Indien daar ’n lewe na die dood is, wat is die doel daarvan? U kan weet!


Sal u vir ewig leef? Baie mense glo dat hulle sal, maar het u uself al ooit afgevra: “Vir watter rede?” Is daar ’n groot doel vir die lewe, nou en vir ewig? Is daar ’n rede om te bly leef tot in ewigheid? Indien wel, bevat die Bybel enige leidrade nie net vir die wat van die hiernamaals nie, maar ook vir die waarom?

Die debat oor lewe na die dood woed al vir duisende jare en is vandag nog net so belangrik as eeue gelede. ’n Studie wat in 1991 deur die Internasionale Sosiale Opnameprogram gedoen is, het bevind dat 78 persent Amerikaners glo dat lewe na die dood óf “beslis” óf “waarskynlik” is. Daarteenoor was net 39 persent in Rusland en 14 persent in wat toe as Oos-Duitsland bekend gestaan het, oortuig van ’n hiernamaals. Die opname het bevind dat Amerikaners “meer as 25 persentasiepunte meer geneig was om in die hemel te glo as die Britte en Nieu-Seelanders, en meer as dubbel so geneig was om in die hel te glo”.

Wat glo mense egter gaan hulle in die hiernamaals doen? Sal hulle “eenwording” met die “wêreldsiel” verkry? Sal hulle opperste geluk smaak? Sal hulle eenvoudig net na die heerlikheid van God bly staar? Baie teenstrydige menings bestaan. Ons kan egter verby die menings kyk en uitvind wat God se woord oor die onderwerp te sê het!

Ewige lewe in die vlees?

Vir baie jare al soek wetenskaplikes na maniere om die menslike lewensduur te verleng. Groot vordering is in die laaste eeu gemaak deur beter voeding en gesondheidsorg. Party wetenskaplikes soek egter eintlik na maniere om werklik “ewige lewe” in die vlees te behaal. Aubrey de Grey, stigter van Strategies for Engineering Negligible Senescence, glo dat hy “die sewe oorsake vir veroudering – en sewe soorte molekulêre of sellulêre skade – geïdentifiseer het, wat elk potensieel herstelbaar is deur tegnologie wat reeds bestaan of wat aktief ontwikkel word”.

Ander wetenskaplikes aanvaar die onvermydelikheid van die dood vir die huidige, maar poog om die ontbinding van die liggaam deur kriogenie te voorkom totdat beter tegnologie beskikbaar is. Vir ’n fooi van tussen R192 000 en R240 000 bied die Instituut vir Kriogenika aan om sy lede by hul afsterwe te “vries” in afwagting op beter genesingstegnologie in die toekoms. “Wanneer en indien toekomstige tegnologie dit toelaat, hoop ons ledepasiënte om genees, verjonk, uit die dood opgewek en wakker te word tot ’n grootliks verlengde lewe in jeugdige goeie gesondheid, bevry van siekte of die verouderingsproses”.

Is dit werklik die uiteindelike doel – om bloot fisiese lewe vir honderde jare te verleng? Wat van individue wat deur pyn, hartseer, berou en eensaamheid gefolter word? Die Bybel onthul dat vir die eerste 1,500 jaar of so van die mens se geskiedenis, die lewensduur oor die algemeen eeue lank was. Adam – die eerste geskape mens – het 930 jaar geleef; Set, sy seun, het 912 jaar geleef; Enos het 905 jaar geleef; Kenan 910 jaar; Mahalalel 895 jaar; sy seun Jered, 962 jaar en sy kleinseun Metúsalag, 969 jaar (klaarblyklik is hy in die Vloed oorlede; sien Genesis 5:5-27).

Het hierdie lang lewens Utopië gebring met geluk en tevredenheid vir almal? Was daar vrede regdeur die wêreld? Nee! “Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart” (Genesis 6:5-6). ’n Verlengde lewe beteken op sigself nie ’n vervulde, doelgerigte lewe nie.

Mense het vanselfsprekend ’n natuurlike begeerte om die dood te probeer vermy of te ontglip. Ongeag ons pogings om ewige lewe in die vlees te skep, lees ons egter: “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebreërs 9:27). Die dood is waarlik ’n vyand van die mens (1 Korintiërs 15:26), maar die dood sal uiteindelik vernietig word. Menslike wesens se lotsbestemming is nie om vir ewig in die vlees te leef nie, maar diegene wat uit vrye wil hulle aan God en Sy weë onderwerp,kan vir ewig leef, danksy hul Verlosser, Jesus Christus. Jesus sê, Hy is “die weg, die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6).

Sluit aan by die “wêreldsiel”?

