God is gretig om u lewe met hoop, optimisme, seëninge en sukses te vul – maar daar is ’n stap wat U moet neem sodat al hierdie dinge kan gebeur. Sal u dit doen?

U hele lewe hang af van u bereidwilligheid om gedurende die volgende paar jaar te verander. U ewigheid hang af van wat u met die geopenbaarde Waarheid doen!

Miljoene mense het gedurende die afgelope paar jaar na die Tomorrow’s World beeldsending gekyk, die Tomorrow’s World/Wêreld van Môre-tydskrif gelees of die TomorrowsWorld.org/www.wvm.co.za webwerf besoek. Derduisende mense kom maandeliks vir die heel eerste keer met hierdie boodskap in aanraking. Hulle lees die duidelik verstaanbare Bybelartikels wat in die Tomorrow’s World/Wêreld van Môre-tydskrif verskyn en bestudeer ons boekies en artikels, wat die waarheid omtrent die bestaan van hulle Goddelike Hemelse Vader – die Skepper – bewys en wat aan hulle elke asemteug gee.

Hulle het die algehele belaglikheid van die evolusionêre fantasie en ander valse leerstellings gesien.

Hulle luister, lees en praat. Heel moontlik praat hulle met familielede, vriende of mense by die kantoor. Moontlik praat hulle met mense by die kerk of by die skool.

Hierdie miljoene mense luister, lees en praat alreeds.

Ja, hulle luister en lees en praat – maar wat sal hulle doen?

Wat sal u doen?

God sê: “En hulle kom na jou toe soos ’n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos ’n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie. Maar as dit kom – kyk, dit kom! – dan sal hulle weet dat daar ’n profeet onder hulle gewees het” (Eségiël 33:31-33).

Wat sal dit van u verg, om te weet dat ware dienaars van die Almagtige God met u praat tydens die Tomorrow’s World beeldsending?

Wat sal dit van u verg om ag te slaan en te reageer op die kennis wat u deur die Tomorrow’s World beeldsending, tydskrif en/of webwerf ontvang?

Hoe sal geprofeteerde bonatuurlike straf u persoonlik moet raak voordat u gewillig sal wees om u weë te verander en God te gehoorsaam?

U bereidwilligheid is die sleutel tot verandering.

Baie nadenkende mense is intellektueel oortuig deur wat hulle oor die Tomorrow’s World beeldsending hoor en in die bladsye van die Tomorrow’s World/Wêreld van Môre-tydskrif lees – want hulle weet dit is die waarheid. Tog weerstaan hulle dit en neem aanstoot omdat hulle lewenswyse verander behoort te word!

Om veral in hierdie tydperk gewillig te wees om te verander en om die waarheid wat God deur Sy dienaars in hierdie eindtyd openbaar, te aanvaar en te gehoorsaam, meer as in enige ander tydperk, is die sleutel tot u eie oorlewing – nou en vir altyd.

Kort voor lank sal u in staat wees om te sien dat dit nie net ’n sentimentele idee is nie – dit is ’n feit. Lees ons kragtige artikels in hierdie uitgawe en indien God u oë open om te verstaan, wees gereed om daadwerklik op te tree! Die wêreld rondom ons is in ’n krisis gedompel soos nog nooit tevore nie, soos mnr. Rod McNair, in “Die groot verval”, elders in hierdie uitgawe verduidelik. Maak seker dat u mnr. Richard Ames se “Wêreldwye Utopia: ’n Onmoontlike droom?” ook lees, om presies te verstaan wat vir ware Christene voorlê. U sal egter moet optree om een van daardie ware Christene te wees!

U gesindheid is die sleutel

Elke ware dienaar van God het deur die eeue heen ’n boodskap van verandering gepreek. Dit is bloot omdat mense altyd geneig was om die weg van die menslike natuur te volg – die weg van ydelheid, selfsug, wellus, haat en oorlog.

Hierdie getroue manne van God het amper asof uit een mond uitgeroep oor die nasionale misdade en sondes van hulle mense – nie net in regverdige verontwaardiging of gramskap nie, maar uit diep, persoonlike besorgdheid.

Eségiël het uitgeroep: “... want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eségiël 18:31). Jeremia het gekla, “... want nie van harte verdruk of bedroef Hy [God] die mensekinders nie” (Klaagliedere 3:33).

Al die groot patriotte het met skerpsinnigheid, die walglike vergrype en sondes van hulle volk raakgesien. Hulle het deur God se besondere openbaring, die geprofeteerde strawwe gesien, wat daardie mense oor hulleself gebring het. Hulle het by hulle volk, wat hulle liefgehad het en met hulle hele hart wou dien, aangedring om hulle van hulle sondes te bekeer en te verander.

Hulle het op die uitroep van mense wat ’n magdom probleme gehad het geantwoord – mense wat gesê het: “Hy maak net die nasie sleg, en hy bied nooit enige oplossings nie!”

