Mense was geskok toe die Sowjet-Unie in 1991 ontbind het. Is Rusland sélf, ná drie dekades, besig om uitmekaar te skeur?

In 1991 was die wêreld geskok toe die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke eenvoudig ontbind het. Dit het sy lidlande toegelaat om onafhanklike nasies te word. Is Rusland self, na drie dekades, besig om uitmekaar te val?

Sommige waarnemers sien tekens dat die oorblywende Russiese Federasie op pad is na ’n skeuring en dat dit wel vroeër of later gaan gebeur. Daar word gevrees dat indien dit wel gebeur, dit skokkende gevolge vir die wêreld sal hê.

Wat was die Sowjet-Unie?

Om te verstaan wat vandag besig is om in Oos-Europa te gebeur, moet ons ten minste ’n mate van Russiese en Europese geskiedenis van die vorige eeu verstaan. Kort na die sluipmoord op die Russiese tsaar Nicholas II in 1918 is die voormalige Sowjet-Unie in 1922 gevorm toe Vladimir Lenin se Bolsjewieke ’n nuwe nasie gestig het naamlik die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) – ’n eenparty-kommunistiese staat. Ná Lenin se dood het Joseph Stalin die Sowjet-Unie se ontwikkeling as ’n totalitêre sosialistiese polisiestaat meedoënloos voortgesit, wat toesig gehou het oor aansienlike industriële en militêre ontwikkeling. Miljoene mense is doodgemaak tydens Stalin se politieke suiwerings, hongersnood en strafkampe.

Nadat Nazi-Duitsland die USSR in Junie 1941 binnegeval het en ’n nie-aanvalsverdrag oortree het wat in Augustus 1939 onderteken is, het Stalin se magte teen Duitsland en die Geallieerdes, vir die res van die Tweede Wêreldoorlog geveg. Die Duitse leër het in duie gestort en toe het die Sowjets Oos-Europa beset, terwyl die Geallieerdes, Wes-Europa beset het. Die Geallieerdes het hulle magte onttrek en vrye verkiesings regoor Wes-Europa toegelaat. Sowjet-besette nasies was in die USSR opgeneem óf in ’n Russies-gedomineerde alliansie ingelyf, wat die Warschau-verdrag genoem is. ’n Figuurlike “ystergordyn” het die vrye nasies van Wes-Europa van die kommunistiese nasies van Oos-Europa geskei. Uiteindelik het ’n fisiese muur ’n groot deel van Oos-Duitsland van Wes-Duitsland geskei, sowel as ander gebiede van Oos- en Wes-Europa. Dekades later, met die ineenstorting van die USSR en die Warschau-verdrag, het baie van die voormalige Sowjet-republieke en Oos-Europese nasies probeer om ’n bondgenootskap met die Weste te vorm en sommige nasies het by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) aangesluit.

Wat is die Russiese Federasie?

Na die verbrokkeling van die Sowjet-Unie is dit wat daarvan oorgebly het, hersaamgestel as die Russiese Federasie, wat vandag algemeen “Rusland” genoem word. Dit bestaan uit 85 saamgestelde eenhede in verskeie distrikte. Alhoewel dit ’n kleiner grondgebied as die ou Sowjet-Unie beslaan, het die Russiese Federasie steeds die grootste landoppervlakte van enige nasie. Die lengte van 6,000 myl sluit elf tydsones in. Dit is byna twee keer groter as Kanada.

Alhoewel baie etniese groepe in die Russiese bevolking verteenwoordig word, is die Russiese Federasie ongeveer 80 persent Russies. Etniese spanning, ekonomiese probleme en Russiese oorheersing het bygedra tot die verbrokkeling van die Sowjet-Unie en daar is steeds aansienlike etniese en ekonomiese spanning binne die Russiese Federasie.

Wat is Europa?

Die grootste deel van die aarde se sewe kontinente is merendeels geografies geskei. Antarktika en Australië is eilandkontinente, Noord-Amerika en Suid-Amerika word geskei deur ’n smal landengte en Afrika raak slegs aan Asië se noordoostelike rand in Egipte. Alhoewel ons Europa en Asië aparte vastelande noem, is dit een landmassa, met geen oseaan wat hulle skei nie. Wat skei Europa en Asië dus fisies? Waarom identifiseer die Franse en Duitsers as Europeërs en die Siberiërs as woonagtig in Asië? Die antwoord is geopolities van groot belang.

Die Duitse Rooms-Katolieke kardinaal Joseph Ratzinger, wat later Pous Benedictus XVI sou word, het die bekende vraag gevra: “Wat is Europa presies?” Sy antwoord? “Europa is nie ’n kontinent wat in presiese geografiese terme beskryf kan word nie, dit is liewer ’n kulturele en geskiedkundige konsep”. Hy het verduidelik dat die idee van Europa uit sy geestelike grondslag in die hoofstroom Christendom spruit, maar as ’n fisiese grens het hy verwys na die Oeral-bergreeks as Europa se grens met Asië (Europe Today and Tomorrow, bll. 11, 18).

