Ek wil graag die hoofdryfveer, die uiteindelike doelwit van die godsdiensleringe soos in die Wêreld van Môre-tydskrif vervat word, met al ons lesers deel. Diegene van ons wat betrokke is by hierdie Werk, is sonder twyfel “anders”. Hoe en waarom is ons anders?

Laat ek vir u 'n stukkie agtergrond skets, sodat u dinge in perspektief kan sien. Ek het in die suidweste van Missouri in Amerika grootgeword en was vir 19 jaar lank lidmaat van 'n baie gesiene “algemene” kerk. My ouers het hul opleiding ontvang aan 'n kollege wat deur hierdie groot kerkorganisasie geborg word. Ek self was vir een of twee jare klaskaptein van my Sondagskoolklas. Ek het aan die Joplin Hoërskool gematrikuleer en was medekaptein van die atletiekspan en vir drie agtereenvolgende jare die skool se top eenmyl atleet. Ek het kleure in voetbal verwerf en was twee keer die Golden Glove-bokskampioen. Ek het by die Reserwe Offisier Opleidingskorps (ROTC) aangesluit en die rang van Eerste Luitenant verwerf. Later het ek die Joplin Junior Kollege bygewoon en is verkies as president van die Junior Kollege Noenmaal-klub, 'n organisasie wat hul beywer het vir die bespreking van burgerlike aangeleenthede en wêreldgebeure.

Ek was verseker 'n “alledaagse” outjie, deel van die algemene Amerikaanse gemeenskap.

Vroeg in my hoërskoolloopbaan het een van my beste vriende egter in 'n stoeiwedstryd gesterf. Ons het as jong seuns oorkant mekaar gewoon en het soos twee jong beertjies talle ure omgestoei, al rollende in die lang Bermudagras. Toe ek hoor dat Jimmy sy nek gebreek het in 'n “stoeivertoning” in Pittsburgh, Kansas, was ek gebroke.

Waarom het God toegelaat dat Jimmy sterf?
Waar was hy nou regtig? In die hemel of in die hel of waar?

Hierdie tragedie het my genoop om na die werklikheid van God te kyk en na ware antwoorde te soek. Ek het verskeie kerke en “herlewingsdienste” begin bywoon. Ek het talle verskillende boeke en kommentare oor godsdiens gelees en oor die radio begin luister na verskeie predikers (daar was nog geen televisie nie). Ek het gedurende my eerste jaar aan die kollege 'n filosofiekursus gevolg en tot die gevolgtrekking gekom dat die meeste filosowe mekaar nie alleenlik weerspreek nie, maar dat hulle idees werklik leeg, onprakties en op niks anders as menslike verbeelding gebaseer is nie.

Uiteindelik kon ek tot my persoonlike tevredenheid bewys dat 'n man genaamd Herbert W. Armstrong die enigste een was wat gepreek het wat eintlik in die Bybel staan. Mnr . Armstrong hetsy luisteraars voortdurend na die Bybel verwys en het sy skriftuurverwysings direk uit die Bybel aangehaal. Eerder as om gedurig te sê “Die Bybel sê sus of so!”, met geen bewyse (soos sommige vooraanstaande predikers gedoen het), het mnr. Armstrong sy luisteraars aangemoedig om teksverse op te soek en uit hul eie Bybels te bewys wat hy sê!

Nog later, nadat ek die Ambassador Kollege in Pasadena, Kalifornië, bygewoon het, het ek begin agterkom dat die ware “sleutel” tot Christenskap daarin gelê het of ons werklik glo en toepas wat Jesus Christus en die oor-spronklike apostels geglo en gedoen het, aldan nie. Wat het hulle gesê oor hemel of hel toe gaan? Wat het hulle gesê van die ware doel van die lewe? Watter weeklikse en jaarlikse dae van aanbidding het hulle onderhou? Het daardie dae 'n spesiale betekenis? Wat sê hulle eintlik van die “einde van die wêreld”, Christus se Weder-koms en die doen en late van die ware heiliges na Christus se koms? Wat presies sal ons “beloning” wees?

Dít alles het ek in my gedagtes onder die hofie “Christenskap van die Apostels” geplaas.

Liewe leser, daardie einste Christenskap van die apostels is die hoofdryfveer agter hierdie Werk, soverre dit die godsdiens- doelwit betref. Ons wil natuurlik ook ons lesers inlig oor eindtydse profetiese gebeure en die ware betekenis agter vandag se nuusgebeure.