Hulle het oplossings aangebied – wye, verreikende oplossings vir wêreldprobleme en vir die probleme van individue, deurdat hulle God se eie antwoord gegee het.

Die antwoord is om te bekeer, om gewillig te wees om te verander. Om te bekeer beteken nie net om jammer te wees nie – dit beteken om so jammer te wees dat mens bereid is om op te hou doen wat verkeerd is en om mens daarvan te distansieer en die ander rigting in te slaan.

Ware bekering behels ’n ware verandering.

Ter voorbereiding vir Christus se eerste koms, het Johannes die Doper in die woestyn van Judea gepreek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 3:1-2)! Kort daarna het Jesus met Sy eie bediening begin en die Evangelie van die toekomstige Regering (of heerskappy) van God verkondig. Hy het aangekondig: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Jesus het die mense herhaaldelik gewaarsku dat die enigste manier waarop hulle gered kon word, was om hulle van die maniere, gewoontes en gebruike van die mense rondom hulle te bekeer en om God te begin gehoorsaam. Hy het gewaarsku: “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:3, 5).

Nadat die Nuwe-Testamentiese Kerk gestig is, het die geïnspireerde Petrus die pad na verlossing uiteengesit: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Weereens, “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word, sodat tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom” (Handelinge 3:19).

Die woord bekeer is ’n chemiese term wat beteken “om te verander”.

Om geestelik bekeerd te wees, moet ’n persoon werklikwaar aktief jammer wees en hom van sy eertydse ongehoorsaamheid aan die ware God bekeer en dan sy lewenswyse verander om aan God se wil te voldoen.

U het sekerlik al agtergekom dat die artikels in die Tomorrow’s World/Wêreld van Môre-tydskrif voortdurend aantoon hoeveel van die gewoontes, gebruike en oortuigings van hierdie wêreld in teenstelling met die bevele van God is? Watter dae behoort u heilig te hou? Wat is die beloning en werklike doel van ’n Christen? Wat behoort ons te doen omtrent die voortdurende vermanings om al die Gebooie van God te gehoorsaam? Wat behoort ons te doen met die opdragte van hoe om volgens elke woord van God te leef?

Doen u werklik iets met hierdie kosbare kennis wat God aan u gee?

Hier volg ’n brief – wat tipies van baie is – van ’n man wat weet dat hy behoort te verander. Let wel: “Ek het groot waardering vir die leesstof wat u die afgelope twee jaar aan my gestuur het. Ek het heelwat dinge geleer en dalk het ek naby die punt gekom om my hele self aan God te gee. Dit is jammer dat ek tekort geskiet het. Aangesien ek binnekort na Oklahoma State University gaan, dink ek dat die materiaal wat u aan my gestuur het vermors sal word. Ek kan duidelik sien dat die materialistiese trekkrag en sosiale invloed – veral van my kamermaats – sal veroorsaak dat ek dit tersyde stel. Soos u heel moontlik sien, is ek nie te bekommerd oor God se toorn nie. Ek laat die saak eers eenkant en ek dink God sal my wel een of ander tyd nader trek.

Ek weet ten minste waarheen om te hardloop wanneer die tye sleg raak. Dit is amper soos om iets vir niks te kry, is dit nie? Ek het geen verskoning nie. Ek het die waarheid raakgesien en dit geïgnoreer. Ek is nie ontnugter en op soek na ’n antwoord vir menslike euwels nie. Ek het die antwoord deur middel van u werk gevind. Ek is nie verward nie. Ek is net sondig. Dit is jammer dat u leesstof vermors word. Ek is net ’n tipiese mens”.

Te “swak” om te verander?

Weerstaan u ook verandering? Lyk dit vir u te moeilik om u lewenswyse na God se lewenswyse te verander?

U behoort te besef dat dit ’n verkeerde eienskap van die menslike natuur is, wat op sigself bekering nodig het! God sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9).

Hier beskryf God die aard van die natuur wat u het!

U hou waarskynlik nie daarvan om te verander nie. U hou waarskynlik nie van die idee om te erken dat u godsdiens of u lewenswyse verkeerd kan wees nie.

Let op hierdie treffende beskrywing van die menslike verstand in die insiggewende boek van Professor James Harvey Robinson, The Mind in the Making:

“Ons is ongelooflik roekeloos in die vorming van ons oortuigings, maar bevind onsself met ’n ongeoorloofde driftigheid wanneer iemand probeer om ons van hulle geselskap te beroof. Dit is natuurlik nie die idees wat vir ons dierbaar is wat bedreig word nie, maar ons ego ... Die klein woordjie “ek” is die heel belangrikste een in menslike aangeleenthede en om behoorlik daarmee rekening te hou is net die begin van wysheid. Dit het dieselfde krag of dit oor my aandete, my hond, my huis of my geloof, my land en my God gaan is. Ons neem nie slegs aanstoot met die beskuldiging dat ons horlosie verkeerd is of dat ons motor lendelam is nie, maar dat ons opvatting oor die groewe op Mars of die uitspraak van ‘Epicetus’ of die medisinale waarde van soutwater of van die datum van Sargon I, die onderwerp onderhewig aan hersiening is ...

