Indien u ’n huis besit, is u moontlik wel deeglik bewus van die “subprima verbandkrisis” wat die finansiële industrie die afgelope maande geskud het. Tallose leners wat byvoorbeeld ’n verstelbare koers vir hulle huisverbande gekies het, sien nou hul premies styg – dikwels tot vlakke bo hul vermoëns wat lei tot finansiële ondergang en gewoonlik die oproeping van die verband van die gesinswoning.

Indien u nie ’n huiseienaar is nie of nie ’n verband met ’n veranderlike koers het nie, mag u dink dat u nie deur hierdie probleme geraak is nie. Indien dít is wat u dink, is u verkeerd! Die subprima verbandkrisis het ingewikkelde gevolge regdeur die ekonomie en is eintlik die simptoom van ’n baie ernstiger probleem wat ’n baie groter waagstuk vir die ekonomiese stelsel van Amerika – en die hele wêreld verteenwoordig!

Huisverband-smarte is werklik en hulle is ernstig, maar hulle is slegs die spreekwoordelike “puntjie van die ysberg”. Dit is wat onder die sigbare ysberg skuil wat ’n baie groter risiko inhou.

Onbeperkte rykdom?

Nie so lank gelede nie, het miljoene gretige huiskopers regoor Amerika geglo dat die huismark ’n bron van onbeperkte rykdom is. Die huis wat u vandag koop, sal môre ’n kontantmasjien wees waarvan u effekte kan verkry namate die prys styg en toeneem.

Waarom het huispryse bly styg? Die Amerikaanse Federale Reserwe het die ekonomie in die begin jare van hierdie dekade gesteun deur die geldvoorraad te vermeerder. ’n Groot deel van hierdie vermeerdering is geabsorbeer deur die vaste eiendomsmark en het veroorsaak dat huiseienaarskap meer aanloklik geword het. Die gevolg is dat die groter aanvraag na huise die pryse laat styg het. Uitleners het dit as vanselfsprekend aanvaar dat die pryse sou bly styg en as gevolg daarvan kon hulle geld uitleen aan mense met baie min ekwiteite (geld van hul eie om in die huise te belê), of met ’n swak kredietgeskiedenis. Die veronderstelling was dat selfs as ’n verbandhouer sou wanbetaal, die uitlener se belegging nog steeds beskerm sou wees deur die verhoogde waarde van die vaste eiendom.

’n Verband was beskou as “subprima” wanneer dit toegestaan was aan ’n lener met ’n swak kredietgeskiedenis of indien dit nie goed gedek word deur die onderliggende waarde van die vaste eiendom nie. Daar is slegs soveel leners met veilige, hoogs-besoldigde betrekkings wat ’n 20% deposito op ’n huis kan betaal, en wat ’n lening soek van nie meer as twee of driemaal hul jaarlikse huishoudelike inkomste nie. Hierdie “prima” lenings het ’n kleiner en kleiner deel van die mark uitgemaak toe die “huis-bloeitydperk” ontstaan het. Uitleners het gereken hulle kan wegkom met lenings toestaan aan mense wat moontlik net 3% (of minder) van ’n huis se waarde as deposito kon betaal en wat ’n lening wou aangaan wat vyf- of seskeer hulle jaarlikse huishoudelike inkomste bedra.

Met soveel geld wat gemaak kan word, het verbandmakelaars begin om lenings goed te keur aan mense wat dit duidelik nie kon bekostig nie, in die vertroue dat die vermeerdering in die waarde van die eiendom genoeg sal wees om dit lonend te maak. Selfs al sou die huiseienaar nie die verband kon afbetaal wanneer ’n verstelbare koers lening se premie sou verdubbel of verdrievoudig nie, sal die uitlener nog steeds sy geld kan terugkry deur die verhoogde waarde van die huis.

