In ’n wêreld waar antibiotika – ’n fundamentele element van moderne mediese wetenskap – nie meer doeltreffend is nie, het ons enige ander keuses?

Wat sal u doen wanneer u siek word met ’n bakteriële infeksie soos tetanus [klem-in-die-kaak], tuberkulose of ’n keelinfeksie? Vandag sal ’n dokter ’n kursus antibiotikum voorskryf – maar wat as daar nie ’n “wondermiddel” beskikbaar was nie? Sal daar iets anders wees om u mee te behandel? Dit was die situasie tot 75 jaar gelede toe daar begin is om die eerste antibiotikum, penisillien, in massa te produseer.

Sedertdien is die impak van penisillien amper onberekenbaar en die medisyne kry die krediet vir ’n beraamde tweehonderd miljoen lewens wat gered is. Dit is vernoem na die swamagtige skimmel, penisillium notatum, waarvan dit afkomstig is. Penisillien werk deurdat dit die selwande van bakterieë vernietig en dit dus ’n formidabele antibiotikum maak om infeksie mee aan te spreek. Met antibiotikaweerstandige bakterieë wat die arsenaal van sulke middels al hoe meer ondoeltreffend maak, staan ons nou voor ’n teruggekeer na die pre-penisillien-era, met min of geen lewensvatbare “mediese” verdediging nie. Sal die wetenskap ’n nuwe “supermiddel” in die stryd teen siektes ontdek? Is daar dalk nog ’n kragtiger manier om siektes te voorkom en aan te spreek, wat oor die hoof gesien is?

Ontdekking van penisillien

Daar word gesê die Britse bakterioloog Alexander Fleming het die antibiotiese eienskappe van penisillien per ongeluk in 1928 ontdek. Fleming het ’n petribakkie met smeerseltjies staphylococci (of bloot “staph”) bakterieë in sy laboratorium laat staan terwyl hy twee weke weg was met vakansie. In die bakkie het ’n swam ontwikkel wat die staph-bakterieë rondom dit doodgemaak het.

Fleming het gou die effektiewe komponent geïdentifiseer en geïsoleer, maar hy het probleme ondervind met die onttrekking van genoeg hoeveelhede penisillien vir sy eksperimentele behoeftes. Dit was eers in 1939 dat die wetenskaplike Howard Florey en biochemikus Ernst Chain die navorsing van Fleming voortgesit het en penisillien in baie groter hoeveelhede begin vervaardig het. In 1942 is penisillien die eerste keer suksesvol op ’n pasiënt met bloedvergiftiging gebruik. Die infeksie is suksesvol behandel en haar lewe is gered.

Die Tweede Wêreldoorlog het noodsaaklike motivering en finansiële ondersteuning verleen vir die massaproduksie van penisillien. Teen 1944 het die Geallieerdes genoeg penisillien gehad om soldate met besmette slagveldbeserings te behandel en hulle na die gevegsfront te laat terugkeer.

Die Nobelprys vir Geneeskunde is in 1945 gesamentlik aan Fleming, Florey en Chain toegeken vir die ontdekking van penisillien en die doeltreffendheid daarvan in die behandeling van verskeie aansteeklike siektes. Gedurende dieselfde jaar het Fleming ’n insiggewende waarskuwing oor die toekomstige gebruik van antibiotika gegee. “Mens kan dit maklik onderdoseer”, het hy gewaarsku, “en om sy mikrobes aan nie-dodelike hoeveelhede van die medikasie bloot te stel, maak hulle weerstandig”.

Die afgelope 75 jaar het Fleming se voorspelling getoon die waarheid te wees. Vandag raak antibiotika minder doeltreffend, aangesien superkieme [antibiotikaweerstandige bakterieë] meer algemeen voorkom. Die oormatige gebruik van hierdie medikasie en die versuim van pasiënte om hulle voorgeskrewe kursusse antibiotika te voltooi, het gelei tot die presiese scenario wat Fleming voorspel het. Antibiotika word ook op groot skaal in die landbou op plante sowel as diere gebruik, wat bygedra het tot die toename van dwelmweerstandige bakterieë. Volgens ’n verslag deur The Review on Antimicrobial Resistance, sterf 700,000 mense jaarliks weens dwelmweerstandigheid en dit word verwag dat teen 2050 hierdie getal na 10 miljoen mense sal styg.

