Presies 61 jaar gelede hierdie November, het Pous Pius XII van die Rooms-Katolieke Kerk die leerstelling dat Maria, die moeder van Jesus, liggaamlik in die hemel opgeneem is aan die einde van haar lewe, as dogma verklaar. Elke jaar op 15 Augustus vier die Rooms-Katolieke ’n feesdag bekend as die “Fees van die Hemelvaart van Maria” om hierdie geloofsoortuiging te gedenk – dit wat steeds een van die belangrikste “knelpunte” bly wat Rooms-Katolieke en Protestantse gelowiges verdeel.
Soos in die leerstelling van die Hemelvaart van Maria, vereer Rooms-Katolieke gelowiges in baie nasies Maria tot so ’n mate dat dit die meeste Protestante ongemaklik laat voel. Nogtans, enig onder al die nasies, het slegs die Rooms-Katolieke in Engeland die idee dat hulle nasie op ’n besondere wyse “Maria se Bruidskat” is.
Engelssprekendes oor die algemeen assosieer die woord “bruidskat” (afgelei van die Latynse dos, wat “donasie” beteken) met die skenking wat ’n bruid vergesel. In die Middeleeuse Engelse regstelsel is hierdie betekenis egter omgekeer – die eggenoot moes ’n deel van sy boedel opsysit vir die onderhoud van sy vrou, sou sy ’n weduwee word. Diegene wat Engeland as “Maria se bruidskat” beskou, verstaan dit in hierdie konteks – dat Engeland, histories vir Maria “opsygesit is”, op ’n wyse soos geen ander land ooit nie.
Hoe het hierdie toewyding ontstaan? Koning Richard II het in 1381 Engeland formeel aan Maria opgedra in ’n seremonie in Westminster Abdy, maar tradisie plaas die oorsprong daarvan honderde jare vroeër, selfs so ver terug as een van die laaste Anglo-Saksiese Konings, Edward die Belyer, wat van 1042 tot 1066 regeer het.
Tot en met die Protestantse Hervorming het baie konings van Engeland hierdie toewyding van Maria in stand gehou – insluitende Henry V, wat vermoedelik die oorlogskreet by Agincourt aangehef het: “Our Lady for her Dowry; St George and St Edward to our aid”.
Nadat die rebelse Koning Henry VIII Katolieke oorheersing in Engeland verwerp en die Kerk van Engeland – die Anglikaanse Kerk – ingestel het as die enigste kerklike gesag onder sy regering, het die Pouslike Biskopsetel verskeie metodes probeer om ’n weerspannige dogter na haar moeder terug te bring. Een van die beroemdste was Pous Sixtus VI se seën wat hy in 1588 oor die Spaanse Armada uitgespreek het. Die Aartsbiskop van Lissabon het ’n spesiale mis uitgevaardig vir die Armada se sukses in die stryd teen die magte van die “ketter”, Koningin Elizabeth I en ’n seën uitgespreek oor almal in die Spaanse vloot en hulle almal voor die tyd vrygespreek vir al die sterftes wat hulle aan hul Engelse vyande sou besorg.
God moes egter nie oortuig gewees het van die aartsbiskop se seën nie. Soos die meeste studente in geskiedenis sal onthou, was die Armada se missie ’n ramp met ’n beraamde 11,000 Spaanse matrose en soldate wat hul lewens verloor het.
Die Engelse Katolieke en hulle leiers in Rome het steeds ’n vurige toegeneentheid vir Maria behou. In 1893, alhoewel Rooms-Katolisisme toe lank reeds ’n minderheidsgodsdiens in Anglikaanse Engeland geword het, het Pous Leo XIII Engeland se Rooms-Katolieke biskoppe versoek om hul land weer aan Maria toe te wy en het die populêre toewyding ’n amptelike seël van die Vatikaan se goedkeuring gegee. Destyds moes dit egter na ’n leë gebaar gelyk het, gesien in die lig van die magtige Anglikaans-geleide Engeland.
Deesdae het Engeland egter die meeste van haar vorige ekonomiese en militêre mag verloor. Die Anglikaanse Kerk, reeds vir verskeie dekades beset deur interne teenstrydighede, is nou in ’n selfs groter oproer na ’n besluit wat geneem is tydens die Anglikaanse Algemene Sinode wat in Julie 2010 in York gehou is. By die enklave, het “Die Kerk van Engeland se regerende liggaam gesê dat vroulike biskoppe toegelaat moet word en die weg gebaan vir sodanige ordinasies ten spyte van besware van tradisievastes ... Op voorwaarde dat die meeste lede die idee sal goedkeur, sal die wetsontwerp in 2012 na die Algemene Sinode teruggaan vir formulering en finale goedkeuring” (Agence France-Presse, 13 Julie 2010, “Women Bishops Should be Allowed”).
Die Tiberrivier oorsteek?
Pous Benediktus XVI het onlangs nuwe protokols ingestel om dit vir Anglikaanse geestelikes en hul gemeentes makliker te maak om, en masse, te bekeer tot Rooms-Katolisisme – selfs getroude Anglikaanse priesters toe te laat om getroud te bly terwyl hul dien as Rooms-Katolieke priesters. In die huidige klimaat met soveel as ’n derde van die Anglikaanse geestelikes wat ongelukkig voel oor die besluit om vroulike biskoppe te bevestig, mag hierdie opsie meer aanloklik as ooit wees vir selfs van die meer konserwatiewe geestelikes en gemeentelede.
