'n Gesin se gesondheid en geluk kan verbrokkel weens alkoholisme, fisiese mishandeling, seksuele mishandeling – en selfs deur die verkeerde idees aangaande kinderopvoeding. Gebroke gesinne kan egter herbou word en die Skrif bied 'n bloudruk om te wys hoe dit gedoen kan word!


Fanie en Linda het op die oog af na die ideale gesin gelyk. Hul vriende by die kerk het hulle geken as 'n aantreklike jong paartjie met vier oulike kinders. Fanie was 'n vaardige ambagsman en Linda was 'n voltydse tuisteskepper. Hulle het in 'n mooi huis in 'n aangename kompleks gewoon. Alles in ag genome, was hulle die verpersoonliking van die “droomgesin” vir dié wat hulle geken het.

Daar was egter 'n donker sy in hul huwelik. Baie van wat hul vriende gedink het hulle van Fanie en Linda geweet het, was 'n blote illusie. Hoewel die paartjie vir jare die beste voetjie voorgesit het, het daar uiteindelik krakies in hul fasade begin verskyn. U sien, Fanie het 'n drankprobleem gehad wat stadigaan vererger het. Dit was die gesin se geheim.

Namate Fanie se drankprobleem vererger het, het Linda al hoe meer haatdraend geword en die struwelinge tussen hulle het meer en ernstiger geraak. Teen die tyd dat Fanie uiteindelik erken het dat hy 'n probleem het en hulp gaan soek het, was Linda al so platgeslaan deur bitterheid, haat en pyn dat sy nie meer omgegee het nie. Oor die volgende paar jaar het hierdie “ideale gesin” uitmekaar geval – met tragiese gevolge vir elke lid van die gesin. Hul lewens het van 'n droom in 'n nagmerrie ontaard. 

Uit die aard van die saak, is dié nie 'n geïsoleerde geval nie. 'n Amerikaanse regeringsverslag oor alkoholisme het nagenoeg 18 miljoen volwassenes in die VSA as probleemdrinkers geklassifiseer. Dit is natuurlik nie net die drinkers wat 'n probleem het nie. Soos in Fanie se geval, beïnvloed die probleemdrinker regstreeks ander mense se lewens, veral dié van die kinders wat onder daardie omstandighede moet grootword.

Die patrone waarvolgens ons in die lewe funksioneer, word in ons kinderdae ontwikkel. Die belangrikste aspekte van wat ons oor onsself – en oor die wêreld om ons – glo, word gevorm deur lesse wat ons tuis geleer het. Daar is miljoene volwassenes wat grootgeword het in huise waar alkoholmisbruik aan die orde van die dag was. Miljoene ander mense word groot met ander letsels. Volgens Susan Froward, medeskrywer van Betrayal of Innocence, was ten minste 10 miljoen Amerikaanse vroue die slagoffers van bloedskande. Hoewel hierdie spesifieke statistieke slegs op die Verenigde State gebaseer is, vind ons soortgelyke getalle in Brittanje, Kanada, Australië en ook in Suid-Afrika.

As ons so in ons gekrenkte wêreld rondkyk, moet ons besef dat niemand 'n volmaakte agtergrond het nie. Miljoene mense het egter grootgeword in omstandighede wat besonder diep letsels gelaat het. Hierdie letsels sal, indien dit nie aangespreek en genees word nie, eenvoudig die sondes van die vaders op die kinders oordra – selfs tot aan die derde en vierde geslagte (sien Numeri 14:18). 

Met so baie mense wat uit 'n ongesonde gesinsagtergrond kom, beteken dit dat daardie miljoene mense geen kans op toekomsgeluk het nie? Is u dan outomaties gedoem om die probleme van die gesin waarin u grootgeword het, te herhaal? Is dit werklik moontlik om die kringloop te verbreek en 'n gelukkige gesin te herbou?

