Wat beteken Kersfees vir u? Bring dit u nader aan God deur Kersfees te vier? Of verberg die tradisie van Kersfees die wonderlike waarheid van Jesus Christus se ware boodskap?

Wat beteken Kersfees vir u? Vir baie mense is dit die feestelikste tyd van die jaar. Gesinne kom bymekaar om geskenke uit te ruil onder ’n Kersboom, miskien naby ’n kaggel waar ’n kersstomp brand. Kinders smeek Kersvader om aan hulle hul gunsteling geskenke te bring. Tradisionele versierings is oral – immergroen kranse, mistel, helder ligte en klatergoud. Van tyd tot tyd kry mens selfs ’n “krip”-toneel en ’n opregte begeerte om die geboorte van Jesus Christus te gedenk.

Vir die meeste kleinhandelaars in die belydende Christelike nasies, is die Kersseisoen die winsgewendste tyd van die jaar, verantwoordelik vir tot 40% – soms selfs meer – van die jaarlikse verkope. Kersfees-verwante promosies kan weke, selfs maande, voor 25 Desember begin. Kersvader en sy rendiere is al gebruik om produkte wat wissel van koeldrank tot elektriese skeermesse, te verkoop!

Hierdie jaar, in ’n tyd van ekonomiese afswaai, is besighede bekommerd dat die inkomste van Kersfees swak mag wees. Soos een verslaggewer opgemerk het tydens die “terug-skool-toe verkope”-seisoen in Augustus verlede jaar: “Verbruikers wat bedreig voel deur die ekonomie, mag hulle spaarsaamheid uitstel tot November en Desember. Klein Jannie het notaboeke, potlode en klere vir skool nodig. Hy het nie ’n kersgeskenk vir Kersfees nodig nie” (“Back-to-school shoppers aren’t scrimping – yet”, Minneapolis Star-Tribune, 18 Augustus 2011). Dit moet nog gesien word of 2011 die anemiese tendense van die afgelope paar jaar sal omkeer.

Vir die rykes is daar natuurlik baie opsies. Een bekende eksklusiewe afdelingswinkel adverteer in sy 2011 Kersfeeskatalogus ’n lewensgroot eetbare gemmerbrood pophuis vir kinders – teen ’n prys van $15,000!

Selfs vir diegene met meer beperkte middele, is “Kersinkope” een van die vernaamste tradisies van die seisoen. Die aard van Kersinkopies in die Internet-era is egter besig om te verander. Vroeër vanjaar het die Britse bemarkingsfirma, eDigital Research, berig dat, in 2011, ongeveer een derde van verbruikers minstens die helfte van hul begroting se Kersinkopies aanlyn spandeer, terwyl een uit elke vier ’n driekwart van hul inkopies op die Internet sal doen (“Gains for mobile shopping”, eDigital Research, 24 Augustus 2011).

Dus, gaan Jesus se boodskap oor die verbruikerswese? Is dit ’n boodskap van spanning vir diegene wat rondskarrel en probeer om beperkte fondse te rek om begeerde verbruikersgoedere te koop vir vriende en geliefdes? Is dit ’n boodskap van skuldgevoelens vir diegene wat nie genoeg spandeer nie en ’n boodskap van hebsug vir diegene wat gretig is om die vrygewige geskenke van diegene rondom hulle te ontvang?

Baie van die miljoene mense wat hierdie jaar geskenke uitruil, sal aanneem dat hulle ’n tradisie navolg wat deur die Wyse manne ingestel is – die “wyse manne” wat uit die Ooste gekom het om hul respek aan Jesus te betoon. Steek daar egter meer in daardie storie as wat die algemene tradisies aanvaar?

Die Wyses uit die Ooste

Die Skrif beskryf die aankoms van die Wyses uit die Ooste in Jerusalem in hulle soeke na die geprofeteerde Koning van die Jode. “En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys” (Mattheüs 2:1-2).

Wat het gebeur nadat hulle hom gevind het? “En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre” (vers 11).

Het die wyse manne aan Hom “verjaarsdaggeskenke” gebring? Nee! Hulle het gekom om ’n kind wat hulle as die Koning van die Jode erken het, te “aanbid”! Hulle het hulde gebring aan ’n koning!

Let daarop dat Jesus in “die huis” was – nie meer in die stal of ’n krip – teen die tyd dat die wyse manne hom besoek het nie! Die wyse manne het besoek afgelê toe Jesus nie meer ’n pap baba of suigeling was nie, maar eerder toe Hy al ’n “kind” was. Die NIV Study Bible lewer hierdie kommentaar oor daardie besoek (direk vertaal): “In teenstelling met tradisie, het die wyse manne Jesus nie in die stal besoek op die nag van Sy geboorte, soos die herders nie. Hulle het ’n [hele] klompie maande later gekom en Hom as ’n ‘kind’ in Sy ‘huis’ besoek” (bll. 1442, 1444).