Ons hoop dat elkeen van u op hierdie kosbare kennis sal reageer, sodat u en u geliefdes van die Groot Verdrukking gespaar mag bly. Dit is 'n absolute groot uitwissing wat nie net die Joodse volk sal tref nie, maar ook met besondere wreedheid die Amerikaanse en Britse afstammelinge, wat die Suid Afrikaners insluit.

Maar bowenal hoop en bid ons dat God u verstand sal open om die voortreflike doel wat Hy hier op aarde uitwerk, te verstaan en dat u die ware Christengeloof en “lewenswyse” sal begryp wat u sal help om God se groot doel vir die mens te vervul. Dit is daardie egte Christengeloof en lewenswyse waarvan die algemene “Christendom” wegskram. Die hoogs gerespek-teerde Christen-skrywer Jesse Lyman Hurlbut erken openlik dat die Christenskap van Jesus en die apostels “baie anders” was in vergelyking met die heden-daagse “Christendom”:

“Ons noem die laaste geslag van die eerste eeu vanaf 68 tot 100 n.C. die “Eeu van Skadus”, deels omdat die somberheid van vervolging oor die kerk was; maar meer spesifiek omdat van al die tydperke in die ge-skiedenis, hierdie dié een is waarvan ons die minste weet. Ons het nie meer die duidelike lig van die boek Handelinge as ons gids nie en geen skrywer van daardie era het daardie leemte in die geskiedenis gevul nie. Ons sou graag die latere werk deur helpers van Paulus soos Timotheus, Apollos en Titus wou lees, maar hierdie en al Paulus se ander vriende is ná sy dood uit die geskiedenis anale gelaat. Vir vyftig jaar na die dood van Paulus hang daar 'n gordyn oor die kerk, waardeur ons tevergeefs probeer loer, en wanneer dit uiteindelik in rondom 120 n.C. met die skrywes van die vroeë kerkvaders gelig word, vind ons 'n kerk wat in talle opsigte baie anders is as in die dae van Petrus en Paulus”
(The Story of the Christian Church, bl. 41).

'n Noodsaaklike stap vir begrip in die raaisel van hierdie hedendaagse “Christendom” wat in direkte teenstelling met die leringe en optrede van Christus en die oorspronklike apostels staan, is om die lewenswyse van die oor-spronklike en ware Moeder-kerk, die Kerk van God in Jerusalem, te bestudeer.

Paulus skryf aan die oorwegend nie-Joodse gelowiges in Thessalonika: “Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa,” (1 Thessalonicense 2:14).

Amper alle historici erken dat die vroegste Hoofkwartier Kerk in Jerusalem was en dat hulle die voorbeeld gestel het vir die leringe en lewenswyse wat in die Christenskap van die apostels beoefen is.

'n Gerespekteerde en deeglik nagevorste wêreldse geskiedenis van hierdie tydperk is Edward Gibbon se grootse werk Decline and Fall of the Roman Empire. Waar hy skryf van die apostoliese en post-apostoliese eras, verklaar Gibbon: “Die eerste vyftien biskoppe van Jerusalem was almal besnede Jode; en die gemeente waaroor hulle was het die Wet van Moses met die leerstellings van Christus vereenselwig. Dit was natuurlik dat die oorspronklike tradisie van 'n kerk wat slegs veertig dae na die dood van Christus gestig is, en vir byna dieselfde aantal jare onder die onmiddellike toesig van Sy apostel was, as die standaard vir ortodoksheid beskou word. Die afgeleë kerke het hulle baie dikwels tot die gesag van hul eerwaardige Moederkerk gewend” (hfst. 15, afd. 1).

Ek moet hier uitwys dat “die wet” wat die vroeë Christene onderhou het, nie die hele Wet van Moses was nie. Dit is 'n foutiewe idee wat deur misleide middeleeuse teoloë aan kerkhistorici afgesmeer is. Wat die ware Christene wel onderhou het, was die Tien Gebooie, tesame met God se insettinge wat almal in die gees nou nog meer uitgebrei is as wat in die Ou Testament die geval was. Christene het nie geglo dat daar van hulle vereis word om met die seremoniële aspekte van die Wet van Moses vol te hou nie, ook nie in die fisiese toepassing van die siviele wet wat God aan Israel gegee het nie. Maar omdat hierdie vroeë Christene steeds die Bybelse Sabbatdag, God se jaarlikse Feeste, tiendeheffing en sekere dieët-kundige voor-behoude onderhou het (vergelyk Levitikus 11), hou baie historici verkeerdelik vol dat hulle die “Wet van Moses” nagevolg het, en probeer sodoende God se gebooie en insettinge met diereoffers en ritualistiese wassinge saamgooi. Dit is absoluut verkeerd en misleidend!

