Baie mense is bekend met die geweldige impak wat belydende Christelike evangelisasie het op die verspreiding van die Bybel en Judeo-Christelike waardes oor die hele wêreld. Sulke pogings het vir meer as vier eeue lank, ontwikkelende kulture beïnvloed. Baie sendelinge en ander godsdienstige werkers het selfs gesterf om hulle boodskap na nie-Westerse gemeenskappe te bring. Vandag se evangeliste en sendelinge vanaf ontwikkelende lande bestraf en spreek egter nou hulle teleurstelling uit oor die Westerse “moederlande” wat steeds verder van die Bybel af wegdryf. Wat het hierdie dramatiese keerpunt in die geskiedenis veroorsaak en hoe pas dit in by Bybelse profesieë?

Eens “Christelike” nasies verwerp die Bybel

In The New Faces of Christianity het die wetenskaplike Philip Jenkins geskryf oor ’n toenemende gevoel van konfrontasie wat die belange van Christene oral behoort te bekommer:

In onlangse jare was [Anglikaanse Nagmale] omstrede byeenkomste. By een geleentheid het twee biskoppe deelgeneem aan ’n Bybelstudie. Een van hulle was Afrika-Anglikaans, die ander een ’n lid van die Amerikaanse Episkopaalse kerk. Soos wat die tyd verbygegaan het, het humeure opgevlam namate die Afrikaan sy vertroue oor die duidelike woorde van die Skrif uitgespreek het, terwyl die Amerikaner die nodigheid daarvan beklemtoon het om die Bybel in die lig van moderne vakkundigheid en hedendaagse benaderings te vertolk. Uiteindelik het die Afrika-biskop ergerlik gevra: “As julle nie die Skrif glo nie, waarom het julle dit vir ons in die eerste plek gebring?” (bl. 1, klem bygevoeg).

Hierdie verdeeldheid is nie verrassend nie.

Volgens ’n Gallup-verslag van 15 Mei 2017 glo slegs 24% van die Amerikaners dat die Bybel die letterlike Woord van God is, alhoewel 47% glo dat dit geïnspireer is, maar “nie letterlik verstaan behoort te word nie” (Lydia Saad, “Record Few Americans Believe Bible Is Literal Word of God”). Dit weerspieël ’n afnemende oortuiging dat die Bybel, “heilige literatuur is en voldoende is as riglyn vir ’n betekenisvolle lewe en betroubaar akkuraat” is – veral onder jonger geslagte (Barna Group, “The Bible in America: 6-Year Trends”, Barna.com, 15 Junie 2016). Statistieke van ander Westerse nasies toon soortgelyke menings, selfs onder die geestelikes:

Net 29% van die godsdienstig toegewyde mense in Kanada beskou evangelisasie in ’n positiewe lig ... Onder geestelikes in kerke wat in Suidelike Ontario al minder word, het almal (100%) nie saamgestem met die volgende stelling nie: “Die Bybel is werklikwaar die Woord van God en moet letterlik opgeneem word”. Van dieselfde groep geestelikes het meer as 50% saamgestem dat “die Bybel die produk is van menslike denke oor God. Dus is sommige van die leerstellings verkeerd of misleidend” (Wyatt Graham, “Ten Things You Should Know about Religion in CanadaTheGospelCoalition.org, 6 Junie 2018).

Elders het Jenkins die vlak van godsdienstige geloof in Europese lande as opmerklik swak beskryf.

Die Weste het ’n kultuur voortgebring wat voorheen met vrymoedigheid verklaar het: “Die Bybel, die hele Bybel en niks anders as die Bybel nie is die geloof van die Protestante”. Keer vier eeue se evangelisasie nou terug om die Weste se toenemende liberale teologie aan te kla?

Vir dekades het die kloof tussen die liberale Westerse morele leerstellings en die oortuigings van die “globale Suide” – belydende Christene in Afrika, Suid-Amerika en Asië – al hoe groter geword en die uitwerking daarvan is vandag sigbaar.

