Ten spyte van die probleme en beproewings wat ons almal beleef, het u en ek die potensiaal vir ’n absolute grootse toekoms – ’n toekoms van ongelooflike vreugde en vervulling ver verhewe bo enigiets waaraan die meeste mense ooit aan sou dink; ’n toekoms wat werklik die antwoord gee op die fundamentele vraag wat ons almal vra: “Waarom is ek gebore?”


Ek het grootgeword in die voetheuwels van die Ozarkberge in die suide van Missouri. As kind het ek dikwels op ’n heuweltjie gesit en die hemele bekyk. In die lang, luilekker somerdae van daardie era het ek gewonder: “Is daar ’n spesiale rede waarom mense op hierdie aarde geplaas is?” Ek het ook gewonder: “Waarom moet ons so pyn verduur?Waarom moet die mens sulke verskriklike beproewings, oorloë, siektes, lyding – en dan nog ook die dood, ervaar?”

Toe ek 23 jaar oud was, het die werklike antwoord tot my begin deurdring! Ek was ’n voorgraadse student in ’n teologieklas aangebied deur mnr. Herbert W Armstrong – een van die mees uitstaande opvoedkundiges van ons tyd. Een dag het hy vir ons gesê: “Manne, ’n oorweldigende idee het by my posgevat wat amper as kettery voorkom. Natuurlik wil ek nie iets verkondig of glo wat verkeerd of kettery is nie, maar hierdie nuwe begrip spring amper uit die blaaie van die Bybel. Dit is iets wat die hoofstroom-godsdiensyweraars en filosowe nog nooit verstaan het nie”.

“En tog,” het mnr. Armstrong voortgegaan, “as enigeen van julle studente vir my uit die Bybel kan bewys dat hierdie merkwaardige nuwe begrip verkeerd is, doen dit asseblief! Ek vra julle eintlik om hierdie kwessie vir etlike weke te ondersoek, want ons moet seker wees om te verkondig slegs wat die Bybel werklik sê!”

Ek was besig met voorbereiding om ’n kursus in die Geloofsbriewe van Paulus te doseer toe mnr. Armstrong hierdie uitdaging aan ons rig. Oor die volgende paar weke – eintlik was dit vir etlike maande en jare – het baie van ons voortgegaan om hierdie grondliggende onderwerp te bestudeer om te bepaal of ons die verstommende nuwe ideeverkeerd kon bewys. Maar, hoe meer ek dit bestudeer het, hoe sterker was my oortuiging dat hierdie nuwe begrip in werklikheid ’n grootse waarheid is wat misgekyk is deur die meeste godsdiensyweraars, want, dit gee die werklike antwoord op die vraag waarom ons hier op aarde is en die werklike doel van ons lewens. Die afgelope 50 jaar lank mediteer ek steeds hieroor en ondersoek ek hierdie ware Bybelse begrip.

Die ANTWOORD

Die uiteindelike doel vir die mens se bestaan was ’n algehele “verborgenheid” vir die groot denkers en filosowe van die verlede. Dit is vandag steeds ’n misterie vir die oorgrote meerderheid belydende Christelike predikers. Die apostel Paulus skryf van “die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan Sy heiliges” (Kolossense 1:26). Wat is hierdie diepgaande “verborgenheid?”

Paulus vervolg: “Aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel” (verse 27-28).

Die hoop van “heerlikheid?” ’n Noodsaaklikheid om elke mens “volmaak” in Christus voor te stel?

Ja! Want die opwindende, skitterende toekoms wat die Almagtige God vir Sy kinders beplan, is amper te verhewe vir die mens se begrip! En tog, u Bybel sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). In Sy allesomvattende liefde het God inderwaarheid alle mense “na Sy beeld” geskape.

Aan die begin van die Bybel openbaar God aan ons baie inligting rakende ons doel en ons toekoms. “En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na Sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Genesis 1:26-27). God het elke mens – mans en vroue – “na Sy beeld” gemaak.

