Die Bybel is een van die gewildste boeke in die wêreld maar tog ook een van die boeke wat die minste verstaan word. U kan egter die geheime met sewe lewensbelangrike sleutels ontsluit.

Dit lyk asof die Bybel geheimsinnig en moeilik kan wees om te verstaan. Tog bevat dit die opwindendste, verstand stimulerende inligting wat die wêreld ooit kan ken! Indien u hierdie sewe sleutels gebruik, kan u die geheime van die Bybel vir uself ontsluit!

U het waarskynlik ’n Bybel. Meer as 100 miljoen Bybels word jaarliks regoor die wêreld verkoop. Tog bly die boek vir die meeste mense ’n raaisel. Verstaan enigiemand regtig die Bybel? Kan u dit verstaan? In hierdie artikel bespreek ons sewe eenvoudige, maar noodsaaklike sleutels om u te help om die verborgenhede van hierdie wonderlike boek vir u verstand te ontsluit.

Indien u ’n gereelde leser van die Wêreld van Môre is, lees u waarskynlik die Bybel dikwels. Hoeveel ander mense doen dit? Die Barna-navorsingsgroep het in 2017 berig dat byna een derde van die Amerikaners nooit met die Bybel in wisselwerking getree het nie en slegs ongeveer 50% van hulle het minstens drie of vier keer in die loop van ’n jaar met die Bybel te doen gehad. Tog sê dieselfde verslag dat meer as die helfte van die volwassenes wens hulle lees die Bybel meer dikwels.

Selfs onder die godsdienstiges is kennis van die Bybel aan die afneem. ’n 2017-peiling van selfverklaarde lede van die Kerk van Engeland het aangetoon dat 60% van hulle nooit hul Bybels lees nie.

Wanneer ’n volk die Woord van God lees en die voorskrifte gehoorsaam, sal daardie volk voorspoedig wees. Groot verwaarlosing van die Bybel en sy leerstellings sal voortgaan om morele agteruitgang en uiteindelike nasionale vernietiging mee te bring.

Daniel Webster, die groot Amerikaanse staatsman, het hierdie waarskuwing oor sy nasie se toekoms gegee: “As daar iets in my gedagtes of styl is om aan te beveel, kom die krediet my ouers toe omdat hulle vir my ’n vroeë liefde vir die Skrif in my ’n behoefte gekweek het. Indien ons voldoen aan die beginsels wat ons in die Bybel geleer word, sal ons land vooruitgaan en voorspoedig wees; maar as ons en ons nageslag Sy opdragte en gesag verontagsaam, sal niemand kan sê hoe skielik ’n ramp ons sal oorweldig en al ons glorie in diepe duisternis begrawe word nie”. (Halley’s Bible Handbook, bl. 18).

Ons in die Westerse wêreld behoort Webster se waarskuwing baie ernstig op te neem. Dit is nodig dat ons die Bybel bestudeer en daarvolgens leef. Soos Jesus gesê het, “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Slegs gehoorsaamheid en liefde vir God se Woord kan lei tot morele en nasionale voorspoed.

Het u die Bybel lief? Antieke koning Dawid het die Skrifte wat vir hom beskikbaar was lief gehad. Hy het gesê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Ons het almal daardie lamp en lig nodig!

Hoe kan die bestudering van God se Woord vir u voordelig wees? Eerstens is dit nodig dat ons verstaan dat die Bybel die mees belangrikste boek in die wêreld is! Dit openbaar die ware betekenis en doel van die lewe. Dit gee beginsels vir ware sukses, vervulling en geluk. Dit verklaar waarom ons wêreld in sulke verwarring en gevaar is. Sy profesieë openbaar die toekoms, met inbegrip van die komende Koninkryk van God wat binnekort op hierdie aarde gevestig sal word. Dit vertel ons hoe om voor te berei vir die groot gebeurtenisse wat kom. Die Skrif leer ons hoe om met ons medemens op ’n goddelike manier saam te werk. Dit openbaar ook die weg na die lewe anderkant die dood – die ewige lewe.

Ons kan nie bekostig om sonder die ongelooflike geestelike waarhede en voordele te leef wat die Bybel bied nie.

