Vraag: Handelinge 4:32-35 toon aan dat die Christene “alles in gemeenskap gehad” het. Beteken dit dat ’n vorm van “geestelike kommunisme” God se ideale manier is? Behoort kerke deesdae te probeer om hierdie Bybelse praktyk na te volg?

Antwoord: Ons lees in die boek Handelinge: “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad ... Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van grond of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het” (Handelinge 4:32-35).

Wat behoort ons hieruit af te lei? Behoort Christene hulle besittings te verkoop, of dit aan ’n kerk of sy leier oor te dra?

Let daarop dat ons nie so ’n gebruik in die briewe van Paulus, Petrus of Johannes vind nie. Ons vind ook nie dat hierdie gebruik elders in gemeentes onder die Apostels se gesag herhaal word nie. Indien die Apostels bedoel het om dit ’n normale gebruik van die Kerk te maak, sou hulle minstens êrens anders daarmee voortgegaan het terwyl hulle die Evangelie in ander streke verkondig het. Inteendeel, ons vind die teenoorgestelde: Die Apostels bevestig die idee van private eiendomsreg, terwyl hulle voortgaan om mildelike Christelike vrygewigheid aan te moedig.

Die Nuwe-Testamentiese skrywers het nie persoonlike eienaarskap veroordeel nie; inteendeel, hulle het dit aangeneem. Dat mense ’n reg oor hulle eie eiendom gehad het was eenvoudig nie vir hulle ’n probleem nie. Byvoorbeeld, die gebooie teen diefstal en hebsug bevestig persoonlike eienaarskap van eiendom en verklaar dat God dit veroordeel as iemand iets neem wat nie aan hom behoort nie (Exodus 20:15, 17). Christus en die Apostels bevestig hierdie gebooie (bv. Mattheüs 5:19; Markus 10:19; Johannes 14:15, 21; 1 Johannes 2:3-4, 22; 3:24; 5:2-3; 2 Johannes 1:6; Openbaring 12:17; 14:12). Daar is heelwat gevalle in die Nuwe Testament wat dui op eienaarskap van huise (bv. Handelinge 10:6; Handelinge 12:12; 21:8; Romeine 16:3-5; 1 Korinthiërs 16:19; Kolossense 4:15). Ons vind voorbeelde van eiendomsreg deur lidmate van die Kerk regdeur die Nuwe Testament.

Terwyl persoonlike eienaarskap as vanselfsprekend aanvaar is, was vrygewige liefdadigheid aangemoedig. God is liefde en gee is eie aan Sy karakter. Indien ons geen persoonlike eienaarskap sou hê nie, hoe sou ons kon leer om te gee en vrygewig te wees? “God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7). Om ’n blymoedige gewer te wees, moet ons iets hê om te gee.

’n Man en sy vrou, Ananías en Saffíra, het ’n stuk grond verkoop, maar ’n deel van die opbrengs teruggehou in ’n skynheilige poging om krediet te kry vir ’n geskenk aan die Kerk. “Maar ’n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ’n eiendom verkoop en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ’n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God” (Handelinge 5:1-4). Dit is duidelik dat Petrus gedink het dat Ananías en Saffíra hulle eiendom besit het en oor die verkoopprys daarvan beskik het.

Waarom het die gemeentelede in Jerusalem dus hulle besittings gedeel, kort ná die Kerk daar op Pinkster gestig is? Neem in ag dat baie nuwe lidmate van die Kerk ver na Jerusalem vir Pinkster gereis het en na ontvangs van die Heilige Gees daar gebly het. Hulle sou dus aansienlike behoeftes gehad het en die vrygewigheid van die plaaslike lidmate het aan hulle behoeftes voorsien.

Ongelukkig gee sommige gierige hedendaagse predikers ’n slegte naam aan Christenskap deur Handelinge 4:32-35 te gebruik om op die eiendom van misleide gelowiges beslag te lê. Om dit te doen is nie Bybels nie! “... en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek” (2 Petrus 2:2-3).

God se Woord leer ons om dit wat ons besit verantwoordelik en liefdadig te gebruik om ’n vrygewige karakter te bou – soos Syne. Vrygewigheid is om God se voorbeeld na te volg. God vereis ’n tiende van sy dienaars, maar Hy verwag van ons om ons vrye wil uit te oefen wanneer ons offergawes gee.