Het u al ooit gewonder of doop werklik belangrik is vir ware Christene? Het u dit al ooit bevraagteken of u doop werklik geldig is en of diegene wat u doop hanteer het, uit God se oogpunt, die nodige “geloofsbriewe” gehad het? Was u reg gedoop en het u u werklik bekeer voordat u gedoop is? Wat is die verband tussen bekering en doop? Indien hierdie soort vrae u gepla het, is u nie alleen nie. Genadiglik beantwoord God hierdie vrae duidelik is Sy geïnspireerde woord, die Heilige Bybel.

Die Doop van Babas

Vir eeue is baie belydende Christene tydens doop met water besprinkel. Hoe het hierdie gebruik ontstaan? Is dit Bybels? Aanvanklik was besprinkeling slegs gebruik wanneer ’n persoon as te siek beskou was om ondergedompel te word, maar sedertdien het dit algemene gebruik geword (Latourette, K.S. (1999), A History of Christianity (bl. 195, 529, 715). Peabody, MA: Prince Press).

St. Augustyn wat in die laat vierde en vroeë vyfde eeu n.C. geskryf het, word gekrediteer met populêrmaking van kinderdoop. Hy het geglo kinders word gebore met “erfsonde” en het nodig om so spoedig moontlik na geboorte gedoop te word om hul te reinig van daardie sonde. Martin Luther het voortgebou op Augustyn se leerstelling deur te beweer dat die doop die suigeling verander, reinig en vernuwe deur geloof.

Kinderdoop het uiteindelik populêr geraak as gevolg van die valse idee dat as ’n baba sterf voor die doop, dit veroordeel is tot die hellevuur. (Om meer te leer oor God se plan vir babas en ander mense wat sterf sonder die geleentheid om die ware Evangelie te hoor en dit aan te neem, skryf gerus en vra vir ons gratis boekie, Is Hierdie die ENIGSTE Dag van REDDING?). Die idee is dat indien ouers nie hul babas laat doop nie, weerhou hulle eintlik die babas se reg tot die genade om ’n kind van God te word (Catholic Catachism, Gedeelte 2, Hoofst. 2, Deel 1, Artikel 1, “Doop”).

Kinderdoop vereis egter geen bekering nie – ook nie enige verbintenis van geloof nie! Soos ons sal sien, moet doop volg op ware bekering. Bekering vereis ook dat persone volwasse genoeg moet wees om te kan besef dat hulle hul moet bekeer en hulle moet ook kan verstaan “hoe” hulle hul moet bekeer.

Hoe God die doop sien

Wat sê die Heilige Bybel oor doop? Die apostel Petrus beveel: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Hierdie opdrag leer ons twee dinge: Eerstens, doop is noodsaaklik vir alle Christene. Let daarop dat Petrus nie gesê het: ”Bekeer julle as julle wil nie”, of “dit sal gaaf wees as party van julle besluit om gedoop te word” nie. Hy het hulle beveel: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word”. Tweedens, daar is ’n proses wat saam met doop gaan – bekering en erkenning of aanvaarding van Jesus Christus as Saligmaker, wat opgevolg word met doop, waarna ’n ware leraar van Jesus Christus die pas gedoopte persoon die hande sal oplê, sodat God Sy Heilige Gees in hom of haar kan plaas.

Die woord “bekering” kom van die Griekse woord metanoeo en beteken “om anders te dink oor”, om “heelhartig te verander met verafskuwing van vorige sondes” (Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible, Abington Uitgewers: Nashville). Bekering beteken letterlik om om te draai en die ander rigting in te slaan. Dit vereis die vermoë om ’n mens self krities te ontleed in die lig van die Bybel, ’n bewustelike besluit te neem om te verander en daadwerklik te begin om volgens God se Weg te lewe. Doop vereis die handelinge van ’n rype volwassene – kinders en selfs baie tieners beskik nog nie oor die geestelike vermoëns of lewenservaring om te kan verstaan en hierdie diep geestelike verbintenis aan te gaan nie.

Besprinkeling of onderdompeling?

God het Johannes geïnspireer om te doop waar daar baie water was: “En Johannes [die Doper] was ook besig om te doop in Enon naby Salim, omdat daar baie water was. En die mense het daar gekom en is gedoop” (Johannes 3:23). Verder: “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim” (Mattheüs 3:16). Dit is duidelik dat Christus binne in die rivier gestaan het, nie op die oewer nie. Dink duidelik hieroor na! Indien die doop slegs ’n klein bietjie water vir besprinkeling vereis het, sou Christus niein die water gestaan het nie en “baie water” sou dus nie nodig gewees het om Hom te doop nie. Johannes kon maklik ’n emmer of watersak gebruik het. Die Griekse woord vir doop wat in beide Mattheüs en Johannes se weergawes gebruik is, is baptizo wat beteken onderdompeling of onder water sit. Let daarop dat God nie die Griekse woorde wat “besprinkel” of “uitgiet” beteken, geïnspireer het nie.