Presies wat is die doel van die ewige lewe? Is dit om op die een of ander wyse aan te sluit (of weer aan te sluit) by ’n kosmiese lewenskrag? Vir baie mense in die Westerse nasies is die idee van ’n “persoonlike” opstanding besig om grond te verloor ten koste van die Oosterse idees van geestelikheid. Boeddhiste glo in deurlopende reïnkarnasies; dít wat volgens skrywer Gregg Stebben “die ingewikkelde pad, deur die een betekenislose lewe na die ander heen, tot by nirwana, ’n toestand van vreugdevolle nietigheid, ’n kosmiese lugleegte”, om “een te wees met die wêreldsiel” (Everything You Need To Know About Religion, bl. 10). Toenemende getalle Amerikaners aanvaar ’n weergawe van hierdie leerstelling. Skrywer Bill Newcott wys daarop dat een onlangse opname getoon het 23 persent van AARP-lede glo in die een of ander vorm van reïnkarnasie. Volgens Jeffrey Burton Russell, professor emeritus in geskiedenis by die Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara, verteenwoordig dit ’n ommekeer in Amerikaanse godsdiensoortuigings. “Indien hierdie studie 50 jaar gelede gedoen was, sou die geloof in reïnkarnasie rondom 1 persent gewees het. Oor die algemeen het die tradisioneel duidelike Christelike visie van die hemel afgeneem, terwyl onduideliker visies aangaande die voortsetting van lewe die plek daarvan ingeneem het” (“Life After Death”, AARPThe Magazine, Sep-Okt 2007).

Die idee om by afsterwe “een te word met die kosmiese essensie”, doen al vir duisende jare die rondte. In antieke tye het party mense geglo dat die siele van hul konings met hul afsterwe die hemelliggame soos die planete, maan en son ingevaar het. “Plutarg sê dat die Egiptiese priesters spesifiek onderrig het ‘dat Kronus, Osiris, Horus en al hul ander hoofgode eenmaal blote mense was, maar nadat hulle gesterf het, het hul siele na een of ander van die hemelliggame gemigreer, en die lewewekkende geeste van hul nuwe hemeltuistes geword’”(The Worship of the Dead, Garnier, bl. 14).

Die Bybel beskryf wel ’n groter eenheid met God, wat die heiliges sal bereik met die opstanding. Jesus Christus het vir Sy dissipels gebid: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees” (Johannes 17:22-23). Mense wat egter geestelike wesens word, sal ook bepaalde geestelike liggame en persoonlikhede hê. Hulle sal nie net deel vorm van ’n stomme, blinde kosmiese krag nie. Die apostel Paulus verduidelik wat sal gebeur met ’n persoon se liggaam wat in ’n graf in die grond begrawe is: “’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam” (1 Korintiërs 15:44).

Die ewige lewe gaan nie net oor omskakeling na ’n ander energie-toestand nie – dit gaan daaroor om ’n werklike, gehoorsame verhouding te hê met ’n werklike, persoonlike God (Johannes 17:3)! Wat sal die heiliges egter vir ’n ewigheid doen?

Om ewig te soek na geluk?

Is die verkryging van geluk moontlik die doel van die ewige lewe? Sal dit die hoogste roeping wees vir dié wat gered is? Baie mense glo so. Wie bepaal egter wat geluk is – en hoe dit bereik word?

Baie mense stel ewigdurende geluk gelyk aan sensuele, aardse genot – goeie kos, mooi besienswaardighede en selfs seksuele bevrediging. Die antieke Iere het geglo dat die goeie mense na hul dood reis na ’n “land van ewigdurende jeug, waar die son nooit agter die wolke is nie en al die Ierse vrouens mooi is” (Stebben, bl. 16). Die Koran beskryf hoe Moslems die ewige lewe deurbring “op gestoffeerde banke, leun hulle agteroor gesig na gesig. Hulle word bedien deur onsterflike jongelinge met skottels, waterbekers en ’n koppie uit ’n suiwer fontein waarvan hulle geen hoofpyn of kranksinnigheid sal kry nie en vrugte wat hulle verkies asook vars vleis van pluimvee soveel as wat hulle begeer. [Daar is ook] mooi meisies met groot, lieflike oë soos verborge pêrels, as beloning vir wat hulle gedoen het” (Sura 56:15-24).

Sensuele genot in die hiernamaals – veral met betrekking tot seks – is ’n idee met wye aanhang. Die skrywer Newcott haal Barnard Kollege se professor van godsdiens, Alan F. Segal aan, wat geskryf het: “Amerikaners beskou die lewe na die dood as ’n baie dinamiese iets. Jy hoor nie juis van engele en vlerke, rondsit op wolke en musiek maak nie ... Hulle praat van humor in die hiernamaals, voortgesette ontwikkeling, verenigde gesinne – net soos ’n aftree-oord met geen finansiële vereistes nie ... ’n Klomp glo dat daar seks in die hiernamaals sal wees en dat dit meer genotvol sal wees”.

