Skenk u aandag aan besonderhede?


Little Things Mean a Lot” was ’n gewilde trefferliedjie wat in 1954 die eerste plek op die gewildheidslys in die VSA en die VK beklee het. As ’n gevolg hiervan het baie ander uitvoerende kunstenaars hulle weergawes van hierdie liedjie vrygestel. Ten spyte van die pragtige lirieke en ’n mooi melodie, sê die titel alles. In die lewe kyk ons dikwels na die groot gebeurtenisse of baie belangrike insidente wat ’n belangrike uitwerking of groot impak het. Dit is nogtans die klein dingetjies wat ons daagliks doen, wat verhoudings hegter maak en verbeter, fisies sowel as geestelik. Die klein welwillendhede, die bedagsame dade, die beleefdhede en agting wat aan ander betoon word sonder om iets terug te verwag, openbaar mense se ware karakter en hulle liefde vir ander.

Dit is ook dieselfde met geestelike sake. In die Bybel vind ons instruksies vir die lewe en hulle is almal baie belangrik. Dit is baie duidelik dat ons Hemelse Vader van ons verwag om getrou te wees in die klein dingetjies, sowel as in die ”gewigtiger sake”, wat in die Skrif te vinde is. Wees bedag daarop om die klein dingetjies te doen, om aan Hom te bewys dat ons Hom werklik “vrees”, wat diepe respek en ontsag vir Sy lewenswyse beteken.

Die Bybel gee ’n aantal voorbeelde van die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God, selfs in die klein dingetjies. Een voorbeeld is die storie van Ussa in 1 Kronieke 13:7-10. Terwyl die Israeliete die Ark van die Verbond, ’n baie belangrike simbool van die land se verhouding met God, moes vervoer, het die osse wat die wa trek waarop die Ark was gestruikel. Instinktief het Ussa sy hand uitgesteek om die Ark te stut, om te verhoed dat dit verskuif of val. God het hom oombliklik dood laat neerslaan. Hoewel dit vandag vir ons wreed mag lyk, het God in besonderhede, spesifieke opdragte gegee oor hoe hierdie belangrike simbool vervoer moes word. Ussa het dit geweet, maar het nie die opdragte gevolg nie, wat hom sy lewe gekos het.

Gelukkig sal Ussa in die opstanding die geleentheid kry om te bely en sy lewe uit te leef in gehoorsaamheid aan God. Daar is baie ander minder traumatiese voorbeelde in die Skrif van die belangrikheid van die klein dingetjies. ’n Baie sprekende voorbeeld kan gevind word in Markus 12:42-44: “En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ’n oortjie. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud”.

Let daarop dat Jesus nie aan Sy dissipels gesê het om die twee geldstukkies, ’n baie klein bedraggie geld, te neem en aan die arm weduwee terug te gee nie. Dit sou ’n belediging vir haar gewees het, terwyl haar klein offer in werklikheid die grondslag was vir ’n groot les vir ons almal. In ons lewens is daar klein dingetjies wat gekontroleer en beheer behoort te word. Jakobus, die half-broer van Jesus, skryf in sy boek in die Nuwe Testament: “Net so is die tong ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand. Die tong is ook ’n vuur, die wêreld van ongeregtigheid ... Maar die tong kan geen mens tem nie” (Jakobus 3:2-8).

Met God se hulp kan ’n mens die tong in toom hou, maar dit verg voortdurende waaksaamheid om dit te vermag. Is dit vir ons belangrik om in ons daaglikse lewens ywerig te wees in die navolging van God se opdragte? Die voorbeeld van Ussa toon dat dit ’n baie ernstige saak is. Ook die wonderlike voorbeeld van die weduwee wat met haar karige offer toegewy was aan God en Sy werk, toon dat die klein dingetjies deur God raakgesien word. In der waarheid het Jesus ’n belofte gemaak wat gebaseer is op hierdie beginsel, toe Hy in Lukas 19:17 gesê het: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede”.

Wanneer u u lewe elke dag leef, onthou dat of dit fisies of geestelik is, klein dingetjies baie beteken!