Glo dit of nie, sommige wetenskaplikes beweer dat die seekat nie oorspronklik van die aarde is nie! Wat kan ons van hierdie merkwaardige dier leer?

In Augustus 2015 het die hoogaangeskrewe wetenskapjoernaal Nature ’n verslag oor die eerste ondersoek na ’n seekatgenoom gepubliseer – spesifiek dié van die “tweekol-seekat”-spesie. Om ’n dier se genoom te bepaal, beteken dat die DNS volledig nagegaan word om die besonderhede van sy genetiese kode te bepaal. Hulle was verras deur die kompleksiteit en rangskikking wat hulle van die seekat se kode gevind het. Een van die wetenskaplikes van hierdie studie het geskerts: Dit is die eerste soort DNS rangskikking van ’n genoom eie aan iets soos ’n buite-ruimtelike wese.

Gaan vinnig drie jaar in die toekoms vooruit en ’n verrassende groot groep wetenskaplikes – nie minder as 33 mense nie – uit baie verskillende nasies, vakgebiede en gerespekteerde universiteite – het die grap in ’n ernstige wetenskaplike aanspraak verander.

In die tydskrif Progress in Biophysics and Molecular Biology beweer hierdie wetenskaplikes dat die beste verduideliking vir die bestaan van die seekat ’n buite-aardse wese is. Hulle stel een van twee moontlikhede voor: Óf eenvoudiger inkvis-voorvaders het aanvullende, ten volle funksionerende genetiese materiaal van buite-ruimtelike virusse óf die wesens self is as ’n kolonie cryopreserved [bevrore] octopus embryos [bevrore seekat-embrios] in ys na die Aarde gedra deur ysagtige meteore (Cause of Cambrian Explosion – Terrestrial or Cosmic?, Augustus 2018, bl. 11-12).

So dwaas as wat die uitheemse seekat-hipotese vir die meeste mense mag lyk, hoe meer hierdie verstommende en eksotiese dier bestudeer word, hoe meer verwondering wek dit. Kom ons bestee tyd aan dié fassinerende seekat en waardeer hoe God se heerlikheid in hierdie werk van Sy hande vertoon word.

’n Merkwaardige ontwerp

Die merkwaardigste en natuurlik die mees unieke kenmerk van die seekat is sy voorkoms. Alhoewel verskillende soorte seekatte in baie opsigte verskil, is hulle geneig om baie eienskappe te deel.

Een helfte van die seekat se liggaam is sy bultende mantel, wat ’n gespierde bolvormige gedeelte is, waar die dier se organe gevind word. Die ander helfte is saamgestel uit die seekat se agt, tentakelagtige arms, wat elkeen twee rye suiers het. Tussen hierdie twee dele van sy liggaam vind ons die dier se merkwaardige oë. Hulle is van die mees gesofistikeerde van die onderwater koninkryk en soortgelyk aan ons eie oë met hulle kamera-agtige struktuur.

Hierdie is die gedeelte van ’n seekat wat mens sou sien wanneer mens nét onder die wateroppervlakte sou duik, maar om werklik een raak te sien, kan nogal ’n uitdaging wees! Die seekat beskik oor een van die mees ingewikkelde en gevorderde kamoefleerstelsels in alle aspekte van die natuurwêreld. Sy vel bevat tien duisende gespesialiseerde selle wat chromatofore genoem word. Elke chromatofoor bevat drie sakkies kleurpigment en elkeen word fyn en direk deur die seekat se senuweestelsel beheer. Dit gee aan hierdie wese ’n ongelooflik akkurate mate van beheer oor die voorkoms van sy vel. ’n Seekat kan die voorkoms van sand, koraal, rots en selfs die kleure en patrone van ander diere naboots. Bykomende velstrukture, wat papille genoem word, stel die dier in staat om die werklike tekstuur van die omliggende omgewing na te boots asook om die seekat byna ononderskeibaar van sy omgewing te maak.

In vergelyking met die kamoefleervermoëns van hierdie agt-arm wonder, is die verkleurmannetjie ’n blote amateur!

Hierdie vermoëns maak die seekat ’n bekwame en dodelike jagter. Terwyl hy sy prooi op ’n netvormige manier met sy arms omvou, bring die vleisetende waterdier sy ete – miskien ’n krap of kreef – na sy mond wat gevind word waar die arms onder sy kop bymekaarkom. Daar vind ons een van die min harde dele wat die wese met die sagte liggaam besit: Sy papegaai-agtige bek wat sy prooi se dop kan oopbreek en die inwendige deel daarvan dan aan sy stekelrige tong blootstel.

