Die Verenigde State van Amerika kry tans geweldig swaar omdat hulle hul rug gekeer het op die God van die Bybel. ’n Nasie wat eens die ongeëwenaarde seëninge van God ontvang het, staar nou ekonomiese rampe, misdaad, oorlog, siektes – selfs dreigende binnelandse terrorisme – in die gesig. Waarom? Wat sal die gevolge wees?


Amerika verduur geweldige lyding as gevolg van vals godsdiens!

Toe die Amerikaanse Unie vir Burgerlike Vryhede in Julie 2009 na die howe gegaan het om die Tien Gebooie verwyder te kry uit die Jackson-distrik se hofsaal in Londen, Kentucky, was dit slegs die nuutste van baie soortgelyke aanvalle op die God van die Bybel – en is nou bykans roetine in ons hedendaagse Amerikaanse samelewing.

Die Verenigde State se Hooggeregshof het in 2005 beslis dat sodanige vertoon [van die Tien Gebooie] ongrondwetlik is, tensy dit ’n “wêreldlike doel” dien in die hofsaal. Dit bly egter wetlik om die “wêreldlike doel” te dien wanneer tientalle miljoene ongebore babas vermoor word – dikwels letterlik uit die moeders se baarmoeders gesuig – in wat regtens die “stille volksmoord” genoem word. Die misbruik van dwelms vier hoogty in omtrent alle sektore van ons samelewing. Die VIGS-epidemie woed voort.

Intussen word Amerika gekonfronteer met die heel ergste ekonomiese krisis sedert die Groot Depressie van die 1930’s. Rykdom ter waarde van biljoene dollars het oornag verdwyn, en veroorsaak dat gesinne nie in staat is om hul rekeninge te betaal nie en het ontelbare duisende in nuutgevonde armoede gedompel. Terwyl dit eens die “arsenaal van demokrasie” en reg deur die wêreld gerespekteer was, word Amerika nou meer en meer verstoot deur Asiatiese en Europese moondhede wie se eie nasies nou besig is om opgang te maak na die prominesie wat Amerika eens beklee het.

Waarom gebeur dit alles?
Dit gebeur omdat ons – as ’n nasie – die God van die Bybel heeltemal verwerp het. Die ware God van die Bybel, met wie die meeste mense nie bekend is nie, gryp inderdaad in wêreldgebeure in om Sy doel te bereik. Hy is die Een wat aan ons die ontsaglike seëninge en mag gegee het wat Amerika en sy Westerse bondgenote reeds vir meer as ’n eeu geniet. Hy is die Een wat Amerika gehelp het om die Eerste en Tweede Wêreldoorloë – trouens alle belangrike oorloë oor die laaste 200 jaar – te wen!

Die God van die Bybel het aan ons voorvaders gesê: “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon. Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie. En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard” (Levitikus 26:3-7). Vir verskeie geslagte het God sekerlik Sy beloftes vervul om seëninge uit te stort oor die Amerikaanse volk en die nasies wat van Britse afkoms is. Vandag egter, is die “skrif aan die muur”. Die gety van wêreldgebeure begin draai – dit verander dramaties!

’n Paar verse verder in bostaande profesie sê die Skepper: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie” (verse 14-17). Dit is sekerlik ’n tweeledige profesie wat ’n aanvanklike vervulling gehad het met antieke Israel, maar dit sal ook ’n moderne vervulling op ons mense in die huidige geslag hê. Baie van u sal leef om dit te sien gebeur! Byna almal van ons sal, oor die volgende paar jare, die begin van hierdie tragedie sien ontvou.

Ons sal ooggetuies wees van die begin van God se ingryping om die Amerikaners en volke van Britse afkoms te straf vir ons eie beswil. God sê immers: “En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levitikus 26:19). Indien u nog nie bewus is van ons nasionale identiteit in Bybelse profesieë nie, kontak asseblief ons streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bl. 2 van hierdie tydskrif, en bestel u gratis kopie van ons insiggewende boekie: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

God is konsekwent

In Sy geïnspireerde woord sê die Ewige God aan ons: “Want Ek, die Here, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie” (Maleagi 3:6). In Sy oorhoofse benadering is God konsekwent in Sy handeling met mense en nasies. In die Nuwe-Testamentiese boek Hebreërs word aan ons gesê: “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Hebreërs 12:5-6).

