Die Verenigde State sien toenemende verwarring vanuit alle hoeke – verwarring wat reeds lank gelede geprofeteer is.

Wat is besig om in ons wêreld te gebeur? Hoekom is mense met soveel haat gevul dat hulle doelbewus onskuldige mans, vrouens en kinders raakry om hulle perverse agendas op een of ander manier te bevorder? Waarom sien ons ’n styging in wettelose geweld – boewe met klapmusse wat vensters stukkend slaan, brande stig en motors omgooi? Wat word van ons wêreld?

In die afgelope maande het ons opsetlike moorde deur middel van motorvoertuie in Londen, Frankryk, die Verenigde State en Spanje gesien. Gedurende die nag van 11 Augustus 2017 is ’n groep mense gesien wat beskryf word as ’n kombinasie van Nazi’s, Ku Klux Klan (KKK) lede en wit suprematiste wat deur die strate van Charlottesville, Virginia, gemarsjeer het terwyl hulle anti-Semitiese slagspreuke gedreunsing het. Die volgende dag het hulle weer gemarsjeer en rassistiese beledigings geskree voordat hulle in ’n bakleiery met teenmarsjeerders betrokke geraak het. Albei partye het stokke, knuppels, pepersproei en ander wapens gehad wat duidelik getoon het dat hulle “gereed was vir ’n straatgeveg”. Die hele saak het geëindig toe een heerssugtige blanke met sy motor in ’n groep vreedsame opponerende marsjeerders vasgery en baie mense beseer en een van hulle doodgery het.

’n Paar dae later was die wêreld geskok toe ’n man ’n gehuurde vervoerwa gebruik en sowat 100 mense doodgery het wat net besig was met hulle gewone gang van sake op La Rambla, die beroemde boulevard en voetgangersentrum in Barcelona, Spanje. In ’n afsonderlike aanval in Cambrils het een mens gesterf voordat vyf terroriste gedood is in ’n skietgeveg met die polisie. Dit wil voorkom asof die bloedbad baie erger kon gewees het indien die terroriste die plof-toestelle wat hulle geskep het, suksesvol kon laat ontplof – dit het voortydig ontplof.

Ons het ook foto’s gesien van boewe met swart klapmusse op, wat besig was om vensters te breek by die Universiteit van Kalifornië in Berkeley, in ’n poging om te voorkom dat ’n spreker van wie hulle nie gehou het nie daar optree. Daar behoort kennis van geneem te word dat die administrasie geswig het voor die bedorwe kinders en hulle polities korrekte wêreldbeskouing. Sodanige betogings, hoewel nie altyd so gewelddadig nie, raak nou alledaags in Amerika, Kanada, die Verenigde Koninkryk en elders. Dit is duidelik dat vryheid van spraak afgetakel word en dat die ultra-linkses probeer om almal wat nie hulle agenda deel nie stil te maak.

Wat ons die afgelope jare sien gebeur het, is ideoloë van allerlei soorte (links, regs en godsdienstig) wat al meer radikaal en gewelddadig raak en die vraag wat baie mense vra is: “Waarom?” Waarom raak ons wêreld so gewelddadig? Waarom het nasies soos die Verenigde State so onversoenlik verdeeld geraak en waarheen lei al hierdie dinge?

By die kantelpunt

Amerika het oënskynlik by die kantelpunt verby beweeg. Dit is gewikkel in ’n kultuuroorlog tussen twee wêreldbeskouings wat nie versoen kan word nie. Skikkings-ooreenkomste is ’n algemene refrein, maar hoe kom ’n mens ooreen oor aborsie? Die een kant beskou dit as moreel gelykstaande aan moord. Die ander sien dit as ’n vrou se keuse. Hoe stem mens ooreen oor die definisie van die huwelik? Die een kant beskou dit as ’n morele kwessie, dat die huwelik ’n goddelike instelling is wat deur God verorden is, tussen een man en een vrou. Die ander kant gee nie om nie of stem nie saam met die Bybel nie. Dieselfde geld vir transgeslagtelike probleme. Hoe kom mens tot ’n ooreenkoms met radikale Islamitiese terroriste, Nazi’s, die KKK, haat-gevulde wit suprematiste of radikale anargiste wat net wil vernietig?

