In Kingston, Ontario, in die ou Cataraqui Begraafplaas, kan mens ’n onopvallende grafsteen waarop ’n eenvoudige inskripsie gegraveer is, maklik miskyk: John Alexander MacDonald, 1815-1891, rus hier.

’n Mens sou nooit vermoed dat hierdie graf die stoflike oorskot van een van die groot dryfkragte agter die skepping van die Dominium van Kanada bevat nie. MacDonald was ’n talentvolle, hardwerkende man met visie wat twee groot erflatings nagelaat het – die eenwording van die Britse kolonies in die noordooste van Noord-Amerika tot ’n enkele nasie en die uitbreiding van hierdie unie oor die vasteland tot aan die Stille Oseaan en die Noordelike Yssee.

MacDonald is in Januarie 1815 in Glasgow, Skotland gebore. Vyf jaar later het sy ouers na Kingston, wat in die destydse Bo-Kanada geleë was, verhuis. Hy het aansienlike vermoëns gehad en hy is op die ouderdom van 15 gekies om sy leerlingskap by ’n plaaslike prokureursfirma te doen. Hy is op die ouderdom van 20 by die Prokureursorde van Bo-Kanada ingelyf. In daardie vroeë dae was sy politieke sieninge ietwat beïnvloed deur ’n kort opstand in Bo-Kanada, asook deur die Republikeinse sentiment suid van die grens wat sy sienswyse ondersteun het. Terwyl hy gehelp het om die rebellie te bedwing, het hy ook sommige van die rebelle verdedig en so sy reputasie as verdedigingsprokureur opgebou.

In die 1840’s het MacDonald ’n setel in die Bo-Kanadese wetgewende mag verower. Teen 1854 het hy Premier geword. MacDonald het sy regspraktyk regdeur sy politieke loopbaan voortgesit. Terwyl hy die regte van ’n individu wat ’n teenstrydige mening gehuldig het streng verdedig, het MacDonald na geleenthede gesoek om werkbare koalisies van mense, politieke partye en besighede te skep om groot idees te verwesenlik. “MacDonald sou dapper genoeg wees om moeilike besluite te neem en wys genoeg om sy eie ego te onderwerp om ’n saak te ondersteun” (“Canada’s Patriot Statesman”, Library and Archives Canada). In ’n land met ’n sterk Engels-Franse verdeling, het MacDonald, wat Frans gepraat het, vennootskappe opgebou met Franse Kanada – merkwaardig genoeg met die “Vader van die Konfederasie”, George Etienne Cartier – om sodoende twee volke te verenig in ’n gemeenskaplike droom.

Die geheelbeeld

Om ware oplossings te sien en dit werklikhede te maak het groot vaardigheid en wysheid geverg, maar ook nederigheid en die vermoë om te inspireer. Die voormalige Eerste Minister, John Turner, het ’n storie vertel wat hierdie kwaliteit van MacDonald illustreer:
David Thompson, ’n liberale Lid van die Parlement (LP) ... het pas na die Parlement teruggekeer na ’n lang afwesigheid weens siekte ... Thompson berig: “Die eerste man wat ek teëgekom het, was [liberale leier Edward] Blake; hy het slegs met ’n gewone kopknik by my verbygestap, asof hy vergeet het ek was weg. Daarna ontmoet ek [liberale LP Richard] Cartwright, wat net so afsydig was. Daarna kom ek Sir John teë en hy het, terwyl hy die Raadsaal haastig binnegekom het, my op die skouer geklop, my hand gegryp en gesê: ‘Davy, ek is bly jy is weer terug; ek hoop jy sal nog lank lewe om teen my te stem’. Dit was nogal moeilik om nie ’n man soos daardie te volg nie” (ibid.).

Na die VS-verkiesing in 1864, het die Republikeine, in ’n poging om die Ierse Amerikaners te paai, in Julie 1866 die Kanadese Anneksasie Wet ter tafel gelê. Vrees vir anneksasie deur die VS was die grootste enkele faktor wat MacDonald en sy bondgenote in staat gestel het om eenstemmigheid vir samesmelting te bereik.

Die Britse parlement het gevolglik in 1866 die Britse Noord-Amerikaanse Wet goedgekeur, waarvan groot dele deur MacDonald opgestel is. Die datum wat gekies is as die dag waarop die Dominium van Kanada gebore sou word, was 1 Julie 1867. MacDonald was die logiese keuse om die eerste premier te geword. Baie uitdagings het voorgelê, maar sy drome, geduld en bereidwilligheid om ander mense se menings te respekteer, het hom in staat gestel om ’n samebindende faktor te wees.