Christus het gesê dat die toekoms vir die opgewekte heiliges op die aarde sal wees, nie in die hemel nie, en dat dit opwindend en vervullend sal wees! In die gelykenis van die talente verwys Hy na die Koninkryk van God as die “vreugde van jou heer” (Mattheüs 25:21). In Mattheüs 5:5 leer Hy ons: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” – nie die hemel nie! Openbaring 21 beskryf ’n “nuwe aarde” met die “heilige stad” wat neerdaal na die aarde, om vir ewig die woonplek van God te wees. Na Sy opstanding het Jesus in die menslike vorm aan Sy dissipels verskyn en het selfs ’n maaltyd van vis en heuning saam met hulle geniet (Lukas 24:42).

Die fisiese skepping sal ’n pragtige en genotvolle woonplek vir die opgewekte heiliges wees om saam met God te bly. Maar, om die sintuie te bevredig, sal nie die uiteindelike doel wees van die opgewekte Christene wat op die aarde woon nie! Christus verduidelik, byvoorbeeld, dat seksualiteit nie deel van die opgewekte heiliges se ondervinding sal wees nie. “Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel” (Mattheüs 22:30, verwys ook na Galasiërs 3:26-29).

Om in die Koninkryk van God – onder God se Wette en deur Sy Gees – te leef, sal ’n vreugdevolle ondervinding wees! Geluksaligheid op sigself sal egter nie die uiteindelike mikpunt en doel vir die ewige lewe wees nie.

Staar na heerlikheid vir ewig?

Indien die uiteindelike doel van die ewige lewe nie is om sintuiglike genot te bevredig nie, is dit dan om geestelike geluksaligheid te ondervind deur in God se gesig te staar of om vir altyd op wolke rond te sweef? In 1336 het Pous Benediktus XII die Rooms-Katolieke idee van die hiernamaals so beskryf: “En nadat so ’n intuïtiewe en van aangesig tot aangesig visie en genot begin het of reeds sou begin het vir daardie siele, het dieselfde visie en genot voortgeduur en sal dit voortduur sonder enige onderbreking en sonder einde tot en met die laaste Oordeel en van dan vir ewig” (“Benedictus Deus: On the Beatific Vision of God” The Christian Faith and Doctrinal Documents of the Catholic Church).

Om in God se gesig te kan kyk, sal ’n ontsagwekkende en opwindende ondervinding wees, soos die apostel Johannes verduidelik: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2). Om God die Vader op Sy troon te sien en om Jesus Christus te sien – wie se gesig soos die son skyn – sal verfrissend wees! Sal die heiliges egter eenvoudig net maar sonder ophou, vir alle ewigheid na Hulle staar?

Kommentator Anthony Hoekema merk op: “Die lewe in die hemel klink gewoonweg vervelig, indien sommige van die beskrywings geloofwaardig is ... Hierdie toekomstige lewe word dikwels gesien as ’n ewige bestaan sonder liggame. Daar word ook aan gedink as “daarbo”, iewers in die ruimte, ver verwyder van hierdie aarde – eintlik ’n ontvlugting ... Moet ons dan die ewigheid in die ruimte deurbring, liggaamlose geeste wat van wolk na wolk sweef en eindeloos aan goue harpsnare pluk op ’n eindelose vakansiedag?” (“Heaven: Not Just an Eternal Day Off”, Christianity Today, 20 September 1985).

Die opstanding van die heiliges het tog sekerlik ’n groter doel as om net na God te staar, of om op wolke rond te lê. Wat is daardie doel?

Geskape om te werk!

Om ons geestelike lotsbestemming te verstaan, moet ons die opdrag onthou wat God gegee het toe Hy die eerste mense op die aarde geplaas het. God het ten opsigte van Adam en Eva beslis, “laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:26). Die menslike gesin was die verantwoordelikheid gegee om te heers oor God se skepping – om dit te bestuur. Op sy beurt moes Adam dit “bewerk en bewaak”. Hy en sy nageslag moes help met God se skeppingswerk deur die aarde te verbeter en te verfraai!

Adam het die toets van gehoorsaamheid gefaal en Satan, die Duiwel, was in staat om die hele mensdom te verlei en te verstrik (Openbaring 12:9). Maar, deur die werk van die Messias – Jesus Christus se lewe, offer, opstanding en Wederkoms – sal die Duiwel uiteindelik oorwin word (Openbaring 20:2, 10). Met Christus se Wederkoms sal die aarde terugkeer na ’n duisendjarige Paradysagtige toestand (Jesaja 51:3).

Wie sal God egter gebruik om die aarde te herstel? Die opgewekte heiliges! Die Skrif beskryf hul funksie baie duidelik: “[U] het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). God beveel Sy heiliges ook: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Openbaring 2:25-26).

