Wat is die werklike betekenis van die huidige aanval op God en godsdiens deur strydlustige ateïste? Waarheen lei dit?

Gedurende die afgelope paar jaar het ’n handjievol ateïste ’n frontaanval geloods op God en godsdiens – veral teen die Christendom en die Bybel. Hulle doelbewuste aanval op godsdienstige geloof is merkwaardig omdat dit die lesse van die geskiedenis en die ontdekkings van die moderne wetenskap ignoreer! Die doelbewuste uitdagende boeke deur ’n dierkundige van Oxford, Richard Dawkins, en die Amerikaanse skrywer Sam Harris, het die duidelike boodskap, “enigiets is toelaatbaar, anti-godsdienstige polemiek is daarop uit om elke verskynsel van geloof uit te wis” (Christian Science Monitor, 4 Januarie 2007). Dawkins, ’n toegewyde dissipel van Darwinistiese ewolusie, is al die “hoëpriester van moderne ateïsme” genoem. Hy verklaar dat hy “God, alle gode, enigiets en alles wat bonatuurlik is, wat ook al en waar ook al dit was of nog uitgedink gaan word, aanval” (The God Delusion, bl. 36). Harris verklaar op dieselfde trant: “Ek het ten doel om die intellektuele en morele verwaandheid van Christendom uit te wis” (Letter to a Christian Nation, bl. ix).

Dit is egter verstommend dat, terwyl hierdie skrywers desperaat die vlag van ateïsme rondswaai en daarop aanspraak maak dat geloof in materialisme en ewolusie die enigste rasionele gevolgtrekking is vir enige denkende mens, ons tans ’n wêreldwye oplewing in godsdiensbelangstelling en –aktiwiteit sien! Die verskynsel van sodanige doelbewuste aanvalle op die God van die Bybel – in ’n tyd van toenemende geweld op die wêreldtoneel, toenemende kommer oor die planeet se klimaatsveranderinge en die wêreldwye oplewing van godsdienstige aktiwiteit – is veelseggend op allerlei wyses, wat min mense besef. Die Bybel werp meer lig en verduidelik wat onderliggend is aan die oplewing in godsdiens en die skeptiese aanvalle op God, Christendom en die Bybel – en waarheen dit lei. Voordat u misleidende idees en argumente aanvaar, moet u verstaan waaromhierdie kwessies vandag opduik!

Ongegronde idees

Moderne ateïste bevorder graag die idee dat hulle anti-godsdienstige sienswyses wetenskaplik en intellektueel volwasse is en gebaseer is op soliede, onbetwisbare bewyse. Vanuit so ’n veronderstelling sou ’n mens verwag dat hulle boeke oorlaai sou wees met feite en onweerlegbare inligting wat met groot omsigtigheid aangebied word. In plaas daarvan word lesers gepeper met ’n konstante stroom ongegronde aannames, onbevestigde verklarings, vals inligting, ouderwetse argumente, gewaagde veronderstellings, openlike bespottings en foutiewe gevolgtrekkings. Dawkins beaam Sigmund Freud se mening wat godsdiens beskou het as ’n illusie, ’n kinderagtige misleiding en ’n soort geestelike versteurdheid. Verder beaam hy Karl Marx se opinie wat godsdiens beskryf het as “die opium van die gewone mens”. Daarom beskou Dawkins geloof in ’n bonatuurlike god as “misleidend”, en beskryf hy godsdiens as “die algemeenste vorm van bygelowigheid” en as “’n virus van die denke” (Dawkins, bll. 5, 15, 67, 186). Ouers wat hulle kinders leer van God is volgens Dawkins, skuldig aan breinspoeling en kindermishandeling! Hy voer aan, soos ander ateïste: “Diegene wat in God glo is dus oneerlik, mislei, of onnosel” omdat hulle ’n “idiotiese Middeleeuse bygeloof volg”.