MacDonald het gefokus op weswaartse uitbreiding van die Konfederasie na die Stille Oseaan. Hy het die taakspan wat die provinsie van Manitoba tot stand gebring het gelei (1870), die toevoeging van Brits-Columbië (1871) het gevolg. Laasgenoemde het die belofte van ’n transkontinentale spoorlyn vereis, die grootste enkele projek wat nog ooit deur die Kanadese regering onderneem is en het massiewe befondsing vereis. In die proses was MacDonald en sy regering vasgevang in ’n ontsaglike finansiële skandaal, wat in 1873 tot sy regering se val gelei het. In 1878 het hy egter teruggekeer. Die bevolking het iemand met ’n rekord van toekomsgerigtheid gesoek. MacDonald het vier agtereenvolgende verkiesings gewen en die jong nasie standvastigheid gegee. Hy het aan ’n sterk sentrale regering geglo wat bereid sou wees om te spandeer op projekte van nasionale belang. Om orde na die Weste te bring het hy toesig gehou oor die ontwikkeling van ’n nasionale polisiemag, wat later die Royal Canadian Mounted Police geword het. Hy was met ’n nasionale krisis gekonfronteer toe ’n rebellie in die Noordweste ontstaan het. Hierdie uitdagings het fermheid en balans vereis.

Krag ten tye van beproewings

Ten tye van al hierdie gebeure het MacDonald ook baie persoonlike beproewings verduur. Sy eerste kind het op 13 maande gesterf en sy eerste vrou (Isabella) is deur ’n aftakelende siekte aangetas wat haar lewe 13 jaar later geëis het. MacDonald, wat geruk is deur hierdie gebeure, was ’n lojale eggenoot en liefdevolle vader. Hy is tien jaar later weer getroud. Hy het sy nuwe vrou, Susan Anges, innig liefgehad, maar hulle is spoedig platgeslaan toe hulle dogter erg gestremd gebore is. Hy het elke poging aangewend om so veel as moontlik by sy gesinslede te wees.

In “The Mounted Police and Prairie Society 1873-1919” skryf Adele Perry: “Terwyl Eerste Minister MacDonald gekonfronteer was met die siekte van sy vrou, persoonlike finansiële krisisse en baie dringende probleme van die nasie, het hy die formele goedkeuring van ’n westelike polisiemag uitgestel totdat die tyd reg was. Dit het veroorsaak dat Kommissaris Irvine van die Noordwestelike Berede Polisie, wie se werksaamhede vertraag was omdat hy vir goedkeuring moes wag, om na MacDonald te verwys as ‘Old Tomorrow’” (bl. 8). Die bynaam het vasgesteek!

Dit was ’n karaktertrek van MacDonald om moeilike kwessies te vermy, totdat die regte oomblik vir sukses sou aanbreek. Geskiedenis onderstreep die wysheid daarvan om te wag om beleide te implementeer totdat behoeftes geïdentifiseer is. Teen die einde het hy byna al sy drome bereik. Die Kanadese Senator Hugh Segal, skryf van MacDonald: “Hy kon altyd ’n koalisie bou rondom ’n kwessie wat saak gemaak het ... Dít was sy heel onweerlegbaarste sukses. Daar kom ’n punt in enige politieke party-debat waar dit vir ’n mens nodig is om terug te staan en te besef dat daar iets meer is ... en dit is lojaliteit teenoor jou land” (“Canada’s Patriot Statesman”, Library and Archives Canada).

“Old Tomorrow” het aan ’n jong nasie versiendheid en doelgerigte leierskap gegee. MacDonald was nie sonder foute en swakhede nie, maar gebrek aan liefde vir sy land en gesin was nie een daarvan nie. Opregtheid, visie, spanbou, vasberadenheid en integriteit is waarna God soek in Sy toekomstige leiers – diegene wat bereid is om te werk aan die vervolmaking van hulle eie karakter en wat die aankondiging van God se komende heerskappy op die aarde ondersteun, terwyl hulle op Hom wag om die regte oomblik te kies om ’n regverdige regering oor die hele wêreld te herstel. Dít kan u lotsbestemming wees in die Wêreld van Môre.