In die gelykenis van die ponde verduidelik Christus die leierskapspligte wat aan die opgewekte heiliges gegee sal word as ’n beloning vir hulle getroue diens: “En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:16-17). Die heiliges se funksie sal wees om saam met Christus oor die aarde te heers (Openbaring 3:12, 21).

Soos kommentator Hoekema verduidelik: “... Die Ou Testament dui aan dat die uiteindelike lotsbestemming van die mens ’n aardse een is ... Volgens die gelykenis van die talente, was die heer se beloning aan die getroue diensknegte dít: ‘oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel’ (Mattheüs 25:21, 23) Om oor baie goed aangestel te wees, impliseer ’n bedrywige program van administratiewe aktiwiteite ... In hierdie ... gelykenisse behels die beloning wat belowe word nie luilekker rus nie maar diens”.

Wat sal egter gebeur na die algemene opstanding nadat die Millennium – die geprofeteerde duisendjarige Vrederyk van Jesus Christus hier op aarde – verstreke is? (Openbaring 20:4, 12). Wat sal die heiliges doen nadat gehoorsame, bekeerde mense verheerlik is en die verstokte sondaars tot as verbrand is in die poel van vuur? (Maleagi 4:3).

Die Aarde … en daarna!

God het die apostel Paulus geïnspireer om te skryf oor ons uiteindelike lotsbestemming: “Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel” (Hebreërs 2:5-7). Die opgewekte heiliges sal nie net God help om oor die aarde te heers nie; hulle sal ook die engele “oordeel” – regeer, of bestuur (1 Korinthiërs 6:2-3)!

Dit is nie al nie! Paulus skryf verder: “Alle dinge het U onder sy voete gestel” (Hebreërs 2:8). Wat bedoel Paulus met “alle dinge”? Die Griekse woorde wat hier gebruik is, ta pantais alles insluitend en beteken “alles, die algehele” (Strong’s Dictionary). Die Weymouth vertaling gee “alle dinge” dan ook weer as “die heelal”. Alle dinge sal onder die heerskappy van die opgewekte heiliges wat deur God se Koninkryk werk, geplaas word.

Met ander woorde, alhoewel alle dinge – die ganse heelal – tans nog nie onder die mensdom se beheer is nie, sal dit wees (Hebreërs 2:8)! Kan ons dit begryp? Net soos Christus aanvanklik die mens heerskappy gegee het oor die aarde, is Sy uiteindelike doel dat ons oor die ganse heelal sal regeer! Op dieselfde wyse wat ons bedoel was om die aarde te bewerk en te verfraai, het God ons ook geroep om Hom by te staan om die verlate planete regdeur die ontsaglike heelal weer te vorm en te “beplant” (Jesaja 51:16).

Maar, waarom het God die mens geskape om Hom te help om oor die aarde te heers – en oor die heelal?

Sluit aan by die familie-besigheid

Toe God die man en vrou geskape het, het Hy hulle “na Sy beeld geskape” (Genesis 1:27). Terwyl die diere almal volgens die diersoort gemaak is, is die mense volgens die “Godsoort” gemaak! Alle lede van die menslike gesin wat deur God geskape is, kan regtens God se kinders genoem word. Deur die inwoning van die Heilige Gees en deur werklik weer gebore te word, kan menslike wesens deel word van God se geestelike gesin. Soos Jesus aan Nikodemus gesê het, “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3).

Wanneer vind hierdie “tweede geboorte” plaas? Met die opstanding uit die dood! Jesus Christus het die “eersgeborene” uit die dood geword met Sy opstanding (Kolossense 1:18; Openbaring 1:5; Romeine 8:29). Aangesien Hy die “eerste” is, impliseer dit dat ander sal volg! Paulus verduidelik dat Christus “na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode” (Romeine 1:4).

God wil graag die “familie-besigheid” met Sy kinders deel – heerskappy oor die ganse heelal! Menslike wesens se lotsbestemming is om in die gesin van God ingebore te word, “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus” (Romeine 8:17).

Die ewige lewe – die grootste geskenk wat God aan Sy kinders kan bemaak – sal ’n groot en ontsagwekkende doel hê! Die ewige lewe is nie slegs vir nimmereindigende menslike bestaan nie. Dit is nie om aan te sluit by die “wêreldsiel” nie”. Dit is nie om vleeslike genot na te jaag of om selfs “hemelse saligheid” te bereik nie. As lede van die geestelike gesin van God, sal gehoorsame, getroue opgewekte heiliges in die werk en missie van die gesin deel – beheer oor en verfraaiing van die ganse heelal, in vrede en geregtigheid, vir altyd!

Dank God vir ons ontsagwekkende lotsbestemming – en mag God die dag verhaas wanneer Sy plan vir elkeen van ons volledig sal wees!