Baie mense sê dat ’n mens niks hoef te doen om gered te word nie. “Kom net soos jy is en aanvaar Jesus”. Sommiges sal sê: Al wat jy hoef te doen is om te “glo” - dat enigiets meer sou neerkom daarop dat jy redding deur werke soek. Is dit wat u Bybel werklik sê?


Op ’n stadium in u lewe het iemand waarskynlik al vir u die vraag gevra: “Is u gered?” Wat was u antwoord? Ons weet dat almal wat reageer op God se roeping en wat hulle werklik bekeer en gedoop word, se sondes sal hulle vergewe word en hulle sal die gawe van die Heilige Gees gegee word - die geestelike krag wat hulle in staat sal stel om ’n nuwe lewe te lei. Wat beteken dit om werklik te reageer op God se roeping?

Op Pinksterdag in 31 n.C. in die eerste geïnspireerde preek van die Nuwe Testamentiese Kerk het die apostel Petrus in Jerusalem gepraat met ’n paar duisend mense waarna hulle oortuig geraak het van hulle aandeel in die dood van die Messias, Jesus Christus. Duisende het vir Petrus en die ander Apostels gevra: “Wat moet ons doen, broeders?” (Hand. 2:37).

Hier was ’n geleentheid vir Petrus om vir hulle te sê dat hulle niks hoef te doen nie, maar wat het hy werklik gesê? “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Hand. 2:38).

Petrus het vir hulle wonderlik nuus gegee - dat hulle hul sondes vergewe kon word en die gawe van die Heilige Gees kon ontvang. Hy het egter op twee punte aangedring - dat hulle hul bekeer en dat hul gedoop word. Indien u na Petrus geluister het en berou gehad het oor u aandeel in Christus se dood en u lewe wou verander en vergifnis ontvang, wat sou u gedoen het? Sou u met Petrus geargumenteer het: “Ek sal my nie bekeer nie! Ek sal nie gedoop word nie! Dit is werke en ek hoef my redding nie te verdien nie!”? Indien u dit gedoen het, sou u teen God se eenvoudige opdragte geargumenteer het, insluitend basiese NuweTestamentiese leringe.

Natuurlik kan niemand redding verdien nie, maar ’n doelbewuste ongehoorsaamheid van God se opdragte is ’n besliste teken dat u nie werklik berou het of waarlik bekeer is nie.

Hoe het die skare gereageer op hierdie eerste Pinksterdag in die NuweTestamentiese Kerk? Die Skrif deel die wonderlik nuus. “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring. En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede” (Hand. 2:41-42).

Op daardie dag het 3,000 berouvolle nuwe Christene God se opdrag gehoorsaam - hulle het hulle bekeer en is gedoop. Hulle het gemaak soos Jesus alle Christene gesê het om te doen: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark 1:14-15).

Jesus het hier twee vereistes gestel - vereistes waarmee baie mense nie saamstem nie. Sommiges wil “gered” word maar ignoreer die kwessie van bekering. Wat is bekering? Die Griekse woord wat as “bekering” vertaal word, is metanoeo, wat beteken “om anders te dink”. Ons moet van ons sonde bekeer, maar wat is sonde? “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Joh. 3:4). The Nuwe Vertaling stel dit duidelik - “sonde is die oortreding van die wet”. Wanneer u een van die Tien Gebooie oortree, het u gesondig. Soos die apostel Jakobus skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jak. 2:10-12).

Wanneer ons van ons sondes bekeer, is ons opreg jammer dat ons God se wet oortree het. Ons het nie meer ’n vyandige houding teenoor God en Sy wet van vrymaking nie. Ons het nie meer ’n menslike gesindheid wat vyandiggesind teenoor God is nie (Rom. 8:7). Na bekering wil ons in harmonie wees met God se wet van liefde - die Tien Gebooie. Bekering bring ’n groot verandering in ons denke mee en ’n verbintenis om te leef volgens elke woord van God. Soos Jesus sê: “Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4).

