Die ontluikende finansiële krisis wat deur die nasies van die Europese Unie versprei, genereer toenemend oproepe vir die skepping van ’n werklike federale regering vir Europa – ’n Verenigde State van Europa! Vir baie mense in die media en sekulêre regeringskringe is dit ’n heeltemal nuwe ontwikkeling in die voortdurende soeke na ’n polities-verenigde Europa. Bybelprofesieë het egter lank reeds voorspel dat so ’n gebeurtenis sal plaasvind op ’n kritieke tyd in die mens se geskiedenis – ’n tyd waarna verwys word as die “einde van die dae” en net voor die wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde. Hierdie merkwaardige gebeure in Europa moet dopgehou word, namate antieke Bybelprofesieë gestalte aanneem in ons hoofberigte vandag!

Die stygende koor!

Toe hy in Berlyn gepraat het, het die voormalige Duitse kanselier, Gerhard Schröder, die skepping van ’n “Verenigde State van Europa bepleit ... om toekomstige ekonomiese krisisse te vermy” en gesê: “Ons sal nasionale soewereiniteit moet prysgee” aan so ’n gemeenskaplike regering (“Former German leader calls for ‘United States of Europe’”,Reaters.com, 4 September 2011). Hierdie oortuiging word nou al meer oor die hele wêreld gehoor!

By ’n konferensie in Parys het beamptes van die Europese Sentrale Bank verklaar dat, om die finansiële krisis in Europa te hanteer, vereis sal word dat die Europese projek “voltooi” moet wees asook dat dít ’n “federale regering met ’n federale minister van finansies” sal vereis (“Spectre of fresh EU treaty returns to haunt ‘incomplete’ Europe, euobserver.com, 6 September 2011). Die Raad oor die Toekoms van Europa het ’n beleidsdokument uitgereik waarin hulle vra vir beide ’n fiskale unie en ’n politieke unie van die Europese lande wat ’n “gemeenskaplike veiligheid, energie, klimaat, immigrasie- en buitelandse beleid” sal insluit – wat almal geadministreer sal word deur ’n sentrale Europese entiteit – en dat bewegings in hierdie rigting “onvermydelik” is (ibid.).

Onlangs het die hoof van die Europese Kommissie, Jose Manuel Barroso, opgemerk dat die hantering van die Europese skuldkrisis vinniger en meer beslissende optrede vereis, en dat “die markte aandring op meer integrasie, ten minste in die euro-gebied” (“Markets will drive a two-speed Europe, says Barroso”, euobserver.com, 7 September 2011). In New York het ’n amptenaar by Citigroup, die grootste firma vir finansiële dienste in die wêreld, gesê: “... die euro-sone sal waarskynlik uitmekaar val, tensy die Europese Unie se lid-state saamsmelt op beide fiskale en politieke vlak ... Europa behoort standpunt in te neem en te besluit of dit ’n ‘Verenigde State van Europa’ gaan wees of ’n ‘lappieskombers’ van onafhanklike state” (“Citigroup says only ‘United States of Europe’ will save euro”, euobserver.com, 21 April 2011).

Hierdie stygende koor van stemme begin om dringend die idees wat al vir ’n geruime tyd in Europa die rondte doen, na te boots. Nou word dieselfde idees gehoor oor die politieke spektrum in Duitsland. “Duitse Euro-federaliste het wakker geword na ’n lang sluimering. Dit is geen verrassing dat Joschka Fischer, die Greens se oudste staatsman, sou aandring op ’n ‘Verenigde State van Europa’ nie. Dit is nog meer opvallend dat Gerhard Schröder, ’n voormalige Sosiaal-Demokratiese kanselier, dieselfde woorde geuiter het, soos Ursula von der Leyen, die minister van arbeid en ’n vooraanstaande Christen-demokraat” (“Germany’s euro question”, The Economist, 10 September 2011).

In sy boek, The United States of Europe, bepleit die voormalige Belgiese Eerste Minister, Guy Verhofstadt, die skepping van ’n federale regering om ’n “Verenigde State van Europa” tot stand te bring. Hy voorsien ’n meer diepgaande geïntegreerde Europa wat die vasteland se ekonomie kan bevorder en meer effektief teen georganiseerde misdaad kan veg.

Antieke profesieë neem gestalte aan!

