VRAAG: In Matthéüs 12:31-32 het Jesus gepraat van ’n onvergeeflike sonde. Wat is hierdie sonde en waarom kan dit nie vergewe word nie?

ANTWOORD: Die gedagte om vir ewig van God afgesny te wees, is te verskriklik om aan te dink. Baie opregte mense het hierdie saak egter verkeerd verstaan en hulle is onnodig bekommerd.

In Matthéüs 12 is ’n duiwelbesete man [wat blind en stom was] na Jesus gebring vir genesing. Nadat die duiwel uitgedryf is, het hierdie man sy vermoë om te sien en te praat weer teruggekry. ’n Skare het hierdie wonderwerk gesien en uitgeroep: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?” (Matthéüs 12:22-23). Hulle het gedink dat Jesus die voorspelde Messias kon wees, want “So iets is nog nooit in Israel gesien nie!” (Matthéüs 9:32-33).

Die Fariseërs, wat siedend van afguns was, het Christus in onguns probeer bring deur te sê dat Hy hierdie wonderwerk uitgevoer het “deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels” (Matthéüs 12:24). Jesus het met ’n somber waarskuwing gereageer: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie” (verse 31-32). Jesus het hierdie onbekeerde Fariseërs verantwoordelik gehou vir hulle gesindhede.

Die woord “godslastering” kom van die Griekse blaspheme “om teen iets uit te vaar of om minagtend van God of van godsdienstige dinge te praat” (Vine’s Expository Dictionary, bl. 69). Jesus het dit godslastering genoem om teen die Seun van die mens en die Heilige Gees te praat. Waarom was godslastering vergeefbaar teen Jesus Christus, maar onvergeeflik teen die Heilige Gees?

Jesus het in die vlees gekom as ’n gewone Jood van sy tyd – ’n nederige timmerman se seun. Die gemiddelde persoon kon maklik verkeerd verstaan het wie Hy was. Fisies het hy nie uitsonderlik of uniek voorgekom nie (Jesaja 53:2). Niemand – nie eens die wederstrewige Fariseërs nie – kan die krag van die Heilige Gees miskyk nie. Nikodemus, ’n Fariseër, het geweet dat Jesus “’n leraar is wat van God gekom het”. Hy het geweet God se krag was met Christus (Johannes 3:1-2)! Die skare het ook hierdie waarheid duidelik erken wat die Fariseërs probeer ontken het.

Ten spyte daarvan dat hulle beter geweet het, het die Fariseërs Christus se wonderwerke toegeskryf aan die bose werk van Beëlsebul, ’n ander naam vir Satan die duiwel (Openbaring 12:9; 2 Korinthiërs 4:4; Efésiërs 2:2). Die Fariseërs se optrede het inderdaad die krag van God beledig en dit “’n onreine gees genoem” (Markus 3:28-30).

Die apostel Paulus waarsku Christene ook oor gevare wat tot die onvergeeflike sonde kan lei: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het – om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Hebreërs 6:4-6).

Die onvergeeflike sonde beteken om weg te val nadat ons die “goeie woord van God” en God se krag ervaar het en dit in so ’n mate doen dat bekering “onmoontlik” geword het. Die Fariseërs het eerstehands baie wonderwerke gesien wat deur die krag van God se Gees gedoen is. Hulle het dus die gevaar geloop om nie net Jesus Christus opsetlik te verwerp nie, maar ook die krag van God wat mense in die Seuns van God kan verander (Romeine 8:15). Dit het gegaan daaroor dat hulle dan “opsetlik sondig” (Hebreërs 10:26). Dit sou hulle gewete onherstelbaar toeskroei. Die Fariseërs moes hulleself bekeer en hulle denkwyse verander, voordat dit te laat was!

Ware Christene moet noukeurig let op wat hulle in hulle gedagtes toelaat. Hulle begeer om deur God se Heilige Gees (Romeine 8:14) gelei te word om “elke gedagte gevange [te] neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:5).

Vir meer inligting oor die onvergeeflike sonde, gaan aanlyn om ons Maart-April 2016-artikel “Is daar ’n onvergeeflike sonde?” te lees by wvm.co.za. (https://www.wvm.co.za/lees-artikel.php?id=36&title=is-daar-n-onvergeeflike-sonde)