Wees eerlik en aanvaar die verlede vir wat dit is

Die probleem is natuurlik nie dat mense hul lewens begin met die doel om ongelukkig te wees nie. Hulle weet bloot nie hoe om daardie dinge te doen wat gelukkige gevolge sal hê nie! Dit gebeur so dikwels dat kinders wat onder veelbewoë gesinsomstandighede grootword, hulself beloof om nie hul eie kinders eendag deur dieselfde traumas te laat gaan nie. Tog gebeur presies die teenoorgestelde gewoonlik. Probleme word herhaal. Waarom?

Baie van hierdie probleme spruit voort uit die lesse en oorlewingstrategieë wat ons as kinders geleer het. Die seerkry, vrese en griewe wat tydens kinderjare opkrop, word na volwassenheid oorgedra. Daardie gevoelens word alte dikwels ook na nuwe verhoudings oorgedra. Diegene wat nooit as kinders geleer het om te vertrou nie, sal dit moeilik vind, indien nie onmoontlik nie, om ware intimiteit in hul volwasse jare te geniet. Die oorsprong van hierdie probleem is dikwels omdat hul ouers hulle nooit geleer het hoe om teenoor ander mense op te tree nie (Spreuke 22:6).

Om te kan verander, moet mens eerstens eerlik na die verlede kyk, deur die spieël van God se Wet (Jakobus 1:23-25). Waarheid is die sleutel tot ware vryheid. Hoewel ons nie ons verlede kan kies nie, kan ons egter keuses maak oor ons toekoms. Alvorens ons kan aanbeweeg, moet ons besef waar ons ons tans bevind en hoe ons hier gekom het. Deur die dinamika van ons gesinstelsel te verstaan, kan ons dinge aangaande onsself begin verstaan – waarom ons dink en voel soos ons doen.

Wanneer 'n kind grootword met die wete dat sy beste nooit goed genoeg sal wees nie, of dat hy moet baklei om liefde te verdien, of dat hy verantwoordelik is vir almal om hom se geluk, sal hy werklik probleme hê om gesonde volwasse verhoudings aan te knoop.

Om die verlede in die gesig te staar, beteken nie om Ma of Pa te blameer nie – dit gaan daaroor om eerlik met onsself te wees. Ons kan nooit aan 'n probleem werk wat ons nie kan sien of wil erken nie. Dit is noodsaaklik dat ons voorraadopname van ons lewens moet neem, insluitende ons gevoelens en die oortuigings wat dit rugsteun. Indien ons wil hê dat die toekoms anders as die verlede moet wees, moet ons presies bepaal wat ons van voorneme is om anders te doen. Goeie voornemens om “beter te doen” is nie naastenby genoeg nie. Wat presies wil ons anders doen? Nie een van ons kan in die algemeen verander nie, slegs in die besonder!

Om voor te gee dat niks verkeerd is nie, maak dit nie reg nie. Ons moet onsself nie mislei nie (Jeremia 17:9; Jakobus 1:22). As ons egter 'n saak eerlik onder die oë sien vir wat dit is, sal ons in staat wees om keuses te maak. Dit is 'n eerste stap om die wonde van ons kinderjare aan te spreek.

Vergewe en vergeet

Gruwelike gebeure laat geweldige diep letsels. Een van die moeilikste maniere waarop ons op pynlike en onregverdige gebeure reageer, is om dit te vergeet. Ons probeer dikwels geregverdig voel deur te klou aan griewe en blameer die onregverdigheid van die lewe daarvoor. Op die lang duur doen griewe egter meer skade aan diegene wat dit vertroetel! 

Die Bybel is die wêreld se beste sielkunde handboek. Die Skepper, die Een wat die menslike hart en denke ontwerp het, het dit geskryf. In die bladsye van die Bybel is die verhale van talle werklike manne en vroue, van die keuses wat hulle gemaak het en die gevolge daarvan. 

Een van die tragiesste episodes wat in die Skrif opgeteken staan, is die reeks gebeure wat 'n hoogtepunt bereik het met die opstand van Absalom, die seun van koning Dawid. Die ding het natuurlik nie met Absalom se opstand begin nie. Dit het bykans 10 jaar vroeër begin toe Absalom se suster, Tamar, deur haar halfbroer, Amnon, verkrag is. In die nadraai van hierdie voorval, het Absalom gekook van innerlike woede. Hy was woedend oor wat met sy suster gebeur het (2 Samuel 13). 