Dawkins se boek The God Delusion word aangeskryf as “skrander … dapper … verfrissend … verpletter pogings van godsdiensleiers om die bestaan van God te bewys”. Maar, by nadere en kritiese ondersoek, blyk die ammunisie wat Dawkins gebruik teen godsdiens en geloof in God bloot “rubberkoeëls” te wees wat afgevuur word deur akademici in hulle ivoortorings – wat ’n swak begrip het van die onderwerp wat hulle aanval. Altemit is die “godslasteringuitdaging” wat die huidige ateïstiese aanval kenmerk en geloods word teen jongmense, die astrantste poging nog in swak smaak. ’n Internetgroep nooi jongmense uit om “video’s te maak waarin hulle geloof in die ‘hemelgod van die Christendom’ verwerp en dit dan op die webblad laai” om te dien as ’n manier vir mense om hulle ongeloof te verkondig en ander mense so aan te moedig om dit ook te doen” (Christian Science Monitor, 4 Januarie 2007).

“Teologie-uitdagende” skrywers

Talle kritici bevraagteken die argumente en inligting wat die aggressiewe ateïs-skrywers aanbied. Alister McGrath is ’n professor in Geskiedkundige Teologie aan die Universiteit van Oxford en ’n wêreldbekende teoloog wat ook ’n doktorsgraad in molekulêre biofisika verwerf het. Hy skryf: “Om dit reguit te stel, Dawkins se betrokkenheid by teologie is oppervlakkig en vol foute, dikwels is dit bloot ’n kleinlike poging om punte te wen” (Dawkins’ God, bl. 83). McGrath bestempel Dawkins se definisie van geloof, naamlik “blinde vertroue in die afwesigheid van bewyse”, as totale snert omdat dit slegs “Dawkins se eie definisie is, wat hy opdis met sy eie agenda in gedagte” (ibid., bl. 85). Harris is ’n voorstander van soortgelyke idees oor die “onnoselheid” van godsdienstige geloof. McGrath gee dan ’n definisie van geloof wat deur teoloë aanvaar word: “Die oortuiging van die denke gebaseer op voldoende bewyse” (ibid., bl. 86). Dit sluit aan by die Bybelse definisie van geloof: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1). Ware geloof is nie blinde geloof nie – dit is geloof wat gebaseer is op grondige bewyse! McGrath kritiseer Dawkins as iemand “wat niks weet van die Christelike teologie nie maar kop-eerste daarin storm … Dawkins faal geheel en al daarin om selfs te begin verstaan wat die Christelike teologie se taalgebruik bedoel” (Dawkins’ God, bl. 99). Dieselfde kritiek is van toepassing op andere wat die moderne aanval loods op God, godsdiens en die Bybel – hulle verstaan eenvoudig nie die onderwerp wat hulle probeer aanval nie!

Dawkins gebruik dikwels belaglikhede in sy pogings om te bewys dat daar geen God is nie. Hy beweer dat die bestaan van God so werklik is as “die tandemuis” of “die tokkelossie” (vgl. Dawkins, bl. 52-53). Op sy oordadige en oneerbiedige manier voer Dawkins aan: “Die God van die Ou Testament is ongetwyfeld die onaangenaamste karakter in alle fiksie: Jaloers en trots daarop; ’n kleinlike, onvergewensgesinde kontroleboef; ’n wraaksugtige, bloeddorstige etniese suiweraar … homofobies, rassisties … kwaadwillige boelie … psigotiese misdadiger … die monster van die Bybel” (ibid., bll. 31, 38, 45). Hierdie hatige kritiek, weerlê egter glad nie die bestaan van God nie. Inteendeel, die feit word nie raakgesien hoe die God van die Bybel die mens eintlik uitdaag om te bewys dat Hy wel bestaan nie (sien Maleagi 3:8-10). Terwyl Dawkins aanvoer dat baie van die tradisionele “bewyse” van God swak is, is sy eie argumente dikwels sonder substansie. Ongelukkig aanvaar of verwerp baie mense vandag die idee van God sonder om indringend ondersoek in te stel na enige bewyse.