Met soveel wat berus het op die veronderstelling dat huispryse sal bly styg, sal ’n afswaai in die ekonomie – en dus in die huismark – vanselfsprekend probleme veroorsaak. Indien ’n lening toegestaan was vir 90%, of selfs 97% van die huis se waarde, sal selfs ’n redelik geringe daling in eiendomswaarde, die uitlener “aan die kortste ent laat trek” ten opsigte van die lening – die skuld sal meer wees as die waarde van die huis. Sodra ’n huis minder werd is as die verband, is daar baie minder aansporing vir die lener om te bly betaal. Voeg daarby die kwelling van ’n verhoogde verbandspremie wanneer ’n veranderlike verbandkoers huidige rentekoerse weerspieël, en dit is ’n resep vir ’n ramp.

Leners met ’n swak kredietgeskiedenis – die einste mense aan wie soveel subprima lenings toegestaan was – is tipies die eerstes wat sal wanbetaal. Kyk na ’n lener wat ’n verband van $300 000 op ’n huis uitneem en slegs $10 000 bydra as deposito en maandeliks $1 500 betaal op ’n aanpasbare koers verband. Indien die waarde van die eiendom slegs met 4% sou daal en die terugbetaling styg na $2 500 per maand, mag baie leners teensinnig wees om te betaal. Voeg nog hierby die somber feit dat in ’n verswakte ekonomie, huiseienaars hul werk mag verloor en dus nie in staat sal wees om te betaal nie, dan kan u sien hoe die aantal opgeroepte huisverbande die hoogte kan inskiet.

Wanneer huiseienaars begin wanbetaal op hul huisverbande, is hulle nie die enigste mense wat daaronder ly nie. Die beleggers wie se geld die verband gefinansier het, mag hul belegging verloor indien die onbetaalde bedrag groter is as die waarde van die huis waarteen die verband uitgeneem is.

“Wie gee om vir die ryk beleggers” mag sommige mense sê. “Die eintlike probleem is die huiseienaar”. Wel, in ons moderne ekonomie is baie huiseienaars lede van ’n pensioenfonds of beleggers, wie se inkomste na aftrede mag afhang van gemeenskaplike fondse wat intensief belê is in huisverbande.

Dit is tipies dat, nadat ’n verbandmakelaar ’n huislening gegenereer het, word dit gou verkoop aan ’n ander belegger en dit word dan saamgegooi met ander verbande om finansiële middele te vorm ter waarde van tientalle miljoene dollars of nog meer. Hierdie saamgevoegde verbande word dan gebruik om skuldbewyse of ander finansiële middele te verseker wat dan aan beleggers verkoop word as sekuriteite wat deur verbande gedek is. ’n Huiseienaar ken slegs die naam van die instansie waarheen hy sy verbandafbetaling moet stuur, maar daardie betaling mag uiteindelik deur ’n wye reeks beleggers ontvang word, wat op hul beurt ’n aandeel in daardie verband bekom het. ’n Huisverband mag deel wees van ’n komplekse finansiële instrument wat ontwerp is vir gesofistikeerde beleggers. Daar is selfs gevalle waar beleggers kontraktueel slegs die kontantvloei wat voortspruit uit laat betalings op verbande ontvang, in die hoop om munt te slaan uit ’n afswaai in die ekonomie.

Die situasie word nog meer kompleks wanneer sommige beleggers geleende fondse gebruik om in ander mense se verbandlenings te belê. Dit skep die potensiaal vir ’n hele opeenvolging van rampe. Wanneer die kredietwaardigheid van saamgegooide verbande afneem as ’n gevolg van subprima lenings wat wanbetaal word, mag uitleners terugbetaling van hul lenings eis. Met geen geredelike mark vir die nou gedevalueerde saamgevoegde lening nie, waarmee kan die belegger dan terugbetaal word?

Wanneer ’n groot deel van ’n bate se waarde berus op die veronderstelling dat dit ’n gesonde belegging is, kan die waarde daarvan vinnig afneem ten tye van ’n finansiële krisis. Net soos ’n huiseienaar “aan die kortste ent trek” met ’n huisverband, mag genootskapsbeleggers uiteindelik finansiële middele hou wat minder werd is as waarvoor hulle daardie middele kan verkoop. Bates wat nie vinnig verkoop kan word nie, word “illikied” genoem. Wanneer beleggings se waarde daal, kan die gevolglike likwiditeitskrisis selfs groot finansiële instellings laat bankrot speel en kan ’n hele ketting van “opeenvolgende bankrotskappe” veroorsaak waarin die een se bankrotskap ’n ander instelling saamsleep.