Byna 20 jaar gelede het die geleerde, Gary M. Burge, die belangrike rol beklemtoon wat die Skrif speel om ons te help om waarheid van dwaling te onderskei. In ’n artikel in Christianity Today het hy ons herinner: “Om hierdie hulpbron te ignoreer – om die Bybel te verwaarloos – is om van die hoogste gesag waarop ons geloof gebou is ontslae te raak. Ons word kwesbaar gelaat, onmagtig om die leerstellings te beoordeel van diegene wat ons uitnooi om hulle te volg” (“The Greatest Story Never Read”, 9 Augustus 1999).

Ons behoort in gesonde, fundamentele waarhede gevestig te wees! Ons durf nie van “die hoogste gesag waarop ons geloof gebou is ontslae te raak nie”. Die oplossing vir die probleem is voor die hand liggend. Ons moet die Bybel lees!

Wanneer was die laaste keer dat u u Bybel oopgemaak het? Indien u ’n gereelde leser van hierdie tydskrif is, was dit dalk net ’n paar minute gelede. Volgens meningspeiling na meningspeiling raak sulke gewoontes al hoe skaarser! Tog behoort ons elke dag die Bybel te lees. Bybelwaarhede en Bybelkennis dra by tot gesonde verstand en die wêreld het mans, vrouens en kinders met gesonde karakter en gesonde geestesgesondheid nodig!

Die Bybel is ’n skatkamer vol waardevolle skatte. Hoe kan ons die skatte oes wat in hierdie wonderlike boek vervat is? Wat ware kennis betref, beloof die Bybel ons: “... as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind (want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:4-6).

In hierdie artikel sal ons let op sewe basiese sleutels om die geheime van die Bybel vir u begrip te ontsluit! Dit sal u help om God se wysheid te verkry. U kan die wonderlike plan wat die Skepper God vir die hele mensdom het, duideliker begryp as u hierdie sleutels gebruik om belangrike waarhede van die Bybel te ontsluit wat deur betreklik min mense verstaan word.

Sleutel 1: Die Bybel is ’n volledige boek

Baie mense kan die Bybel nie werklik verstaan nie, want hulle gooi die eerste 39 boeke – die Ou Testament – weg. Tog, toe Jesus die Skrif aangehaal het, het Hy uit die Ou Testament aangehaal. In die woestyn het Jesus tydens sy geweldige geestelike stryd met Satan die duiwel, uit Deuteronómium 8:3 aangehaal toe Hy gesê het: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Daardie diepgaande waarheid is absoluut fundamenteel vir mense se geluk en hulle ewige lewe!

Terwyl die apostel Paulus aan die jong Timótheüs geskryf het, het hy gepraat van die ware geloof wat hy in Timótheüs se moeder en ouma, Eunice en Lois, gesien het. Hierdie twee deugsame vroue het vir Timótheüs van sy kinderjare af die Skrifte geleer. Wat was daardie Skrifte? Die eerste 39 boeke van die Bybel! Die Nuwe Testament was nog nie geskryf nie. Soos Paulus Timótheüs herinner het, “... en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timótheüs 3:15). Timótheüs was in staat om verlossing deur die Ou Testamentiese Skrifte te verstaan en Jesus Christus as sy Verlosser te aanvaar.

Die Bybel is ’n volledige boek. Dit begin in die boek Genesis en eindig met die boek Openbaring. Trouens, God waarsku: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openbaring 22:18-19). Wees versigtig vir enigiemand wat vir u sê dat ’n ander boek ’n “verborge deel van die Bybel is” of “nodig is om die Bybel te verstaan”.

Moet nooit vergeet dat toe Jesus ons die twee groot gebooie geleer het, het Hy dit uit die Ou Testament aangehaal! Die eerste groot gebod, dat ons God moet liefhê met ons hele hart, siel en krag staan in Deuteronómium 6:5 geskryf. Die tweede groot gebod, dat mens jou naaste sal liefhê soos jouself, kom uit Levitikus 19:18. Jesus het nie iets nuuts uitgedink toe Hy hierdie gebooie gegee het nie; dit is Ou-Testamentiese bevele en is Gebooie van God!

Waarlik, ons kan nie God se plan verstaan tensy ons die hele Bybel as die Woord van God bestudeer nie. Om die Bybel te verstaan, moet ons die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament lees.

