Dit was uiteindelik verby! Die Japannese het op 15 Augustus 1945 oorgegee en vir die eerste keer was daar vrede in die wêreld sedert Adolf Hitler, Pole byna ses jaar tevore binnegeval het. Die volke het nie almal tegelykertyd tot die oorlog toegetree nie en die Europese en Stille Oseaan krygstonele van militêre optrede het enkele maande uitmekaar geëindig, maar in Augustus 1945 was die “wêreldoorlog” verby. Sedertdien het 75 jaar verstryk.

Die vrede was egter van korte duur. Minder as vyf jaar later het Noord-Korea Suid-Korea binnegeval en nog ’n belangrike konflik het gevolg. Daarna, in Mei 1954, het die Franse beheer oor Viëtnam verloor. Dit was die begin van ’n meer direkte betrokkenheid deur die Verenigde State en ander lande wat uiteindelik uitgeloop het op wat as die Viëtnam-oorlog bekend staan, ’n tyd van vernederende verlies en interne verdeling in die V.S. geskiedenis. Ander struwelings het in Asië en Afrika plaasgevind ten einde koloniale oorheersing af te skud. Sedertdien het nog meer konflikte plaasgevind.

Die mensdom mag as geheel na vrede smag, maar oorlog is duidelik die gunsteling spel van te veel van hulle. Nietemin, die boodskap van die Wêreld van Môre is dat daar vrede na hierdie wêreld wat in chaos is sal kom. Menslik gesproke is dit onmoontlik, soos dit deur die geskiedenis bewys is. Tog dink elke generasie dat hulle die weg sal kan vind om uiteindelik vrede te bewerkstellig. In my uitsending “The End of War” wat in Oktober 2020 gebeeldsend is, haal ek aan uit Robert Kagan se 2018 boek, The Jungle Grows Back. Kagan skryf van diegene wat net soos die Britse skrywer en politikus Norman Angell in 1909 van mening was dat die wêreld se groot moondhede “uitbeweeg het op daardie stadium van ontwikkeling” toe daar nog aangeneem is dat militêre oorwinnings wesenlike voordele vir enige volk sou kon inhou:

[Diegene wat hierdie mening huldig] kon hulle nie voorstel dat die wêreld se voorste handelsmoondhede, wat so interafhanklik in die moderne wêreld-ekonomie is, oorlog sou voer vir sulke primitiewe doelstellings soos grondgebied en militêre oorheersing nie, dat hulle níe geïnspireer sou word deur rasionele inagneming van belange nie, maar deur vrees, trots en ambisie en dat oorlog die entoesiastiese steun van hulle mense sou geniet wat aangevuur is deur nasionalisme en die stamstelsel (bl. 16-17).

Angell het hierdie mening uitgespreek slegs vyf jaar vóór die Eerste Wêreldoorlog – ’n konflik wat die V.S. president, Woodrow Wilson genoem het, die “oorlog om alle oorloë te beëindig”. Wilson se verwagting van vrede was net so onrealisties, want bietjie meer as twee dekades later was die wêreld in ’n veel groter konflik gedompel.

Waarom is die boodskap van Die Wêreld van Môre dus ’n boodskap van vrede? Verkeer ons onder ’n wanindruk? Leef ons in ’n “droomwêreld”? Op grond waarvan kan ons met oortuiging so ’n voorspelling maak, naamlik dat daar vrede gaan kom?

Waarom Jesus gekom het in Sy eie woorde

Baie mense glo dat die doel van Jesus se eerste koms was om vrede oor die hele wêreld te bring, maar hulle sal geskok wees om te lees dat Jesus self gesê het: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard” (Matthéüs 10:34).

Hoe strook dit met die bekende profesie dat die Messias die “Vredevors” sou wees (Jesaja 9:5)? Die antwoord kan gevind word in die tydsberekening en fokus van hierdie twee Skrifgedeeltes.

Jesus het Sélf besef dat Sy ware boodskap aan die mensdom nie gewild sou wees nie. Hy het gewaarsku dat om Hom te volg, dikwels ’n moeilike reis met min vriende sou beteken.

Nadat Hy verduidelik het “’n mens se huisgenote sal sy vyande wees” (Matthéüs 10:36), rig Hy ’n uitdaging wat min mense bereid is om te aanvaar: Dit is om Hom bo alles te stel. Dit klink miskien maklik genoeg, maar is dit? Kyk na hierdie gedeelte: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie ... Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind” (Matthéüs 10:37, 39). Dit is geen wonder dat Hy sê die weg na die lewe is deur die nou poort en dit is die moeilike weg (Matthéüs 7:13-14).