Die doop simboliseer die begrafnis van die ou, sondige self in ’n watergraf. Die opkoms uit die water verteenwoordig ons opwekking as ’n nuwe mens wat ’n nuwe lewe sal lei – ’n lewe waar sonde nie langer ons lewens sal reël nie (Romeine 6:3-6). God verwys in werklikheid na bekeerde Christene as ’n “nuwe skepping” in Christus (2 Korinthiërs 5:17, Nuwe Lewende Vertaling). Paulus verwys ook na die doop as “die bad van die wedergeboorte” (Titus 3:5). ’n Christen se doop beeld Christus se dood en opstanding uit (Romeine 6:1-6). Die ou, sondige mens “sterf” en is begrawe in die watergraf, sonde is weggewas en die persoon kom te voorskyn as ’n veranderde, nuwe persoon. Die handeling en simbolisme van doop is uiters belangrik vir God.

Waarom moet Christene gedoop word?

Waarom moet ’n ware Christen gedoop word? Waarom is slegs “gee jou hart aan die Here” nie genoeg vir redding nie? Daar is verskeie redes.

Die eerste en belangrikste rede is dat God die doop beveel het en ’n voorbeeld gegee het dat dit gedoen moet word. Een van Christus se laaste opdragte aan Sy Apostels was: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19-20). Jesus Christus, die ware Seun van God, het Sy Apostels beveel om dissipels uit alle nasies te maak en hulle te doop. Ons het vroeër gelees van Petrus se opdrag aan die skare: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes (Handelinge 2:38). Christus het ook gekies om in die Jordaanrivier gedoop te word volgens Sy Vader se wil, as ’n voorbeeld vir ons (Mattheüs 3:13-15).

’n Tweede rede om gedoop te word, is omdat ons nodig het om gedoop te word want ons het God se vergifnis nodig. Ons lees “... want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Verder: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 Johannes 1:8). Ons sondig almal en ons verdien die dood – “Want die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Omdat ons sonde doen, benodig ons God se vergifnis en verlossing van die doodsvonnis wat oor ons hang. Wat is egter sonde? Sonde is wetteloosheid (1 Johannes 3:4). Voordat ons gedoop word, moet ons in ons diepste wese besef dat ons onsself van ons vorige verwerping van God se Wet in ons lewens moet distansieer.

Christus het Sy bloed gestort sodat ons vergewe kan word nadat ons ons bekeer het van ons sondes. Sonder fisiese doop kan ons sondes egter nie “weggewas” word nie. Let daarop, Petrus het nie gesê: “Gee net julle hart aan die Here sodat julle sondes vergewe kan word nie”. Hy het gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word” (Handelinge 2:38). Deesdae bestaan daar verwarring oor die begrip om mens se lewe aan die Here te gee. Baie mense glo dat as jy eers Christus as jou Redder erken het en ’n “liefde” vir Hom bely het, dan is geen ander handelinge nodig om in God se Koninkryk te kan ingaan nie. Nogtans, om “mens se hart werklik aan die Here te gee”, behels algehele onderwerping van ’n mens se eie wil aan God, gevolg deur ’n bereidwilligheid om ’n lewe heeltemal “in ooreenstemming” met God se wil en Sy reëls te leef. Die “wegwassing” van sondes vereis die handelinge wat God beveel: Opregte bekering van sondes en die begrawing van die ou, sondige self deur waterdoop, sowel as aanvaarding van Christus as ons persoonlike Redder en waaragtige onderwerping van ons denke en wil aan God.

’n Derde rede waarom Christene nodig het om gedoop te word, is omdat ons tydens die doop ons verbind tot God se lewenswyse. Ons kan nooit redding “verdien” nie. Nogtans verwag God van ’n ware Christen om hom daartoe te verbind om so ’n lewe te leef dat dit die manier waarop Jesus Christus geleef het, weerspieël (Efesiërs 4:1). Ons moet “vrugte dra wat by die bekering pas” (Lukas 3:8) en optree soos God van ons verwag. Die doop dui ’n tydstip aan van wanneer af ons vorentoe gaan as ’n nuwe persoon. Die apostel Paulus het geskryf: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14). Hy het ook sy uitreiking vorentoe na sy doel – die Koninkryk van God – gedemonstreer. Hierdie uitreiking vorentoe het met Paulus se doop begin en het nie opgehou voordat hy dood is nie. Netso kenmerk ons doop ’n fisiese beginpunt, ’n tydstip in ons lewe toe ons onsself ten volle verbind het om te leef volgens God se lewensweg, ’n tydstip van wanneer af ons geestelike groeiproses gemeet word.