Die Bybel is God se geskenk aan die hele mensdom. Waardeer ons dit regtig soos ons moet? Indien ons dit wel doen, behoort ons gereeld die Bybel te bestudeer. Amerika se President Abraham Lincoln het hierdie stelling oor die Bybel gemaak: “Ek glo die Bybel is die beste geskenk wat God ooit aan die mens gegee het. Al die goedheid van die Verlosser van die wêreld word aan ons deur hierdie boek oorgedra” (Halley’s Bible Handbook, bl. 18).

Sleutel 2: Die Bybel is altyd van toepassing

Sommige mense glo dat omdat die Bybel ongeveer 1,900 jaar gelede voltooi is, dit vandag nie meer op ons van toepassing kan wees nie. Daardie sienswyse is verkeerd! Soos hierdie tydskrif oor die jare in talle artikels gedemonstreer het is die Bybel nie net vandag van toepassing op ons nie, maar die profesieë openbaar ook die mensdom se toekoms en ons wonderlike eindbestemming. Die goeie nuus is dat mense hulleself nie heeltemal sal vernietig nie. Jesus Christus sal weer op die heel gevaarlikste tydstip in die menslike geskiedenis kom om ons van onsself te red. Ja, ons sien uit na die einde van hierdie “huidige bose wêreld” – die einde van hierdie era en die begin van ’n nuwe era wat diegene van ons wat hierdie tydskrif behartig die “Wêreld van Môre” noem. Jesus het gesê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14). Die Evangelie van die Koninkryk van God is altyd toepaslik!

Die Gallup-organisasie het ontdek dat 65% van die Amerikaners saamstem dat die Bybel “alle of die meeste van die basiese vrae van die lewe beantwoord”. Ja, die Bybel is toepaslik. Dit beantwoord wel die lewe se mees basiese vrae!

Die Barna-organisasie het in sy 2017 “State of the Bible”-analise gerapporteer: “Die oorgrote meerderheid huishoudings [in Amerika] besit ten minste een Bybel (87%), ’n verhouding wat sedert 2011 relatief konsekwent gebly het”. In werklikheid, selfs die meerderheid huishoudings wat skepties of vyandig teenoor die Bybel is, besit een (67% en 62% respektiewelik).

Indien daar enige ateïste is wat hierdie artikel lees, daag ek u uit om u Bybel oop te maak as u een het en dit net eenvoudig te lees! Ek dink u sal verbaas wees oor die eenvoudige en betroubare voorskrifte vir ’n suksesvolle lewe wat u sal vind. Twyfel u oor Jesus Christus? Lees eers die boek Matthéüs en lees dan die ander drie weergawes van Sy lewe op planeet Aarde (Markus, Lukas en Johannes). Lees hulle getuienis en bewyse met ’n oop gemoed. Indien u in een van daardie huishoudings woon wat drie of meer Bybels het, moedig elke lid van u gesin aan om die Bybel te lees. Dit kan u lewe ingrypend verander – ten beste!

Sleutel 3: Die Bybel interpreteer self die Bybel

Ons het hierdie sleutel al in vorige artikels bespreek en dit is lewensbelangrik. Afhangende van hoe u dit tel, is tussen een kwart en een derde van u Bybel profesie. Hoe kan u die simboliese taal verstaan wat dikwels daarin gebruik word? Byvoorbeeld, die boeke van Daniël en Openbaring is ryk aan geheimsinnige beelde wat baie min mense vandag verstaan. Indien u hierdie belangrike beginsel begryp, dat die Bybel homself interpreteer, kan u dit verstaan!

In vorige artikels het ons voorbeelde van simboliek in die boek Openbaring bespreek. Let op die sterre wat in Openba```ring 1:20 genoem word; hierdie sterre simboliseer die engele van die sewe kerke. Die sewe lampe simboliseer die sewe kerke. In Openbaring 17 lees ons dat die apostel Johannes in ’n visioen ’n dier gesien het wat deur ’n hoer gery word. Johannes het geskryf: “... en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier vol godslasterike name, met sewe koppe en tien horings” (vers 3). Sy word genoem, “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (vers 5). Vers 6 verklaar dat hierdie vrou ware Christene vervolg.

