Beteken die dag van Pinkster meer as wat die meeste mense besef?

Vraag: Ek het in u tydskrif van Pinksterdag gelees, maar dit blyk verskillend te wees van wat my kerk onderhou. Wat is Pinkster en wat behoort dit vir Christene te beteken?

Antwoord: Pinkster, net soos ’n aantal ander belangrike insettinge en verordeninge in die Bybel, word deesdae nie algemeen aanvaar nie en ook nie eenvormig onderhou deur belydende Christene nie. Sommige mense onderhou hulle eie weergawe van wat Pinkster is op verskillende dae, ander ignoreer dit of erken dit as ’n datum, maar met geen spesiale onderhouding nie.

Pinkster is een van sewe jaarlikse Heilige Dae wat in u Bybel beskryf word. Die onderhouding daarvan word duidelik in beide die Ou en die Nuwe Testament opgeteken. Dit is ’n dag waarop “geen beroepswerk” gedoen mag word nie en waarop God se mense moet saamkom om te aanbid (Levitikus 23:21).

Die fees word die “Fees van Weke” in die Ou Testament genoem. In die Nuwe Testament is die naam “Pinkster” oorgeneem uit die Griekse taal – van die Griekse woord wat “tel 50” beteken. Pinkster was die dag waarop Moses die Tien Gebooie vir die stamme van Israel ontvang het. Die Judaïsme onderhou tot vandag die dag wat hulleShavuot (Hebreeus vir “Weke”) noem, as ’n herdenking aan daardie gebeurtenis.

Die betekenis van die woord Pinkster is op sigself ’n aanduiding van hoe die Bybel ons beveel om die Heilige Dag te onderhou. Levitikus 23:15 sê dat, ten einde die datum van die fees te bepaal, 50 dae getel moet word van die datum van die “beweegoffergerf”, wat op die Sondag tydens die Dae van Ongesuurde Brood val (Levitikus 23:6-11). Aangesien dag een van die 50-dag-inklusiewe telling altyd op die eerste dag van die week val, is dit ook so met Pinkster – dag 50 in daardie telling. Op die Juliaanse kalender val dit op ’n datum wat iewers in die middel van Mei tot die middel van Junie elke jaar is. In 2013 het Pinkster teen sononder op 18 Mei begin en geduur tot sononder op 19 Mei.

Die meeste Jode wat dit nog onderhou, stel Pinkster vas op die sesde dag van die Hebreeuse maand bekend as Sivan, 50 dae na die eerste Dag van Ongesuurde Brode. Sodoende hoef hulle nie die Bybelse “tellery” uit te voer om die datum van die Heilige Dag te bepaal nie en 6 Sivan kan op enige dag van die week val, behalwe op ’n Sondag. Die meeste vertakkings van Judaïsme volg deesdae die 6 Sivan-gebruik, alhoewel die Karaïete die gebruik behou het om tot by die Sondag-Pinksterte tel soos wat die Bybel beveel.

Diegene wat streng die Bybelse opdrag gehoorsaam deur “50 te tel” van die Sondag van die beweegoffergerf af, sal Pinkster altyd op ’n Sondag onderhou, op ’n datum wat wissel van 5 Sivan tot 11 Sivan.

Pinkster was die dag waarop die Nuwe-Testamentiese Kerk gestig is (sien Handelinge 2) en is betekenisvol weens die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 2:17-19) – wat die geestelike vervulling was van die Israeliete se Fees van Weke. Net soos God ’n fisiese volk – Israel – geroep het om Sy voorbeelde te wees vir die antieke wêreld (Deuteronomium 4:6, Deuteronomium 7:6-8; Jesaja 49:6), so het Hy ’n Kerk van geestelike “eerstelinge” gestig om deur die krag van die Heilige Gees Sy “lig” in die wêreld te wees en ’n heilige priesterdom te word (Romeine 8:22-24, Romeine 8:29; Jakobus 1:18; 1 Petrus 2:9-10).

Die Heilige Dag wat na Pinkster volg staan bekend as die Fees van Basuine en word jaarliks onderhou op 1 Tishri volgens die Hebreeuse kalender (September of Oktober op die Juliaanse kalender). Dit beeld die opstanding van al die eerstelinge uit wat tydens die “sewende basuin”, wat in die Bybel beskryf word, sal plaasvind (Openbaring 11:15). Sommige mense assosieer Pinkster – wat eintlik die insameling van die eerstelinge uitbeeld, nie hulle opstanding nie – verkeerdelik met hierdie mylpaal later in die Bybel.

Net soos die Skrif aandui dat Jesus Christus en Sy volgelinge die Pasga onderhou het (Mattheüs 26:17; Markus 14:12; Lukas 22:8), asook die Dae van Ongesuurde Brode (Mattheüs 26:17; Handelinge 20:6), die Versoendag (Handelinge 27:9), ook die Huttefees (Johannes 7; Handelinge 18:21), het hulle ook Pinkster onderhou (Handelinge 2:1; 1 Korinthiërs 16:8). Pinkster het vandag nog sy belangrikheid vir Christene behou as ’n belangrike mylpaal in God se jaarlikse siklus van Heilige Dae.