Jesus Christus het dit duidelik uitgespel wat Hy en die Vader van ons verwag: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheüs 7:21-23). Christuswil hê dat ons Hom moet liefhê en Hom as ons Redder moet aanneem. Hy verwag ook van ons om gehoorsaam te wees en dinge te doen volgens God se manier, indien ons Hom werklik liefhet.

Deur die doop begrawe ons simbolies ons ou, selfsugtige self in ’n watergraf en kom op as ’n “nuwe mens” (Romeine 6:1-6). Hierdie handeling demonstreer ons verbintenis om te lewe volgens God se lewenswyse, fisies, verstandelik en geestelik. Deur ons van ons sondes te bekeer, belowe ons God dat ons sal “wegdraai” van sonde en ons lewens volgens Sy manier en Sy wil sal leef. Hierdie voortdurende proses van bekering behels ons strewe daarna – met God se hulp – om op te hou sonde doen. Ons sal nie langer doelbewus die Tien Gebooie verbreek nie. Ons sal met vreugde die sewende-dag Sabbat onderhou en die jaarlikse Heilige Dae van Levitikus 23, en ons sal daarna streef om God op elke moontlike manier te gehoorsaam. (Om meer te leer oor die lewensnoodsaaklike geestelike beginsel van bekering, vra asseblief ons gratis herdrukte artikel, “The Missing ‘R’ Word: Repentance!” aan). Hierdie handelinge sal ons verbintenis tydens doop aan God demonstreer.

’n Vierde rede waarom Christene die doop nodig het, is omdat ons daarsonder nie in die Koninkryk van God kan ingaan nie. Die Bybel stel dit baie duidelik dat, tensy ons gedoop word en die gawe van die Heilige Gees ontvang, ons nie in die Koninkryk van God kan ingaan nie. God het Johannes geïnspireer om te skryf: “Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie” (Johannes 3:5). Hy het Markus ook geïnspireer om te skryf: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:16). Ten einde uiteindelik gered en die Koninkryk van God te kan ingaan, moet ons eerstens glo en dangedoop word. Sonder die aanvanklike stappe van geloof, bekering en doop, is dit onmoontlik om eendag gered te word en die Koninkryk van God in te gaan. Die Bybel is hieroor baie duidelik!

’n Vyfde rede waarom Christene die doop benodig, is om hul voor te berei om die Heilige Gees te ontvang deur handoplegging. Sommige studente van die Bybel verstaan die voorbeeld van Cornelius en sy huishouding, waar almal die Heilige Gees ontvang het nog voordat hulle in water gedoop was, verkeerd (Handelinge 10:44-46). Op Pinkster in 31 n.C. het die apostel Petrus aan die Jode hul nodigheid vir bekering en doop verkondig (Handelinge 2:38). Omtrent 10 jaar later het God Petrus gebruik om in die huishouding van Cornelius, die eerste soortgelyke preek aan nie-Jode te lewer! In antwoord op Petrus se geïnspireerde prediking, is die Heilige Gees op Cornelius en sy huishouding uitgestort, omtrent soos dit uitgestort was op die Apostels tydens die eerste Pinkster – en het daardeur bevestig dat die Evangelie nou ook verkondig moes word aan nie-Jode net soos aan Jode (Handelinge 10:28)!

Weerlê die voorbeeld van Cornelius op enige manier die noodsaaklikheid van waterdoop? Nee, glad nie! Let op Petrus se woorde nadat die Heilige Gees op hierdie nie-Jode uitgestort was: “Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here” (Handelinge 10:47-48). Dit is hoe belangrik waterdoop werklik is! Soos Cornelius se voorbeeld uitwys, daardie mense wat sê dat hulle die Heilige Gees ontvang het maar wat waterdoop verwerp, het in werklikheid gladnie die Heilige Gees nie!

Jare ná die doop van Cornelius en sy huishouding het God se ware leraars voortgegaan om nuwe bekeerlinge te doop en God het voortgegaan om die Heilige Gees aan hulle te skenk nadat daardie leraars hulle die hande opgelê het. Die Skrif noem die “handoplegging” inderdaad een van die grondbeginsels “aangaande prediking van Christus” (Hebreërs 6:1-2)! Die apostels Petrus en Johannes het daardie Samaritane wat hulle bekeer het en gedoop is, die hande opgelê “en hulle het die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 8:17). Die Bybel maak iets wat baie mense nie verstaan nie, baie duidelik – dat God handoplegging deur Sy ware dienaars gebruik om diegene wat hul werklik bekeer het, die Heilige Gees deelagtig te maak.