Die ateïstiese aanval op die Bybel toon ’n onvermoë om die Skrif te verstaan en ’n onkunde oor geskiedkundige bewyse. Harris beskou die idee dat die Bybel goddelik geïnspireer is as “vals” en “absurd” (Letter to a Christian Nation, bll. 5-8). Hy sien glad nie al die bewyse raak dat die Bybel ’n algehele unieke teks is nie. Hy haal voorbeelde aan buite Skriftuurlike konteks en beweer dan dat die Bybel “deurmekaar is en teenstrydighede bevat” (ibid., bl. 11). Hy sê dat “die Evangelies mekaar weerspreek” (ibid., bl. 58), maar meld glad nie dat verskillende skrywers in die Evangelies eintlik dieselfde gebeure beskryf nie – hulle vul mekaar dus in werklikheid aan. ’n Mens verwag immers dat verskillende skrywers verskillende besonderhede sal beskryf. Hy maak daarop aanspraak dat die Nuwe-Testamentiese skrywers die gebeure van Jesus se lewe maak pas op die profesieë van die Ou-Testament (ibid., bl. 57), maar hy bly in gebreke om te verduidelik waarom derduisende Jode Jesus erken het as die vervulling van profesie – insluitend die feit dat Jesus sigbaar uit die dode opgestaan het. Dié aspekte is reeds honderde jare lank in die Skrif vervat (Handelinge 2:22-41).

Harris verwerp die idee dat profesie geïnspireer is omdat die Bybel nie sulke nuwighede soos elektrisiteit en rekenaars voorspel nie (Letter to a Christian Nation, bll. 60-61), maar hy noem nie hoe die Bybel profetiese beloftes bevat wat die toekoms van Abraham se afstammelinge beskryf lank voordat hulle op die toneel verskyn nie. Vir meer inligting oor hierdie belangrike onderwerp kan u gerus ons gratis boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? aanvra. Harris laat ook na om te noem dat die gesondheidswette wat Moses opgeteken het, uniek is en ver voor hulle tyd was nie. Harris toon duidelik sy onkunde rakende vergelykende godsdiens wanneer hy sommer die Bybel onder dieselfde kam skeer as ander godsdienstige boeke wat “voorgee hulle is van goddelike outeurskap” (Letter to a Christian Nation, bl. 79), maar hy versuim om te erken hoe die Bybel verskil van ander godsdienstige boeke. Harris weet eenvoudig bitter min van die onderwerp wat hy wil verpletter!

Uitgesproke en aggressief beskryf Dawkins se soortgelyke skandalige en ongegronde veronderstellings wat die teenoorgestelde is van bestaande bewyse. Hy voer aan dat die evangelies “antieke fiksie” is, op dieselfde vlak as die legendes van Koning Arthur en sy Ridders van die Ronde Tafel. Hy is van mening dat die Apostels nooit vir Jesus ontmoet het nie, dat Jesus moontlik nooit gelewe het nie en dat Dawid moontlik ook nooit gelewe het nie (Dawkins, bll. 93-97). Dawkins versuim egter om Petrus se aanspraak daarop te noem dat hy en die ander Apostels “ooggetuies” was van die gebeure wat hulle opgeteken het aangaande Jesus se lewe (2 Petrus 1:16), of dat geskiedskrywers in die Romeinse tyd na Jesus verwys het (sien Tacitus, The Annals, xv:44; Seutonius, Life of Claudius, xxv:4; Josephus, Antiquities of the Jews, XVIII.iii.3). Dawkins is blykbaar onbewus van die ontdekking van ’n verwysing uit die negende eeu v.C. na die “huis van Dawid” (Is the Bible True?, Sheler, bl. 60). Dawkins beweer “die evangelies is nie betroubare weergawes van wat in die geskiedenis van die regte wêreld gebeur het nie” en dat “almal geskryf is lank na Jesus se dood” sodat daar “groot onsekerheid” heers oor die tekse van die Nuwe-Testament (Dawkins, bll. 92-95).