In so ’n omgewing is dit geen verrassing dat Wallstraat verlede jaar ’n paar groot verliese en regte paniek gesien het nie. Onthou wat vroeër hierdie jaar gebeur het met die gevestigde Wallstraat firma, Bear Stearns, wat noodleniging van die Amerikaanse regering aangevra en verkry het sodat dié se voormalige mededinger, J.P.Morgan Chase & Co, gewillig sou wees om in te tree en die firma te koop om daardeur ’n groot finansiële krisis af te weer. Hoe suksesvol was hierdie ingryping? Soos die Wall Street Journal berig: “Terwyl hierdie handeling wys dat die Fed aggressief probeer het om te verhoed dat die Bears se krisis na die wyer ekonomie versprei, lyk dit of dit nie baie gedoen het om vrese te besleg nie” (“Fed Races to Rescue Bears Stearns”, 15 Maart 2008).

Selfs Europa het die angel van hierdie Amerikaanse probleme gevoel. Die grootste bank in Switserland, UBS, het aangekondig dat dit $38.29 miljard verlies gely het as gevolg van sy subprima verwante bates. Ander belangrike finansiële instellings wat groot verliese gely het sluit in: Merrill Lynch ($25.09 miljard), Citigroup ($21.65 miljard), AIG($17.20 miljard), Morgan Stanley ($13.12 miljard), Deutsche Bank ($7.35 miljard) en Royal Bank of Scotland ($6.00 miljard). Dit is duidelik dat die subprima verband-ineenstorting ’n geweldige skok vir die wêreld se bankinstellings meegebring het.

Die res van die ysberg

Baie van die media se aandag was toegespits op subprima verbande. Dit lyk of baie min mense besef dat ’n soortgelyke verskynsel in aantog is oor ’n baie groter arena – die groot besigheidslening-portefeuljes wat deur handelsbanke gehou word, groot sowel as klein. Hierdie banke se kernbesigheid is om lenings beskikbaar te stel aan ander besighede – vir toerusting, inventarisse, bates, kredietfasiliteite en baie ander behoeftes. Lenings in hierdie sektor wissel van tienduisende dollars tot honderde miljoene of selfs miljarde dollars.

Dieselfde maklike geld wat gelei het tot soveel subprima verbandlenings, het ook veroorsaak dat bankdeposito’s verhoog het. Namate banke meer geld op hande het, ervaar hulle groter druk om meer lenings aan besighede toe te staan. Net soos in die huisverband-industrie, het die handelsbankiers gevoel hulle behoort meer en meer riskante lenings toe te staan, ten einde mededingend te bly. Namate die volume van die lenings vermeerder, word die banke se leningsportefeuljes meer riskant. Wanneer ’n lener wanbetaal ten opsigte van ’n kommersiële lening, moet die bank vir die verlies vergoed uit sy eie kapitaal – wat gewoonlik 5% van sy totale bates is. Alhoewel dit van banke verwag word om reserwes te dra om vir verliese te vergoed, kan ’n vinnige styging in wanbetalings, baie gou ’n bank se reserwes en kapitaal insluk.

Die volume van die Amerikaanse banke se besigheidslenings verdwerg die volume van die subprima huislenings – en plaas hierdie noodsaaklike sektor van die ekonomie in ernstige gevaar van ’n ineenstorting wat baie groter is as wat alreeds gesien is in die subprima verband-industrie. Die Verenigde State se Federale Reserwe het die ekonomie oorvloei met likwiditeit in ’n poging om die probleem die hoof te bied, maar baie waarnemers wonder of hierdie die regte medisyne is vir ’n wankelrige besigheidsekonomie. Soos die Amerikaanse ekonomie versleg, sal ’n onbekende volume “subprima” besigheidslenings ook wanbetaal word en dit sal dan óf herstruktureer óf terugbetaal moet word. Terugbetaal word met wat?