Kom ons wees eerlik. Ons leef in ’n gebroke wêreld. Westerse universiteite is deur baie bekrompe sekulariste oorgeneem wat ’n boodskap van politieke korrektheid predik, terwyl hulle reaksionêre onverdraagsaamheid teenoor enigiets aanmoedig wat nie op hierdie agenda is nie. Politiek was nog altyd ’n morsige speletjie, maar partye het so verdeeld geraak dat daar nou geen ruimte vir kompromie is nie, selfs nie oor kwessies waaroor hulle sou kon saamstem nie. Dit is duidelik dat politiek eerste kom, voor die land en sy burgers. In die Verenigde State het die lede van die media elke sweempie van neutraliteit oorboord gegooi en “gaan nou vir die nekslagaar” van die party waarvan hulle nie hou nie. Dit is nogal merkwaardig hoe oneerlik en onbillik die media aan alle kante geword het.

Hier by die Wêreld van Môre verskaf ons nie net die nuus nie, maar die storie agter die nuus en daar is werklik ’n storie agter die nuus wat ons vandag sien. Min mense verstaan regtig vandag dat daar ’n magtige geestelike invloed is wat agter die skerms werk en haat en tweedrag aanwakker. Die Bybel verwys na hom as Satan die duiwel en hy het slim stelling ingeneem in die gedagtes van die meeste mense en hom voorgedoen as niks meer as ’n onnutsige, maar onskadelike outjie in ’n rooi oorpak met ’n vurk en ’n puntstert nie. Niks kan verder van die waarheid af wees nie.

Min mense verstaan die feit dat Satan die god van hierdie wêreld is! Tog laat Jesus ons nie in die duister oor hierdie waarheid nie. Hy het voor Sy kruisiging aan Sy dissipels gesê: “Nou is die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31) en “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Die apostel Paulus beskryf hierdie geestelike wese as die een wat verantwoordelik is vir die rigting wat hierdie wêreld inslaan en noem hom “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2). Paulus vertel ons elders dat hierdie geestelike mag “die god van hierdie wêreld” is en dat hy mense se gedagtes “verblind” het vir die goeie nuus wat in die Skrif gevind word (2 Korinthiërs 4:4).

Vingerafdrukke

Satan se vingerafdrukke is op al die gruweldade wat ons rondom ons sien. Hy is die een wat valse godsdiens aanvuur – met inbegrip van ’n vervalsde “Christelikheid”! Die apostel Paulus konfronteer godsdienstige predikers wat ’n godsdiens verkondig wat in stryd is met God se Woord: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:13-15). Terwyl daar baie probleme is met hierdie wêreld se weergawe van “Christelikheid”, is rassehaat, elke keer wanneer dit in kerke verkondig word, nie van God nie, maar van die teenstander!

Indien Satan valse Christelikheid inspireer kan ons dan nie sy vingerafdrukke op enige godsdiens sien wat geweld en haat aanwakker nie? Wie plant in iemand se gedagtes die idee om in ’n motor te klim en na willekeur vroue en kinders dood te ry (nie dat dit minder tragies is om vaders, broers of eggenote dood te ry nie)? Wie is dit wat individue aanwakker om ander mense se besittings te breek, te verbrand en te vernietig as ’n vorm van afpersing om stil te maak wat ’n mens nie wil hê iemand anders moet hoor nie?

Laat ons verduidelik. Vanuit ’n Bybelse perspektief is enige vorm van haat teenoor ander mense sonde! Wetteloosheid is ’n vorm van haat en is dus sonde! Rassisme is haat en daarom sonde! Let op wat die apostel Johannes van haat sê: “Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het” (1 Johannes 2:9-11).