Verwerping van “progressiewe” sedes

Die Verenigde Metodiste Kerk het onlangs die invloed van bekeerling-lande ondervind toe die omstrede Een-Kerkplan vroeër vanjaar verwerp is. Dr Jerry P. Kulah, ’n prominente Liberiese prediker, het die persone tereggewys oor die radikale veranderings by die Verenigde Metodiste Kerk se Algemene Konferensie:

[En] hoor my asseblief as ek so beleefd moontlik sê: Ons Afrikane is nie kinders wat Westerse verligting nodig het wanneer dit kom by die kerk se seksuele etiek nie. Ons hoef nie te luister na ’n progressiewe Amerikaanse biskop wat ons vertel dat dit nodig is om “groot te word” nie ... Ons staan saam met die wêreldwye kerk – nie ’n kulturele liberale kerklike elite in die VSA nie. (Jonathon Van Maren, “Hoe gelowige Afrikane die Verenigde Metodiste Kerk weerhou het daarvan om dieselfdegeslag-huwelike te aanvaar”, LifeSiteNews.com, 1 Maart 2019, klem bygevoeg).

Kulah se vurige – dog deernisvolle – toespraak teen onlangse neigings in die Metodiste Kerk, weerspieël die gevoelens van baie mense in die “globale Suide”. Die reaksie was veelseggend toe ’n prominente Anglikaanse biskop verklaar het: “Om eenvoudig net te sê dit druis in teen die tradisie en die leerstellings van die kerk en Skrif, maak dit nie noodwendig verkeerd nie”:

So ’n liberale interpretasie het baie kerkleiers in die globale Suide wie ’n streng gehoorsaamheid aan die skriftuurlike gesag bevestig het, geskok en teleurgestel. Volgens die Nigeriese aartsbiskop, Peter Akinola, die mees waarneembare kritikus van die Noordelike liberaliste: “Ek het nie die Bybel geskryf nie. Dit is deel van ons Christelike erfenis. Dit vertel ons wat om te doen. As die Woord van God sê dat homoseksualiteit ’n gruwel is, dan is dit so” (Jenkins, bl. 3).

Dit is nie die stemme van slegs ’n klein aantal gelowiges nie. Die oorweldigende fundamentalistiese “globale Suide” is groot, maar Westerse kulturele vooroordeel sien dit dikwels nie raak nie. In 2015 was Latyns-Amerika en Afrika verteenwoordigend van meer as een miljard belydende Christene, met ’n bykomende 350 miljoen wat in Asië woon en dié getalle styg steeds (Wes Granberg-Michaelson, “Think Christianity is dying? No, Christianity is shifting dramatically”, Washington Post, 20 Mei 2015).

Indien Westerlinge glo dat hulle nasies steeds die meerderheid van belydende Christelikheid verteenwoordig of die standaard daarvoor stel, is hulle baie verkeerd.

Sal ’n ware “herlewing” kom?

Dit behoort ons te herinner aan Jesus se berisping van die ongelowige mense van Sy tyd (Matthéüs 11:20-24). Toe godsdienstige leiers skepties was oor Sy boodskap, het Hy gesê: “Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel ... Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel” (Matthéüs 12:41-42). Christus het gepraat van heidene wat eendag die ongeloof van die Israeliete wat die waarheid verwerp het, sal oordeel!

Wat ons vandag sien, is die globale Suide se kulturele reaksie teen die Weste se onBybelse sedes en teologie.

Antieke profesieë het egter sulke gebeure voorspel. Moses het die Israeliete gewaarsku: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here” (Deuteronómium 31:29). Die profeet Jeremia het die Israelitiese godsdienstige leiers gewaarsku: “... die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie” en die “smekende geween van die kinders van Israel ... omdat hulle hul weg verdraai het, die Here hulle God vergeet het” (Jeremia 2:8; 3:21). God het deur die profeet Hoséa gewaarsku: “Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag.” En “Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade ... want hulle het nagelaat om die Here te vereer” (Hoséa 8:12; 4:9-10).

Die grootste deel van die mensdom het voordeel getrek uit Judeo-Christelike waardes wat deur Westerse evangelisasie versprei is. Nou egter, sal juis die nasies wat deur God gebruik is om sulke waarhede wêreldwyd te versprei, ernstige gevolge ervaar omdat hulle sélf God se Woord verag. Die verwerping van Westerse liberale teologie deur ’n “globale Suide” wat vasbeslote is om fundamentele waarhede van die Skrif te volg, dui op ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis.

Nogtans is die positiewe nuus dat Jesus Christus binnekort weer sal kom om ware goddelike aanbidding te herstel – vir die Weste, die “globale Suide” en die res van die mensdom. Bid dat Sy Koninkryk sal kom!