Kan nasies wat misluk gered word? Kan kultuurverval omgekeer word? Die Bybel bevat belangrike riglyne!


Die afgelope jare het “nasiebou” van ’n diplomaats-aangeleentheid verander in ’n saak van wêreldbelang. Miljoene mense het die pogings van Amerika, Brittanje en die Verenigde Nasies dopgehou om Bosnia, Afganistan, Irak en ander sukkelende lande te herbou. Hoewel dit skokkend is om die verwoesting en lyding te sien wat deur oorlog veroorsaak word, is dit ook ontnugterend om die gepaardgaande moeilikhede, frustrasies en intriges waar te neem in hierdie mensgedrewe pogings om in te gryp en nasies te herbou, waar miljoene mense misbruik en uitgebuit word.

Die 20ste eeu het herhaaldelik hierdie verskynsel van mislukkende nasies gade geslaan. Alte gereeld het die opgewondenheid en euforie van ’n nasie wat pas onafhanklikheid verkry het, in ontnugtering verval omdat leiers wat deur ydelheid en hebsug gedryf word (en regerings wat deur korrupsie geteister word) nasionale skatkamers besteel, nasionale hulpbronne uitbuit vir eie gewin, die ekonomie vernietig en toelaat dat die nasies se infrastrukture tot niet gaan en verval. Die gevolglike armoede en lyding gee aanleiding tot ’n magdom emigrante wat uit hierdie struikelende lande vlug, op soek na ’n beter lewe. Hierdie golf van immigrante en asielsoekers – wat in die 21ste eeu voortduur – dreig om oor te spoel en welsynsdienste in gasheerlande te oorweldig. Dit steek weer vure van griewe aan in die gasheerlande wat voel hoe hulle eie nasies se beskawingstruktuur verswak en begin uitrafel.

Mislukkende nasies en die kulturele verval het nasiebou vandag ’n groot knelpunt in die wêreld gemaak. Daar is nie ’n tekort aan kandidate wat gewillig is om hierdie uitdaging te aanvaar nie. Kommuniste, sosialiste, monargiste, diktators en demokrasieë – en selfs godsdiensleiers – het almal probeer om hierdie probleme op te los. Nie een het egter nog daarin geslaag om die sleutel te vind vir ware suksesvolle nasiebou of hoe om mislukte nasies weer op die been te bring nie. Alle nasies worstel vandag met hul eie ernstige probleme!

Waar moet ons dus vir oplossings soek? Is daar ’n betroubare model wat ’n duidelike uitleg gee van hoe om standvastige en suksesvolle nasies te bou? Is daar voorskrifte om te volg en bepaalde stappe wat geneem moet word? Dit is baie mense se opvatting dat die VSA nie weet wat hulle doen nie. In hul 8-14 Maart 2003 uitgawe, het die tydskrif The Economist hierdie punt op kleurvolle wyse gemaak met ’n voorbladtekening wat wys hoe “Uncle Sam” wanhopig deur ’n stapel boeke soek na bruikbare inligting oor nasiebou.

Daar is egter oplossings en praktiese riglyne oor nasiebou in ’n bron wat sleg verstaan en deesdae selde nageslaan word. Hedendaagse beplanners soek nie in die Bybel vir antwoorde op ingewikkelde maatskaplike probleme nie, omdat hulle dit slegs as ’n godsdienstige boek met fabelagtige stories en flou idees beskou. Die Bybel bevat egter ’n bloudruk vir nasiebou wat God duisende jare gelede opgeteken het vir ons voordeel. Die evangelie van Jesus Christus gaan oor regte regering en ’n nuwe wêreldorde. God het hierdie inligting met ’n doel in die Bybel gesit, hoewel hierdie rede vir die meeste mense se visie versteek is. Soos ons sal sien, bevat die Bybel wesenlike perspektiewe en praktiese riglyne van hoe om werklike probleme te hanteer waarmee die gemeenskap vandag te doen het. Dit bied hoop en opwindende nuus oor die toekoms waarin u ’n rol kan speel!