Etniese en rassehaat verblind die oë. Mense sê en doen dinge aan ander wat hulle andersins nie sou sê en doen indien hulle deur behoorlike morele redenering gelei sou word nie. Soms is die haat rassisties van aard – ander tye is dit etnies, stamverwant of godsdienstig. Mens word herinner aan die berugte geval van die Hatfield en McCoy families in landelike Amerika in die 1800’s. ’n Bitter en hewige vete het tussen een uitgebreide familie en ’n ander geheers. Dit het meer as ’n dosyn lewens geëis oor ’n tydperk langer as 25 jaar. Soos so dikwels die geval is, word vooroordeel en haat oorgedra van een geslag na ’n ander.

In die bekende Olyfbergprofesie openbaar Jesus aan ons dat etniese struweling teen die eindtyd volop sal wees. “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie [Grieks: Ethnos] sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Matthéüs 24:6-7). Ons behoort ook meer sektariese geweld in ons toekoms te verwag. Die vraag is: Sal u toelaat dat u self betrokke raak in die haatgevulde gees van die tyd of sal u herken wie se vingerafdrukke voorkom op die skynheiligheid en haat en uself daarvan distansieer?

Polities korrekte, anti-god verwêreldliking is ook ’n sonde. Haat en geweld vergesel dikwels verwêreldliking. Universiteitsprofessore stop jong gemoedere vol van hulle bekrompe sienings en bewustelik of onbewustelik, word hulle beïnvloed om enigiemand stil te maak wat nie daarmee saamstem nie. Dit neem soms die vorm van vreedsame protes aan, maar soms gaan daardie protes in geweld oor. Die onluste wat in Berkeley, Kalifornië, plaasgevind het, is ’n goeie voorbeeld daarvan, maar ’n mens kan nog baie meer opnoem.

Die G20-beraad van Junie 2010 in Toronto, Kanada, het ’n aantal vreedsame betogings beleef, maar dit is deur swartblok betogers [faksies] bederf. Swartblok is ’n term wat gebruik word om gewelddadige betogers te beskryf wat swart klere dra en dikwels hulle identiteite agter klapmusse, serpe, ski-maskers en sonbrille wegsteek. Meer as 40 besighede is verwoes, maar in die nadraai daarvan was dit die polisie wat gekritiseer is vir hardhandige taktiek! Waaroor het hierdie individue geprotesteer? ’n Ware mengelmoes van liberale oorsake, met inbegrip van aardverwarming, armoede, kapitalisme, vroueregte – die lys gaan aan.

Swartblok taktiek was ook te sien tydens die Wêreldhandelsorganisasie se vergaderings in 1999 in Seattle, Washington. Verskeie winkels is ook tydens hierdie onluste verwoes. Dit maak nie saak waaroor dit gaan nie, die vernietiging van iemand anders se eiendom is onaanvaarbaar en ons behoort hierdie swartblok boewe te noem wat hulle is: Oproermakers. Hulle werklike agenda is om te vernietig!

Verwêreldliking is nie neutraal nie

Dit is ’n fout om verwêreldliking gelyk te stel aan neutraliteit. Die idee daaragter is dat as ons net van godsdienstige vooroordeel van enige aard ontslae kan raak, ons ’n vreedsame samelewing sal kan hê. John Lennon se liedjie Imagine (1971) vang hierdie gees volmaak vas:


     Verbeel jou daar is geen hemel nie

     Dit is maklik as jy probeer

     Geen hel onder ons nie

     Bo ons, net die lug

     Stel jou voor al die mense wat vir vandag leef

     Verbeel jou daar is geen lande nie

     Dit is nie moeilik om te doen nie

     Niks om dood te maak of voor te sterf nie

     En ook geen godsdiens nie

     Verbeel jou al die mense leef hul lewe in vrede ...


Hierdie denkwyse is oppervlakkig. Sekularisme is ’n filosofie wat lynreg staan teen Bybelse waardes en God Self. Die idee dat ons ’n morele samelewing kan hê sonder ’n Opperwese om reg en verkeerd te bepaal, is op sy beste naïef en verkeerd.

