Wat beteken Paasfees vir u? Is dit 'n tyd om helderkleurige eiers en heerlike sjokolade te eet? Is dit 'n geleentheid om 'n nuwe Paashaasuitrusting vir die kinders se vermaak aan te skaf? Of is dit 'n dag wanneer Christene die dood en opstanding van hul Verlosser, Jesus Christus, moet herdenk?

Indien u “nie een van bogenoemde nie” geantwoord het, is u op die regte spoor. 
Party Paastradisies, soos om sjokoladehasies te eet en die paaseiers weg te steek, is betreklik nuwe gebruike. Het u egter geweet dat “Paasfees” reeds vir baie jare bestaan het voordat dit 'n “Christenfees” geword het? Het u ook geweet dat Jesus en Sy Apostels 'n ander dag ter nagedagtenis aan Sy offer herdenk het?

Jesus se laaste nag saam met Sy dissipels was 'n Pasgaviering, wat Hy vir hulle gesê het om elke jaar te herhaal “totdat Hy [Christus] kom” (1 Korintiërs 11:26). Polykarp, biskop van Smirna, het tydens die middel van die tweede eeu getuig dat die apostel Johannes hom geleer het om Christus se offer te herdenk deur die jaarlikse Pasgadiens. Binne 'n geslag na Johannes se dood, het party mense egter begin om hierdie gebruik van die Apostels teë te staan. Namate al hoe meer leiers regdeur die Romeinse Ryk dit gerieflik gevind het om “Christenskap” te bely, het hulle dit al hoe meer wenslik gevind om hul “Christenskap” te reinig van sy ware Pasganalatenskap en uiteindelik met 'n Paassondagviering te vervang.

Paassondag het toegeneem in gewildheid, deels weens die verkeerdelike gedagte dat Jesus op Sondag uit die dood opgestaan het. Trouens, noukeurige Bybelstudie toon dat Hy op Saterdag, naby sononder, opgestaan het, presies drie dae en drie nagte nadat Hy gesterf het en begrawe is, net soos Hy beloof het (Mattheus 12:40). Jesus het op 'n Woensdagmiddag gesterf, net voor 'n “jaarlikse Sabbat”—die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode—en het na 72 uur in die graf opgestaan, net voor die einde van die weeklikse Sabbat. Die verkeerdelike gedagte dat Jesus Vrydag gesterf en Sondag opgestaan het, maak trouens die einste teken van Sy Messiasskap ongeldig (vers 39)!

Is Paasfees in die Bybel? Weens 'n vertaalfout in die Ou en Nuwe Vertalings, dink baie Afrikaanssprekendes verkeerdelik dat die Bybel na Paasfees verwys. In Handelinge 12:4, onder andere, vertaal die Ou en Nuwe Vertaling die Griekse woord pascha (wat na die Pasga verwys) as “paasfees”. Bykans alle erkende Engelse vertalings gee die woord egter korrek weer as “Passover [Pasga]”—die Bybelse viering wat Jesus en Sy volgelinge onderhou het. Dit is interessant dat die woord wat in Engels “Easter” vertaal word, in Afrikaans en ander moderne tale (bv. Pascua in Spaans, Pâques in Frans) hul oorsprong in die Griekse woord vir Pasga het.

In Engels en Duits is die moderne Pasgavervanger egter volgens die naam van 'n voor-Christelike godin. Die Middeleeuse Engelse geskiedkundige, Bede, het die naam “Easter” nagespoor na 'n lentefees wat gehou is ter ere van die godin, Eostre, ter viering van die natuur se herrese vrugbaarheid, deur gebruik te maak van hasies en eiers—algemene Paasfeessimbole in Engels- en Duitssprekende lande.

“Maar kan ons nie God eer deur heidense feeste te “kersten” nie?” mag party mense vra. Nee! Die profeet Jeremia gee God se waarskuwing aan Sy mense: “Moenie die gewoontes van die heidennasies aanleer nie” (Jeremia 10:2, NV). Om afstand te doen van die Pasga wat God ingestel het en dit te vervang met 'n mensgemaakte vakansiedag, verwerp nie net die teken van Christus se Messiasskap nie; dit bring ongehoorsaamheid aan God mee! As u meer wil weet oor die Heilige Dae wat God vir Sy mense ingestel het, skryf asseblief vir u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Die Heilige Dae: God se Meesterplan.

Ware Christene moet doen wat Christus beveel het, deur Sy offer elke jaar met die Pasga te herdenk en nie vol te hou met die mite van 'n “Christen” Paasfees nie. Na sononder, op 11 April hierdie jaar, sal ware Christene Christus se offer herdenk soos God bestem het. Wat sal u doen?