Dawkins verkies egter om slegs aan te haal uit die werk van liberale teoloë wat twyfel oor die Bybel. Hy noem ook nie dat mense en plekke waarna die Bybel verwys reeds dramaties bevestig is deur die geskiedenis en argeologie, of dat die boeke van die Nuwe Testament in die leeftyd van die Apostels geskryf is nie (Sheler, bl. 33; Baker Encyclopedia of Christian Apologetics, Geisler, bl. 520). Hy noem verder ook nie dat bewyse uit etlike manuskripte bevestig dat “die teksinhoud van die Bybel waar is … Dit kan nie gesê word van enige ander antieke boek in die wêreld nie” (Evidence that Demands a Verdict, McDowell, bll. 44-45).

Bedrog en verlore bewyse

Agressiewe ateïste is dikwels vinnig om godsdienstige gelowe soos die idee van die vagevuur en die aanname dat die aarde slegs 6 000 jaar oud is, aan te val. Net soos Charles Darwin deins vandag se ateïste ook terug van die idee van ’n god wat die “verdoemende leerstelling” voorstaan waar mense vir ewig brand in die vuur van die Hel (Dawkins’ God, bll. 74-75). Maar, sodanige “godsdienstige” idees is egter nie te vinde in die Bybel nie! Terwyl hulle tereg uitwys dat daar swak punte is in mensgemaakte godsdiensleerstellings, faal die ateïste egter daarin om die belangrike foute te erken in hulle eie “heilige” leerstelling, naamlik die teorie van Darwinistiese ewolusie.

Daar is baie sulke foute. Jonathan Wells, met ’n doktorsgraad in godsdiensstudies van die Universiteit van Yale en nog een in molekulêre biologie van die Universiteit van Californië in Berkeley, beskryf in ’n baie insiggewende boek hoe die “hoofbewyse” in ewolusie “op die een of ander wyse die waarheid verdraai”. Wells toon aan dat die meeste van die “oorweldigende bewyse” vir Darwin se teorie van ewolusie “vals of misleidend” is (Icons of Evolution, bll. 7-8). Hy verduidelik hoe foutief die eksperimente vir die veronderstelde “oorsprong van lewe” was en dat dit nie naastenby iets soos lewe kon produseer nie. Hy wys verder, in teenstelling met die ewolusieteorie, dat alle lewe vanuit eenvoudige organismes ontwikkel het tot komplekse organismes, dat ware fossiele in die oudste Cambriese rotse toon dat komplekse lewensvorme skielik ontstaan het, ten volle gevorm en sonder ewolusievoorouers – dié sogenaamde “Cambriese ontploffing” wat selfs vir Darwin ’n erkende probleem vir sy teorie was (ibid., bll. 35-39).

Wells wys daarop dat Darwin se idee van ’n “boom van die lewe met sy vertakkings,” wat uitbeeld hoe lewe ontwikkel het van ’n enkele voorouer, vandag grootliks betwyfel word. Hy wys hoe die variasie in die bekstruktuur van Darwin se vinke op die Galapagos Eilande, en die kleure van spikkelmotte in Engeland, eintlik net voorbeelde is van variasies binne ’n spesie en nie ’n bewys is dat ewolusie nuwe spesies kan voortbring nie. Wells wys daarop dat paleontoloë nie meer glo Archaeopteryx is die voorouer van moderne voëls nie – vroeër is dit beskou as “die byna volmaakte skakel tussen reptiele en voëls” (ibid., bll. 112-114). Wells wys verder hoe ’n ander sogenaamde “ontbrekende skakel” tussen reptiele en voëls – die Archaeoraptor fossiel wat uit China gesmokkel is – nou ook ontbloot is as ’n kullery. Wells verduidelik ook verder hoe ’n ander moontlike “skakel,” genaamd Bambiraptor, uitgebeeld is met hare en vere, “maar daar is niks by die fossiel gevind wat naastenby soos vere is nie. Die uitsteeksels soos hare en die vere is bloot verbeelding” (ibid., bll. 126-129). Hy haal ’n voëlkundige aan wat voorspel dat die dinosourus-tot-voël teorie uiteindelik die “grootste verleentheid vir palentologie in die 20ste eeu sal wees” (ibid., bl. 130).