Nadat hy vir twee jaar hierdie woede opgekrop het, het Absalom al sy broers, insluitende Amnon, na 'n maaltyd by sy huis genooi. Nadat hy Amnon uit Jerusalem weggelok het, het Absalom hom doodgemaak en landuit gevlug. Koning Dawid was verpletter deur die nuus. Hy het nou twee seuns verloor – een aan die dood en die ander een weens selfopgelegde ballingskap. Daar was vir drie jaar geen kontak tussen die koning en sy vervreemde seun nie. Deur die krygslis van Joab, wat 'n broerskind sowel as 'n vertroueling van koning Dawid was, is die koning oorreed om Absalom te vra om terug te keer na Jerusalem toe. Selfs na sy terugkeer, wou koning Dawid egter nie tyd met sy seun deurbring of hom selfs van aangesig tot aangesig sien nie. Koning Dawid was so seergemaak deur die optrede van Absalom, dat hy homself nie so ver kon bring om heeltemal te versoen nie. Etlike jare het verbygegaan en Absalom het al hoe meer wrewelig teenoor sy vader geraak.

Joab het uiteindelik daarin geslaag om weereens die knelpunt te verbreek en koning Dawid het sy seun Absalom genooi om hom te besoek (2 Samuel 14:21). Daar was 'n oppervlakkige versoening, maar Absalom was teen hierdie tyd so verteer deur haatdraendheid dat hy 'n opstand begin beplan het om sy vader te onttroon. Toe hy gedink het die tyd was ryp, het hy toegeslaan. Aanvanklik het dit gelyk of hy suksesvol sou wees, maar sy leërmag is uiteindelik verslaan. Voordat die leërmagte slaags geraak het, het koning Dawid die soldate opdrag gegee om Absalom nie seer te maak nie, maar gesê; “Saggies met die jongman, met Absalom.” Hierdie opdrag is egter verontagsaam en Absalom is doodgemaak. Dawid was verpletter. “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” (2 Samuel 18:33). Hierdie hele tragiese gebeurtenis wys wat kan gebeur as ons vasklou aan diepgewortelde gevoelens van seerkry en haatdraendheid. Was daardie seer gevoelens werklik en verstaanbaar? Natuurlik was dit! Ons kan egter ook sien hoe dit 'n vernietigende uitwerking gehad het op diegene wat daaraan vasgeklou het. Jesus Christus het die belangrikheid van vergifnis herhaaldelik beklemtoon – om die haatdraendheid en seergemaaktheid te laat vaar. Selfs toe Christus geneem is om tereggestel te word, het Hy onvoorwaardelike vergifnis geopenbaar. Van die soldate wat Sy kruisiging uitgevoer het, sê Hy: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34).

Indien u uit 'n pynlike agtergrond kom en diep seergemaak is, is een van die belangrikste besluite wat u kan neem, om die seer en haatdraendheid te laat vaar. Dit is dikwels moeilik om te doen, aangesien ons glo dat ons geregtig is om so te voel, as gevolg van wat gebeur het. Haatdraendheid is nogtans die oorsaak van die meeste geestelike krankhede en indien ons daaraan vasklou, is dit die wortel waaruit verbitterdheid spruit.

Aanvaar die verlede eerlik. Erken die seer en die verlies. Dit is nie verkeerd om te treur oor 'n verlies nie, maar laat dit dan vaar. Om aan die seer van die verlede vas te klou of om dit te laat vaar, is u eie keuse. Besluit om te vergeef en aan te beweeg.

Vertroue en respek

Vertroue en respek is diepliggende aspekte van gesonde verhoudings. Pynlike ondervindings in 'n siek gesinsomgewing ondermyn behoorlike respek en beskadig die vertrouensvermoë. Waarom is hierdie elemente egter so noodsaaklik en wat kan gedoen word om dit weer op te bou? 