’n Belofte aan Abraham

Die Bybel openbaar baie meer as soet beloftes dat “Jesus u liefhet”. ’n Groot deel van die Skrif beskryf God se handelinge met die kinders van Israel – die nageslag van Abraham – en hoe God hulle tot ’n nasie gevorm het wat Hy Sy “eiendomsvolk” noem (Deuteronomium 26:18). Hierdie proses van nasiebou is as geskiedenis opgeteken in die Bybel. Dit is leersaam om die Bybel se weergawe te bestudeer, aangesien die Een wat die nasiebou doen niemand anders is as God Self nie! Bybelprofesieë wys dat nasiebou een van die hoofuitdagings is wat Jesus Christus en die heiliges sal moet hanteer wanneer Christus na hierdie aarde terugkeer om die Koninkryk van God te vestig. Dit is hoekom dit belangrik is om te verstaan wat God oor hierdie onderwerp openbaar.

Toe God met Abraham begin werk het, het Hy Sy algehele voorneme en doel geopenbaar: “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees [vir die hele wêreld] ... en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 12:2-3). Dit is nie die weergawe van ’n plaaslike godheid wat ’n onbelangrike stam in ’n droë en onbelangrike uithoek van die wêreld vertroos nie. Die God van die heelal was besig om ’n proses van nasiebou te begin wat wêreldwye gevolge en blywende betekenis sou hê!

Hierdie proses van nasiebou het in alle erns begin toe God Moses gebruik het om die Israeliete uit slawerny uit Egipte te lei. Moses het aan die kinders van Israel vertel dat God van hulle ’n modelnasie wil maak wat as voorbeeld kan dien vir ander nasies om na te volg. (Deuteronomium 4:6). Dit is God se opregte bedoeling dat ander nasies leer hoe om te groei en uit te vind dat “dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is” (3 Johannes 2). Dit is waarom Hy Sy metode van nasiebou in die Bybel laat opteken het. Ons moet vra: “Hoe het God dit gedoen? Watter stappe het Hy geneem? Watter model vir nasiebou vind ons in die Bybel?”

Die fundamentele eerste stap

Hoewel dit vir die meeste moderne “verligte” en “wêreldlike” verstande snaaks mag lyk, begin God Sy proses van nasiebou met godsdiens. Die eerste stap wat Hy neem, is om die hele nasie van Israel op ’n standvastige, godsdienstige basis te plaas met die regte godsdiensoortuigings. Die Bybel wys dat God eers met Israel se leiers begin werk het en later die hele nasie bereik het. God het Homself eers aan Moses geopenbaar deur sy aandag te trek met ’n brandende bos (Eksodus 3). Die Skrif wys nie dat Moses ’n besonder godsdienstige man was voor sy ontmoeting met God nie. Moses was ’n Israeliet wat in die hof van die Egiptiese Farao grootgemaak is, omring deur heidense gode. Dit is waarom die ware God Hom aan Moses moes bekend maak (sien Eksodus 3:3-6, 13-15). God het aan Moses verduidelik dat Hy die Israeliete uit Egiptiese gevangenskap na ’n beloofde land sal lei. Daar sou Hy Sy belofte aan Abraham nakom en sy nageslag ’n groot nasie maak (Eksodus 6:6-8).

Toe Moses met Farao begin onderhandel, het die ware God Homself begin openbaar deur die plae wat oor Egipte gekom het. Aanvanklik het die plae almal getref, maar die plae wat later gevolg het, het net die Egiptenare getref; God het die Israeliete gespaar (sien Eksodus 8:22). Namate die plae voortgeduur het, het dit duidelik geword dat die God van Israel werklik en almagtig is, en die heidense gode van Egipte is as magtelose en vals gode ontbloot.

Nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het hul godsdienstige reoriëntasie begin. By die berg Sinai is hulle voorgestel aan God se Wette. Te midde van ’n skouspelagtige vertoning van weerligstrale, donderslae en rook, het God hulle die Tien Gebooie gegee wat die basiese waardes sou vorm van die nuwe nasie (Eksodus 20). Die Israeliete is voorgestel aan God se weeklikse Sabbat (Eksodus 16; 20:8-11) sowel as die jaarlikse Heilige Dae (Eksodus 23; Levitikus 23), wat belangrike mylpale sou vorm op die jaarlikse kalender. Die burgerlike reg wat God aan die Israeliete gegee het was ontwerp om ’n verligte en humanitêre gemeenskap daar te stel (sien Eksodus 21-22). Die gesondheidswette wat in die Bybel opgeskryf staan, dateer duisende jare voor hulle tyd (sien Levitikus 3:17; 7:23-27; Deuteronomium 23:9-14). Dit is deur God gegee om siektes te voorkom en gesondheid te bevorder in hierdie modelnasie (Eksodus 15:26). Die Bybel bevat ook wette oor bewaring wat gegee is lank voordat daar ’n “bewaringsbeweging” was (sien Deuteronomium 20:19-20; 22:6-7). Ernstige waarskuwings is uitgereik teen die gevare en gevolge van vals gode en om misleide godsdienspraktyke na te volg (Deuteronomium 12:29-32; 18:9-14). God se manier van nasiebou begin met die daarstel van die regte godsdiensbasis. Die geskiedenis het bewys dat wanneer ’n nasie se godsdiensbasis verweer of begin skeef loop, agteruitgang intree.

In teenstelling met wat baie mense vandag geleer word, is die Wette wat God aan Israel gegee het nie ’n las nie! Hierdie Wette was deel van die godsdiens wat God ontwerp het om Sy nasie as ’n lig en ’n voorbeeld te laat uitstaan vir die res van die wêreld (sien Deuteronomium 4:1-8). Amerika en Brittanje het nie toevallig groot nasies geword nie; hul kultuur, regering en regstelsels is gebaseer op hierdie selfde Bybelse wette! Die wette en godsdiens van die Bybel is nie geheime wat van die res van die wêreld verberg is nie; hulle is tot elkeen se beskikking om te lees en na te volg. Enige nasie wat hierdie wette aanneem en die godsdienstige voorskrifte van die Bybel volg, sal positiewe resultate ervaar. God het die godsdiens en wette van die Bybel ontwerp om ’n groot nasie te bou en Hy het hierdie inligting vrylik beskikbaar gestel aan enigeen om te gebruik in die proses van nasiebou.

Sleutels tot goeie regering

’n Tweede wesenlike stap in God se proses van nasiebou, is die verkiesing en opleiding van leiers om ’n goeie regering daar te stel. Geen regering is beter as die karakter van sy leiers nie. Dit is waarom die Bybel ’n duidelike lys maak van die karaktereienskappe wat God soek in diegene wat Hy kies vir posisies van leierskap.

In skelle teenstelling met die moderne kriteria om politieke leiers te verkies – gewildheid, kiesersaanhang, goeie televisie teenwoordigheid, welsprekendheid en fondsinsamelingvaardighede – het God Abraham gekies omdat hy gewillig was om te luister na Sy opdragte (Genesis 12:1-4). Abraham het bewys dat hy sy huishouding sou leer om God se regverdige wet (Psalm 119:172) en geregtigheid te volg (Genesis 18:16-18). Hy het geleer om die regte prioriteite te kies en God eerste te stel (Genesis 22). God het gesien dat Abraham “na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Genesis 26:4-5). As gevolg van sy karakter, beskryf die Skrif Abraham as ’n rolmodel en stigtervader van die Israelse nasie (Romeine 4:16-17).