Indien God ons liefhet, waarom “straf” Hy die Amerikaners en die volke van Britse afkoms so kragdadig?

Waarom?
Die werklike antwoord is dat ons nasies van skynheiliges is! Terwyl ons in Amerika op ons muntstukke die woorde laat aanbring: “In God We Trust [Ons vertrou op God]” is ons ’n volk wat gedurig in opstand is teen dieselfde God se wette en weë. Gaan miljoene Amerikaners elke Sondag kerk toe? Ja! So skokkend soos wat dit egter mag klink, is dit juis deel van die probleem!

“Hoe dan so?” mag u vra.
Dit is deel van die probleem omdat die grootste gros kerkgangers nooit die einste lewensweg geleer word wat ons sou kon red van die ergste kastyding wat binnekort oor ons mense gaan kom nie. Soos ons hierbo gesien het, het God gesê dat Hy Sy volk sal straf “... as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie” (Levitikus 26:14).

“Hier sit die knoop” egter – die oorgrote meerderheid belydende Christene word geleer dat hulle nie die Tien Gebooie “letterlik” hoef te onderhou nie! Ja, as klein kindertjies mag hulle wel in Sondagskool geleer het om die “verkorte vorm” van die Tien Gebooie te memoriseer, maar hulle predikers het konsekwent geweier om aan hulle die Tien Gebooie as ’n lewenswyse te leer – die einste gebooie wat Jesus Christus persoonlik aan die mense geleer het. Diegene van u wat die moed bymekaar kan skraap om u prediker te vra: “Het Christene werklik nodig om die Tien Gebooie as ’n lewenswyse te onderhou?”, mag verras wees deur die antwoord. Die oorgrote meerderheid predikers sal egter antwoord – soos hulle in hul kweekskole geleer is – dat die Tien Gebooie goeie riglyne “mag” wees, maar dat u nie werklik nodig het om dit te onderhou nie!

Hierdie belydende Christen predikers vermy dit meestal om hoegenaamd oor die Tien Gebooie te praat. Party van hulle sal die mense leer dat die Tien Gebooie die “Wet van Moses” is – nie vir ons vandag nie – of dat die Tien Gebooie op die een of ander manier “aan die kruis gespyker” is, of dat daarmee “weggedoen” is deur die apostel Paulus. Hierdie predikers het allerhande powere verskonings oor waarom dit deesdae nie nodig is om die Tien Gebooie letterlik te onderhou nie – alhoewel Jesus Christus Sy volgelinge geleer het om hulle te onderhou (lees Mattheüs 5:17-19; 19:16-19; Lukas 16:16-18). Jesus se eie broer, die geïnspireerde apostel Jakobus, het geskryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12). Die Tien Gebooie is verseker die “wet” wat owerspel en moord as sonde bestempel. Jakobus het gesê dat u en ek “geoordeel” sal word deur daardie Wet! Wat kan tog meer duidelik wees as dit?

Jesus se geliefde apostel Johannes het geskryf: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Nogtans het ’n diaboliese slim Satan die Duiwel dit reggekry om die betekenis van sekere gedeeltes in die Bybel op so ’n wyse te verdraai dat dit dosyne eenvoudige, duidelike Skrifgedeeltes weerspreek wat God se mense aansê om die Tien Gebooie as ’n lewenswyse te onderhou!

In sy heel laaste brief aan die einde van sy bediening, waarsku die apostel Petrus ons aangaande onstandvastige mense wat die geskrifte van die apostel Paulus verdraai “tot hul eie verderf” (2 Petrus 3:16). Hy gee opdrag aan diegene wat die Waarheid ken soos dit deur Jesus Christus geleer word: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie” (2 Petrus 3:17). Dit is duidelik dat daardie “sedelose mense” ander mense nie slegs van die verkeerswette geleer het nie. Petrus was deur God geïnspireer om ons te waarsku teen daardie vals leermeesters – wat dikwels self deur Satan mislei is – wat Paulus se geskrifte so sou “verdraai” sodat dit kastig sou “wegdoen” met die Tien Gebooie!

In Jesus se naam – as Sy dienaar – vermaan ek u almal, predikante en priesters wat hierdie artikel lees, om wakker te skrik! U kan verseker ook van u vorige onkunde vergewe word. U was heel waarskynlik ook “verblind” deur die ontsaglike groot misleiding van Satan die Duiwel “wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9).

Die loon van sonde is die dood

God sê aan ons: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

Sonde bring outomaties leed, lyding en uiteindelik, die tweede dood in die poel van vuur mee, tensy die persoon innige berou tot bekering ervaar (Openbaring 21:8). Soos ons in 1 Johannes 3:4 lees: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4 NV). God se Wet – die Tien Gebooie – is soos die wet van swaartekrag. God se geestelike wet “werk”, of u daarin glo of nie!

Diegene wat onder die dekmantel van godsdiens sondig, behoort veral beskaamd te wees! Die diepliggende leed in die stemme en op die gesigte van daardie persone wat in hul jeug deur Rooms-Katolieke priesters misbruik is, behoort iets aan ons te vertel. Sodanige verdorwe, sondige handelinge bring jare, selfs dekades, van wroeging en lyding mee. Hoe kan daardie biskoppe en kardinale wat die gruweldade van die verdorwe kindermolesterende priesters “toesmeer”, snags slaap? Hulle behoort die geïnspireerde waarskuwing van die apostel Paulus te oorweeg: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik” (1 Timotheüs 4:1, 3 NV).

Ons moet ook nie die duisende vooraanstaande uitvoerende hoofde van besighede, regspraktisyns en rekenmeesters vergeet wat – as verstokte sondaars – gedink het dat hulle daarmee kan “wegkom” om miljarde rande te steel deur verskeie slenterstreke nie. Kort voor lank sal hulle tot verantwoording geroep word! Mense soos Bernard Madoff sal nie net in die howe van hul teenwoordige nasies verantwoording moet doen nie, hulle sal uiteindelik voor die regterstoel van die Almagtige God gebring word!

Baie van hulle het met opset die geld, en selfs die lewensonderhoud van hul werknemers en die beleggers in hul maatskappye, gesteel. Die Ewige God veroordeel skerp diegene wat hulself verryk ten koste van ander: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ’n swaarder oordeel ontvang” (Mattheüs 23:14).

Sonde bring outomaties lyding mee. Party van diegene wat probeer om hul tydelike finansiële voordeel deur hebsug en bedrog te verkry, mag selfs hul huise verloor en nie langer in staat wees om hul gesinne te voed nie. Baie sal nie in staat wees om vir hul gesinne se toekoms te voorsien nie. Selfs diegene wat “beter daaraan toe is”, mag vind dat hul gesinne in die toekoms “sonder” baie dinge sal moet klaarkom. Hul seuns en dogters mag dalk nie meer in staat wees om na die skole te gaan wat hulle beplan het om by te woon nie, want “Pappa het sy werk verloor”. Hulle klein kindertjies mag dalk nie meer in staat wees om die somerkamp by te woon soos wat beplan was nie, of om die nuwe swaai wat vir die agterplaas belowe was, te kry nie. Gesinne mag genoodsaak wees om sonder hul jaarlikse vakansie klaar te kom, omdat geld skaars is.

Selfs diegene wat nie dade van gierigheid gepleeg het nie, sal ly omdat ander dit gedoen het. Werknemers wat hul werk verloor het as gevolg van die dade van korrupte bestuurshoofde mag nooit weer hul leiers vertrou nie. Vir baie gesinne sal hul hele lewe verander word as gevolg van korrupsie op die heel hoogste vlak in Amerikaanse [of Suid-Afrikaanse] besighede. Die seerkry en ontnugtering sal ’n leeftyd duur. Hoe kan korrupte bestuurshoofde snags slaap, terwyl hulle bewus is van die diepgaande lyding wat hul bedrog en handelinge veroorsaak het? God se woord sê aan ons: “’n Goeie verstand verskaf guns, maar die weg van die ontroues is hard” (Spreuke 13:15).

Ongehoorsaamheid is die oorsaak van menslike lyding

In hierdie artikel kan ons nie eens begin om die ontelbare areas van sonde en lyding in ons belydende “Christelike” wêreld op te noem nie. Ons lees bykans daagliks van die onophoudelike leed wat veroorsaak word deur diegene wat onwettige dwelms verkoop en diegene wat dit gebruik. Ons lees ook van diegene wie se denke en liggame verswak en sonder krag gelaat is omdat hulle te veel alkohol drink, sigarette rook, of toelaat dat hul denke en gees verdorwe word deur die verrotte verskaffers van pornografie. Pornograwe dra ongetwyfeld by tot grusame seksuele misdade en veroorsaak dat ’n hele geslag jong mans grootword met ’n goedkoop en lae siening van vroulikheid!

Baie uitvoerende hoofde van die belangrikste tabakmaatskappye was beskou as “steunpilare” in hul plaaslike gemeenskappe; hulle het gesit op die rade van hul plaaslike kerke en hulself omring met die simbole van sukses en aansien. Nogtans het baie van hierdie selfde mans reeds vir dekades geweet dat hul produk dikwels direk bydra totontsettende lyding en voortydige dood van ontelbare miljoene mense!

Wonder ons nog steeds waarom die grote God van die Skepping besig is om die Amerikaanse en Brits-afstammende volke te “kasty”?

Alhoewel ons meer Bybels gedruk en uitgegee het as enige ander volk in die geskiedenis, is ons voortdurend besig om die wette van God te verbreek en te verwoes! Ons godsdienstige, politieke en besigheidsleiers – saam met ons nasionale, sport- en vermaaklikheids-“afgode” – het almal bygedra tot ’n kultuur van bedrog en skynheiligheid. Ons het daarop aanspraak gemaak dat ons ’n “Christen” nasie is. Ons het egter terdeë die duidelike leerstellings wat Jesus Christus in die “Bergpredikasie” gegee het, verwerp (Mattheüs 5:7).

Jesus sê ook: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Na aan die einde van Sy beroemde “Bergpredikasie” waarin Hy duidelik uiteensit dat Christene beide die letter en die gees van die Tien Gebooie moet gehoorsaam, stel Jesus dit duidelik: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheüs 7:21-23).

Daar is ’n oorsaak vir elke gevolg. Die verbreking van God se groot geestelike wet is die grondliggende oorsaak van alle menslike lyding. Wanneer ons eers hierdie feit aanvaar en daarvolgens lewe, sal die hoeveelheid menslike lyding minimaal wees!

Na die Groot Verdrukking wat Jesus Christus voorspel het – en nadat die mensdom ten volle verneder is en “gewillig is om te luister” – sal die hele wêreld geleer word om die Tien Gebooie te gehoorsaam as ’n lewenswyse. Slaan ag op die geïnspireerde profesie van Jesaja: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4).

Die profeet Jeremia was deur God geïnspireer om aan ons te sê: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jeremia 31:33).

Deur waaragtige berou tot bekering en die gawe van die Heilige Gees, sal God in werklikheid Sy geestelike wet – die Tien Gebooie – in die harte en denke van al Sy mense plaas. Dan, gedurende die duisendjarige Vrederyk van Jesus Christus, sal daar ’n diepgaande vrede en vreugde wees soos wat hierdie wêreld nog nooit voorheen ondervind het nie.

Soos Jeremia geskryf het: God sal “hulle ongeregtigheid vergewe” (vers 34). Die “loon van die sonde” sal verwyder wees. God sê aan Sy mense wat hul sal ervaar nadat hulle teruggekeer het uit die Groot Verdrukking, nadat hulle geleer het om Sy Wet te gehoorsaam en werklik Sy lewensweg te volg: “In plaas van julle skande ontvang julle ’n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land ’n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet” (Jesaja 61:7).

Mag die God van die Bybel – die Skepper wat aan ons almal lewe en asem skenk – u help om die ware godsdiens te soek en te vind. Mag Hy ook aan u die geloof en die moed skenk om te handel volgens daardie Waarheid..