Hierdie groot blootstelling aan risiko’s in die handelsbankwese veroorsaak paniek onder baie bankiers, reguleerders en finansiële ontleders. Niemand besef die volle omvang van hierdie risiko nie, maar indien genoeg besigheidslenings begin om wanbetaal te word tydens ’n resessie, kan dit ’n hoogs gevreesde stortvloed van bankrotskappe onder interafhanklike finansiële instellings veroorsaak. Analiste is alreeds besig om te voorspel hoeveel banke in verskillende streke van die Verenigde State bankrot kan speel – en die aantal geprojekteerde bankrotskappe word al groter. Banke kan finansieel geknou word selfs as lenings nie wanbetaal word nie; wanneer bestaande lenings as meer riskant as voorheen geag word, mag banke gedwing word om lenings drasties in te kort.

Analiste is besig om die risiko’s wat banke loop, te probeer peil – om die grote van die ysberg wat onder die sigbare oppervlakte in die bankwese van die Amerikaanse ekonomie skuil, te probeer bepaal. Moody’s Investers Service skat dat in 2008, die korporatiewe wanbetalingskoers vyfvoudig sal groei, selfs meer as 2007 se reeds rekord laagtepunte – ’n verhoging van 5.3%, teenoor minder as 1% in 2007. Moody’s skat ook dat rofweg $48 miljard hoogs riskante “spekulatiewe graad” korporatiewe banklenings in 2010 opeisbaar sal wees, met die meerderheid in 2009 of die jaar daarna.

Die totale volume van alle besigheidslenings van die banke wat in die volgende paar jaar opeisbaar sal word, is baie groter as die $48 miljard wat Moody aangee as spekulatiewe graad lenings. ’n Resessie kan selfs hoë kwaliteit besigheidslenings omskep in spekulatiewe graad lenings.

Tekens vanuit die Aandelemark

Deur na die aandelemark te kyk kan ons ’n mate van insig verkry van hoe beleggers die nasie se banke bejeën. Deur te bepaal wat hulle bereid is om vir ’n aandeel te betaal, maak beleggers eintlik voorspellings met inagneming van veranderings in profyte, verliese en bates van openbare verhandelbare korporasies. Wanneer ’n bank se aandeleprys daal, kan dit die beleggers se opinie reflekteer van die bank se onderliggende sekuriteit, waarvan ’n beduidende deel bepaal word deur die risiko’s van die bank se lenings.

Wat sê die aandelebeurs aan ons oor verskeie groot nasionale- en streekbanke? Aandele in Wachovia Bank, een van die nasie se grootste en mees suksesvolste banke, was in April 2006 verhandel teen $59.85 per aandeel. In Maart 2008 het die prys geval na minder as die helfte daarvan, en verhandel onder $26 per aandeel. Wachovia se verdienste per aandeel het gedaal van $4.61 per aandeel in 2006, tot byna niks (3 sent per aandeel) in die vierde kwartaal van 2007.

Baie streekbanke vaar nie juis beter nie. BankAtlantic is ’n streekbank wat besigheid bedryf in Florida. In Julie 2005 het hul aandele verhandel teen $18.85 per aandeel, maar teen Junie 2008 het dit getuimel tot minder as $1.80 per aandeel. Dit is duidelik dat die kredietkrisis instellings dwarsdeur die Amerikaanse bankwese in ’n riskante posisie plaas.

Onlangse maatreëls deur die Federale Reserwebank toon paniek op die hoogste vlak. Die Federale Diskontokoers oefen ’n groot invloed uit op die Amerikaanse geldvoorraad en korttermyn rentekoerse is geneig om saam daarmee te daal of te styg. Die Federale Reserwe het die rentekoerse gesny van 6.25% ’n jaar gelede, na 2.25% vanaf Junie 2008. Die presidente van die Federale Reserwe gebruik maklike toegang tot geld as ’n geneesmiddel vir die kwynende bankwese, omdat dit een van die baie min middele is wat dit kan aanwend om te probeer help. Daar is egter ’n gesegde: “Wanneer al wat jy het ’n hamer is, lyk elke probleem soos ’n spyker”. Party analiste het wyslik opgemerk dat dit die Fed se “maklike geld” beleid van 2002-03 is wat in die eerste plek die saad vir die subprima verbandmoles gesaai het.