Moses was ’n hoogs geleerde en vermoënde man. Hy was “opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade” (Handelinge 7:20-22). Moses was ’n generaal in Farao se leër (sien Josephus se Antiquities of the Jews, Boek 2, hoofstuk 10). Die Bybel wys egter dat God verkies het om met hom te werk, nie as gevolg van sy leierskap nie, maar omdat hy nederig en bereid was om te leer (Numeri 12:3). God het Joshua, wat Moses opgevolg het, vermaan: “Wees sterk en vol moed ... om nougeset te handel volgens die hele wet” en om nie van God se bevele af te wyk nie “sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan” (Josua 1:6-9). God het Dawid as Israel se koning gekies omdat hy ’n diep begeerte gehad het om God se wette te volg (Psalm 119:18, 27, 97, 105, 127). Hierdie was belangrike karaktereienskappe waarna God gesoek het in die leiers wat Hy gebruik het om Sy groot nasie te bou.

God het vir Moses gesê om sy regering te beman met “bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat” (Eksodus 18:21). God het aangedui dat Hy die koning sou kies, dat vreemdelinge nie die nasie van Israel moes lei nie en dat ’n leier nie sy posisie moet gebruik om homself te verryk nie (Deuteronomium 17:14-20). Leiers moes ’n persoonlike afskrif van God se wet maak en dit daagliks bestudeer, sodat hul nasie voorspoedig kon wees. Die Bybel verduidelik dat goddelike leiers ’n goeie reputasie moet hê, bekend moet wees vir hul wysheid en dat die vrugte van die Heilige Gees sigbaar moet wees in hulle lewens (sien Handelinge 6:3; Galasiërs 5:22-23). Dit is interessant om daarop te let dat in God se proses van nasiebou, leiers aangestel word op grond van hul vermoë, karakter en gewilligheid om God se wette te volg; hulle is nie deur die mense gekies weens gewildheid nie (sien Eksodus 18:21; Deuteronomium 1:15; Handelinge 6:3; Titus 1:5).

God het in Sy modelnasie ’n regering daargestel wat gebou en georganiseer is volgens vlakke van verantwoordelikheid (sien Eksodus 18:21-26; Deuteronomium 1:15). Leiers is aangestel oor hele stamme, oor groepe van duisende, honderde, vyftigs en tiene. Die ekonomiese grondslag van God se regering was die Bybelsisteem van tiendeheffing (Deuteronomium 14:22-29). ’n Persoon wat ’n inkomste verdien, moes jaarliks 10% daarvan aan die Kerk gee en tien persent hou om die Heilige Dae mee te vier. ’n Bykomende 10% moes elke derde- en sesde jaar in ’n sewejaar siklus aan die armes gegee word. Elke vyftigste jaar was ’n jubeljaar wanneer grond aan die oorspronklike eienaars teruggegee moes word en skuld gekanselleer word (Levitikus 25:8-17). Dit was ’n eenvoudige en billike stelsel. Solank die Israeliete God se opdragte vir goeie regering gevolg het, het dit voorspoedig met die nasie gegaan. Wanneer hulle daardie wette geïgnoreer het, het hulle probleme ondervind (sien Spreuke 29:2). Jesus het dit benadruk dat die leiers die behoeftes van hul mense moet dien – nie hul eie begeertes nie (Mattheus 20:25-28).

Regte opvoeding

’n Derde groot stap in God se proses van nasiebou, is om die regte grondslag en fokus vir opvoeding daar te stel. ’n Nasie se opvoedkundige stelsel vorm en skaaf sy burgers se idees en perspektiewe. As die opvoedkundige stelsel nie op ’n stewige grondslag van waarhede en waardes gebou is nie, sal die nasie uiteindelik verswak en verbrokkel. Gedurende die afgelope eeu het ons nasies gesien wat probeer leef het volgens die verkeerde aannames en vals waardes van kommunisme en fascisme en die vernietigende gevolge daarvan. Ons wêreldse, materialistiese en amorele samelewings – wat selfs “Christelikheid wil verwyder” uit godsdiensonderrig in skole terwyl dit “ateïsme, agnostisisme, humanisme en die heidendom net soveel klastyd gee” (Sunday Express, 15 Februarie 2004) – is in dieselfde doodloopstraat! Dit is ’n hoofoorsaak vir die kulturele agteruitgang van die Westerse nasies.