Dit is belangrik om te onthou dat doop en die gevolglike ontvangs van die Heilige Gees (die omgekeerde volgorde in die geval van Cornelius en sy huishouding was uitsonderlik berei om God se doel te demonstreer) aan Christene gegee word ter voorbereiding vir ’n glorieryke lotsbestemming. Die apostel Paulus het dit so gestel: “Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het” (2 Korinthiërs 5:5). Die woord “onderpand” beteken “waarborg”, “paaiement” of “goedstaan”. God se Heilige Gees wat gegee word tydens doop na handoplegging deur ’n leraar, is ’n voorloper of ’n paaiement van iets baie groter wat nog moet kom – ingang in die geestelike huisgesin van God tydens Christus se wederkoms (Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, vra asseblief vir ons gratis boekie: U uiteindelike lotsbestemming)! Niemand kan in God se Koninkryk en Sy geestelike huisgesin ingaan tensy God se Heilige Gees nie heel eerste gegee is nie. Die Heilige Gees word dan slegs gegee na ware bekering en doop.

Dus, baie jare ná Cornelius, hoe kan ons in ons dag seker wees dat hande op ons gelê word deur ’n ware dienaar van Christus? Wat sê die Skrif? Daardie verordening sal uitgevoer word deur ’n manlike persoon (1 Korinthiërs 14:35; 1 Timotheüs 2:12). Hy sal ’n ingeseënde leraar van Jesus Christus wees, of sal optree onder die direkte toesig van so ’n leraar (Handelinge 8:14-19, 19:6; 2 Timotheüs 1:6). Hy sal andere leer en self daarna streef om volgens “elke woord van God” te leef (Lukas 4:4) – insluitende onderhouding van God se weeklikse en jaarlikse Sabbatte en die Tien Gebooie. Hy sal waarlik onderdanig aan God wees (1 Timotheüs 3:1-7; 4:12-16; Romeine 6:1-6). Ten laaste sal hy “God se plan” duidelik verstaan en dit aktief leer aan diegene wat deur God geroep word (Markus 16:15).

Die opwindende waarheid is dat ons ná bekering, doop en ontvangs van God se Heilige Gees, die deposito van God se Gees in ons het – ons het waarlik die weg begin bewandel van oorwinning wat uiteindelik sal lei tot die Koninkryk van God! “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7). Die woord “seun” in hierdie verband beteken ook “kind”. Dus, diegene wat oorwin sal alle dinge beërf en God se kinders genoem word!

Wat het die apostel Johannes bedoel toe hy geskryf het dat Christene “alle dinge sal beërf”? Kyk rond in hierdie natuurlike wêreld. Kyk op na die sterre in die hemele. Kyk na die berge, die seë, die bome en die riviere. Alles wat gemaak is, behoort aan ons groot Skeppergod. Wanneer ons ook as Sy kinders, alle dinge beërf, sal dit alles ook aan ons behoort! Dit is die plan van ons groot en liefdevolle Vader in die hemel en Sy Seun, Jesus Christus.

Die einde van die saak

God het die Heilige Bybel geïnspireer sodat ons meer van Hom en Sy verwagtings vir ons kan leer. Die Bybel omskryf duidelik die leerstellings wat God se ware Kerk behoort te glo en beoefen. God laat ons nie toe om te kies watter aspekte van Sy waarheid ons wil behou nie. Hy sê nie: “Jy mag slegs behou wat vir jou gerieflik is, want Ek weet hoe moeilik dit vir jou is” nie. God verwag van ons om Sy wil te doen en om volgens “elke woord” van Hom te leef (Lukas 4:4). Hy belowe om ons te vergoed vir daardie gehoorsaamheid.

God beveel duidelik dat ons ons moet bekeer en laat doop, ten einde die gawe van die Heilige Gees te ontvang – indien ons eendag deel van Sy Koninkryk wil wees. Sonder ware bekering en behoorlike doop kan ons sondes en die straf daarvoor nie weggewas word nie. Ons moet “ons hart aan die Here Jesus Christus gee” en onderneem om volgens Sy leerstellings te leef. Om egter te leef soos Hy ons leer, verg ware bekering en die regte manier van doop deur onderdompeling in water. Jesus Christus Self het die voorbeeld gestel. Bekering en doop is die beginpunt van die weg na die Koninkryk van God. Hulle dui ’n verandering in ons lewe aan, wat selfs ons vriende en familie positief sal beïnvloed en ons uiteindelik sal toelaat om met Christus se wederkoms, God se Koninkryk binne te gaan. God vereis wel doop van ware Christene! Vir meer inligting oor hierdie lewensnoodsaaklike onderwerp kan u gerus aanvra vir ons gratis boekie, Behoort u Gedoop te word?