Hoe sal ons dit alles verstaan? Die verse wat volg gee ons die betekenis van die simbole. Vers 12 openbaar byvoorbeeld die betekenis van die tien horings van die dier: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier.” Vers 18 sê aan ons: “En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.” Watter stad is dit? Om meer te wete te kom oor hierdie wonderlike profesieë en die toepaslikheid daarvan op ons vandag, bestel asseblief u gratis eksemplaar van ons boekie, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid? Skryf aan die plaaslike kantoor wat die naaste aan u is (soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of gaan aanlyn na TomorrowsWorld.org om die boekie aanlyn te lees of te versoek dat ’n gratis eksemplaar aan u gestuur word.

Soms gebruik die Bybel ’n simboliese woord, maar miskien word dit nie onmiddellik in die volgende vers verduideliking nie. Indien dit gebeur, onthou ’n vierde sleutel:

Sleutel 4: Bestudeer al die Skrifgedeeltes oor ’n onderwerp

Bybelstudente en onderwysers wat nie hierdie sleutel gebruik nie, glo uiteindelik vals en misleidende leerstellings. Neem byvoorbeeld die teenstrydigheid wat dikwels as “wet of genade” beskryf word. Beteken God se genade dat ’n Christen ’n lewe van roekelose sonde kan leef en nie gehoorsaam hoef te wees aan sy Verlosser nie? Natuurlik nie! Soos Jesus gesê het, “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:17). Jesus het toe verskeie van die Tien Gebooie opgenoem.

Onthou, die Bybel weerspreek homself nie. Jesus het gesê: “... en die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35). God se genade gee ons nie toestemming om God se Wet te oortree nie. Die Apostel Judas het teen valse leraars gewaarsku wat “die genade van onse God verander in ongebondenheid” (Judas: 4). Soos die Anchor Bible Dictionary dit stel, Paulus verklaar dat God se genade vryheid van sonde bring en nie vryheid om te sondig nie (“Antinomianism”, Vol. 1, bl. 263). U kan dit self in Romeine 6:1-2 lees.

Sommige onbedagsame Bybelstudente neem verkeerdelik aan dat Efésiërs 2:15 beteken dat daar weggedoen is met God se Tien Gebooie en Sy morele Wet vir Christene. Daardie vers lui: “... deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep”. Indien ons noukeurig na die vers kyk, sien ons dat die woord wat as “insettinge” vertaal is in Grieks dogma is en verwys na die mensgemaakte wette wat baie Jode van Jesus se dag gebruik het om verdeeldheid tussen hulle en die heidene te veroorsaak. Die beginsel is om al die Bybel se verwysings na ’n onderwerp te bestudeer, sodat ons seker kan wees dat ons dit verstaan. Let op wat die skrywers van die NIV Study Bible oor die vers geskryf het. “Aangesien Matthéüs 5:17 en Romeine 3:31 ons leer dat God se morele standaard soos dit in die Ou-Testamentiese Wet uitgedruk is, nie deur die koms van Christus verander is nie. Wat hier afgeskaf is, is waarskynlik die uitwerking van die spesifieke ‘gebooie en regulasies’ om Jode van heidene te skei, wie se nie-nakoming van die Joodse Wet hulle ritueel onrein maak.”

Onthou ons eerste sleutel om u Bybel te ontsluit: “Die Bybel is ’n volledige boek”. Die NIV Study Bible se kommentaar is in ooreenstemming met hierdie beginsel en erken dat Christus dieselfde Wet vervul het wat Hy as die God van die Ou Testament afgekondig het – eerder as afgeskaf het (Exodus 20; 1 Korinthiërs 10:1-5).

Bestudeer die Skrifte in die Ou en Nuwe Testamente van u Bybel. Om dan seker te wees dat u ’n duidelike begrip van Bybelse waarhede het, maak seker dat u al die Skrifgedeeltes oor die onderwerp verstaan wat u bestudeer. Wanneer u dit ywerig en eerlik doen, sal u dikwels vind dat die “hoofstroom”-leerstellings oor ’n onderwerp nie ooreenstem met wat die Bybel werklik sê nie.

Sleutel 5: Verstaan die konteks

Wanneer u al die Skrifgedeeltes oor ’n onderwerp bestudeer het, gaan ’n bietjie verder. Lees al die Skrifgedeeltes rondom ’n vers wat u bestudeer. Byvoorbeeld, sommige mense glo verkeerdelik dat die Jerusalem-konferensie in Handelinge 15 die Tien Gebooie vir die heidene afgeskaf het. Let egter op die besluit van die apostel Jakobus: “Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed” (Handelinge 15:19-20).