Om uit die greep van die seekat te ontsnap, is nie ’n nietige prestasie nie. Die ontwerp van die arms en suiers van die seekat is ’n wonderwerk! Wetenskaplikes het van die groter suiers gemeet en gevind dat ’n enkele suier 35 pond (16 kilogram) kan oplig. Die gespierde arms self, wat elk 200 tot 300 van hierdie suiers bevat, kan honderde keer die dier se eie gewig trek. Elke suier kan individueel gemanipuleer en beheer word en elkeen het die vermoë om toe te knyp, net soos twee menslike vingers dit kan doen. Die suiers dien ook as sensoriese organe, wat subtiele chemiese seine in die seekat se omgewing opspoor.

Terwyl seekatte geneig is om op hulle arms te vertrou om met gemak oor die oseaanvloer te beweeg, kan hulle ook vinnig van roofdiere af wegvlug, net soos ’n onderwater straler! Hulle kan water in hulle mantel versamel en het die vermoë om daardie water deur ’n buisagtige tregter uit te forseer en sodoende hulleself dan tot 40 km per uur aan te dryf. Wanneer ’n seekat dit doen, kan dit ink uitspuit – in klein uitbarstings wat gevolglik die aandag van lokaas aftrek of in een groot uitbarsting wat ’n donker wolk in die water tot gevolg het. Behalwe dat dit die visie van ’n moontlike roofdier belemmer, bevat die ink ook chemikalieë wat die reuk- en smaaksintuie van die roofdier verwar en sy oë irriteer.

Al hierdie eienskappe maak die seekat een van die mees formidabele diere van die see. Tog, wanneer ons in die water onder sy liggaam sou induik vind ons addisionele merkwaardige kenmerke van sy voorkoms.

Hoogs intelligent en kompleks

Terwyl mense die voordeel van een hart geniet, het seekatte drie. Twee harte is verantwoordelik vir die bloedvloei deur die kieue, terwyl die sentrale hart bloed na sy organe pomp. Asof drie harte nie genoeg is nie, het die seekat nege senuweestelsels!

In verhouding met sy liggaamsgrootte het die seekat een van die grootste breine van die onderwaterwêreld. 60 tot 70% van die seekat se neurone is egter nie in die brein nie, maar is tussen sy arms versprei! Die brein self is die sentrum van uitvoerende funksies en is betrokke by algemene koördinasie, besluitneming, geheue en leerprosesse. Aangesien elk van die agt arms ook onafhanklik funksioneer, kan die seekat delegeer om ’n probleem deur een of meer van sy arms op te los – hy kan byvoorbeeld besig wees met ’n mossel wat moeilik is om oop te kry, terwyl hy sy brein op heeltemal ander kwessies fokus, soos byvoorbeeld om nog ’n prooi te vind of op die uitkyk te wees vir roofdiere.

Die georganiseerde en komplekse senuweestelsel van die seekat maak dit ’n merkwaardig intelligente wese. Dit is al waargeneem dat seekatte met voorwerpe speel en dit lyk asof hulle ’n soort bevrediging daarin vind om raaisels op te los en dinge uitmekaar te haal, met inbegrip van kinderveilige pilbotteltjies. Hulle kan doolhowe ontsyfer en oplossings onthou om dit weer later toe te pas. Indien hulle in ’n houer met ’n deksel wat toegeskroef is geplaas word, is hulle in staat om die deksel van binne af los te skroef om hulleself te bevry. Dit is selfs waargeneem dat hulle gebruik maak van eenvoudige gereedskap. Dit is al waargeneem dat een seekatspesie – die kombers-seekat – die tentakels van die Portugese bloublasie bymekaarmaak en dit as wapens gebruik!

’n Skepping, nie ’n buite-ruimtelike wese nie

Is seekatte buite-ruimtelike wesens op ons planeet? Beslis nie. Baie mense het opgemerk dat, so uitsonderlik as wat seekatte ook al mag voorkom, hulle die basiese genetiese chemie en breë biologiese funksies met die res van lewe op die aarde deel. Dus, hoe bonatuurlik dit ookal mag lyk, is die seekat duidelik ’n skepsel van ons wêreld en nie van ’n ander een nie.

Miskien sal sommige van die wetenskaplikes wat die buite-ruimtelike seekat- referaat geskryf het eendag geïnspireer word om hulle hipotese te hersien en ’n veel meer inspirerende verduideliking te oorweeg. Eerder as om die ontwerp van die seekat aan ’n hipotetiese verre wêreld toe te skryf, behoort ons te erken dat lewe ’n Ontwerper van ontsaglike intelligensie het – ’n Skepper wat klaarblyklik groot vreugde daarin vind om Sy skepping met diversiteit en verskeidenheid te vul. Kom ons hoop dat hierdie wetenskaplikes sal begin om in te sien dat die seekat met die versameling verrassende vermoëns en eienskappe wat dit besit, ’n lewende eerbetoon aan die vindingrykheid en genialiteit van daardie Ontwerper en Skepper is – die God waarvan hulle eie lewens ook getuig.