Die waarheid is dat daar nog altyd 'n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) van gelowiges was wat die leringe en gebruike van Christus en die apostels gevolg het. Hulle is egter sedert die tyd van die apostels verjaag en vervolg en grootliks misken deur die wêreld in die algemeen. Toe die vroeë afvalliges die bestaande kerkstrukture en die naam “Christen” oorgeneem het, is Johannes, die enigste oorblywende van die oorspronklike apostels, ge-ïnspireer om oor een van die afvallige leiers te skryf: “Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente” (3 Johannes 9-10).

So is die ware aanbidders dus uit die plaaslike gemeentes “gewerp” en selfs Johannes, Jesus se geliefde vriend onder die apostels, was nie seker of hy sou kon kom om die situasie reg te stel nie!

Soos Jesus geprofeteer het, (Mattheus 24:5) het daar baie valse leraars gekom wat Sy naam gebruik het. Hulle praat van “liefde”, maar hulle hou 'n valse Christus en valse boodskap oor Sy persoon voor, eerder as om getrou die boodskap van die komende Koninkryk van God, wat die Vader deur Hom gestuur het, te verkondig. Wat is die gevolg?

Mense is vandag verwar oor die ware godsdiens van Jesus Christus. Diegene wat Christen-skap bely, is verdeel in honderde kompeterende sektes en denominasies. Baie min mense verstaan die oor-spronklike vorm van Christenskap wat Christus en Sy apostels onderrig en geleef het! Die “Christenwêreld” is op dryfsand gebou, waarvan die morele stelsel magteloos is sonder die sekere fondasie van God se Wet. Wêreldse magte skryf toenemend die gedrag-standaarde voor, iets wat voorheen die prerogatief van godsdiensleiers was.

Ons sien die spektakel van seksuele verdorwenes wat toenemend meer poste in die regering, onderwys en selfs in algemene kerke oorneem! Ons sien die verskriklike statistieke van miljoene ongebore babas waarvan die skedels verbrysel word en uit hul moederskoot gesuig word! Ons sien 'n samelewing wat besig is om uit te rafel. Ons is 'n samelewing wat binnekort direk deur die Grote God Wie lewe aan almal gee, gestraf sal word.

Waarom? Omdat ons volke mislei is om in 'n “ander Jesus” te glo – omdat ons mense werklik kontak verloor het met die ware God en Sy onthulde lewenswyse.

Jesus sê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Ongeregtigheid?
Ja! Die godsdiens wat die naam “Christenskap” aan-geneem het, het ook baie heidense konsepte en gebruike van die Babiloniese Verborgenheidsgodsdiens aangeneem in direkte verbreking van God se wet! In 2 Thessalonicense 2:7 verwys die apostel Paulus daarna as die “verborgenheid van die ongeregtigheid” (Om meer te wete te kom oor hierdie “verborgenheid van die ongeregtigheid”, skryf gerus vir ons gratis boekie Wie of Wat is die Antichris?). Hierdie valse aanbiddingstelsel is in die plek van die eenvoudige lewenswyse wat Jesus en Sy apostels onderrig het, ingestel. Daardie lewenswyse is op gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie gebaseer. Tog is dit byna vertrap ten gunste van rituele, seremonies en 'n leë geloof in 'n valse Christuspersoon, terwyl God se geïnspireerde boodskap terselfdertyd verwerp word!

Ons wat betrokke is by hierdie Werk van die lewende God onderrig en beoefen dieselfde basiese lewenswyse wat deur Christus en sy apostels onderrig is, na die beste van ons vermoëns en met God se hulp. Een van ons basiese leuses is: “Hervestig die Christenskap van die Apostels!”

Indien u meer te wete wil kom oor hierdie hervestiging van die “oorspronklike” Christenskap en wat dit alles behels, skakel of skryf gerus aan ons streeks-adres naaste aan u soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif vir u gratis kopie van ons merkwaardige, ten volle gedokumenteerde boekie, Hervestig die Christenskap van die Apostels. Indien u hierdie insiggewende boekie nie slegs lees nie, maar met 'n ontvanklike gemoed en sonder vooroordeel bestudeer, sal u waarlik verstaan.