Terwyl die Apostels hierdie vier verbode sondes gespesifiseer het, het dit toe die heidene vry gemaak om op ander maniere te sondig? Kon hulle die gebod oortree wat sê: “Jy mag nie doodslaan nie”? of dalk, “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie”? Natuurlik nie! Die Apostels het op geen manier die morele Wet van God herroep nie. Om dit te verstaan, is dit nodig dat ons die konteks van hierdie verse lees en verstaan. Wat was die hoofvraag in hierdie dispuut? “En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie” (Handelinge 15:1).

Die twispunt in Handelinge 15 was besnydenis. Die Jerusalem-konferensie het besluit dat heidene nie besny moes word om gered te word nie. Die apostel Paulus het later aan die Korinthiese nasies geskryf: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Korinthiërs 7:19).

Is hierdie ’n uitdaging vir u vooropgestelde idees oor hierdie vers en die betekenis daarvan? Te dikwels vermy predikers ’n goeie verduideliking van die Skrif deur te fokus op emosionele en geestelike perspektiewe wat onvolledig is. Soos kommentator Burge in sy bogenoemde Christianity Today-artikel geskryf het, “Geskiedkundige skrifverklaring is vinnig besig om ’n verlore kuns van die preekstoel te word. In plaas daarvan om die geskiedkundige agtergronsvan die Skrifdeel te verduidelik, word tekste springplanke vir godsdienstige oordenking. Bybelse gedeeltes word uit konteks geneem omdat die prediker op soek is na daardie stories wat die verlangde reaksies of gesindhede sal ontlok”.

Maak seker dat u die konteks verstaan deur al die Skrifgedeeltes en verse te lees, ongeag die onderwerp wat u bestudeer. Gebruik hierdie sleutel om die Bybel te verstaan en u kan die vangstrik vermy wat Burge beskryf.

Sleutel 6: Bewys alle dinge

Ons daag dikwels ons lesers uit om hulle Bybels oop te maak en seker te maak van wat ons skryf. Moenie wat ons in hierdie tydskrif publiseer as vanselfsprekend aanvaar nie. Lees dit in u eie Bybel. Christene word vermaan: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Let op die gesindheid van die Bereane, wat geprys word vir hulle positiewe, ondersoekende gesindheid by die lees van die Skrifte. “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11).

Een manier om te toets of te bewys, is om die beginsels en voorskrifte van die Bybel te beoefen. Jesus het beklemtoon dat ons volgens die Bybel moet leef, deur “elke woord van God.” Hy het gesê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). U kan die Bybel bewys en toets deur die instruksies daarvan uit te leef. Dit is hoe u ’n goeie begrip kan hê. Ons lees: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand” (Psalm 111:10). Moontlik het u al gehoor dat onderwysers praat van “leer deur te doen”? Hierdie beginsel geld ook in u Christelike lewe.

Sleutel 7: Bid vir begrip

Hierdie sleutel is die basis waarop die eerste ses sleutels rus. Die Bybel beklemtoon dat ons ’n leergierige gesindheid nodig het. Antieke koning Dawid was ’n man na God se eie hart (Handelinge 13:22). Let op Dawid se ontvanklike gesindheid deur te bid vir begrip. “Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag” (Psalm 25:4-5).

Onthou om te bid vir begrip terwyl u u Bybel lees en bestudeer. Bid vir leiding. God seën diegene wat die Skrif eer en Sy heilige Woord eerbiedig. Almagtige God sê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Die Bybel is die heel belangrikste boek in die wêreld. Indien u die Bybel nie gelees het nie, is dit nou die tyd om te verander. Lees dit daagliks. Indien u gesindheid reg is, sal u grootliks geseënd wees en u lewe sal verander word. Soos Jesus gesê het, “... die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Johannes 6:63).

Die Bybel is nie net ’n boek vir vandag nie, maar dit is ook die boek van die toekoms! Soos Jesus gesê het: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Lukas 21:33). Dank God dat Hy Sy ontsagwekkende geestelike waarheid en die ware doel van die lewe met ons gedeel het.