Bekering is méér as ’n intellektuele bewustheid van sonde. Werklike bekering lei tot ’n diepe berou oor ons sondes. Dink aan die vrou wat Jesus se voete met haar trane gewas het (Luk. 7:38). Dít is ’n diepe bekering.

Daar is ook ’n wêreldse berou wat nie ware bekering is nie. Kyk hoe Paulus erkenning gee aan die Korintiërs se bekering: “Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Kor. 7:9-10).

Sommige misdadigers spreek wêreldse berou uit en sê dat hulle jammer is oor hulle misdade (of sondes) terwyl hulle eintlik in hulle binneste dink: “Ek is jammer dat ek gevang is” of “ek’s jammer oor die skuldgevoel wat ek het of die straf wat ek uitdien vir my misdaad, maar as ek die kans kry om weer ’n misdryf te pleeg, sál ek”. Dit is nie net kriminele wat hierdie wêreldse berou het nie. Baie mense wat verslaaf geraak het aan sekssondes, alkohol of dwelmmisbruik of ander ongesonde gewoontes mag jammer voel. Sonder ’n werklike verandering egter, en sonder gedragsverandering, sal hulle voortgesette sonde tot die dood lei! Die berou van die wêreld bring die dood mee.

Goddelike berou - ware bekering - bring ander, beter vrugte. Let op die eienskappe soos in die Bybel beskryf: “Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God - wat ’n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is” (2 Kor. 7:11).

Diegene wat werklik berou gehad het, dink anders en tree anders op. Hulle is ernstig in hulle verbintenis om hulle lewens te verander! Sodanige individue sal werklik dramatiese veranderinge maak! Onthou u wat Johannes die Doper vir die Fariseërs en Saduseërs gesê het wat na sy doop gekom het? “En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes. Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Mat. 3:5-8).

Indien ons voortgaan om sonde te doen sonder enige verandering in ons gesindheid of lewe, is daar nie opregte berou nie. Psalm 51 is Dawid se erkenning van sy sonde, om daardie Psalm te lees, sal u help. Let daarop dat Dawid nie vir “geregtigheid” gevra het nie! Geregtigheid vir Dawid sou die doodstraf beteken het. “Die loon van die sonde is die dood” vir ons almal (Rom. 6:23)! In sy berouvolle gesindheid het Dawid vir genade gevra. “Vir die musiekleier. ’n Psalm van Dawid, toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het” (Psalm 51:1-2).

Dawid het sy sonde erken. Hy het ernstig tot God gebid om hom rein te maak. Het u al ooit so gebid? “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde” (verse 3-4).

Hoe het Dawid “slegs” teen God gesondig? Dawid het owerspel gepleeg met Bátseba. Hy het Bátseba se soldaat-man Uriana na die frontlinie gestuur om gedood te word. Sekerlik het Dawid teen hulle “gesondig”, maar God het gesê: “Jy mag nie doodslaan nie. Jy mag nie egbreek nie” (Eks. 20:13-14). Dawid het gesondig teen die Wetgewer en het onder God se doodstraf gekom.

Dawid se berou stel ’n voorbeeld vir ons almal. Ons het almal daardie nederige en berouvolle gesindheid nodig! “Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig” (Psalm 51:17).

Nadat ons tot die punt van berou gekom het soos Dawid, én ons God se opdrag gehoorsaam om gedoop te word, word al ons vorige sondes ons vergewe en begin ons om ’n nuwe lewe te lei. Hoe moet ons dan voortgaan om te reageer op die onverdiende vergifnis en genade wat God ons gegee het? Let wel: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:1-2). Moet ’n nuut verwekte Christen vir wie God vergewe en genade toegestaan het (onverdiende vergifnis en verskoning) voortgaan om God se wet te oortree en aan God ongehoorsaam te wees? Paulus sê duidelik: “Stellig nie!” Die Bybelse getuienis is oorweldigend. Ons kan nie voortgaan om ongehoorsaam te wees aan God en die gawe van vergifnis ontvang nie. Paulus het gewerk met vals Christene wat probeer het - soos baie vandag - om genade as ’n lisensie vir sonde aan te wend!