Die Bybelse model vir opvoeding staan in skrille kontras met moderne metodes. Moses het herhaaldelik die ouers se rol beklemtoon in die opvoeding van kinders (Deuteronomium 4:9; 6:1-8; 11:18-21). Die Bybelse model wys dat die noodsaaklikste kennis om aan die volgende geslag oor te dra, God se wette is – nie kleuterrympies of vrye kunste nie. Daar het natuurlik skole in antieke Israel bestaan, soos vandag die geval is en die Bybel openbaar dat die leerplan op God se Woord gebaseer moet wees. Salomo skryf dat “die vrees van die HERE is die beginsel [beginpunt] van die kennis; sotte verag wysheid en tug” (Spreuke 1:7; 9:10). Die regte benadering tot amper elke studieveld word in die Bybel gevind – nie in die Griekse of Romeinse filosofiese idees nie. Nasies wat hierdie Bybelse raad ignoreer, sal die tragiese gevolge pluk.

God wys dat dit die regte doelwitte van opvoeding is om te groei in wysheid (Spreuke 4:7), om bruikbare kennis op te doen om ander te dien (Mattheus 20:26-28) en om die denke en karakter van God te ontwikkel (Filippense 2:5-11). Vir die meeste hedendaagse mense is die grootste motivering vir opvoeding, om meer geld te verdien ten einde meer goed te kan koop, of om ’n mens se aansien te verhoog of persoonlike belange te bevredig. God se opvoedkundige stelsel is gebaseer op geopenbaarde waarheid, nie op die veranderbare teorieë van opvoeders nie. Jesus sê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Dawid skryf: “U wet is waarheid ... al u gebooie is waarheid ... die hele inhoud van u woord is waarheid” (Psalm 119:142, 151, 160). ’n Opvoedkundige stelsel wat op die vaste grondslag van waarheid gebou is, sal ’n groot nasie tot gevolg hê, vry van vals en misleidende idees wat gevaarlike en ongewenste gevolge meebring (Johannes 8:32). Dit is waarom dit belangrik is om die waarheid noukeurig te ondersoek en te bewys wat werklik waar is (1 Thessalonicense 5:21).

As mens hierdie Bybelse instruksies oorweeg, is dit nie verbasend dat moderne opvoedkundige stelsels wanfunksionerende gemeenskappe tot gevolg het waar misdaad, geweld, hebsug, oneerlikheid, dwelmmisbruik, egskeidings, seksueel oordraagbare siektes, sielsiekte en selfmoord die hoogte ingeskiet het tot onrusbarende vlakke nie.

Enorme hoeveelhede geld word bestee om studente ’n opvoeding te gee wat gegrond is op Griekse- en Romeinse filosofieë, die evolusie-teorie en wêreldlike humanisme wat God en Bybelse waardes verwerp. Wat is die gevolg? Toetspunte het gedaal en baie gegradueerdes kan skaars lees of eenvoudige rekenkundige probleme oplos. Baie het geen sin of doel in die lewe nie. Terwyl studente ’n paar geskiedkundige datums mag leer, het hulle nie ’n idee oor die lesse van die geskiedenis nie. Nasies wat nie hul eie geskiedenis en die groot lesse van die geskiedenis ken nie, se voorland is die “vullishoop” van die geskiedenis!

