Waarom word sommige geloofsoortuigings “hoofstroom” genoem terwyl ander vervloek word as ’n gruwel of iets ergers? Hoe kan u ’n ketter van ’n ware Christen onderskei? Die geskiedenis openbaar verrassende ironieë!

Die boek Openbaring bevat geheimsinnige simbole wat slegs ’n paar mense verstaan het. Kan u die geheime van Openbaring ontsluit? Is dit moontlik vir u om te weet wat die toekoms van ons wêreld is – en wat u deel daarin is?

Die boek Openbaring, soms die Apokalips genoem, is een van die belangrikste boeke in die wêreld! Waarom? Omdat dit die toekoms van die mensdom openbaar en die toekoms van die planeet Aarde! Dit bevat egter simbole en geheime wat vir ons ’n uitdaging is. Wat beteken hierdie laaste boek van die Bybel en hoe sal dit u en u toekoms raak?

 Die apostel Johannes was na die eiland Patmos verban, na aan die suidwestelike kus van Turkye, wat die Romeine as ’n strafkolonie gebruik het. Johannes het alreeds drie van die sendbriewe geskryf wat deel sou word van die Nuwe Testament, toe God hom teen ongeveer 95 n.C. geïnspireer het om die boek Openbaring te skryf.

God het Johannes beveel om neer te skryf wat hy gesien het en ’n seën uitgespreek oor diegene wat dit wat Johannes geskryf het sou bestudeer: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3). Ja, die Almagtige God beloof dat Hy u sal seën indien u Sy vermaning volg, deur die woorde van Openbaring te lees, te hoor en wat in hierdie lewensbelangrike boek geskryf staan, ter harte te neem.

Johannes het die rekord van sy visioen aan sewe gemeentes op ’n algemene posroete in Klein-Asië gestuur. Daardie gemeentes het vandag nog vir ons betekenis. Hulle was Éfese, Smirna, Pérgamus, Thiatíre, Sardis, Filadelfía en Laodicéa (sien Openbaring 1:11). Vandag kan ’n mens die argeologiese terreine in hierdie stede in westelike Turkye besoek. Die geestelike gesteldheid van hierdie sewe gemeentes word weerspieël in God se Kerk oor die afgelope twee millennia.

Die Openbaarder, Jesus Christus, sê ons aan om lesse uit elke gemeente te leer. Hy sê sewe keer aan ons, een keer vir elke gemeente: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê”.

Pas enigeen van die beskrywings van hierdie gemeentes by u geestelike gesteldheid?

Die sewe gemeentes

Jesus beskryf die gemeente in Éfese op hierdie manier: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openbaring 2:4). Die opskrif in die Bybel etiketteer Éfese as “Die liefdelose Kerk”. Jesus waarsku die Efesiërs: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke” (vers 5). Het u u “eerste liefde” as Christen verloor?

Smirna word geëtiketteer as “Die vervolgde Kerk”. Jesus sê in Openbaring 2:9: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk ... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (verse 9-10). Het u getrou lyding en vervolging deurstaan?

Pergamus, die derde stilhouplek op die roete, is bestempel as: “Die kompromitterende Kerk”. Pergamus het leerstellings geduld wat tot onsedelikheid lei. Jesus waarsku: “Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond” (vers 16). Het u met valse leerstellings gekompromitteer?

Thiatíre is “Die korrupte Kerk”. Jesus verklaar: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste. Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy die vrou Isébel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op ’n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ’n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie” (Openbaring 2:19-22). Het u die prooi van korrupsie geword?

Sardis, die vyfde Gemeente, is: “Die dooie Kerk”. Jesus waarsku: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood. Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou” (Openbaring 3:1-3).

Het u lewende geloof?

Filadelfia is “Die getroue Kerk”. Christus belowe die Filadelfiërs: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Openbaring 3:10-11). Hou u vas aan die waarheid van God?

 Laodicéa, die laaste Gemeente op die posroete, is “Die louwarm Kerk”. Jesus waarsku die Laodicense: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Het u geloof lou geword?

Jesus wil graag hê dat ons na al sewe hierdie boodskappe sal luister. Dit openbaar die veranderings wat ons in ons lewens behoort te maak. Hy sê sewe keer aan ons: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” – aan al sewe van die gemeentes.

Christus se sewe boodskappe openbaar ook die geestelike eienskappe en gesindhede van die Christelike Kerk, vanaf Christus se tyd tot aan die einde van hierdie tydperk. Ons mag vandag in ’n Laodicéa-tydperk leef, maar individueel kan ons ’n Filadelfiese benadering tot ons Christenskap hê – liefde teenoor ons broers en susters en om onsself te gee om te help dat God se waarskuwingsboodskap ’n wêreld sal bereik wat homself binnekort in ’n ongekende krisis voor Christus se Wederkoms sal bevind.