Wells wys ook daarop dat die wyd gepubliseerde tekeninge wat die embrioloog Ernst Haeckel in die 1890’s gemaak het – wat Darwin aanvaar het as oortuigende bewys vir sy ewolusieteorie – deur Haeckel “gedokter” is om ooreenkomste te toon wat nie bestaan nie, en oopgevlek is as “een van die beroemdste vervalsings in biologie” (ibid., bll. 90-92). Wells kom tot die slotsom dat die “ikone” wat veronderstel is om die sterkste bewyse vir ewolusie te wees eintlik “die bewyse verdraai” – en dat sommige daarvan in werklikheid bedrieëry is (ibid., bl. 229).

Ateïste soos Dawkins gryp nogtans Darwin se ewolusie aan omdat dit die enigste manier is waarop hulle kan verduidelik waarom die mens hier is sonder om enige melding te maak van God. Ware aanhangers van Darwinisme weier eenvoudig om enige ander verduideliking te aanvaar waarom die wêreld is soos dit is – ten spyte van die bewyse, of gebrek aan bewyse. Dit is waarom Darwinisme beskou word as “die grootste werktuig van ateïsme wat die mens uitgedink het”. Tog wys ateïsme, en die Darwinistiese ewolusie waarop dit gegrond is, albei belangrike tekortkominge uit aan diegene wat die bewyse noukeurig ondersoek.

Krisis van betekenis en doel

Die teologiese geskiedkundige, McGrath, skryf dat een van Darwinisme se belangrikste gevolge is dat “die ewolusieteorie ’n goddelose, doellose wêreld” veroorsaak (The Twilight of Atheism, bl. 108). In Dawkins se eie woorde: “Ná Darwin is daar geen nodigheid om in God te glo nie” en in ’n Darwinistiese wêreld “is daar … geen beplanning, geen doel, geen boosheid en geen goed nie, niks, behalwe blinde, jammerlike onverskilligheid” (Dawkins’ God, bll. 50-51). Darwinisme stel dit dat mense bloot diere is, ongelukke is van die ewolusionêre proses met geen hoër doel as teelkeuse – oorlewing van die sterkste en fikste – nie. McGrath sê: “As daar geen God is nie … dan is daar geen absolute waardes en waarheid nie … geen sonde nie … geen oordeel van sondes nie” en dus geen perke op die mens se optrede nie en geen verantwoordbaarheid nie (ibid., bll. 151, 153). Deur te beweer dat die menslike bestaan geen betekenis of doel het nie en deur absolute waardes te ontken, is die ateïste voorstanders van die idee van bevryding van beperkende sedelike stelsels wat indruis teen seksuele vryhede en mense die reg gee om self te besluit wat goed is (ibid., bl. 152). Maar, die nugter lesse van die afgelope twee honderd jaar se geskiedenis is dat “om God uit die prentjie te laat, is om die laaste bande te breek wat die mens weerhou van onmenslikheid” (ibid., bl. 149).

Teenstrydig met die verwagtings van sekulêre denkers het die laaste helfte van die 20ste eeu die “skemertyd” vir ateïstiese beheer ingelei. Die goddelose idees van Darwin, Marx en Freud – wat Dawkins, Harris en ander ateïste ondersteun – het onder ongunstige kritiek gekom. Dit was nie net die ondergang van “die groot ateïstiese messias-ideologie” van kommunisme nie, maar godsdiens in die Sovjet Unie en Oos-Europa het verseg om dood te gaan (The Revenge of God, Kepler, bl. 191). Vandag sien ons ’n oplewing van “herverchristelikende” bewegings wat opstaan uit die ruïnes van kommunisme – ’n groot skok vir sekulêre intellektuele. Toenemende getalle mense is ontnugter deur die bleek, doellose, toevallige, ateïstiese sekulêre wêreld van die 20ste eeu, en begin hulle weereens wend na godsdiens om ’n gevoel van betekenis, etiek en orde te herwin (ibid., bl. 47). Soos meer as een deskundige dit stel: “Mense het nodig om betekenis en doel in die lewe te vind” (New York Times, 21 November 2006).