Let op wat God sê: “Laat Ons mense maak na Ons beeld”. Want God die Vader en die Woord – die Persoonlikheid wat later Homself geledig het en Jesus Christus geword het – het beraadslaag toe Hulle beplan het om alle menslike wesens na Hulle beeld te maak. Wat se vermoë sou die mens hê? God sê: “Laat hulle heers …” en dit behelsheerskappy, wat beteken om te heers. Van die begin af is die mens ’n beperkte gesag en heerskappy gegee oor al die ander wesens op die aarde. Aangaande ons omgewing sê God aan Adam en Eva om dit “te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:15). Dus, al is die leeus en tiere op land en die groot walvisse en wrede haaie in die see baie groter en sterker as die mens, het ons die gesag en vermoë om hulle gevange te neem en in hokke of in tenks aan te hou – en nie andersom nie! God het aan ons die breinkrag en kreatiewe verbeeldingskrag gegee, ver bo die vermoëns van enige ander skepsel. Volgens ons liggaamsvorm en ons geestelike vermoë asook ons kreatiewe verbeeldingskrag is ons – in baie belangrike opsigte – werklik geskape na die “beeld van God”!

Toe Koning Dawid van Israel in die ou dae na die hemele opgekyk en nagedink het oor die ongelooflike heelal, verklaar hy: “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van U hande; U het alles onder sy voete gestel” (Psalm 8:5-7).

In hierdie inspirerende gedeelte wys Dawid daarop dat God “alles” onder ons voete gestel het. Maar wat is “alles” en wat behels dit? Ons Skepper het die skrywer van Hebreërs geïnspireer om uit die boonste paragraaf aan te haal, en die saak verder so te verduidelik. “Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dingeaan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie; maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak. Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie” (Hebreërs 2:8-11).

Baie geleerdes erken dat ta panta – die geïnspireerde uitdrukking in die oorspronklike Grieks in hierdie paragraaf – verwys na die hele kosmos – die heelal! Tog erken die skrywer van Hebreërs: “Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie”.

Nog nie.
En tog, met ons Godgegewe verstandelike vermoë en kreatiewe verbeelding beplan die mensdom nou om die hemele te “oorwin”. Die mens is inderdaad soos God gemaak – meer as wat die meeste van ons besef! En God wil hê dat ons eendag ten volle soos Hy moet wees – vir ewig Sy opregte kinders in Sy geestelik gebore Gesin!

Dit is waarom u gebore is!

God se uiteindelike DOEL

Dit is nie bloot ’n sentimentele kwessie nie. Dit behels dat menslike wesens deur die grense van tyd, ruimte en werklikheid breek tot in ’n hele nuwe dimensie van bestaan, want ons is geskape met die potensiaal en die uiteindelike doel om lede van God se Gesin te word, om saam met Hom en Christus die totale heelal te regeer! Toe Paulus skryf dat “alle dinge” onder die mense se voete gestel is, en dat God “niks uitgesonder [het] wat nie aan hom onderworpe is nie” – maar “nog nie” – toon hy duidelik aan dat ons geestelike wesens sal wees wat saam met Christus en die Vader in die toekoms kosmiese gebeure deur die ganse heelal sal help uitvoer!

Daarom, soos wat Jesus “deur lyde volmaak” geword het, so moet ons ook toetse en beproewings beleef om absoluut aan God te bewys dat ons geheel en al aan Hom onderworpe is – geheel en al lojaal is aan Sy doel vir ons lewens. Jesus stel vir ons die voorbeeld om “baie kinders na die heerlikheid [te] bring!”

Ek is geseën met vier seuns en twee dogters. My kinders is almal op dieselfde vlak van bestaan en menswees as ek. My eie kinders, wat uit my en my vrou voortgekom het, isnie op ’n minderwaardige vlak nie! Soos die apostel Paulus geïnspireer is om te skryf: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Romeine 8:29). As Christus die eersgeborene van baie broeders is, is Sy broers op ’n laer vlak van bestaan – soos bokke, hoenders of spinnekoppe?

Let op! Oor en oor herhaal die Bybel soortgelyke stellings. Die Bybel openbaar ook dat die Kerk die beloofde ”bruid” van Jesus Christus is! Apostel Paulus skryf: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente [Kerk]; en Hy is die Verlosser van die liggaam” (Efesiërs 5:22-23). Is Christus se bruid op ’n laer vlak van bestaan? Ten tye van die “huweliksfees” wanneer Christus met Sy Kerk “trou” – sal die herrese gelowiges van God op Christus se vlak van bestaan wees, of sal Hy Hom verbind aan ’n wese op ’n laer vlak?