Hoe oud was Jesus toe die wyse manne Hom kom besoek het? Uit die Skrif weet ons wat die boonste ouderdomsperk was. ’n Engel het Josef en Maria gewaarsku om na Egipte te vlug om Jesus te beskerm (Mattheüs 2:13). Koning Herodus het nie na ’n baba gesoek om te laat doodmaak nie – hy het beveel dat alle manlike kinders van twee jaar oud en jonger in die gebied van Bethlehem doodgemaak moes word (vers 16). Jesus moes dus minstens ’n hele paar maande oud gewees het toe die wyse manne gekom het om Hom te aanbid!

Geboorte van ’n Koning

Soos u kan sien, is die ware Bybelse verhaal heel anders as die tradisies wat vindingryke manne daar rondom geskep het. Die geboorte van Jesus was die geboorte van ’n koning. Wat is die doel aangaande Sy geboorte, soos geopenbaar aan Maria, Jesus se moeder? “En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:30-33).

Sowat 30 jaar later het Jesus begin met Sy voltydse bediening. Wat was Sy boodskap? Dit was ’n boodskap van ’n toekomstige Koninkryk – ’n Koninkryk waaraan daar geen einde sal wees nie! “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Die engel Gabriël het aangekondig dat Jesus oor ’n Koninkryk sal regeer wat nooit sal eindig nie. Jesus verkondig Self die evangelie, die goeie nuus, van die toekomstige Koninkryk van God! Een gewilde Kerstyd-tradisie vandag behels die Messias, die beroemde oratorium geskryf in 1741 deur die Engelse komponis, George Frideric Händel. Baie van ons het al die profeet Jesaja se roerende woorde gehoor, getoonset volgens Händel se musiek, wat die openbaring van die Messias aankondig: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5).

Ja, Jesus Christus – die Messias – maak Hom nou klaar om terug te keer na hierdie aarde om vrede in die wêreld tot stand te bring. Hy is die Prins van Vrede. Hoe sal Hy egter vrede in die wêreld tot stand bring? Let op die volgende vers: “... tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (vers 6).

Kan u uself algehele wêreldvrede voorstel? Kan u uself vrede en voorspoed onder al die nasies voorstel? Dit is wat sal gebeur wanneer Christus Sy Koninkryk op aarde vestig! Die profeet Sagaria skryf van die tyd wanneer al die nasies verteenwoordigers sal stuur om in Jerusalem te aanbid: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaria 14:16).

Onderhouding van die Fees?

Die Nuwe-Testamentiese Kerk van die eerste eeu het die profesieë van Christus se koms geken asook Christus se boodskap – nogtans het die Nuwe-Testamentiese Kerk nie Kersfees gevier nie! Inteendeel, die Kerk het dieselfde Heilige Dae onderhou as wat Jesus Christus onderhou het.

Het u al ooit die dag van Pinkster onderhou? Die Nuwe-Testamentiese Apostels het. U kan die boeiende verhaal in Handelinge lees. U kan lees hoe duisende mense op die dag van Pinkster tot bekering gekom het. Hoekom het hulle die dag van Pinkster onderhou? Omdat dit een van die jaarlikse Heilige Dae was wat in die Bybel beveel word. Soos dieNIV Study Bible sê: “Pinkster staan ook bekend as die Fees van weke (Deuteronomium 16:10), die Fees van die oes (Exodus 23:16) en die dag van die eerstelinge (Numeri 28:26)” (bl. 1645).

Die Nuwe-Testamentiese Christelike Kerk het op die Bybelse dag van Pinkster begin! Indien u opreg volgens die Bybel wil lewe, sal u ook hierdie Bybelse fees elke jaar wil onderhou! Het u geweet dat die jaarlikse Heilige Dae God se plan van verlossing vir die ganse mensdom openbaar? Dink aan nog een van die jaarlikse Bybelse Heilige Dae: Die Fees van Basuine. Die Fees van Basuine dui op die wederkoms van die Messias, Jesus Christus. Indien belydende Christene die Bybelse Heilige Dae sou onderhou, sal hulle ​​die ontbrekende boodskap verstaan. Die sewe basuine wat geblaas word tydens die jaarlange Dag van die Here vorm die sewende seël van Openbaring, die laaste boek in u Bybel. Hier is die belangrike aankondiging wat die regerings van elke nasie op hierdie aarde sal skud! “EN die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Ons almal sien uit na daardie tyd, en ek doen ’n beroep op u, indien u nie reeds Christus se instruksies volg nie, om te bid: “Laat U koninkryk kom!” Die enigste manier waarop die wêreld ooit blywende vrede tussen nasies sal kan ervaar, is wanneer Christus vrede in die wêreld vestig en die nasies leer hoe om vrede te bereik. Die wêreld moet die weg na vrede geleer word. Christus en die heiliges sal die nasies heropvoed, en hulle leer hoe om God lief te hê en hoe om hul naaste lief te hê. Let op na hierdie inspirerende profesie: “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:3).

Vandag maak nasies oorlog met mekaar. Die Derde wêreldoorlog sal die hele wêreld omvou in ’n oorlogsbrand wat deur die Koning van die konings beëindig sal word. Die nasies sal by Megiddo versamel en hul gereed maak om teen Christus te veg met Sy wederkoms. Daar word algemeen na hierdie veldslag verwys as Armagéddon, u Bybel beskryf dit as “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14).