Profetiese belangrikheid

Baie mense wat die Bybel bestudeer, is bewus dat profesieë oor die eindtyd ’n periode beskryf van toenemende kommer oor oorlog, geweld, natuurlike rampe en globale omgewingsrampe – wat ons wêreld van vandag baie goed beskryf (Mattheus 24). Daar is egter ook profesieë vir die eindtyd wat lasteraanvalle op God en die Bybel só voorspel: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees ... grootpraters, trotsaards, lasteraars ... kwaadsprekers ... roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-4). Ons kan sodanige Bybelbeskrywing herken in Dawkins se verwysing na God as ’n “tandemuis … psigotiese misdadiger .. die monster van die Bybel”. Harris beweer dat ons nie die sedelike riglyne van die Bybel nodig het nie, en dat ons “eie soeke na geluk” ’n genoegsame riglyn is vir moraliteit (Letter to a Christian Nation, bll. 23-25). Die apostel Petrus waarsku dat “… daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Petrus 3:3-4). Dawkins spot met die idee van God. Harris verkleineer die idee van Jesus se geboorte deur ’n maagd en Sy opstanding en maak dan dié interessante stelling: “As die grondleggende beginsels van die Christendom waar is, dan is daar ’n paar skrikwekkende verrassings wat wag op ongelowiges soos ek” (Letter to a Christian Nation, bl. 5). Vandag, in ons “verligte” en “intellektueel gesofistikeerde” wêreld beskou baie mense homoseksuele en huwelike tussen mense van dieselfde geslag as “goed” en bespot enigiemand wat Bybelse sedes aanmoedig of navolg. Tog waarsku die Bybel: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg ... Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is ... omdat hulle die wet van die Here van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het. Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen Sy volk ...” (Jesaja 5:20-25). Die Bybel wys uitdruklik daarop dat daar ’n tyd van oordeel aan die kom is (Openbaring 11:15-18). Dawkins, Harris en hulle medewerkers het gewis rede om bekommerd te wees!

Talle profesieë praat ook van ’n oplewing in godsdienstige aktiwiteite in die eindtyd. Die apostel Paulus voorspel dat ’n prominente godsdienstige figuur in die eindtyd na vore sal kom en miljoene mense sal mislei met wonderwerke (2 Thessalonisense 2). Die profeet Jesaja voorspel dat hierdie persoon ’n ekumeniese beweging sal aanmoedig waar die “dogterkerke” terugbeweeg na die moederkerk wat voorgee om die enigste ware kerk te wees (Jesaja 47:1-9). Die boek van Openbaring wys ook daarop dat hierdie prominente godsdienstige figuur sal toetree tot die wêreldpolitiek en die herlewing van ’n Europese ryk met wortels in die ou Romeinse Ryk sal bevorder, en dat hierdie herlewing globale gevolge sal hê (Openbaring 13, 17 en 18). Al hierdie gebeure sal plaasvind op ’n tydstip dat ongelowiges venynige aanvalle loods teen God en die Bybel. Natuurlik verwerp Dawkins die boek van Openbaring, want hy noem dit “een van die onheilspellendste boeke in die Bybel” en beweer dat die apostel Johannes “onder die invloed van LSD was” toe hy die boek geskryf het (Dawkins, bll. 257-258). Maar binnekort sal Dawkins se aanvalle se ware kleure ontbloot word en sal die Bybel erken word as die bron van waarheid wat verduidelik wat in ons wêreld aan die gang is en wat in ons toekoms gaan gebeur. As u u Bybel lees, sal u voordurend sien hoe ware Bybelse godsdiens vandag van toepassing is en hoe profeties korrek dit is!