Onthou wat Jesus sê oor ons toekoms: “Maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is” (Lukas 20:35-36). Dus word die ware gelowiges van God “kinders van die opstanding” en hulle kan nie sterf nie. En die volle kinders van God sal in die opstanding soos Christus lyk – “maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2).

Hoe lyk Christus nou? Die Bybel verklaar: “… Een soos die Seun van die Mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en Sy oë soos ’n vuurvlam, en Sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en Sy stem soos die stem van baie waters. En in Sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ’n skerp tweesnydende swaard het uit Sy mond uitgegaan, en Sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:13-16).

Jesus Christus is waarlik God. Sy gesig skyn soos die son! Dié van ons wat gewillig is om waarlik ons hart, denke en wil aan God oor te gee, en met opregte berou en bekeringdeur middel van Jesus Christus na God kom, kan uitsien na sodanige soort grootse glorie! Want die God van die Bybel wil hê dat almal van ons volle kinders moet word – nie minderwaardige wesens wat maar net kinders genoem word nie! Dus, na opregte berou en bekering, plaas God Sy goddelike natuur binne-in ware Christene. Dit is waarom Petrus geïnspireer is om te verklaar dat God, deur Sy goddelike krag “… ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van diegoddelike natuur” (2 Petrus 1:4).

Natuurlik is dit maklik vir “geleerde” teoloë om sodanige en talle ander stellings weg “te vergeestelik”. Maar, daar is so baie soortgelyke geïnspireerde verse in die Bybel, wat dui op die ongelooflike geleentheid en glorie wat God in gedagte het vir diegene wat hulle uiteindelik aan Sy wil en aan Sy doel onderwerp! Die apostel Paulus sê aan Christene dat ons “in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efesiërs 3:18-20). Paulus is geïnspireer om te skryf dat die oorwinnaars uiteindelik vervul sal wees “tot al die volheid van God”. Is Paulus bloot “emosioneel” in hierdie paragraaf? Of wil ons Vader in die hemel werklik Sy glorie deel met toekomstige “seuns en dogters” – ware kinders – wat werklik “soos Hy” sal wees, net soos wat u en ek lyk soos ons menslike vaders?

Jesus se finale gebed

Dink asseblief goed na oor die werklike betekenis van Jesus se laaste gebed aan Sy Vader in Johannes 17. Tydens die mees treffende gebed ooit in die Bybel geboekstaaf, versoek die Seun van God Sy Vader: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:5). Die meeste van u begryp dat Jesus sedert die begin van die skepping saam met God was, en “alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:3). Dit is dus duidelik dat Christus die Vader versoek om die volle heerlikheid te herstel wat Hy gehad het toe Hy – handelend vir die Vader – Christus as die Ou-Testamentiese “Logos” (Segsman) die grote heelal geskape het! Want, Hy was geheel en al God in elke opsig!

Nadat Hy vir Sy dissipels gebid het, sê Jesus: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het,sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (Johannes 17:20-23).

Kan ons die ongelooflike versoek van die Seun van God in hierdie gebed heeltemal verstaan? Want, Hy vra dat diegene van ons wat “deur hulle woord in My sal glo” dievolle heerlikheid moet deel – duidelik bedoelende in die opstanding – wat Hy tans met die Vader deel. My vriende, Jesus het werklik bedoel wat Hy in hierdie geïnspireerde gebed sê – en die gebed is vir ons bewaar deurdat God Self die optekening en bewaring van die Skrif geïnspireer het. Christus het gevra dat Sy ware volgelinge uiteindelikvolkome kinders van God word!

Onthou, die Vader en Christus is saamgestel uit liefde – algehele spontane besorgdheid vir mekaar en vir Hulle skepping! Hulle wil ’n liefde deel met hulle gesin, ’ninteraksie en warm deelgenootskap wat in ’n mate dieselfde is, maar in werklikheid baie meer intiem is as wat die gelukkigste menslike families vandag kan deel.