In gesonde gesinne is goeie kommunikasie een van die belangrikste hulpmiddels. Deur te weet wat iemand anders se gedagtes, idees en gevoelens is, maak dit moontlik om probleme aan te spreek en op te los. Om negatiewe en kwetsende woorde te gebruik en nie aandagtig te luister nie, sal pogings tot kommunikasie onderdruk. “En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek” (2 Timotheus 2:23). Om nie respek aan ander gesinslede te toon nie, sal hul bereidwilligheid om te sê wat hulle werklik dink, ondermyn. Niemand hou daarvan om vir die gek gehou of verkleineer te word nie. Ons kan slegs oopmaak teenoor diegene by wie ons veilig voel. 'n Wanaangepaste gesin skep nie 'n veilige emosionele omgewing nie, met die gevolg dat die lede van die gesin nie gesonde kommunikasie-vaardighede aanleer nie.

Indien u onder sulke omstandighede grootgeword het, moet u nuwe en ander vaardighede aanleer ten einde 'n ander atmosfeer in u huidige gesin te hê as in u gesin van oorsprong. Baie hiervan berus daarop om 'n atmosfeer van vertroue en respek te bou (1 Petrus 2:17; Hebreërs 12:14). Vertroue word opgebou deur talle klein dingetjies deurlopend deur te voer. Mense voel dat hulle gerespekteer word wanneer hulle aandag kry en hoflik behandel word. 

U maat sal nooit teenoor u oopmaak alvorens hy of sy veilig voel om dit te doen nie. Hoe skep u hierdie veilige omgewing? Eerstens moet u sorg dat vertroulike opmerkings nooit so herhaal word dat dit 'n verleentheid skep vir die persoon wat u in u vertroue geneem het nie (Spreuke 25:9). Voorts moet bekentenisse van innerlike vrese of onsekerhede nooit as ammunisie opgeberg word om die volgende keer wat daar nie saamgestem word nie, in die een wat dit gesê het se gesig terug te gooi nie. 

Waar mense is, is dit onvermydelik dat daar van tyd tot tyd onenigheid sal wees. Wanneer 'n atmosfeer van vertroue en respek egter in 'n huis heers, sal daardie onenigheid op 'n gesonde wyse besleg word. Konsentreer daarop om vertroue te bou en respek te betoon deur u optrede sowel as u woorde, selfs ten tye van onenigheid (Filippense 2:3). Met verloop van tyd, sal daar tasbare resultate wees. Nie een van ons kan iemand anders laat verander nie, maar ons kan besluit om veranderings in ons eie lewens aan te bring.

Herstel balans

Daar is al gesê dat “balans 'n skeermes se snykant is!” Oorkompensasie – deur van die een uiterste na die ander te gaan – blyk 'n menslike neiging te wees. Om een uiterste vir 'n ander te verruil, bevorder nie balans nie.

Party gesinstrukture is so onbuigsaam en oorheersend dat dit die gesinslede versmoor. Ander is weer so los en permissief dat dit 'n gevoel van chaos meebring. Nie een van die twee is 'n gesonde balans nie. Indien een huweliksmaat te streng is, bring toegeeflikheid van die ander een ook nie balans mee nie. 'n Gestruktureerde omgewing daarenteen, bring behoorlike balans in die gesin, waarin elke lid van die gesin steeds as individu kan floreer.

In ongesonde gesinne sal die leier óf afstand doen van sy verantwoordelikheid om te lei, óf hy sal poog om al die ander lede te beheer. Wat is dan 'n gesonde leierskap styl? Die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk bied 'n interessante voorbeeld. Die Kerk word immers die “huisgenote van God” genoem (Efesiërs 2:19) en het baie van dieselfde eienskappe as 'n gesin. 

In Handelinge 6:1 lees ons dat die getal dissipels in Jerusalem sterk toegeneem het. Ons lees verder dat probleme by sekeres ontstaan het wat gevoel het dat hul behoeftiges afgeskeep word. Hoe het die leierskap reageer? Hulle kon almal saamgeroep en hulle “uitgetrap” het omdat hulle klagtes geopper het. Hulle kon tot die verdediging oorgegaan het deur te sê dat hulle na die beste van hul vermoë optree, om diegene wat gekla het te laat skuldig voel. Hulle het nie een van die twee gedoen nie.

