware om van die infrastruktuur wat ons die Internet noem, ’n wêreldwye “netwerk van netwerke”, te gebruik. Dit skep ’n soort van verbintenis van inligting en tegnologie wat eenvoudig en maklik is om te gebruik.

 

Alles is met mekaar verbind

Berners-Lee se visie en hoe dit ontwikkel het, besorg aan ons ’n boeiende verhaal.

Tim het in Londen grootgeword. Hy was die baie skrander, weetgierige seun van baie skrander ouers, wat self pioniers van rekenaars was. Nadat hy ’n eersteklas honneursgraad in fisika aan die Universiteit van Oxford behaal het, het hy ’n loopbaan as rekenaarwetenskaplike en sagteware-ingenieur gevolg.

Berners-Lee het in 1980 etlike maande lank by CERN in Switserland gewerk, die tuiste van Europese deeltjiefisika-navorsing. Hy het daar baie verskillende rekenaars met baie inligting gesien, maar hulle was nie met mekaar of met Internet gekoppel nie – dit het ’n droom geïnspireer wat sy lewe oorheers het: Veronderstel dat al die rekenaars op so ’n manier aan mekaar verbind sou kon word om ’n ruimte van inligting te skep waartoe elkeen, ongeag waar hulle woon, vryelik en eenvoudig toegang kon verkry, inligting kon byvoeg en dat daar interaksie sou kon plaasvind?

Die breedte en omvang van sy visie was verbysterend – om enigiets en alles met alles te verbind. Sy breinkind, wat ons die “Wêreldwye Web” noem, verteenwoordig die uitvoering van hierdie ontsaglike prestasie.

Berners-Lee, wat in 1984 weer by CERN gewerk het, was die regte man op die regte plek op die regte tyd. Nie net kon hy ’n buitengewone droom, droom nie, hy het ook oor die kennis en vaardighede beskik om daardie droom ’n realiteit te maak. In 1990 het hy en sy span die eerste Web-programme geskryf en begin om die reeds bekende akronieme, taal, protokolle en standaarde te skep wat die Wêreldwye Web van vandag definieer.

Berners-Lee kon sy uitvinding gepatenteer het, tantième ontvang en baie ryk geword het. In plaas daarvan het hy seker gemaak dat sy werk vrylik vir die publiek beskikbaar sou wees. Geen enkele persoon of organisasie sou die platform wat die Wêreldwye Web is besit nie, maar dit sou nietemin noukeurige leierskap nodig hê om dit te beheer, te beskerm en te verbeter. Dus het hy in 1994 die World Wide Web Consortium (W3C) gestig om hierdie funksie uit te voer.

Groot vordering is gemaak om dit makliker te maak vir mense om met mense te praat. Die grootste ontwikkeling is egter nog aan die gang: Die skep van ’n “Semantiese Web” waarin meer geskikte masjiene en sagteware al die data op die Web sal kan ontleed om die betekenis daarvan te verstaan – masjiene wat met masjiene praat (sien Weaving the Web deur Tim Berners-Lee, hoofstukke 12 en 13).

 

Begin met die reddingspoging

Ondanks sy ooglopende sukses, presteer “die Web” nie soos Berners-Lee dit in gedagte gehad het nie. Te veel mag is in te min organisasies gekonsentreer. Hy het van die begin af besef dat sy uitvinding in die verkeerde hande verkeerd gebruik kon word en selfs misbruik sou kon word. Die versoeking om af te luister, te manipuleer, te spioeneer en na korrupsie te neig, is bloot menslik en die Internet met sy Wêreldwye Web het nou ’n nuwe gevegsveld geword waar elke soort kuberoorlog plaasvind.

Berners-Lee het tot die gevolgtrekking gekom dat in plaas daarvan om die mensdom te dien soos hy dit bedoel het, het die Web wat hy geskep het misluk en ’n “grootskaalse ontluikende verskynsel geword wat antimens is” (“‘I Was Devastated’: Tim Berners-Lee, the Man Who Created the World Wide Web, Has Some Regrets,” Vanity Fair, 1 Julie 2018).

Aan die einde van 2018 het Tim Berners-Lee langverlof van die bestuur van die W3C geneem met die doel om te begin werk aan ’n splinternuwe platform wat hy ‘Solid’ noem en waarmee hy hoop om die situasie te red. Die doel is om die manier waarop Webtoepassings werk radikaal te verander ten gunste daarvan om groter beheer vir gebruikers moontlik te maak, dit wil sê om meer persoonlike privaatheid en beskerming van persoonlike data te verseker. Volgens Berners-Lee kom daar ’n nuwe, gedesentraliseerde Web en is hy haastig om dit te voltooi.

 

’n Beter visie: Menslike natuur omskep

Tim Berners-Lee se uitvinding van die Wêreldwye Web het ’n groot bydrae gelewer tot die verandering van hoe hierdie wêreld funksioneer, maar dit het ook onwetend die “donker kant” van die menslike natuur met sy inherente morele swakhede in staat gestel om homself verder te manifesteer.

Die naakte waarheid is dat geen hoeveelheid vindingryke rekenaarprogrammering die menslike natuur kan verander nie. Goeie uitvindings kan nie boosheid voorkom nie. Wat nodig is, is ’n “geestelike herontwerp” van die menslike hart, waar die moeilikheid in werklikheid lê.

Ons by die Wêreld van Môre is daartoe verbind om hierdie toekomsvisie te verkondig, wat binnekort ’n werklikheid sal word. ’n Nuwe tydperk is aan die kom, wat werklik sal verander hoe hierdie wêreld funksioneer – vir ewig! Dit mag dalk of mag dalk nie ’n “Internet” of ’n “Wêreldwye Web” hê nie, maar dit sal beslis doen wat nie menslik moontlik is om te doen nie – om die menslike geneigdheid om kwaad te doen te verander deur ’n nuwe hart te gee aan almal wat gewillig is om een te ontvang (Eségiël 11:19; 18:31; 36:25-27). Dit hou die heel wonderlikste belofte in vir die bevordering van die ganse mensdom en laat alle menslike uitvindings ver agter, hoe welkom dit ook al mag wees.

Dit sal moontlik gemaak word deur God se ingryping, in plaas van menslike uitvindings! Ons praat natuurlik van die nuwe tydperk wat ingelui sal word met Jesus Christus se Wederkoms om God se regverdige Regering op hierdie aarde te vestig (Daniël 2:44-45; 7:27; Openbaring 5:9-10; 11:15). Hierdie nuwe tydperk sal ’n aanvang neem deur met die oorsprong van alle boosheid af te reken (Openbaring 20:10) en voortgaan deur voortdurend aan die mensdom ’n nuwe natuur te gee (1 Johannes 3:4-9) – God se heilige, regverdige aard wat slegs moontlik is deur Sy Seun Jesus Christus (2 Petrus 1:2-4).

Wanneer Hy terugkom sal Christus die regte Een wees, op die regte tyd, op die regte plek en met die regte kennis en vaardighede om die hele wêreld vir ewig te verander. Dit is waarvoor Hy bestem is, om as Koning van die konings oor hierdie aarde te heers en Sy heerskappy sal waarlik wonderlik wees: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

Hierdie merkwaardige toekomsvisie is nie ’n verbeeldingsvlug of buitengewone droom nie, maar ’n kragtige, opwindende werklikheid wat verseker binnekort sal realiseer. Indien u meer wil leer, skryf en versoek of laai ons gratis boekie af: Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien?