Is Australië se “droogte van die eeu” besig om skiet te gee? Wat hou die toekoms in vir die verdorde kontinent “doer onder”?

Australië ondervind die ergste droogte in ’n 1 000 jaar” ... “Droogte verstewig sy greep op Australië” ... “Australië se epiese droogte: Die situasie is bar” ... Hierdie hoofopskrifte het die wêreld se aandag in 2006 en 2007 aangegryp, namate die Australiërs gesteier het onder die gewig van die ergste droogte op rekord. Genadiglik het die jaar 2008 begin met ’n baie noodsaaklike neerslag. Is die verhoogde reënval ’n teken van meer goeie dinge wat kom? Kon dit slegs ’n kort verposing wees? Is die “Groot Droogte” soos wat die droogte van die laaste ses jaar genoem word, deel van ’n normale klimaatsiklus, of is die weerpatroon in Australië besig om te verander?

“Die Murray-Darling droogte mag permanent wees”, was die hoofopskrif van ’n Sydney News Herald storie van 9 Mei 2008: “Daar is geen einde in sig vir die droogte nie”, waarsku die artikel, en “dit mag volgende jaar nog meer versleg”.

Die Murray-Darling Kom beslaan ’n groot deel van oostelike Australië en strek van suidelike Queensland, deur Nieu-Suid-Wallis en Victoria tot in Suid-Australië. Vir die eerste keer in aangetekende geskiedenis het die watervlak van sommige van die mere in die gebied tot onder seevlak gedaal. Selfs na “goeie somerreëns” berig die Nasionale Klimaatsentrum by Australië se Buro vir Meteorologie, dat die reëns “skaars ’n duikie” in die droogte geslaan het.

Australiërs is geensins onbekend met droogtes nie. In werklikheid is Australië die wêreld se droogste bewoonde kontinent. Natuurkundige Charles Darwin het geskryf oor die verband tussen Australië se droë temperature en die gevolglike brande wat hy tydens sy besoek in Januarie 1836 daar opgemerk het: “In die hele land het ek skaars ’n plek gesien wat sonder tekens van vure is, of dit meer onlangs was of nie so onlangs nie – of die boomstompe meer of minder swart was, dit was die grootste verandering wat die eenvormigheid afgewissel het, wat so vermoeiend vir die reisiger se oog is” (Voyage of the Beagle, bl. 324).

In haar bloemlesing van 1911, The Closed Door, som die Australiese digteres Dorothea Mackellar die harde maar minsame klimaat van haar geliefde Australië op in haar beroemde gedig, “My Country”: “Ek is lief vir ’n sonverbrande land, ’n land van wye vlaktes, van ruwe bergreekse, van droogtes en oorvloedige reëns. Ek is lief vir haar verre horisonne, ek is lief vir haar juweel van ’n see, haar skoonheid en haar verskrikking – die wye bruin land vir my!”

Droogte: ’n Lewenswyse

Australiërs het begin om droogte as ’n lewenswyse te verwag. Drie uit elke tien jaar bring tipies verminderde reënval en verdorde toestande. Hierdie gereelde siklus word ook af en toe verbreek deur feller droogtes. Droogte is so algemeen in Australië dat sommige kundiges voorgestel het dat die woord “droogte” weggelaat word uit besprekings oor Australië se klimaat en verkies dat daar eerder gedink moet word aan die wisselings van neerslae en temperature as normale skommelings in plaas van ongewone en onvoorsiene gebeure. Hierdie benadering word weerspieël in die Australiese Regering se beleid; skrywers Linda Botterill en Melanie Fisher wys daarop dat om te leer om met droogte saam te leef, beteken hoofsaaklik om te leer wat dit “beteken om ’n Australiër te wees” (Beyond Drought: People, Policy and Perspectives, bl. ix).

Waarom wissel Australië se klimaat so erg? Een groot faktor is die gereelde patrone van die Suidelike Ossillasie – ’n klimaatspatroon wat wissel tussen El Niño klimaatstoestande waarin die warmer oseaan hoër temperature en minder reën meebring, en La Niña klimaatstoestande waar die koeler oseaan storms en verhoogde reënval veroorsaak, veral in oostelike Australië.

Is die “Groot Droogte” anders?

Gegewe so ’n geskiedenis van droogte, was Australië se onlangse droogte-toestande dan anders? Ja, hulle was. Soos die Australiese Buro vir Statistieke meld, was die 2002-2003 droogte in sommige opsigte uniek en ongewoon erg vir twee redes – dit was vergesel van rekord hoë gemiddelde maksimum temperature en dit het feitlik die hele kontinent geaffekteer (Yearbook: Australia 2006, “Australia’s Climate”). Droogte-toestande het voortgeduur dwarsdeur die 2006-2007 groeiseisoen, toe die Murray-Darling Rivierkom, wat 40% van Australië se landbougewasse verbou, op sy droogste in 116 jaar was. Verslaggewer Emily Sohn skryf in Science News: “Die Australiese kontinent het sedert antieke tye droogtetye beleef, maar die lengte en intensiteit van die huidige krisis het selfs die mees geharde klimaatkundiges verras” (“The Big Dry”, 27 Oktober 2007).

Selfs na die welkome reëns in Desember 2007, berig Australië se Buro van Meteorologie: “... die ergste van die langtermyn tekorte sal waarskynlik nog vir ’n tyd lank voortduur” (“Drought Statement”, 7 Januarie 2008).

Wetenskaplikes stem saam dat klimaatsverandering in Australië vinniger plaasvind as wat verwag is en party waarsku dat wêreldwye klimaatsveranderings – insluitende warmer temperature in Australië – hier is om te bly. Sodanige veranderings, sê hulle, sal meer langdurige droogte-toestande meebring. Soos die Australiese Buro vir Statistieke opgemerk het: “Temperature in Australië was redelik stabiel vanaf 1910 tot 1950, maar sedertdien toon dit ’n stygende neiging met ’n algehele vermeerdering van ongeveer 0,7ºC vanaf 1910 tot 2004 ... Die waarneembare verwarming oor Australië het in die laaste paar jare toegeneem en die latere 20ste eeu se verwarming word grootliks toegeskryf aan die toenemende kweekhuiseffek (Yearbook Australia 2006, “Australia Climate”).

Verslaggewer Richard Macey skryf in die Sydney Morning Herald: “Dit mag moontlik nou tyd wees om op te hou om suidoostelike Australië te beskryf as sou dit in die greep van droogte wees en eerder aanneem dat die uitsonderlike droogte-toestand permanent is” (“This drought may never break”, 4 Januarie 2008).

Waarom klimaatsverandering?

Indien Australië in werklikheid warmer word en droogte-toestande aan die toeneem is, waarom gebeur dit? Een faktor wat meeste mense nie in aanmerking neem wanneer weerpatrone verander nie is dat daar ’n God is wat ingryp in wêreldgebeure. Die Bybel onthul dat God die weer gebruik om Sy wil hier op aarde te laat geskied. Of die Groot Droogte gaan vererger of gaan afneem, die Skrif maak dit duidelik dat God diegene seën wat Hom dien met “reëns ... op die regte tyd” (Levitikus 26:4) en dat Hy die weer gebruik om sy vyande deur Sy mag te verstrooi (Job 38:22-23).

God het ’n verbond aangegaan met antieke Israel en beloof om die nasie met goeie weer te seën indien die volk Hom sou gehoorsaam. Aan die ander kant waarsku Hy, Hy “... sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levitikus 26:19) as hulle Hom nie gehoorsaam nie. Israel het nogtans gerebelleer. God het hulle oor en oor gewaarsku om hul weë reg te maak. Uiteindelik sê Hy: “Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede” (Amos 3:2).

Wat sou daardie wyse van straf wees? “Ek het julle met brandkoring [droogte] en met heuningdou [oormatige neerslag] swaar getref ... nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (Amos 4:9). Ten spyte van God se waarskuwings en geduldige vermanings, het Israel nie getrou na Hom teruggekeer nie. Uiteindelik het God toegelaat dat die noordelike tien stamme van Israel in ballingskap geneem word deur die Assiriese ryk.

Wat het gebeur met daardie stamme wat God verwerp het? Hulle het nie verdwyn nie! Tydens Sy leeftyd op aarde het Christus gesê Hy weet waar die “verlore skape van die huis van Israel” – die sogenaamde “verlore tien stamme” – werklik was in daardie tyd (Mattheus 10:6). Die historikus Josefus skryf van ’n “ontsaglike menigte” Israeliete “anderkant die Eufraat” (Antiquities of the Jews, Boek 11, Hoofstuk 5).

Studente van geskiedenis en die Bybel, kan vandag die migrasie van die tien “verlore” stamme volg en hulle tog noord en weswaarts tot by die Britse Eilande en noordwestelike Europa aanteken. Die volke wat afstam van Josef se seuns Efraim en Manasse het hul gevestig in die Britse Eilande en baie van hulle het later migreer na Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Kanada en die Verenigde State van Amerika.

In die verlede het God die weer gebruik om met antieke Israel te werk. Sal Hy weereens vandag die weer gebruik om Sy mense te seën – of te vervloek? God stuur sekerlik uit Sy groot barmhartige genade die sonskyn en reën oor “die slegtes en die goeies” (Mattheus 5:45). Nogtans openbaar die Boek Openbaring dat daar ’n tyd sal kom wanneer God die weer meer direk sal gebruik om met rebelse mense te werk.

Jesus Christus het voorspel dat net vóór Sy Wederkoms, daar ’n tyd van hongersnood gaan kom, en sterftes as gevolg van honger (Openbaring 6:5-8). Hy sê hierdie tyd sal lei na ’n groot verdrukking, ook bekend as die “vyfde seël” (vers 9). Die Skrif toon dat hierdie “vyfde seël” ’n verskriklike rampspoedige tyd sal wees wat spesifiek oor die huis van Jakob gaan kom (Jeremia 30:7) – wat huidig, saam met die nasie Israel in die Midde-Ooste, die volgende nasies insluit: Australië, Nieu-Seeland, Groot Brittanje, Suid-Afrika, Kanada en die Verenigde State van Amerika.

Hierdie tyd van verdrukking is geprofeteer om ’n tyd van ongeëwenaarde lyding te wees soos wat die wêreld nog nooit voorheen ervaar het nie (Mattheus 24:21). Die Skrif onthul dat tientalle miljoene afstammelinge van antieke Israel sal omkom. Terwyl hy die hele huis van Israel in hierdie toekomstige tyd aanspreek, waarsku die profeet Esegiël: “’n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom” (Esegiël 5:12).

Esegiël het duidelik gewaarsku aangaande groot droogtes wat die moderne afstammelinge van antieke Israel sal tref: “As Ek die verderflike pyle van hongersnood teen hulle uitstuur wat tot verwoesting is, wat Ek uitstuur om julle te vernietig, dan sal Ek die hongersnood oor julle vermeerder, en julle staf van die brood sal Ek verbreek” (vers 16).

Die geprofeteerde oordele oor Israel sal kom as gevolg van hul sondes. God sal egter ook plae gebruik om die nasies van die hele wêreld te oordeel vir hul sondes en omdat hulle die geprofeteerde “Diermoondheid” volg. Die Skrif dui aan dat daar ’n tyd sal wees wanneer aan twee van God se getroue dienaars buitengewone mag gegee sal word om vir drie-en-’n-halwe jaar “die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie” (Openbaring 11:6). Dit is duidelik dat in die jare wat binnekort voorlê, God droogte en voedselskaarste as werktuie sal gebruik om moderne Israel – en alle mense – belangrike lesse te leer aangaande gehoorsaamheid aan Hom.

Jesus Christus het voorspel dat voor die rampspoed aan die einde van hierdie tydvak, tydens tye van maatskaplike onrus en oorlog, uiterste weersomstandighede sal begin toeneem: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheus 24:6-8).

Waarom moderne Israel straf?

Het God enige rede om moderne Israel te straf – insluitende die nasies van Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Groot Brittanje, Kanada en Amerika? Moses het voorspel dat God die afstammelinge van Josef sal seën (insluitende Efraim en Manasse) met die keurigste plekke op aarde. Neem kennis: “Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob – daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is, van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (Genesis 49:22-26).

Elders in die Skrif word dieselfde seën aan Josef herhaal: “En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die Here is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê, en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het – laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers” (Deuteronomium 33:13-16).

 Was die moderne nasies wat van antieke Israel afstam geseën soos hierdie verse aantoon? Alhoewel Australië slegs ongeveer 7% bewerkbare grond besit (in vergeleke met 19% in Amerika), is die land ryklik geseënd met natuurlike hulpbronne. Australië is eerste op die wêreld se ranglys vir wolproduksie en tweede in die produksie van lood, sink, nikkel en goud – meer as Amerika in al hierdie areas. Australië is die wêreld se derde grootste produsent van steenkool, net na China en Amerika, en is die sesde grootste koringprodusent. Australië is derde in die wêreld op die “menslike ontwikkelingsindeks” wat deur die Verenigde Volke se Ontwikkelingsprogram opgestel is; en wat lande indeel volgens die inwoners se lewensverwagting, volwasse geletterdheid, skolastiese jare en persoonlike inkomste (Pocket World in Figures, 2006 Uitgawe, bll. 30, 48, 50-53).

Nogtans, ten spyte van so baie seëninge, is Australië belas met maatskaplike probleme, net soos die res van die moderne Israelitiese nasies. ’n Verslag wat in 1990 deur die Australiese Instituut vir Kriminologie opgestel is kom tot die ongelukkige gevolgtrekking dat Australië se misdaadsyfer in baie opsigte baie hoog is in vergeleke met ander soortgelyke nasies. “Australië is die derde hoogste geplaas van die veertien lande [wat bestudeer is] ten opsigte van algehele viktimisasie ... In aanranding waar geweld betrokke is, in die minder ernstige tipes seksuele insidente, in diefstal en motordiefstal, rangeer Australië die hoogste van al die lande wat nagevors is” (A Comparison of Crime in Australia and Other Countries, bl. 2).

Die moderne Israelitiese nasies is ook hoog op die ranglys vir gewoontevormende gedrag, soos pornografie. In terme van inkomste verkry uit pornografie kom Amerika derde in die wêreld, Australië vierde, die Verenigde Koninkryk vyfde en Kanada sewende. Australië oortref die V.S. meer as dubbel ten opsigte van per capita inkomste verkry uit pornografie.

Waarlikwaar, as God droogtes en ander rampe gebruik het om antieke Israel te straf vir hul sondes, kan moderne Israel nie daarop aanspraak maak dat hulle Sy teregwysing minder verdien nie.

Bid vir reën

In April 2007, toe reën dringend en desperaat nodig was om die oeste in die belangrike Murray-Darling Kom te red, het die Eerste Minister, John Howard, die Australiërs aangemoedig om te bid vir reën. Hy het gesê: “Dit is ’n ernstige toestand en daar is geen sin daarin om aan Australië anders voor te gee nie. Ons moet almal hoop en bid vir reën”.

Sal ons vir reën bid? Sal ons dan dank betuig indien dit gekom het? Nog meer belangrik, sal ons ons sondes bely – dan daaroor berou hê en ons daarvan bekeer? Die Skrif gee aan ons Koning Salomo se gebed tydens die inwyding van die Tempel: “As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe – want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel – en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het” (2 Kronieke 6:26-27).

Net soos die droogtes wat voor dit was, het die Groot Droogte op die een of ander manier die lewens van alle Australiërs geraak. Landbouers en veeboere het veral moeilike uitdagings in die gesig gestaar. Besighede het gely. Die roetine van die alledaagse lewe het verander namate individue moes aanpas by die strenger waterbeperkingsregulasies, deur nie hul grasperke nat te maak, nie hul motors te was nie, minder water in die stort te gebruik en ywerig reënwater op te gaar. Droogtes is tye wanneer elkeen die nodige veranderings maak om die uitdaging te aanvaar en te oorleef.

Sal ons egter die belangriker geestelike veranderings maak in antwoord op hierdie klimaatsuitdagings? Sien ons die “handskrif teen die muur”? Wil ons God se persoonlike versorging en troos vir ons en ons gesinne hê in die komende tye van spanning en dwang? Waarheen sal ons draai wanneer die geprofeteerde verdrukking kom?

Ons enigste, uiteindelike antwoord is om ons na God te wend, ons Skepper en Maker. “So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk. En hy sal wees soos ’n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ’n brakkerige en onbewoonde land. Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jeremia 17:5-8).

God het die nasies van Josef geseën – en gaan voort om hul oorvloedig te seën. Ons tyd is egter besig om uit te loop, tensy ons wegdraai van ons sondes en met ons hele hart terugdraai na die Almagtige God. Dit is die uitdaging en die waarskuwing wat Jesus Christus aan die nasies van Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk, Kanada en die Verenigde State van Amerika – en ja, ook vir die hele wêreld, gee! Sal u daarop ag slaan?.