Wat is u beste belegging?

Wát as geld geen probleem was nie? Wie het nog nie hierdie vraag van ’n vriend of kennis gehoor nie? Wat sou u antwoord wees? Sou u besluit om te reis, ’n huis te koop of u verband af te betaal? Sou u “partytjie-mal” word of sal u ’n aansienlike bedrag in die bank belê?

Mense in ons Westerse kultuur bewonder dikwels ander mense wat finansieel suksesvol is. Net omdat iemand geld gemaak het, beteken nie noodwendig dat hulle suksesvol is nie.

Baie mense wat skielik ryk word – in die situasie waar keuses nie beperk word deur ’n gebrek aan geld nie – is net ’n kort tydjie beter daaraan toe. Die voordele wat kom met onverwagte rykdom, duur dikwels nie lank nie.

’n Paar jaar gelede het die skrywer Sheri Masters ’n interessante waarneming gemaak:

Statistieke oor die impak van skielike rykdom is maar donker: Die koers waarteen loterywenners aansoek doen om bankrot verklaar te word binne vyf jaar nadat hulle gewen het, is volgens ’n studie deur ekonome aan die Universiteit van Kentucky, die Universiteit van Pittsburgh en die Vanderbilt Universiteit twee keer meer as dié van die algemene bevolking. Sports Illustrated het berig dat 78% van voormalige NFL-spelers bankrot is of finansiële probleme ondervind binne twee jaar na aftrede. Onderhoude deur die Williams-groep met meer as 2,000 families wat deur boedelbeplanning en die oordrag van hulle rykdom gegaan het, het getoon dat 70% van die gesinne beheer oor hulle bates verloor het – sowel as eensgesindheid in die familie – in die eerste geslag ná die oordrag (Wells Fargo: Conversations, 11 November 2012).

Een aanlyn-hulpbron, Investopedia, het Skielike Rykdom-sindroom gedefinieer as “’n sindroom wat individue wie skielik groot somme geld bekom het, kwel” – soos byvoorbeeld diegene wat die lotto wen. Die definisie gaan voort: “Om skielik ryk te word kan vir ’n individu spanning veroorsaak. Die simptome sluit in: Hulle voel meer geïsoleerd van vorige vriende, skuldgevoelens oor hulle geluk en ’n geweldige vrees om al hulle geld te verloor”.

Sommige individue ervaar selfs vorms van ’n identiteitskrisis, wanneer hulle besluite neem of hulle voel beïnvloed deur kragte en ervarings wat baie anders is as wat hulle ooit verwag het (of waarop hulle voorbereid was) om teë te kom in hulle lewe voordat hulle “onverwags geld” gekry het.

Geld kan ’n seën of ’n vloek wees, afhangende van hoe dit gebruik word. Die misbruik van geld kan beslis lei tot droefheid en tragedie – gevolge wat lank nog bly voortbestaan nadat die geld weg is.

Jesus Christus het raad gegee oor die mens se gesindheid ten opsigte van rykdom. Hy sê: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Uit wat anders behoort u lewe te bestaan?

Daar word gesê dat ’n persoon gewoonlik nie tegelykertyd tyd en geld het nie. Indien u egter ’n mate van rykdom het, dan het u ook ’n mate van tyd. Wat is dan u beste belegging?

In die gewilde musiekblyspel “Fiddler on the Roof” sing die hoofkarakter, Reb Tevye, die liedjie, “If I Were a Rich Man”. Hier is ’n paar van die lirieke: “Indien ek ryk was, sou ek die tyd hê waarvan ek nou te min het om in die sinagoge te sit en bid. En om miskien ’n sitplek te hê by die Oostelike muur. Ek sou ook elke dag die heilige boeke vir ’n hele paar uur met die geleerde manne bespreek. Dit sou die lieflikste ding van alles wees”. Vir Reb Tevye, sou die nastrewing van die beginsels wat in die Heilige Skrif gevind word, die lieflikste ding van alles wees. U kan ook baat vind by dieselfde soort genot.

U beste belegging, ongeag rykdom, word uiteindelik in u Bybel gevind, in ons soeke na die rykdom wat nie met die tyd verminder nie. Soos mnr. Richard Ames in ons Wêreld van Môre beeldsending, “Vital Keys for Bible Study” gesê het: “Die Bybel kan u lewe verander as u weet hoe om dit te bestudeer. Bybelstudie kan opwindend, altyd nuut en relevant wees, indien u die Bybel se eie leiding op u studie toepas”. U mag dalk oorweeg om na die Wêreld van Môre se uitsendings op die YouTube-kanaal te kyk.