Satan die duiwel, is ’n werklikheid en mislei die mensdom om ’n valse evangelie, ’n valse Jesus en ’n valse manier of gees van aanbidding te aanvaar (2 Korinthiërs 11:4). Benewens die feit dat hy sy eie dienaars het wat hulleself as dienaars van geregtigheid voordoen (verse 13-15), word Satan “die owerste van die mag van die lug” genoem, wat “nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2) en “die hele wêreld verlei” [mislei] (Openbaring 12:9).

Gesinne ervaar konflik wanneer een lid besluit om van heidense familietradisies, wat mensgemaak is, af te sien en liewer die tradisies wat deur God ingestel is te volg. Dit was waar in Jesus se tyd en dit is nog steeds waar in ons tyd. Ware Christelikheid volg nie die tradisies van die wêreld, waarvan baie direk uit die heidendom afkomstig is, nie. Dit is ’n ander soort lewenswyse wat gebaseer is op die opdragte van God. Daar is ’n groot beloning vir diegene wat dit nastreef, hoewel dit nie die maklike weg is nie.

’n Jong man het eenkeer na Jesus toe gekom en gevra wat hy moes doen om die ewige lewe te hê. Hy het klaarblyklik Jesus se antwoord as te veel van ’n uitdaging beskou en het bedroef weggegaan. Dit het Sy dissipels aangespoor om pertinent te vra: Hoe kan ons daarby baat? Jesus het verduidelik, “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe” (sien Matthéüs 19:16-29).

Dit is moeilik vir ons om ten volle te begryp wat op die spel is. Ons kan vir 70 of 80 jaar “net vir vandag leef” en dit is dit of ons kan vir môre leef en die ewige lewe hê. Dood of lewe – dit is regtig so eenvoudig, selfs al is die gevolge van daardie keuse miskien nie so eenvoudig nie. Dit raak ingewikkeld omdat ons fisiese, tydelike wesens is wat geluk en pyn, vreugde en hartseer in die hier en nou ervaar. Dit is natuurlik om die maklike pad te volg. Indien ons egter die smal paadjie kies, sal dit baie groter belonings oplewer en dit bring ons terug na die onderwerp van my boodskap aan u: Vrede.

’n Nuwe begin

Die Bybel leer ons dat diegene wat by Sy Wederkoms aan Christus behoort, ’n duisend jaar saam met Hom op hierdie aarde sal leef en regeer. Dit is bloot die begin – maar wát ’n begin sal dit nie wees nie, want dit is wanneer vrede uiteindelik oor hierdie geteisterde planeet sal heers!

Satan en die gevalle engele wat hom in die opstand teen God gevolg het, heers tans oor die aarde. Talle Skrifgedeeltes bewys dit (bv. Johannes 12:31; 14:30; 16:11; Efesiërs 2:2; 2 Korintiërs 4:3-4; Lukas 4:5-7) en ons sien die resultate daarvan rondom ons. Dit sal verander wanneer Christus terugkom en Hy hierdie bose wese en sy onderdane verwyder. Dan sal hierdie “vors van die mag van die lug” nie meer die verloop van hierdie wêreld lei nie.

Selfs nou is Christus besig om nuwe heersers voor te berei om die plek van Satan en sy ondergeskiktes in te neem. Hierdie diepgaande waarheid naamlik dat God Sy diensknegte met posisies van heerskappy sal beloon, word in albei die Testamente gevind (Daniël 7:27; Lukas 19:16-19; Openbaring 20:4). Menslike pogings om vrede te bewerkstellig, sal misluk, maar ’n verandering kom wat min mense verstaan of verwag en dit hang nie af van ons begrip of aanvaarding daarvan nie. Dit gaan gebeur! Jesus is waarlik die Prins van Vrede en Hy bied aan u die voorreg om te help om Sy vrede na die wêreld te bring. Hy moet egter eers weet of u nou, volkome lojaal aan Hom sal wees en Sy lewenswyse bo alles sal kies. Enigiets minder as dit sal nie deug nie.

Soos Jesus gesê het, “baie is geroep, maar min uitverkies” (Matthéüs 22:14). Met ander woorde, die aanbod sal uitgaan, maar min mense sal dit aanvaar. Die vraag op hierdie oomblik is: Sal u?