In 2017 het ’n artikel in die Wêreld van Môre, “Superkieme! Die einde van die antibiotika-era”, verskyn. Die skrywer, John Meakin, het die aandag gevestig op ’n ontnugterende waarneming wat Margaret Chan, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, gemaak het. In ’n toespraak in Oktober 2015 op die Wêreldgesondheidsberaad, het sy gesê, “Antimikrobiese weerstandigheid het ’n groot gesondheids- en mediese krisis geword. Indien huidige tendense voortduur, beteken dit die einde van die moderne medisyne soos ons dit ken”. In die V.K. het Dame Sally Davies, Engeland se Hoof Mediese beampte, onlangs gewaarsku dat die wêreld ’n “apokaliptiese scenario” in die gesig staar, aangesien effektiewe antibiotika vinnig besig is om op te raak.

Penisillien, wat in Alexander Fleming se petribakkie geïdentifiseer is, het uit ’n swam ontstaan wat gegroei het van spore in die lug. In hulle soektog na nuwe antibiotika vandag, word mikrobes afkomstig uit ’n verskeidenheid bronne deur wetenskaplikes getoets met inbegrip van die grond, grotafsettings, die Arktiese seebodem, blaarsnyer-miere van die Amasone en selfs Komodo-drake [wêreld se grootste akkedis] se bloed. Malacidins wat in die grond voorkom, is suksesvol getoets op verskeie bakteriese siektes wat antibiotika-weerstandig geword het vir die meeste bestaande antibiotika, met inbegrip van die superkiem MRSA. Wetenskaplikes het ook sintetiese antibiotika ontwikkel, maar die meeste daarvan is semi-sinteties, wat beteken dat dit wysigings van verskeie natuurlike komponente is. Selfs indien daar nuwe antibiotika gevind word, neem ontwikkeling en kliniese toetsing baie jare voordat ’n produk die mark bereik. Verder weet farmaseutiese maatskappye dat antibiotika nie ’n hoë-winsgewende item is nie en mag dalk slegs vyf tot tien jaar effektief wees voordat weerstandbiedende siektes ontwikkel.

Wat God beskikbaar stel

Al die moontlike nuwe bronne van antibiotika het een ding in gemeen met Fleming se ontdekking: Hulle is afkomstig uit die fisiese wêreld rondom ons. Tog, soos die Bybel verduidelik, het daardie wêreld ’n Skepper! Uiteindelik is God die Skepper van alles. Alexander Fleming het die eienskappe van iets wat in God se skepping teenwoordig is, herken en nagevors, maar waarom dink ons nie een stap verder nie: Waarom nie na God Self kyk nie? God is baie kragtiger as enige en alle siektes en enige en alle antibiotika. Die Bybel verkondig ’n voordeel wat beskikbaar is vir diegene wat God soek: Hy is ons Geneser (Psalm 103:2-3). Hy kan ons “weer heel maak” in die volle sin van die woord.

Dit is in God se mag om te genees. Toe die antieke Israeliete Egipte verlaat het om God se nasie te word, het Hy beloof om hulle van die Egiptiese siektes van destyds te spaar, op voorwaarde dat hulle aan Hom gehoorsaam is (Exodus 15:26). Solank as wat hulle God in die prentjie gehou het, het Hy beloof om ’n bron van genesing vir hulle te wees (Exodus 23:25).

Vandag is dit nie anders nie. Wat moet u doen wanneer u siek word? Is dit sinvol om net in die mens se “wondermiddels” vas te kyk wanneer ons toegang tot ons Skepper kan hê? Behoort ons God nie in ons gesondheid en genesing te betrek indien Hy die middelpunt van ons lewens is nie? Hier is wat Hy vandag vir ons sê: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:14-16).

Die toekoms lyk glad nie goed wanneer dit by ons stryd teen siektes kom as ons net op die vindingrykheid van die mens staatmaak nie (Matthéüs 24:7-8), maar God kan genesing gee aan diegene wat Hom in geloof as eerste prioriteit soek. (Matthéüs 9:27-30).

Die mensdom het grootliks baat gevind by die vernietiging van baie patogene [siektes wat deur mikro-organismes veroorsaak word] wat ons andersins sou doodmaak. Daardie vermoë het egter sy perke. Tog moet ons onthou dat God gesag oor alle siektes het! Hy is bereid om ’n rol in ons gesondheid en fiksheid te speel indien ons daarna streef om Hom te ken en Hom in alle aspekte van ons lewens te behaag. Indien u meer wil leer oor die belangrike onderwerp van God se genesing kan u gerus ons gratis boekie, Genees God VANDAG?, lees. U kan dit aanvra of dit aanlyn lees by wvm.co.za.