’n Uitdagende toekoms

Vir miljoene mense regoor die wêreld is die hedendaagse lewe moeilik en ’n wanhopige worsteling. Skrander indiwidue besef dat die nasies van die wêreld ’n onheilspellende toekoms in die gesig staar. Robert Cooper, een van Europa se mees gerespekteerde geleerde diplomate, waarsku dat “die een-en-twintigste eeu slegter mag wees” as enige vorige tyd in die geskiedenis, omdat “die nuwe eeu die gevaar loop om getref te word deur beide anargie en tegnologie ... Westerse regerings verloor beheer ... oor die metodes van geweld [staar terrorisme en wapens van massavernietiging in die gesig]. Beskawing en orde berus op die beheer van geweld: as dit onbeheerbaar word “sal daar geen orde en geen beskawing wees nie” (The Breaking of Nations, inleiding). Cooper sien die moderne wêreld steierend op die rand van ’n “afgrond wat na chaos lei”. Hy spreek nogtans die hoop uit wat deur baie mense gedeel word, dat die wetenskap en die mens se vindingrykheid ons sal red van die “storm wat ons bedreig” (ibid.).

Die meeste mense verkies vandag om hierdie opdoemende probleme te ignoreer. Party belydende Christene glo dat hul probleme “opgelos” sal word wanneer hulle gered gaan word van toekomstige rampe, deurdat hulle “weggeraap” gaan word hemel toe. Bybelse profesieë openbaar egter ’n baie ander werklikheid.

Die Skrif stel dit duidelik dat wêreldprobleme erger gaan word en nie beter nie (sien Mattheus 24:3-8). Menslike pogings om nasies te herbou en wêreldgebeure te beheer, sal uiteindelik misluk. God sal moet ingryp om menslike uitwissing en wêreldmoord te voorkom (Mattheus 24:21, 22, 30). Jesus Christus sal na hierdie wêreld terugkeer om die Koninkryk van God te vestig. Hy sal Sy groot mag aanneem oor alle nasies (Openbaring 11:17-18), en sal gesagsposisies delegeer aan gekwalifiseerde heiliges (Daniël 7:27) wat op hierdie aarde sal heers as konings en priesters – as maatskaplike en godsdienstige leiers (Openbaring 1:6; 5:10). Hierdie gebeurtenis sal die kritieke draaipunt vir die gekwelde nasies van die wêreld wees!

Jesus Christus en die heiliges sal ’n wêreldwye program van nasiebou begin. Hulle sal God se regering daarstel, en dit sal lei tot “die wederoprigting van alle dinge” (Handelinge 3:19-21). Die wanorde, verwarring, lyding en misleiding wat veroorsaak is deur mislukte nasies en misleide menslike redenasies, sal tot ’n einde kom namate nasies hersaamgestel en geheroriënteer word volgens ’n Bybelse grondslag van regte godsdiens (Sagaria 14), regte regering (Jesaja 9:6-7) en regte opvoeding (Jesaja 30:20-21). Alhoewel nasies sal bly voortbestaan (Jesaja 19:24-25) sal oorloë tot ’n einde kom (Jesaja 2:4), die omgewing sal herstel word (Jesaja 35:1-2) en paaie en stede sal herbou word (Jesaja 19:23; 61:4). Nasies sal die weg van vrede leer (Psalm 119:165), hoe om standvastige gesinne te bou (Miga 4:4-6) en hoe om gesonde, bevredigende lewens te lei.

God se manier van nasiebou sal in Jerusalem begin en regoor die wêreld uitkring (Jesaja 2:2-4; 11:9), wat ’n tydperk van duisend jaar van vrede en voorspoed sal inlei wat bekend staan as die “Duisendjarige Ryk” (Openbaring 20:4-6). Dit is waarop die ware Evangelie van Jesus Christus dui (Markus 1:14-15), soos wat baie Ou-Testamentiese profete reeds aangedui het (sien Daniël 2:44-45; 7:27). Christene wat die denke en karakter van God ontwikkel en leer hoe om God se wette toe te pas, sal ’n rol speel in die oplossing van groot probleme en die heropbou van nasies in die Wêreld van Môre. Dit is die werklike toekoms en dit is die moeite werd om daarvoor voor te berei!