Die Engelse se wantroue in “alles Europees” dateer reeds eeue terug - ’n wantroue wat beslis versterk is deur die Spaanse Armada, Napoleon en Adolf Hitler. Vir baie Britte was daar te veel kontinentale geweldenaars wat met gierige oë na hulle “sceptered isle” gekyk het. Die Engelse het weggeskram van enige leier wat sý wil wou afdwing op ’n nasie wie se mense hulle vryheid meer waardeer het as byna enige ander nasie in Europa. Waarom is dit so?

Wie is die Engelse?

Engeland ontleen sy naam aan die Angele wat spoedig nadat die Romeine Brittanje in die vyfde eeu verlaat het saam met die Saksers en Jutte daar aangekom het vanuit die hedendaagse Duitsland en Denemarke. Daar is duidelike streeksverskille in die land ná vlae van invalle en volksverhuising. Die eiewyse suidelikes word byvoorbeeld beskou as sou hulle te veel van ’n “stywe bolip” hê as die hartliker en meer gemoedelike noordelikes.

Wat feitlik onbekend is, is dat die drie stamme van mense wat hierbo genoem is, slegs ’n paar eeue voor hulle aankoms in Engeland, in die noordweste van Europa aangeland het. Waar kom hulle egter vandaan?

Saksers is die seuns van Isak

Die meeste geskiedkundiges erken dat die Germaanse stamme tussen die 1ste eeu v.C. en die 3de eeu n.C.in die Ryn-, Weser- en Elbe-riviervalleie aangeland het vanaf die Skithiese gebied. Hulle was vergesel van ’n ander volk wat ’n soortgelyke taal gepraat het, maar wat verkies het om hulle in die kusgebiede van Normandië, tot so ver noord as Skandinawië, te vestig.

Die Engelse historikus Sharon Turner se werk, History of the Anglo-Saxons (1836, Deel 1, bll. 100-101) lui: “Ptolemeus [die Romeinse aardrykskundige] maak melding van ’n Skithiese volk wat voortspruit uit die SAKAI, met die name van Saksers ... Sakai-Suna, of te wel die kinders van Sakai, verkort na Saksun, wat dieselfde klink as Sakser en wat lyk na ’n redelike woordafleiding van die woord, Sakser”.

Ander geskiedkundiges het dikwels die maklike afleiding gemaak van die naam “Saksers” en “seuns van Isak” van Bybelse faam.

Waarom sou hierdie Saksers – wat hulle later in Suid-Engeland sou vestig en hulle naam gegee het aan Essex (Oos-Saksers), Sussex (Suid-Saksers) en Middlesex (Midde-Saksers) – hulle verbintenis met die naam van Isak wou verewig? Die antwoord is dat Isak se seun Jakob, wat ook Israel genoem word, sy vader se naam aan sy kleinseunEfraim bemaak het.

Net voor Jakob se dood het hy sy seun Josef geroep om sy twee seuns, Manasse en Efraim na hom te bring. Terwyl hy die seuns geseën het, het hy gesê: “... mag deur hulle my naam genoem word” (Genesis 48:16). Hy het sy hande gekruis sodat sy regterhand op die jonger kleinseun se kop en sy linkerhand op Manasse se kop was. Josef het beswaar gemaak, maar Jakob het gesê: “Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sý nageslag sal ’n menigte van nasies word” (vers 19).

Hierdie twee seuns het in later jare Brittanje (Efraim) en die Verenigde State van Amerika (Manasse) geword.

Die hedendaagse inwoners van Brittanje bestaan uit verskeie ander groepe as net die Angele, Saksers en Jutte. Dit sluit in die inheemse Britte (Walliesers, Pikte, Skotte, Iere en Corniërs), Dene en Noorweërs vanuit die Wiking-invalle en laastens die Normandiërs. Die meerderheid is egter Saksers, wat in die suidooste van die land woon.

Die nakomelinge van Manasse, Efraim se broer, het saam met hulle broer gebly totdat die tyd aangebreek het om vanaf die sewentiende eeu en daarna, na Noord-Amerika te verhuis.

Baie van hierdie “Manassiete” het hulle in Anglië gaan vestig. Neem kennis wat John Ogwyn op bladsy 36 van ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? skryf:

“Nieu-Engeland is byvoorbeeld hoofsaaklik deur immigrante uit Oos-Anglië gevestig. Sekere gemeentes van hierdie suidoostelike deel van Engeland het tussen 1629 en 1641 byna leeg geloop van inwoners, namate hele familiegroepe gelyktydig verhuis het. ‘Vandag lyk Oos-Anglië baie landelik in vergelyking met ander Engelse streke. In die vroeë 17de eeu was dit egter die heel digbevolkste en ’n hoogs verstedelike deel van Engeland en dit was vir eeue so’” (Albion’s Seed, bl. 43). 
Die daaropvolgende migrasie van Engelse uit ander lande het die bevolking van die Verenigde State laat groei.

’n Mens het net nodig om na ’n kaart van Nieu-England in die Verenigde State van Amerika te kyk om plekname soos Norwich, Boston, Cambridge, Lincoln en Peterborough te vind. Al hierdie plekname is ontleen aan die gebiede van Oos-Anglië of die nabygeleë omgewing.

Brittanje doen afstand van die reëls

God waarsku Sy volk om goed ag te slaan op die gevolge indien hulle Sy Wette sou minag. Honderd jaar gelede, terwyl Groot-Brittanje gereed gemaak het vir oorlog, het die meerderheid Engelse in God en in die Bybel geglo. Daar was ’n gevoel van identiteit wat lank reeds bestaan het tussen hulle en die King James Version van die Bybel wat die eerste keer in 1611 gepubliseer is. Om ’n bespotting van die Bybel te maak of daarmee die gek te skeer, is beskou as lasterlik. Eerbied vir die Bybel was baie dieselfde as die eerbied wat Moslems vandag vir die Koran het.

Ons grootouers sou geskok wees indien hulle die wêreldse, menslike uitsprake van die kerkleiers van vandag kon lees. Om te dink dat homoseksualiteit wat ondersteun word deur hoofstroom Protestantse kerke en selfs openlik beoefen word deur die geestelikes, sou hulle ontstel het. Die wydverspreide aanvaarding van seks voor die huwelik, sowel as egskeiding, sou ondenkbaar wees vir die meeste van hulle.

Die boek Levitikus waarsku ons: “... en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek - dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie”. (Levitikus 26:15-17).

Brittanje en Amerika se onlangse probleme in Irak en Afghanistan laat dit lyk asof God 3,500 jaar gelede die teks vir hulle geskryf het. Kyk hoe die woorde van die Skrif Brittanje se toekoms voorspel: “Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstomd sal staan. En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ’n wildernis en julle stede puinhope word” (Levitikus 26:32-33).

Brittanje “het afstand gedoen van die reëls (waive the rules)” en “beheer oor die golwe (rule the waves)” geld nie meer nie. Die bekende lied oor vaderlandsliefde, “Rule Britannia”, waaruit hierdie woorde geneem is, sê met trots: “Britte sal nooit, nooit slawe wees nie”. Ongelukkig waarsku die Skrif dat ’n tyd van slawerny vir die eens trotse Britse volk, sowel as hulle Amerikaanse neefs, nog voorlê.