Indien daardie bergreeks, bekend as die Oeral, Europa van Asië skei, moet ons in ag neem dat dit Rusland óók verdeel. Die Russiese gebied wes van die Oeral, wat oor die algemeen van noord na suid loop, het geskiedkundig meer met Europa in gemeen en word dikwels “Europese Rusland” genoem. Die Russiese tsaars het hulle ryk van daar af regeer en Russiese aristokrate het dikwels met hulle Europese eweknieë ondertrou. Moskou is wes van die Oeral en in Europese Rusland geleë. Na die ooste word Russiese streke soos Siberië, as deel van Asië beskou. Dit is nie net Benedict wat die Oeral beskou as die oostelike grens van die vasteland van Europa nie.

Die Oeral is as gevolg hiervan ’n geopolitieke breuklyn binne die Russiese Federasie en ’n diep onenigheid is besig om daar te vorm.

Nog ’n Russiese verdeling?

Daar is toenemende kommer dat die Russiese Federasie, soos die Sowjet-Unie kan versplinter, wat gevaarlike en destabiliserende gevolge inhou. Politici en kommentators in Wes-Europa, Oos-Europa en Rusland spreek hulle toenemend hieroor uit, hoewel dit nie dikwels in die Noord-Amerikaanse media gehoor word nie.

Andrey Kortunov, die direkteur-generaal van die Russiese Raad vir Internasionale Aangeleenthede in Moskou, het onlangs geskryf dat “die eintlike ineenstorting van die USSR eers vandag besig is om plaas te vind – letterlik voor ons oë. Die state wat in die post-Sowjet-ruimte ontstaan het, sal egter nog deur al die uitdagings, risiko’s en pyne van imperiale disintegrasie gaan ... Dit wil voorkom in die oë van die leierskap in die Kremlin, asof ’n Wes-georiënteerde Oekraïne wat nóu saamwerk met NAVO, ’n geweldige uitdaging bied, nie net vir Rusland se veiligheidsbelange nie, maar selfs vir Rusland se voortbestaan” (Internationale Politik Quarterly, 31 Maart 2022).

So lank terug as 2011 het die Russiese president Vladimir Poetin die gevaar van ’n verbrokkeling van die Russiese Federasie erken. By ’n regeringskommissie vir die ontwikkeling van die Noord-Kaukasiese Federale Distrik in Gudermes, het hy gewaarsku oor wat sou gebeur as die Kaukasies sou probeer om die Russiese Federasie te verlaat: “Indien dit gebeur, sal daar onmiddellik, op dieselfde sekonde – nie eers ’n uur nie, maar ’n sekonde later, sal daar diegene wees wat dieselfde wil doen met ander territoriale entiteite van Rusland ... en dit sal ’n tragedie wees wat elke burger van Rusland sonder uitsondering sal raak” (RG.ru, 20 Desember 2011).

Die geleerde Michael Rubin het vroeg in 2022 geskryf: “’n Vraag vir Oekraïners en die internasionale gemeenskap sal wees hoe om post-Poetin Rusland te hanteer” (AEI, 27 Februarie 2022). Hy is ook nie die enigste V.S.-kenner wat die verbrokkeling van Rusland voorsien nie. Alexander J. Motyl, professor in politieke wetenskap aan die Rutgers Universiteit-Newark, skryf vir The Hill, die volgende:

Dit is weer 1991 en nou, netsoos destyds, is Westerse beleidmakers en ontleders vreesbevange om die twee groot “wat as”-vrae te konfronteer wat ontstaan het as gevolg van die Russiese president, Vladimir Poetin. se rampspoedige oorlog met die Oekraïne: Wat sal gebeur as die Russiese Federasie in die Sowjet-Unie se voetspore volg en op die rand van ineenstorting is? ... Hoe gouer die Weste begin nadink oor hoe ’n Russiese ineenstorting sal lyk, hoe beter – nié omdat daar nie veel is wat ons daaraan kan doen om dit te keer nie, maar omdat dit verreikende gevolge vir die wêreld sal hê ... Indien die Russiese Federasie ineenstort, sal dit wees as gevolg van die spanning en swakhede inherent aan die stelsel, die onvermoë van Poetin om die stukke bymekaar te hou en sy elite gelukkig te hou asook die katastrofiese impak op Rusland as gevolg van sy idiotiese besluit om Oekraïne binne te val met ’n weermag wat onvoorbereid was vir so ’n waagstuk ... Die Russiese Federasie kan ’n gedaanteverandering ondergaan na 10 of meer state, waarvan slegs een as Rusland bekend sou staan. Dit sou die wese van Eurasië vir altyd verander ... Al wat die Weste kan en moet doen, is om voor te berei vir ’n moontlike uitkoms: Die verdwyning van Rusland soos ons dit ken (13 Mei 2022).