Daar is egter grade van konserwatisme tussen die ontevrede geestelikes. Party wat beswaar maak teen bevestiging van vroue vind nog steeds sekere Rooms-Katolieke leerstellings ’n struikelblok, insluitende die mate waartoe Rooms-Katolisisme die verering van Maria magtig, buite dit wat hulle kan regverdig uit die Skrif en die tradisie van die vroeëre Kerk. Per slot van rekening, alles wat beskou kan word as “Maria-aanbidding” was geheel en al verwerp deur die Hervormers, veral deur Oliver Cromwell en die Puriteine.
Dit is in die lig hiervan dat Benediktus se September besoek aan Engeland besondere betekenis aangeneem het. Reg oor die wêreld word Rooms-Katolisisme aangeval deur nie slegs aanklagte dat die priesters daarvan hul skuldig maak aan wydverspreide seksuele wangedrag nie, maar ook dat ’n kultuur van geheimhouding die biskoppe aanmoedig om weg te kruip, te ontken en bewyse van wangedrag te verswyg. Hoewel die skandaal heel eerste aandag geniet het in Amerika, het biskoppe reg rondom die aarde onder skandalige omstandighede bedank, insluitende Roger Vangheluwe, biskop van Brugge, België.
Sal die huidige skandale die Rooms-Katolieke Kerk ruïneer? Benediktus weet dat sy kerk veel erger storms deur die eeue heen verduur het, en hy het sy oog op die langtermyn toekoms van Rooms-Katolisisme. Sommige mense neem waar dat sy besoek aan Engeland aan hom ’n rare geleentheid gebied het om ’n aanval te loods teen ’n teenstander in sy oomblik van swakheid.
’n Onlangse verslag praat van ’n nuwe departement wat deur Pous Benediktus gestig is om die afname in kerkbywoning regoor die Katolieke wêreld te stuit – veral in die Weste. “Die nuwe departement wat ‘Die Pontifiskale [of Pouslike] Raad vir Nuwe Evangelisasie’ genoem word, sal probeer om geloof onder Katolieke in die ryk, ontwikkelde lande weer te versterk – of, in die Pous se woorde – om ‘die regte middele te vind om die standhoudende waarheid van die Evangelie weer in te stel’” (The Daily Telegraph,Londen, 30 Junie 2010, bl.17).
Baie mense in die Engelse Katolieke gemeenskap sal daarvan hou om te sien dat hul land waarlik die bruidskat van Maria word met ’n oplewing van Maria-eerbiediging wat ondenkbaar sou wees vir die Protestantse hervormers. Rooms-Katolieke vorm slegs 10% van die Britse bevolking. Alhoewel slegs ’n tiende van hulle die Mis gereeld bywoon, is diegene wat dit wel doen, gewoonlik vurig oor hul geloof.
Maria: Ikoon of struikelblok?
In ’n tyd wanneer Anglikanisme in sy vaderland in ’n krisis verkeer, reik Benediktus uit na beide Rooms-Katolieke en ontevrede Anglikane in die hoop om die droom van “Maria se Bruidskat” te vervul – van ’n Engeland wat godsdienstig verenig is met Rome, onder Maria. Maria self mag egter een van die grootste struikelblokke wees. Die Protestante erken die Skrif noem haar “geseënd” omdat sy die voorreg gehad het om geboorte te skenk aan Jesus Christus. Waar die Rooms-Katolieke Maria egter vereer as “ewigdurende maagd”, hou Protestante vol dat sy, op grond van die Skrif, nie ’n maagd gebly het nie, deur geboorte te skenk aan Jesus se broers en susters (Mattheüs 12:46; Markus 3:31). Rooms-Katolieke sien Maria as sonder sonde, byna gelyk aan Jesus, ’n “Mediatrix of Graces” [Middelares van Genade], ten spyte van die duidelike Bybelse stelling dat slegs Jesus die Middelaar is (1 Timotheüs 2:5).
Sal Roomse evangelisasie ’n herlewing van die Bruidskat van Maria as ’n konsep van Engelse godsdienstige identiteit, bevorder? Sal die aanbidding van Maria groter aanvaarding verkry in Engeland onder die konserwatiewe elemente van die Kerk van Engeland? Of sal Rome se klem op Maria-aanbidding baie Anglikane binne die Protestantse geledere hou? Die Skrif onthul dat die Roomse Kerk ’n al hoe belangriker rol sal speel in eindtydse gebeure. Dit lyk of daardie rol in konflik sal kom met langdurige Protestantse liggeraaktheid. Hou wêreldgebeure dop, hou aan om die Wêreld van Môre te lees vir nuus oor die toekomstige godsdienstig-politieke entiteit wat Engeland sal bring – saam met die hele Europa en inderdaad die wêreld – na ’n geprofeteerde tyd van ongekende krisis net voor Jesus Christus se wederkoms.