So ontnugterend as wat dit mag wees, kan die subprima verbandgemors slegs die eerste van ’n reeks groot skokke wees wat die Amerikaanse en Europese bankstelsels gaan raak. ’n Resessie van enige noemenswaardige duur of felheid kan maklik veroorsaak dat kommersiële eiendomslenings versuur, gevolg deur ’n onbekende hoeveelheid besigheidslenings. Die risiko van stelselmatige bankrotskappe – van wanbetalings in een sektor van die ekonomie wat lei tot ’n “vloedgolf” wanbetalings regdeur ander sektore – gee aanleiding tot groot besorgdheid vir baie kundiges.

’n Unieke perspektief

Ons kan die ekonomie bestudeer om die onmiddellike oorsake en gevolge van ekonomiese probleme in ons nasies te verstaan. Daar is egter ’n bron wat ons kan raadpleeg om die “geheelbeeld” te verstaan en dit in ’n konteks te plaas wat onbekend is aan die meeste finansiële ontleders. Bybelse profesie voorsien ’n unieke perspektief op wêreldgebeure en openbaar die “toekomstige geskiedenis” van die Amerikaanse ekonomie – sowel as dié van Europa.

Indien ons kan verstaan waarom Amerika so welvarend geword het, dan behoort ons in staat te wees om te verstaan hoe dit so welvarend kan bly – en wat kan veroorsaak dat dit sy welvaart kan verloor.

Die Verenigde State het verseker talryke natuurlike hulpbronne, maar net so het baie ander nasies. Toe die setlaars vroeg in die 17de eeu in Virginia en Massachusetts aangekom het het hulle nie veel meer as wildernis aangetref nie. Immigrante arriveer egter toe in die kwynende jare van die 19de eeu by New York se Ellis Eiland en hulle het die Standbeeld van Vryheid in die hawe, hoë geboue reg deur die stad, paaie, huise, woonstelblokke, kantore en fabrieke wat werk verskaf daar aangetref. Waar het al hierdie voorspoed vandaan gekom? Die meeste ekonome vandag sal antwoord dat dit gekom het van miljoene ure se harde arbeid, soos die Amerikaners produktief gewerk het om bruikbaarheid en waarde tot hul ekonomie te voeg.

Die Amerikaanse ekonomiese stelsel het inderdaad ’n lewenstandaard en ’n dinamiese ekonomie geskep wat vir lank die naywer van die wêreld was. Die God van Abraham, Isak en Jakob gee egter aan ons die ware verduideliking vir nasionale welvaart – ’n verduideliking wat lank reeds vergeet is deur die meeste mense: “Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder – en jou hart hom dan verhef, dat jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ’n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen – en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is. Maar as jy nogtans die Here jou God vergeet en agter ander gode aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie” (Deuteronomium 8:11-20).

Ja, God se seëninge is noodsaaklik vir die sukses van die produktiewe proses van enige nasie. Hy gee aan ’n nasie die krag om welvaart te verkry. Nogtans het baie mense in Amerika onbeskroomd die tradisionele waardes verwerp wat eenmaal die nasie se krag voorsien het. God het lank gelede terug gewaarsku: “Die Here sal jou ryklik seën in die land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem; as jy net goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al hierdie gebooie wat ek jou vandag beveel. Want die Here jou God seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie” (Deuteronomium 15:4-6).

Die Verenigde State het eenmaal oor die rykdom beskik om ’n uitlener vir ander nasies te wees, maar is nou die wêreld se grootste skuldenaar. God sê egter ook dat Hy ’n nasie se voorspoed, seëninge en vloeke kan omkeer in ooreenstemming met die nasie se gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid: “Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor – die seën as julle luister na die gebooie van die Here julle God wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie” (Deuteronomium 11:26-28).

Gelukkig kan elkeen van ons individueel van koers verander en voor God berou tot bekering oor ons sondes hê. Het u dit gedoen? Die Amerikaanse staatskip spoed voort sonder om God in ag te neem en die punt van ’n ysberg is in sig. Onder die oppervlakte skuil die res van die ysberg. Sal Amerika van koers verander voor dit te laat is?