Die horlosie tik teen ’n verbasende tempo. Sekondes aan die regterkant verander voordat hulle selfs gelees kan word. Al hoe hoër gaan hulle. Dit is geen gewone horlosie nie. Dit is ’n “skuldhorlosie” wat toeskouers toelaat om te sien hoedat Kanada al dieper in die afgrond van skuld afstort. Tot en met die skryf van hierdie artikel, het die horlosie op $690,8 miljard gestaan en klim nog steeds.

Indien Kanada se skuld gelykop verdeel sou word tussen sy burgers, sou elke persoon se deel van die skuld $18,688 wees. Dit is egter slegs een persoon se deel van die nasionale skuld. Lesers in Brits-Columbia behoort elkeen $14,200 meer by te voeg om hulle deel van die provinsiale skuld te dek. Diegene in Nieu Brunswyk of Ontario sal onderskeidelik $18,206 en $21,724 meer nodig hê om by te voeg. Ander provinsies is in ’n soortgelyke posisie.

Terwyl u miskien nie bewus was van die spesifieke getalle nie, is dit dalk nie ’n verrassing nie, maar ’n feit dat Kanada en die meeste ander Westerse nasies hulleself in so ’n ongelooflike swak finansiële posisie geplaas het. Baie mense is vinnig om die regering te blameer vir die mislukte beleide en treurige beplanning. Dit het beslis bygedra tot die huidige situasie. Wat minder dikwels bespreek word, is egter die dreigende krisis van gevaarlike hoë vlakke van huishoudelike skuld.

Huishoudelike skuld

Toe hy by die Kamer van Koophandel in Yellowknife in die Noordwes-gebiede gepraat het, het Stephen Poloz, die goewerneur van die Bank van Kanada, kort en bondig gesê: “Vir die meeste Kanadese is skuld ’n feit van die lewe, ten minste op ’n sekere stadium” (“Canada’s Economy and Household Debt: How Big is the Problem?” BankofCanada.ca, 1 Mei 2018). Die Kanadese huishoudelike skuld het $2 biljoen oorskry. Dit is ’n bykomende $54,000-plus per persoon.

Twee biljoen dollar kan moeilik wees om te begryp, derhalwe word dit dikwels opgedeel en beskryf in terme wat makliker verstaanbaar is. Deur skuld te vergelyk met besteebare inkomste (hoeveel inkomste oorbly na belasting) mag help om ’n duideliker prentjie te skilder. Kanadese skuld gemiddeld ongeveer $1,70 vir elke dollar besteebare inkomste. Poloz beskryf hierdie syfer as “’n Kanadese rekord en is ongeveer 100% hoër as 20 jaar gelede”. ’n Styging van 70% in 20 jaar behoort genoeg te wees om almal tot nadenke te strek. Natuurlik is daar mense wat skuldvry is en ander wat hulle skuld goed onder beheer het. Hou in gedagte dat slegs 8% van Kanadese huishoudings meer as 20% skuld van daardie $2 biljoen in huishoudelike skuld.

’n Onlangse Global-News artikel beklemtoon presies net hoe min finansiële speling baie Kanadese het:

Vir 10% van die Kanadese is die foutgrens wanneer dit by huishoudelike finansies kom, selfs minder, teen $100 of minder. Diegene wat egter enigsins geld oorgehad het aan die einde van die maand, was in ’n beter posisie as baie ander mense: 31% van die respondente het gesê dat hulle reeds nie genoeg verdien om al hulle finansiële verpligtinge na te kom nie (Erica Alini, “Over half of Canadians are $200 or less away from not being able to pay bills” GlobalNews.ca, 8 Mei 2017).

Verandering in lewenstyl

Dit is nie verbasend dat die huidige ekonomie die manier beïnvloed waarop Kanadese hulle dag tot dag lewens lei nie. Huiseienaarskap was voorheen ’n “lewensmylpaal” en was beskou as ’n moontlikheid deur die meeste mense. Mense het verwag om te gradueer, werk te kry, te trou en ’n huis te koop. In Augustus 2017 het die Maclean’s koerant ’n hoofopskrif gehad wat die nuwe werklikheid uitgespel het. “For many young Canadians, home won’t be a house” (Kevin Carmichael, Macleans.ca, 14 Augustus 2017).

Die skrywer van die artikel gaan voort om te sê:

“Daar was ’n tyd toe Kanada meer enkelgesin huise gebou het as multigesin eenhede. Die verhouding het verander en die gaping tussen die lewe in ’n woonstel en die vooruitsig om ’n braaivleisplek in die tuin te hê was nog nooit groter in Kanada se stede nie ... ’n Geslag Kanadese wat ruimte as vanselfsprekend aanvaar het, is nou besig om te ontdek dat hulle toekoms in 30,5 vierkante meter of minder afgemeet sal word. Dit hoef nie ’n groot probleem te wees nie, behalwe ... dit is ’n groot probleem vir baie mense”.

Navorsing het bevestig wat die meeste mense reeds weet die waarheid is. Om in skuld gedompel te wees, beïnvloed tot ’n groot mate hoe ’n mens belangrike besluite in die lewe maak. Diegene met beduidende skuld is baie meer geneig om die huwelik uit te stel of om kinders te hê. (Shankar Vedantam, “How Student Debt Affects Personal Choices of Young People”, NPR.org, 8 Junie 2016). Dit sal nog gesien word presies hoe hierdie voortdurend stygende skuld baie aspekte van die lewe sal beïnvloed.

Om tevredenheid te vind

Skuld is ’n plek waar die meeste mense hulleself nie wil bevind nie. Om uit skuld uit te kom, vereis ’n noukeurige ondersoek na ons aktiwiteite, gewoontes en prioriteite. Alhoewel alle persoonlike skuld nie die gevolg is van swak besluite nie, is baie mense se skuldlas, die gevolg van die begeerte om die nuutste tegnologiese toerusting, ’n groter huis, ’n vinniger motor of ontwerpersklere te hê.

Koning Salomo skryf oor die dwaasheid van materialisme: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie” (Prediker 5:9). Vir baie mense is genoeg net nooit genoeg nie. Indien u prioriteite materialisties is, vra uself af of daardie fisiese items werklik die sleutel is tot ’n produktiewe en gelukkige lewe. Skuld en stres gaan dikwels hand aan hand. Die oombliklike bevrediging van ’n nuwe aankoop kan vinnig opgevolg word met angs, bekommernis en vrees, indien dit lei tot groter skuld.

Een van die sleutels om van skuld ontslae te raak, is om te leer om tevrede te wees. Tevredenheid beteken nie dat ons nooit probeer om onsself of ons ekonomiese situasie en omstandighede te verbeter nie. Dit beteken eerder om geluk te vind wat nie afhanklik is van die materiële aspekte van die lewe nie. Die apostel Paulus het baie hoogte- en laagtepunte in sy lewe ervaar. Hy beskryf aan die kerk in Philippi die noodsaaklike eienskap van tevredenheid, iets wat hy geleer het deur baie beproewinge en probleme:

“[E]k het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly” (Filippense 4:11-12).

Tevredenheid is nie ’n kwessie van hoeveel mens besit nie, maar eerder van ’n mens se lewensbeskouing en dít kan aangeleer word. Indien ’n mens leer om die belangriker dinge in die lewe, soos vriendskap en die mooiheid van ons alledaagse lewens waarlik te waardeer. Dit is die boustene vir ’n reputasie van eer, ywer en ’n goddelike lewe. Dit bied ’n manier om skuld te voorkom.