Die nasies sal daardie oorlog verloor! Christus sal triomfantlik regeer! Dank God dat Christus gebore is om Koning oor die planeet Aarde te wees. Die sewende basuin sal aan die wêreld bekend maak dat die nasies nou aan die Koning van die konings behoort. God se liefdevolle plan vir die ganse mensdom word geopenbaar in die Bybelse feeste en Heilige Dae. Jesus en die Apostels het vir ons ’n voorbeeld gestel in die onderhouding van Bybelse feestye en Heilige Dae, nie heidense dae en tradisies met ’n Christelike naam nie. Dit is geen toeval dat u Bybel nie daarvan melding maak dat Jesus of die Apostels nie Kersfees gevier het – of dat hulle enige ander dag afgesonder het om Jesus se geboortedag te herdenk nie. Biljoene mense sonder nogtans 25 Desember elke jaar af as die dag waarop die geboorte van Jesus gevier moet word. Hoekom?

25 Desember?

U mag wonder of iemand enigsins kan bewys dat Jesus op 25 Desember gebore is. Baie mense sal verbaas wees om te verneem dat ons kan bewys dat Hy nie op daardie datum gebore is nie!

Dink na oor wat die Skrif aan ons sê. Josef en Maria het teruggereis na Bethlehem vir die sensus wat deur keiser Augustus beveel is. Die stad was stampvol, dus moes Josef en Maria alternatiewe huisvesting vind. Jesus is in Bethlehem gebore en in ’n krip of voertrog neergelê. Let op na die omstandighede en tyd van die jaar. “EN daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (Lukas 2:8). Die meeste Bybelkenners sal prontuit erken dat die herders nie in Desember in die veld sou wees nie. Die koue reënseisoen het lank voor 25 Desember begin. U kan dit naslaan in die mees betroubare Bybelkommentare. Jesus is laat in September of vroeg in Oktober gebore, na-aan die tyd van ’n belangrike Bybelse fees, die Fees van Basuine.

Wie is dan op 25 Desember gebore? Soos u kan vasstel in enige geloofwaardige ensiklopedie, word 25 Desember geassosieer met die sogenaamde geboorte van voor-Christelike gode lank voordat iemand probeer het om dit op te eis as die dag van Jesus se geboorte. Mithras en Sol Invictus is twee van die antieke figure wie op 25 Desember gebore is.

Die verlore boodskap

Die mensdom se vals tradisies kan ons aandag aflei van die ware betekenis van Christus se geboorte en lewe. Ons het gesien dat Jesus in die herfs van die jaar gebore is, nie op 25 Desember nie. Hy is gebore om die Koning van ’n koninkryk te wees wat nooit sal eindig nie. Jesus het ons geleer om te bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:9-10).

Ons het die Koninkryk van God nodig! Ons nader nou die einde van hierdie tydvak, die einde van die mensdom se historiese eksperiment met wêreldse gemeenskappe en regerings. Die tyd word min terwyl ons baie profesieë oor die eindtyd sien gestalte aanneem.

Ons kan uitsien na die wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde as Koning van konings. Ons kan uitsien na die toekomstige Koninkryk van God wat vrede sal bring aan alle nasies. Bid dat die Koninkryk sal kom! Sien uit na Sy wederkoms as Koning van die konings en Here van die here, soos ons lees in Openbaring 17:14 en Openbaring 19:16. Christus en die heiliges sal die wêreld regeer vir ’n duisend jaar lank, soos dit in Openbaring 20:4-6 geskryf staan. Sien uit na ’n nuwe wêreld van vrede en voorspoed. Alle nasies sal die geleentheid hê om volhoubare landbou te beoefen: Volop vrugte, groente en graan. Christus sal die weer stabiliseer om reën te gee op die regte tyd. Kinders sal in vrede in die strate speel (Sagaria 8:5). Die aard van wilde diere sal vreedsaam word (Jesaja 11:6). Mense uit al die nasies sal na Jerusalem kom om die Huttefees te onderhou en om die Koning, Jesus Christus, te aanbid (Sagaria 14:16).

Ons stuur vinnig af op die einde van die huidige veelbewoë tydperk. Ons beweeg ook vinnig nader aan die wederkoms van Jesus Christus om Sy vredevolle duisendjarige Vrederyk op die planeet Aarde te vestig. Jesus Christus is die Verlosser van die wêreld (1 Johannes 4:14). Hy kom as Koning van die konings en Here van die here. Dank God dat Sy Koninkryk besig is om te kom! Dit is die verlore boodskap!

Dus, soos 25 Desember nader kom, wat gaan u doen? Sal u saamgaan met die fabels wat die ware boodskap van Jesus Christus verberg? Gaan u verswelg word onder verbruikersdruk en in die “Christelike” feeste wat eintlik gekoöpteer is van valse gode? Gaan u kyk na vals tradisies – of gaan u uitsien na die vinnig naderende wederkoms van die Koning van die konings, die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus, om Sy Koninkryk hier op planeet Aarde te vestig?

Moenie toelaat dat die vals tradisie van “Kersfees” u aandag weglei van die ware boodskap van Jesus Christus nie!