’n Visioen van die hemel

In Openbaring 4 vertel Johannes van sy visioen van die hemel. Hy sien die werklike troonkamer van die Almagtige God, met ’n reënboog rondom die Vader se setel van gesag. Hoe ontsagwekkend en inspirerend is dit dat ons Vader Sy hemelse troon aan ons beskryf. Dink u daaraan wanneer u bid? Christene kan direk tot God in die hemel bid, deur middel van hulle Verlosser en Hoëpriester, Jesus Christus. “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). Dank God dat u na Hom kan kom in gebed. Maak seker dat u nadink oor die majesteit en glorie van God en Sy troon wanneer u Openbaring 4 lees.

Openbaring 5 beskryf aan ons Johannes se visioen van ’n boekrol wat met sewe seëls verseël is. In die eerste eeu n.C. het skrifgeleerdes manuskripte op lang stroke papirus of perkament wat opgerol gehou was, geskryf. Johannes skryf: “En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het ’n sterk engel gesien wat met ’n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?” (Openbaring 5:1-2).

Johannes huil, want daar was niemand waardig om die boek oop te maak nie – totdat die Lam van God, Jesus Christus, begin om die seëls oop te maak. God openbaar ons asemrowende toekoms in ’n gewigtige boodskap aan die opgestane Christus: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (verse 9-10).

Jesus, die Lam van God, het Sy bloed gestort vir die sonde van elke mens. Diegene wie werklik berou het oor hulle sondes en wie hulle geloof getoon het deur met die doop wat God se Woord beveel, gedoop te word, het vergifnis van hulle sondes ontvang. Hulle is verlos! Moontlik het u die punt in u lewe bereik waar u die noodsaaklikheid van vergifnis besef. U besef die nodigheid om u lewe te verander en ’n drastiese aanpassing te maak. Indien u regtig ernstig is om so ’n verandering te maak, nooi ons u uit om ’n ware leraar van Jesus Christus te raadpleeg. Skryf net aan ons by een van ons streekskantore, soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif, of kontak ons aanlyn by www.wvm.co.za.

Daardie mense wat hulle bekeer en hulle lewens verander deur hulle Verlosser te gehoorsaam, kan uitsien na ’n wonderlike toekoms. Hulle sal die aarde as ewige, verheerlikte kinders van God beërwe en gedurende die Millennium sal hulle saam met Christus regeer (Openbaring 20:4-6)! God openbaar aan ons ’n asemrowende en glorieryke toekoms. Getroue Christene sal die aarde en alles beërwe, met inbegrip van die heelal (Openbaring 21:7). Indien God u nou roep, sal u dit beslis nie wil misloop nie!

Openbaring 6 bevat die eerste vier seëls van Openbaring. Dit is die bekende vier ruiters van die Apokalips. Die vier perde en hulle ruiters simboliseer groot verwoesting op die aarde. Wat beteken dit dan? Jesus, die Openbaarder, het ’n uiteensetting van profetiese gebeure in die Olyfberg-profesie in Mattheüs 24, Markus 13 en Lukas 21 gegee. Hierdie profetiese gebeure verduidelik die vier ruiters in die boek Openbaring. Die bekende vier ruiters van die Apokalips simboliseer valse christusse en ’n valse godsdiens, oorlog en die verskriklike gevolge daarvan, hongersnood wat normaalweg kort op die hakke van oorlog volg en peste en siektes wat volg ná ’n hongersnood.

Skokkende tye lê vir die hele wêreld voor. Ons behoort daarop voorbereid te wees. Hierdie vier ruiters sal verwoesting oor die hele aarde aanrig. Ja, daar was nog altyd oorloë, hongersnood en siektes. Die vier ruiters se rit sal in die jare wat voorlê toeneem in intensiteit en ons sal rekordgetalle sterftes en ongevalle sien. Nie net sal grootskaalse oorloë verwoesting veroorsaak nie, maar die euwels van terrorisme teen die Westerse nasies sal toeneem, tensy hulle hulle bekeer van hulle onsedelikheid en wetteloosheid. Die tyd sal aanbreek wanneer al die oorloë, plae, pandemies, hongersnood en droogtes van die verlede onbenullig sal lyk in vergelyking met die verskriklikste skrikbewind wat oor die Amerikaners en nasies van Britse afkoms sal toesak.

Dan kom die vyfde seël. “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9). Hier word die martelaarskap van die heiliges beskryf – ware Christene. In die eerste eeu het die Romeinse keiser Nero Christene ernstig vervolg en hulle laat doodmaak. Die vyfde seël dui ook op ’n groot eindtydse vervolging van die heiliges en die Groot Verdrukking.

Dan maak Jesus die sesde seël oop, die openbaring van die hemelse tekens wat mense oor die hele aarde sal skok. Wat is daardie tekens? “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14). Ja, Bybelse profesieë vertel van ’n tyd wanneer vreesaanjaende asteroïdes en meteoriete deur die hemele sal skiet. Massiewe aardbewings sal ook die grond onder ons skud. Ons het al sterk aardbewings en tsoenami’s gedurende die afgelope jare ervaar, maar dié wat gaan kom, sal baie erger wees en sal elke berg en eiland verplaas.