Soos Dennis Prager van die gewilde Prager Universiteit se videoreeks so duidelik in een van sy video’s oor die Tien Gebooie verduidelik, u mag dalk dink dat moord verkeerd is, maar sonder God kan u nie weet dat moord verkeerd is nie. Sonder ’n gesag hoër as die mens, is u mening presies net dit – u mening. Omdat u dink dit is verkeerd, beteken nie dat dit verkeerd is nie. Wie het dan die gesag om gesaghebbend te dat dit verkeerd is? Al wat ons hoef te doen, is om terug te kyk na die vorige eeu om voorbeelde te sien van staatsondersteunde moord op miljoene Jode en ander stand mense wat deur verskeie regerings as onwaardig om te leef verklaar is.

Om dit tuis te bring: Babas word daagliks geaborteer. Ysland wil op hierdie wyse Downsindroom van die eiland af verwyder en baie mense in talle lande stem saam met hulle – dalk selfs u ook! Daar is egter ander mense wat nie daarmee saamstem nie, met inbegrip van baie ouers van Downsindroomkinders.

Wie besluit dus? Sekularisme is ’n poging om God uit die prentjie te verwyder. Van begin tot einde, is sekularisme die teenoorgestelde van Bybelse waardes. Wie se vingerafdrukke sien ons dus in verwêreldliking?

Jesus het die volgende punt benadruk toe Hy tot Sy Hemelse Vader vir Sy dissipels gebid het: “Ek het hulle u woord gegee; en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Diegene wat waarde heg aan ’n verhouding met God, gaan nie vasgevang word in hierdie wêreld se politiek nie. Alhoewel Hy gesag het oor die totale heelal, laat God toe dat Satan vir ’n tydperk oor die aarde heers totdat die mensdom die les geleer het dat God die beste weet.

Hierdie wêreld het nog altyd haat en geweld gesien. Kain het sy broer Abel vermoor. Die wêreld voor die sondvloed was met geweld gevul (Génesis 6:11). Die Bybel openbaar dat daar in die eerste eeu vooroordeel teen die heidene onder die Jode was. God het die vroeë Christene daarop gewys dat dit ongeoorloof is om enige mens as onheilig of onrein te beskou (Handelinge 10:28). Die apostel Paulus het sy mede-apostels Petrus en Barnabas aangespreek omdat hulle die heidene vermy het nadat sommige Jode van Jerusalem na Antiochië gekom het (Galásiërs 2:11-14).

Die Bybel toon duidelik dat alle mense gelyk is in die oë van God. “Want julle is almal kinders van God deur geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Galásiërs 3:26-29). Dit word ook in Romeine 2:25-29 bevestig.

Die brief aan die Efésiërs hou vol dat beide Jode en heidene almal sondaars is (Efésiërs 2:1-3). Die mens-bedinkte skeiding in die tempel in Jerusalem wat figuurlik die heidene van toegang tot die Vader geskei het, is in Christus afgebreek (verse 14-18). Wat die heidene betref: “So is julle nou nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (vers 19). Dan praat Paulus van een groot gesin: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efésiërs 3:14-15).

Terwyl geweld in Charlottesville, Virginia aan die gang was, het lede wat saamgestel was uit alle etniese en rasse-agtergronde van die Lewende Kerk van God, wat hierdie tydskrif borg, daarna gestreef om in vrede en harmonie saam te leef, alhoewel ons glad nie daarop aanspraak maak dat ons die enigstes in hierdie saak is nie. Soos koning Dawid geskryf het: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broeders ook saamwoon!” (Psalm 133:1). Soos Jesus ook aan ons sê: “Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35).

Indien u meer wil weet oor hoe om by ons aan te sluit in hierdie gemeenskap en diens, kontak gerus een van die streekkantore wat die naaste aan u is, soos dit op bladsy 2 van hierdie tydskrif verskyn.