“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Mattheüs 28:18-20).


Hierdie bekende gedeelte uit die Evangelie van Mattheüs word dikwels die “Groot Opdrag” genoem. Dit vind weerklank in Markus se Evangelie waar ons lees: “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15).

Te midde van soveel godsdienstige verwarring in ons hedendaagse wêreld, kan hierdie eenvoudige, dog kragtige woorde van Jesus Christus ons help om die Werk van God te verstaan, en ons ook help om te besef dat ons deel is van Sy ware Kerk – die Kerk wat getrou besig is om die dubbele verantwoordelikhede uit te voer deur die ware Evangelie te verkondig en te sorg vir die gelowiges wat God roep as gevolg van daardie verkondiging.

Laat ons eerstens oorweeg: Wat beteken dit om die Evangelie te verkondig? Onthou, die Evangelie – die “goeie nuus” – is Christus se boodskap van die komende Koninkryk van God. Daardie Koninkryk is nie ’n abstrakte gevoel in die hart van die gelowige nie, dit is ’n letterlike Regering wat wêreldvrede sal bring na die planeet Aarde, en sal regeer word deur ’n letterlike Koning – Jesus Christus.

Baie kerke noem Christus “Koning”, maar verkondig nie die waarheid oor Sy letterlike heerskappy nie. Indien ’n Kerk die boodskap oor die Boodskapper beklemtoon, en Sy boodskap oor God se toekomstige Koninkryk verdraai of verwaarloos, dan voer daardie Kerk nie die Groot Opdrag uit nie.

Let vervolgens daarop dat Christus Sy Kerk toevertrou het met die taak om nuwe dissipels te leer “om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”. Hy het nie gesê: “Laat ’n paar van My gebooie uit wat nie meer geldig sal wees in 50 of 100 jaar nie”. Hy het nie gesê: “Vervang My opdragte met teenstrydige opdragte van u eie” nie. Indien ’n kerk nie sy lede leer om Christus se opdragte uit te voer nie, vervul dit nie die Groot Opdrag nie, doen dit nie die werk van God nie en is dit nie God se ware Kerk nie.

Gaan u kerk “die hele wêreld” in om die Evangelie van die Koninkryk van God te verkondig? Dit is wat Christus Sy Kerk beveel het om te doen. Die Bybel toon aan ons hoe dit gedoen was. Dit was nie dat individuele Christene ’n subjektiewe inspirasie gevoel het en besluit het om van hulself “predikers” of “leraars” of “evangeliste” te maak nie. Mense was eerder gekies en verorden deur die bestaande leierskap van die Kerk, en was uitgestuur om spesifieke take uit te voer (Lukas 10:1). God se Kerk is georganiseerd (Efesiërs 4:11).

Dus, indien ’n kerk onder leiding staan van iemand wat “homself verorden” het, kan u seker wees dat dit nie God se ware Kerk is nie, en ook nie besig is met die uitvoering van die Groot Opdrag nie. Dit is egter nie genoeg dat ’n leraar geldig verorden is nie. Gaan sy kerk regtig “die hele wêreld in” om die Evangelie te verkondig? Vandag is daar talle “bedienings” wat ’n webwerf het, of traktate uitdeel in hul gemeenskap, en dink dat dit voldoen aan hul verpligting om “die hele wêreld in” te gaan. Hoewel God aan ons sê dat Sy Kerk ’n “klein kuddetjie” is (Lukas 12:32), het Hy belowe dat die magte van Satan se wêreld dit nie sal oorweldig nie. Indien ’n kerk nie ’n aansienlike gedeelte van sy hulpbronne bestee aan die verkondiging van die ware Evangelie oor die wêreld nie, is dit nie besig met die uitvoering van die Groot Opdrag nie, en kan u seker wees dit is nie God se ware Kerk nie.

Selfs al sou ’n kerk besig wees om die Evangelie in die hele wêreld te verkondig, is daar nog een toets wat u kan uitvoer. Wat sê God is die doel agter die verkondiging van die Evangelie aan die wêreld? Let op: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Die Evangelie moet verkondig word, nie as ’n “siel-werwende” kruistog nie, maar liewer as ’n getuie aan ’n wêreld wat grootliks daardie boodskap verwerp! God probeer nie om “die wêreld nou, hierdie tyd, te red”, soos wat die meeste belydende Christelike kerke verkeerdelik glo nie. Ja, God sal ’n relatief klein groepie mense nou, in hierdie tydperk, tot redding roep as Sy “eerstelinge”, maar die primêre fokus van die Groot Opdrag is op Jesus Christus se waarskuwende boodskap.

God se waarheid, soos geopenbaar in u Bybel, kan duidelik gesien word deur diegene vir wie Hy roep, maar die grootste deel van die wêreld bly vandag blind. Diegene wat verblind is kan net “soek” na die “kerk van hul keuse”. Wanneer God egter mense se oë open, kan hulle self sien waar Sy Waarheid verkondig word, en hulle wil dan deel word van daardie poging om te help om die Groot Opdrag wat Jesus Christus aan Sy dissipels gegee het, uit te voer. Indien u oë oopgemaak word vir die Waarheid wat in hierdie tydskrif, op die Tomorrow’s World TV-uitsendings en by die www.TomorrowsWorld.org of www.wvm.co.za Webtuistes verkondig word, dan mag God besig wees om u in Sy ware Kerk in te roep.