Ons hou daarvan om voort te gaan om dit te glo waaraan ons gewoond was om as die waarheid te aanvaar. Die wrewel wat opgewek word wanneer twyfel oor enige van ons aannames gewerp word, laat ons allerhande verskonings soek om daaraan vas te klou. Die gevolg is dat die meeste van ons sogenaamde redenasies daaruit bestaan om argumente te vind om voort te gaan om te glo soos wat ons reeds glo”.

Wat ’n klassieke voorbeeld van die menslike verstand – u verstand!

Let nou op wat God oor die natuurlike, menslike gedagtegang van die mens sê: “... omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7). In die vorige vers sê God: “Want wat die vlees bedink, is die dood ...”

Die Bybel toon dus dat die sleutel tot u oorlewing, u gewilligheid is om u van u eie weë te bekeer en u eie idees, gewoontes en oortuigings te verander, sodat dit werklik met God se weë en leerstellings ooreenstem, soos dit in u Bybel geopenbaar is.

God se waarheid gaan gepaard met verantwoordelikheid

God het aan baie van u lesers getoon dat hierdie Sy Werk is. Deur die Tomorrow’s World beeldsending en in die bladsye van hierdie tydskrif, word u voortdurend in duidelik verstaanbare terme uitgedaag om die Tien Gebooie letterlik te gehoorsaam soos God dit bedoel het. U leer om Sy dae heilig te hou en uit hierdie wêreld se talle heidense godsdienstige gebruike, gewoontes en tradisies te kom.

Baie van u sit egter net terug en sê: “Wel, ek stem saam met wat u onderrig, maar ek kan nie sien dat daar iets is wat ek nodig het om daaromtrent te doen nie”.

God sê: “... omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word” (Romeine 2:13).

Weereens sê God: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jakobus 4:17).

Oor die algemeen weet ons gereelde lesers van die Wêreld van Môre, wat om werklik te doen. U weet dat u moet begin optree volgens die belangrike kennis wat u deur middel van God se Werk leer.

U weet dat selfs meer kosbare kennis van God se waarheid beskikbaar is deur die bestudering van die wonderlike gratis boekies wat ons oor verskillende onderwerpe aanbied. U weet dat u nog meer gevoed kan word met hierdie belangrike geestelike waarhede deur die Wêreld van Môre Bybelstudiekursus te doen.

U weet waar die Waarheid beskikbaar is. U weet dat daar vandag niemand anders op aarde is wat die Bybel werklik duidelik maak soos ons dit doen nie – ook die groot gebeurtenisse in wêreldgebeure word in hulle bepaalde, profetiese betekenis duidelik gemaak.

Sal u optree terwyl daar tyd is?

Hoe sal u voel wanneer hierdie gebeure waarvan u gelees het, skielik vlak voor u eie oë gebeur? Hoe sal u voel as u al die tyd van al hierdie dinge geweet het – dat u geweet het u behoort te begin om God te gehoorsaam en op te tree volgens hierdie kennis wat Hy so vrylik aan u geopenbaar het – maar net traag of koppig geweier het om u weë te verander en betyds onder Sy beskerming te kom?

Gaan u reageer soos die man wat hierdie brief geskryf het? “Ek is nie ’n Christen nie. Dit neem ’n man om een van hulle te wees. Ek bid nie. Ek het nog nooit in my lewe gebid nie. Ek het ’n geleentheid gehad om by ’n kerk aan te sluit, maar die manier waarop hulle dit uiteengesit het, het nie vir my reg gelyk nie. Ek het ’n goeie geleentheid gehad om die pad van evolusie te volg, maar dit het nie reg gelyk nie.

Nadat die Waarheid wel te voorskyn gekom het, was ek nie so dom dat ek dit nie herken het nie. Ek help om hierdie werk finansieel te ondersteun omdat ek 100% daarin glo. Moet asseblief net nie dink dat ek bid nie. Ek kan myself nie genoeg verootmoedig nie”.

Skokkend?

Ja, dit behoort u te skok indien u begryp wat die beloning is wat betrokke is.

Die God van u Bybel sê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

U behoort sekerlik teen hierdie tyd te weet dat ons nie sentimentele speletjies met u speel nie. Ons daag u uit om te bewys wat ons oor wêreldgebeure sê asook die vervulling van Bybelse profesieë. Wat ons verkondig kan bewys word en is op die proef gestel.

Om egter net van hierdie dinge te weet sal u of u geliefdes geensins baat nie. U moet volgens die waarheid optree. U moet volgens God se Wette leef – almal van hulle. U moet u benadering en u hele lewenswyse verander om aan die voorbeeld en leerstellings van die ware Jesus Christus van u Bybel te voldoen.

Sal u ter wille van u lewe en u ewigheid, die moed en die vasberadenheid hê om hierdie verandering te maak?