Wanneer ons ten volle kinders van God word in die opstanding, sal ons in staat wees om met Christus en die Vader te kommunikeer en ten volle te deel in Hulle gedagtes, planne en projekte. Ons sal ongetwyfeld met Hulle saamwerk aan verskillende toekomstige skeppende projekte en aktiwiteite in die heelal! Want, God is nie staties nie, Hygroei. Hy brei uit en vermeerder. Die hele Bybel wys dat Hy sodanige Persoonlikheid is, en dat ons “soos Hy” sal wees in elke opsig. Die profeet Jesaja is geïnspireer om ons te vertel dat God se Koninkryk sal lei “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:6).

Vandag reeds laat die briljante verbeelding en kreatiewe vermoë van die mensdom baie uitvinders en wetenskaplikes wonder oor die moontlikheid om in die toekoms die buitenste ruim en ander planete of selfs heelalle totaal te “oorwin” en te bevolk. Ek het onlangs op die nasionale openbare radio in die VSA ’n gerespekteerde professor aan ’n hooggeplaaste Universiteit hoor spekuleer dat dit blykbaar vir die mens moontlik kan wees om eendag ’n algehele heelal te kan “skep”!

Is dié gerespekteerde professor van sy verstand af?
Nee, eintlik nie. Maar, in sy bespiegelinge oortref hy homself – asook die mensdom se huidige vermoëns! Want, ongelukkig het die mensdom nog nie hulle eie menslike natuur oorwin nie – hulle eie selfsugtigheid, trots, wellus en gierigheid. Soos die apostel Jakobus dit stel: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie (Jakobus 4:1-2).

Weens ons geneigdheid om toe te gee aan ons “menslike” natuur – eintlik Satan se natuur wat werksaam is in die meeste mense deur Satan se uitgebreide invloed (Efesiërs 2:2) – sal die mens afdwaal lank voordat hulle hierdie wetenskaplike se droom kan bereik. Maar, diegene wat gewillig is om hulself te verootmoedig, en werklik strewe na die denke en wil van hul Skepper, sal uiteindelik die heelal regeer saam met Jesus Christus maar dit sal op God se manier geskied, nie volgens die mensdom se selfsugtige en misleide manier nie.

Wanneer dit egter gebeur, sal ons as menslike wesens so te sê “ontplof” tot in ’n algehele nuwe dimensie van bestaan. Ons sal dan mag hê soos wat God mag het. Ons sal dan dink soos God – met algehele insig, wysheid, selfbeheersdheid en opregte, spontane, uitgaande liefdeOns sal dan in staat wees om te funksioneer as die “Godgesin” – altyd onderdanig aan die Vader en aan Christus – in samewerking met Hulle en met mekaar in ’n uitdagende bestaan van vervulling en vreugde, vir ewig.

Dit is u ontsagwekkende toekoms – as u kan glo wat die Bybel inderwaarheid keer op keer oor dié saak aantoon! Dit is waarom God op verskeie maniere vir ons sê dat Hy ons na “Sy beeld” gemaak het. Dit is waarom God ons oor en oor “toets,” en ons in so baie situasies beproef om te bepaal of ons ons waarlik aan Sy wil sal onderwerp. As ons egter gewillig is om onderdanig te wees aan die ware God van die Bybel deur Jesus Christus – die Een wat die algehele openbaring is van wie God is en hoe God is – dan, saam met Jesus, sal ons volkome lede van die Godgesin word, en saam met Christus en die Vader deel hê aan die ongelooflikste bestaan van uitdagings en vreugde, ’n bestaan wat die mens hom nie eens kan begin indink nie!

Ten spyte van die beproewings en probleme hoop ek dit is nou duidelik – as u gewillig is om te verstaan – dat u kan uitsien na ’n werklik ongelooflike en grootse toekoms! Maar, God bied daardie toekoms aan u slegs op voorwaarde dat u bereid is om “uit” hierdie huidige wêreld “uit te kom,” waarlik glo in die God van die Bybel, en letterlik u lewegee aan Hom deur die ware Jesus Christus. Dan sal Hy u ’n geleentheid en ’n ongelooflike toekoms gee, ver verhewe bo enigiets waaraan filosowe en wetenskaplikes kan dink! God Self sê direk aan ons: “Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9).