Daardie hemelse tekens lei die sewende seël in, wat bekend staan as die Dag van die Here, die tyd van God se toorn en oordeel oor ’n ondankbare en rebelse wêreld, wanneer Jesus Christus, die Lam, God se regverdige oordele sal voltrek. Die Dag van die Here is ook bekend as “die groot dag van sy toorn” (vers 17)!

Wanneer die sewende seël oopgemaak word, vind ons dit bestaan uit sewe oordele. “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2). Met hulle basuine [ramshorings] kondig die engele plae aan wat die aarde sal verwoes.

Hierdie plae sal geweldige lyding bring vir diegene wat gedurende hierdie tyd van verdrukking leef, behalwe vir ’n handjievol mense wat deur God beskerm sal word in ’n plek van veiligheid. Daar is egter goeie nuus! Direk ná die Dag van die Here volg die glorieryke Koninkryk van God wat Jesus Christus op hierdie aarde sal vestig! Ja, Jesus Christus sal met groot mag en liefde terugkom, om die duisend jaar van Sy duisendjarige heerskappy op die planeet Aarde in te lui.

God beloof seëninge

Soos ons gesien het, beloof God om diegene te seën wat Sy Woord bestudeer en daarna streef om daarvolgens te leef. U wil nie God se seëninge misloop nie. Lees die boek Openbaring met die wete dat God u sal seën as u daarna streef om dit te verstaan ​​en Sy lewenswyse uit te leef. Ons wêreld verkeer vandag in gevaar en verwarring. Bybelse profesie waarsku van nog meer en groter aardbewings, droogtes, oorstromings, orkane, vulkaniese uitbarstings en ander natuurrampe. Selfs wetenskaplikes en geopolitici voorspel nou ’n geweldige toename in omgewingsrampe en militêre konflikte namate die 21ste eeu ontvou.

Daar is verskriklike tye wat voorlê. Die boek Openbaring openbaar ook God se genadige ingryping tydens die Dag van die Here en die terugkeer van die Prins van Vrede, Jesus Christus, tydens Sy Wederkoms. Ons sien uit na die sewende basuin wat aan ons goeie nuus sal bring: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Ware Christene sal juig wanneer hulle daardie aankondiging hoor, maar die misleide nasies en militêre magte sal nie verheug wees nie – hulle sal toornig wees. Let op: “Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het. En die nasies was vertoornd, en U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (verse 17-18).

Die Koning van die konings, Jesus Christus, sal die oorlog teen die ontsaglike groot gekombineerde militêre mag van die rebelse mensdom wen. Dan sal Christus die bose wêreldse magte, wat gesimboliseer word deur die diere van Openbaring 13 en 17, oordeel.

Wie is die dier met die sewe luiperd-agtige koppe en tien horings van Openbaring 13, wat pote soos ’n beer en ’n bek soos ’n leeu het? Wie is die dier met twee horings wat soos ’n lam lyk, maar soos ’n draak praat? Wie is die vrou wat op die dier van Openbaring 17 ry? Skryf gerus vir u gratis kopie van ons boekie, Openbaring: Die Verborgenheid Onthul – dit sal die betekenis en identiteit daarvan verduidelik en wat dit in u toekoms en die toekoms van die wêreld sal beteken.

Na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (sien Openbaring 16:14), sal die Prins van Vrede oor al die nasies regeer. Vir die eerste keer in die mens se geskiedenis sal die mensdom begin om ware vrede in die wêreld te geniet. “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9). Die heiliges sal vir ’n duisend jaar lank saam met Christus oor die aarde regeer (Openbaring 20:4-6) en daarna tot in ewigheid.

 Die boek Openbaring maak bekend dat ons kan uitsien na die koms van die Koninkryk van God. Terwyl ons waak en wag, behoort ons elke dag te bid: “... laat u koninkryk kom”! Kort nadat die duisend jaar van Christus se Millennium-heerskappy op aarde voltooi is, sal die nuwe Jerusalem na ’n hernude hemel en aarde kom (Jesaja 65:17; Openbaring 21). God sal vir eens en vir altyd met Satan die duiwel, wegdoen en die heelal sal wonderlike vrede tot in alle ewigheid geniet. Gevaarlike tye lê voor, maar die boek Openbaring wys vir ons op die hoop wat voorlê – die tyd wanneer God se getroue mense die aarde sal beërwe en uiteindelik die ganse heelal. Dank God vir die heerlikheid wat Hy aan ons en aan Sy skepping sal skenk!


Die vier ruiters ry!

Die apostel Johannes beskryf vier ruiters wat groot misleiding en verwoesting van die mensdom en lewe op aarde simboliseer.

“En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin. En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee. En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie. En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” Openbaring 6:2-8).