Terwyl moderne geleerdes en skeptici aanvaar dat die Bybel niks meer is as ’n versameling mites en legendes nie, maak die God van die Bybel duidelik daarop aanspraak dat Hy die enigste een is “wat van die begin af ... die einde [verkondig], en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie, wat sê: My raad sal bestaan” (Jesaja 46:8-10). Sowat 2,500 jaar gelede het die God van die Bybel aan die profeet Daniël geopenbaar dat ’n brose federasie (yster en klei), met skakels met die ou Romeinse Ryk, in Europa tot stand sal kom net voor die wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde (Daniel 2:34-44). Gedurende die eerste eeu na Christus het die apostel Johannes geprofeteer dat diebetreklik skielike opkoms van ’n magtige politieke “dier” wat in staat sal wees om oorlog te voer, die wêreld sal verras, en dat hierdie dier gehelp sal word deur ’n ander dier – ’n groot godsdienstige leier wat groot tekens en wonders sal verrig om die mense van die wêreld te mislei om die politieke dier te volg vir ’n tydperk van 42 maande – drie-en-’n-half jaar (Openbaring 13). Johannes het voorspel dat tien konings hulle krag en mag (hul soewereiniteit) sal oorgee aan hierdie politieke dier – en hierdie sataniese stelsel sal oorlog voer teen die terugkerende Jesus Christus (Openbaring 17:12-14). Die Europese politieke dier word ook uitgebeeld as ’n ekonomiese mag wat nou betrokke is by die handelaars van die aarde – wat sal treur wanneer Jesus Christus die hele stelsel sal vernietig met Sy wederkoms (Openbaring 18).

In die lig van hierdie antieke profesieë oor die verrassende verskyning van ’n Europese moondheid met oorlogvoerende magte en skakels met die globale ekonomie, is dit inderdaad ontnugterend om te sien dat wêreldgebeure op dieselfde trant ontwikkel! Nie slegs genereer die Europese skuldkrisis oproepe vir ’n Verenigde State van Europa nie, die grootste EU-lande (Frankryk, Duitsland, Italië, Pole en Spanje) “wil ’n plan ontwikkel vir ’n Europese Unie militêre hoofkwartier” om militêre operasies reg oor die wêreld uit te voer – ten spyte van besware deur Groot-Brittanje (“EU countries propose military headquarters”, United Press International, 9 September 2011). Hierdie inisiatief kan lei tot die vervulling van ’n lank-gekoesterde doel om ’n Europese Weermag tot stand te bring. Terwyl Bybelprofesieë praat van tien konings wat deel uitmaak van hierdie Europese dier, is dit die moeite werd om daarop te let dat EU-verdrae ’n opsie bied wat voorsiening maak dat “nege of meer lidlande kan voortgaan met ’n EU-projek sonder die ander”. Die “kern”-lede van ’n nuut saamgesmelte Verenigde State van Europa kan hierdie profesieë vervul in die dae wat binnekort voorlê!

Gedurende dieselfde tyd wat die voorste nasies van Europa van plan is om voort te gaan met federale Europese planne, word kommentaar uitgespreek oor moontlike verlaging van die status van, of vermindering van die getal lande in die 27-nasie Europese Unie. ’n Groeiende koor politici regdeur die EU, met inbegrip van hooggeplaaste Duitse wetgewers, bespreek nou openlik die “taboe” van die uitsluiting van Griekeland uit die euro-sone (“Deficit Sinners’ Flags Should Fly at Half-Mast”, Der Spiegel, 9 September 2011).

Verskeie stigterslede van die EU het voorgestel dat swaar-skuldbelaaide state “onder administrasie” van die Europese Kommissie geplaas moet word om hul finansiële toestand te monitor. “Die Eerste Minister van Nederland het vroeër gesê dat lande wat hulp ontvang, óf beheer oor hul begrotings moet sedeer, óf die euro-sone moet verlaat. ‘Lande wat nie bereid is om onder administrasie geplaas te word nie, kan kies om die moontlikheid te gebruik om die euro-sone te verlaat’ het die Nederlandse Eerste Minister, Mark Rutte, gesê” (“European Leaders Escalate Tough Talk on Greece”, New York Times, 8 September 2011). Die idees wat tans onder bespreking is – die vermindering van die aantal lande in die euro-sone of om voort te beur met ’n kern-groep van nasies om ’n Verenigde State van Europa te vorm – sal beslis help om hierdie antieke profesieë vandag gestalte te laat aanneem – reg voor ons oë!

In teenstelling met wat sekulêre skeptici vandag wil glo, is Bybelprofesieë geïnspireer en bewaar deur ’n ware God – die God van hierdie heelal – wat laat gebeur wat Hy duisende jare gelede voorspel het. Dit is waarom Jesus Christus waarsku: “Waak en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlugen voor die Seun van die mens te staan” met Sy wederkoms (Lukas 21:36).