Die apostel Judas het ook hierdie onbybelse benadering tot genade verdoem. “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 4). Die Nuwe Vertaling stel dit dat “… goddelose mense … misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe …” Hoeveel belydende Christene van vandag doen presies dit? Diegene wat die genade van God verdraai sê deur hulle gedrag: “Ons is vry om die Tien Gebooie te verbreek; ons het nie nodig om aan God gehoorsaam te wees en Sy gebooie te onderhou nie!” Dit is verkeerd! Daardie vorm van bekering is wêrelds, nie opregte bekering nie! Die waarheid is dat dit ’n uitdrukking van liefde is om God se gebooie te onderhou. Die eerste vier gebooie wys ons hoe om God lief te hê en die laaste ses gebooie wys ons hoe om ons naaste lief te hê. Soos die apostel Johannes skryf: “Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3).

Soos die apostel Paulus dit dus sterk uitgedruk het, kan ons nie voortgaan om onder die genade te leef indien ons terselftertyd sondig nie. Geen waarlik bekeerde Christen sal sonde wil beoefen terwyl hy op genade aanspraak maak nie. Die ware Christen het “in homself gesterf” by die doop soos Paulus verduidelik: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel” (Rom. 6:3-4).

U Bybel onthul God se fantastiese plan van redding. Redding is ’n gratis gawe wat ons nooit kan verdien nie. Die meeste Bybelstudente ken een van die mees fundamentele verse oor dié onderwerp wat lui: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Ef. 2:8-9). Let wel dat God se genade ’n gawe is maar geloof vir redding is ook ’n gawe van God! Vers 10 word ook dikwels oor die hoof gesien deur diegene wat genade omdraai as ’n lisensie tot sonde: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10). Ons reaksie op God se genade bring goeie werke mee en ons wandel daarin; dit beteken ons lewer voortdurend goeie werke. Ons moet die vrugte van ware Christenskap in ons lewens uitdra.

Ons kan nie geestelik groei sonder God se Gees nie. Soos ons gelees het, gee God aan ’n berouvolle sondaar die gawe van die Heilige Gees na die doop. Neem kennis dat hierdie gawe van God se Gees gegee word met die oplegging van hande deur God se ware dienaars. Die Apostels “het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang” (Hand. 8:17). Die Heilige Gees is die geestelike krag van God wat ons as Sy kinders verwek en wat ons bemagtig om geestelik te groei.

Ons het die Heilige Gees nodig om die negatiewe versoekings van die menslike aard te oorwin. Paulus beskryf sy stryd met die menslike aard: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde” (Rom. 7:25-26).

Kyk na Paulus se gesindheid van gehoorsaamheid. Sal God Sy Heilige Gees gee aan diegene wat ’n gesindheid het van ongehoorsaamheid? Nee, Hy sal nie! Soos Petrus duidelik gesê het: “En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Hand. 5:32). God sal nie die gawe van die Heilige Gees gee aan diegene met ’n gesindheid van ongehoorsaamheid nie.

Petrus en die Apostels het deurentyd ’n gesindheid van gehoorsaamheid aan God gedemonstreer. Let op na Petrus se waagmoed toe hy die Jode se Sanhedrin toegespreek het. Hierdie raad het die Apostels verbied om in die naam van Jesus te preek. Wat was hulle reaksie? “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand. 5:29).

Een van die temas van die Bybel, vanaf Genesis tot Openbaring, is dat gehoorsaamheid aan God seëninge meebring terwyl ongehoorsaamheid aan God vervloekinge meebring. U kan God se wonderlike seëninge ontvang en ook Sy gawe van ewige lewe deur Jesus Christus ons Here. God sal egter slegs Sy spesiale geestelike seëninge gee aan diegene wat gewillig is om hulle te bekeer, te glo en Hom te gehoorsaam. Soos Petrus skryf: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18).

Jesus Christus is ons lewende Saligmaker. Ons sal gered word deur Sy lewe! (Rom. 5:10). Ek bid dat u ook sal deelneem in God se wonderlike plan van redding.