Hulle het eerder geluister na wat gesê was! Nadat hulle aandagtig geluister het, het hulle almal byeengeroep en riglyne vir 'n oplossing bepaal. Vervolgens het hulle die verantwoordelikheid aan diegene nader aan die probleem gedelegeer om die besonderhede in te vul. In hierdie geval is die probleem opgelos deur 'n lys van individue saam te stel wat voldoen het aan die kwalifiserende faktore soos deur die Apostels bepaal. Die resultate is positief ontvang en die Kerk het selfs nog meer gegroei (vers 7).

Die Apostels het dit vermy om heelparty van die algemeenste foute te maak wat mense met hul leiers gefrustreerd maak. Hulle het kommunikasie nie doodgesmoor deur kwaad te word vir diegene wat aan hulle onwelkome nuus gebring het nie. Hulle het ook nie die Kerk frustreer deur na uiterstes oor te gaan deur óf nie te reageer en geen leierskap te bied nie, óf deur te probeer om alleen in beheer te bly en elke aspek van die oplossing self te beheer nie. 

Dit is 'n duidelike beeld van hoe gesonde leierskap werk en hoe dit eweneens op die gesin van toepassing is, net soos op die Kerk of in ander kontekste. Deur te luister, 'n raamwerk en riglyne op te stel en mense dan ruimte te bied om die besonderhede uit te werk, is allerbelangrike sleutels tot gebalanseerde leierskap. 

’n Wanaangepaste gesin gee aanleiding tot ’n ongebalanseerde omgewing. Om gesonde gesinne te herbou wat behoorlik funksioneer, behels 'n herstel van balans. Kinders moet 'n raamwerk en riglyne van aanvaarbare gedrag kry. Binne hierdie grense, moet hulle egter toegelaat word om hul eie individuele smake en belangstellings te ontwikkel.

Gesinne behoort nóg onbetrokke en ongeïnteresseerd te wees in die lewe van die ander gesinslede, nóg moet hulle daarin verstrik en verstrengeld wees. Daar is 'n gesonde balans tussen die handhawing van belangstelling en betrokkenheid, terwyl daar steeds ruimte gegun word om individue te wees en probleme op te los. Die Skeppergod sê: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24). 'n Nuwe gesinseenheid word so geskep. Liefdevolle kinders sal uit die aard van die saak steeds hul ouers eer en respekteer en liefdevolle ouers sal diep geïnteresseerd bly in die welvaart van hul kinders en hul nuwe gesinne.

Ongesonde, disfunksionele gesinne laat ongesonde, disfunksionele gesinne voortbestaan – maar nie omdat mense doelbewus daarna streef nie. Hulle bly bestaan omdat die nodige kennis, vaardighede en die wil by mense ontbreek om iets beter te bou. Hoe kan u dus seker maak dat u toekoms anders sal wees as u verlede?

Eerstens moet u besluit om die verlede eerlik onder oë te neem en dit dan te vergeet. U het die keuse of u u seerkry wil vergeet en dit met vergifnis wil vervang. Vergifnis is, op stuk van sake, 'n keuse! In plaas daarvan om beheer te word deur vrese en onsekerhede wat oor 'n leeftyd ontwikkel is, begin om 'n diep, persoonlike verhouding met u Skepper te ontwikkel. Wanneer u verkies om gelei te word deur vertroue in God eerder as deur vrees vir mense en omstandighede, sal u vind dat nuwe horisonne in die lewe vir u geopenbaar word. Streef daarna om vertroue en respek in al u verhoudings te bou, deur dit te betoon en uself betroubaar te maak. Laastens, streef balans na deur te leer hoe om betrokke te wees sonder om verstrik en verstrengeld te wees. 

Ons leef in 'n wêreld van seerkry en gebroke gesinsverhoudings. Tog, ongeag u agtergrond, is dit moontlik om 'n gesonde gesin te herbou. U Skepper het 'n handleiding voorsien, maar u moet self Sy voorskrifte toepas om nuwe kennis en nuwe vaardighede aan te leer. Soek hulp en maak vordering. Die resultaat sal al die harde werk wat voorlê, die moeite werd maak!