Niks hiervan is nuus vir president Poetin nie. ’n Mens wonder of sy aanval op die Oekraïne dalk minder van ’n waarskuwing vir NAVO is as ’n waarskuwing aan die verskillende streke van die rustelose Russiese Federasie. Die opbreek van die nasie wat ons as Rusland ken, sal dalk nie vreedsaam wees nie.

Die magte wat aan die werk is

Ontleders maak melding van verskeie magte wat aan die werk is om die Russiese Federasie te verdeel. Binne die ou Sowjet-Unie was daar die bindende beginsel van kommunisme in ’n totalitêre staat. Met die ineenstorting van die Sowjet-staat, die gelyktydige mislukking van die sosialistiese ekonomie en die daaropvolgende verwerping van die gepaardgaande ideologie, staan Rusland voor die uitdaging om vas te stel watter samebindende faktore oorbly en dit te behou om die diverse streke bymekaar te hou. Ontleders merk op dat daar spanning is wat tot verdeeldheid lei en die Federasie uitmekaar skeur. Dit sluit die plaaslike nasionalisme van die individuele streke in asook die toename in mag van die elite in hierdie streke, verhoogde ekonomiese ongelykhede, regeringskorrupsie en Europese Rusland se vermeende ontginning van die Asiatiese streke.

Die oorlog in die Oekraïne en die gevolglike sanksies teen Rusland het die verdelende spanning vererger. Nog ’n faktor, wat politici en staatsmanne dikwels nie raaksien nie, is die godsdienstige bande tussen Europa en Europese Rusland, wes van die Oeralgebergte-skeiding. Die geskiedkundig geestelike bande van Rooms-Katolisisme en Oosterse Ortodoksie is diep gesetel in ’n voormalige eenheid, ’n identiteit onderliggend aan die konsep van Europa.

Poetin, ’n voormalige KGB-beampte, het nie vergeet dat Pous Johannes Paulus II in sy nege besoeke aan Pole sy mense herinner het aan ’n mag hoër as die ateïstiese kommunistiese regime nie. Kort nadat die pous Oos- en Wes-Europa “die twee longe van Europa” genoem het, het die Sowjet-Unie en Warschau-verdrag ontbind. Pous Benedictus XVI het sy voorganger se beeldspraak herhaal toe hy uitgeroep het: “Laat ons weer dat Europa met albei longe asemhaal” (Catholic News Agency, 21 Mei 2010). Poetin is bekend met die Vatikaan se siening dat Europa tot by die Oeral strek. Sal “die twee longe van Europa” skielik diep asem skep? Baie invloedryke godsdienstige figure hoop so.

Is dit moontlik dat daardie diep-gesetelde en antieke kulturele en godsdienstige wortels bydra om Europese Rusland polities met die res van Europa te verenig? Europese Rusland sal tot ’n groot militêre mag in Wes-Europa bydra, met inbegrip van ’n massiewe kernkrag-vermoë. Die meeste van Rusland se kernwapens, beide takties en interkontinentaal, is in Europese Rusland geleë. ’n Versterkte nuwe Europese superstaat sou onmiddellik ’n dominante wêreldmoondheid word – militêr, polities en ekonomies. Dit sou nie meer vir NAVO of die VS as ’n oorkoepelende kern-organisasie nodig hê nie en kan selfs ’n teëstander vir die V.S. wees.

Tien konings

Is dit moontlik dat hierdie scenario in die nabye toekoms ’n werklikheid kan word? Wêreld van Môre-lesers weet dat hierdie tydskrif lank reeds die Bybelse profesieë verduidelik oor tien konings of nasies wat in die laaste dae van hierdie eeu in een magtige Europese superstaat sal verenig. Hierdie finale herlewing van die sogenaamde Heilige Romeinse Ryk sal oostelike en westelike bene hê, net soos God deur die profeet Daniël gesê het (Daniël 2:31-44; 7).

Hierdie wêreldoorheersende mag sal gelei word deur ’n genadelose, charismatiese individu wat ondersteun sal word deur ’n magtige godsdienstige figuur wat wonderwerke sal verrig. In samewerking met mekaar sal hulle die samelewing se aandag op hulle vestig en groot mag verkry vir ’n kort tydjie voor Jesus Christus se Wederkoms. Namate hierdie laaste dae nader kom, is dit noodsaaklik dat u bekend is met hulle besonderhede! Om meer te wete te kom, bestel ’n gratis eksemplaar van “Die Dier van Openbaring” by u naaste streekkantoor. Die adres verskyn op bladsy 2 van hierdie uitgawe of u kan dit aanlyn lees by www.wvm.co.za.