Die meeste mense gaan selfvoldaan deur die lewe met idees en oortuigings wat hulle nooit bewys het nie! Dit mag nie te gevaarlik wees wanneer dit menings behels oor sportspanne, of oor wie die wêreld se grootste politikus was, die mooiste aktrise of dinge van soortgelyke aard nie.

Wanneer dit egter ’n mens se ewige lewe raak – wanneer dit die hele doel vir menslike bestaan raak – dan moet ons liewer absoluut seker wees van ons oortuigings. Dan moet ons werklik bo alle twyfel bewys wat ons glo!

Ek onthou nog goed hoe ek in ’n klein Midwesterse stad grootgeword het. My gesin was oor die algemeen gemiddeld. Pa, Ma, Patty, Kathryn en ek was die gesin – ek was die oudste kind. Ons het een van die grootste en mees gerespekteerde “hoofstroom” kerke bygewoon. My ouers het altwee gegradueer by ’n klein kollege in die vrye kunste wat deur ons kerk geborg was. Hulle was baie toegewyd aan die kerk, hoewel nie op ’n uitgesproke of fanatiese manier nie.

Sommige van my vroegste herinneringe sluit die viering van Kersfees in. Aan my en my susters was vertel dat Sinterklaas die nag voor Kersfees deur die skoorsteen sal “sluip” om vir ons geskenke te bring. Dit was ’n opwindende tyd – baie geskenke, ’n groot familie-ete en geen skool!

Daarna het ons geleer dat die “Paashaas” eiers sou lê en ons moes die Paassondagoggende die hele huis daarvoor deursoek. Later is aan ons vertel dat Christus op Paassondag uit die dood opgestaan het, maar ons aandag was verseker nie daarop gefokus nie.

In die Sondagskool het ons kaarte van die Heilige Land geteken en die “Onse Vader”-gebed asook ’n paar sentimentele verse gememoriseer. Ons is die “Onse Vader” geleer, maar daar is nooit aan ons verduidelik wat beteken “laat u koninkryk kom” nie, ook nie die belangrike uitdrukking, “laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” nie.

Ons is veel eerder geleer dat indien ons oor die algemeen “goeie” seuns en dogters is, ons “hemel toe sal gaan” wanneer ons tot sterwe kom. Natuurlik was Jesus Christus se duidelike stelling: “... niemand het opgevaar in die hemel nie” (Johannes 3:13), nooit bespreek nie. Daar was verseker ook nooit enige bespreking aangaande die dosyne Skrifgedeeltes wat duidelik beskryf dat dit die Christen se doel is om Christus by te staan om oor hierdie aarde te regeer nie – soos in 1 Korinthiërs 6:2-3: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?”

Die liewe ou tantetjie wat vir ons Sondagskool gegee het, het ons baie maal vertel – soos ander dit ook later gedoen het – dat Jesus gelykenisse gebruik het om dít wat Hy hulle geleer het, meer verstaanbaar te maak. Klaarblyklik was die liewe tante – soos honderde opregte predikante en onderwysers – onbewus van Jesus se direkte verduideliking van hoekom Hy in gelykenisse gepreek het. “Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie” (Markus 4:11-12).

U mag maar uitroep: “Het Jesus dan nie probeer om elkeen te red nie?”
Nee, Hy het nie, so vreemd as wat dit mag voorkom. Hy het self gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). Dan, om dit te beklemtoon, herhaal Jesus in hoofsaak daardie skokkende stelling: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê datniemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie” (vers 65).

Dit, my vriende, is waarom die meeste mense op aarde nog nooit enige soort van Christene was nie – en ook nie nou is nie. Slegs ongeveer ’n derde van die aarde se bevolking bely die naam van Jesus Christus. Nogtans het die apostel Petrus gesê: “... daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).

U moet verstaan dat – indien u bereid is om die eenvoudige woorde van die Bybel te aanvaar – mense nie waarlik “Christene” is net omdat hulle die “naam” van Jesus Christus bely nie. Die meeste van die hoofstroom godsdienste het juis dít gedoen! Hulle heg voortdurend Jesus se naam aan alle soorte onbybelse idees en oortuigings. Jesus sê egter duidelik: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Weereens verklein Jesus die veld wanneer Hy baie duidelik sê: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Mattheüs 7:21-23, NV).

Het u dus eerlik en objektief die tyd afgestaan om te bewys wat Jesus Christus ons werklik leer? Is u ook gewillig om te handel volgens daardie bewys wanneer dit duidelik en helder in u verstand word? Of is u soos die meeste mense wat bang is om die Waarheid te aanvaar omdat dit hulle familie, vriendskappe, werk of hulle “sosiale aansien” mag affekteer? Is u dalk, onwetend, ietwat soortgelyk aan die Fariseërs van Jesus se tyd? “Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:43).

Ek weet dat baie van u wat  nou hier lees predikante of verskillende soorte godsdienstige leermeesters is. Dit is belangrik vir ewige lewe – en vir ons almal – om die woorde en ondervindinge te verstaan van ’n groot dienaar wat ek gaan aanhaal. Hy was gekonfronteer met ’n soortgelyke dilemma in sy lewe – om gewillig te wees om op te staan vir die waarheid, of dit nou sy professionele of sosiale aansien gaan benadeel of nie. In volume I van sy Outobiografie, bl. 528, skryf Herbert W. Armstrong:

Ek weet van evangeliste wat moontlik opreg is in hulle veronderstelling dat hulle God dien – en wat graag vry wil wees om baie waarhede te verkondig wat hulle nou terughou. Hulle redeneer iets soos: “Indien ek verder gaan, en daardie dinge preek, sal ek my lewensonderhoud verloor. Ek sal totaal van die bediening afgesny word. Dan kan ek NIKS verkondig nie. Dit is beter om God te dien deur soveel as moontlik van die Bybelse waarheid te preek, as om verhoed te word om enigiets te preek”.

 

Hulle maak staat op die finansiële ondersteuning van MENSE, of op organisasies van mense. Enigeen in daardie verknorsing is die DIENAAR van MENSE, en NIE van God nie, of hy dit besef of nie.

’n Man het my aangespreek terwyl ek besig was om langs die plattelandse grondpad tussen die Firbutteskool en die Jeansskool te stap in die herfs van 1933.

“Jy sal nie ver kom nie”, het hy gesê. “Jy verkondig die regte waarheid van die Bybel. Dit gee mense aanstoot. Die Bybel is soos ’n skerp tweesnydende swaard. Dit sny – dit berispe, korrigeer, wys tereg – mense sal nie daardie soort prediking ondersteun nie! Jy sal nie ver kom nie”.

Ek het egter nie op die ondersteuning van MENSE vertrou nie. Indien mense my sou betaal, dan moes ek mense dien. Indien ek God wou dien, dan moes ek geheel en al op God vertrou vir ondersteuning!

Natuurlik werk God deur menslike instrumente. Maar ek moes op God staatmaak om dit op mense se harte te lê om dié soort prediking te ondersteun wat gehoorsaam is aan Jesaja 58:1, deur “... uit die keel te roep” – my stem te VERHEF en aan die volk hulle SONDES te verkondig!

My vriende, elkeen van ons behoort – diep in ons binneste – waaragtig te bewys wat ons glo. God se woord vertel oor en oor aan ons van Satan die duiwel “... wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9); dat Satan binnekort opgesluit gaan word “sodat hy die nasies nie meer sou verlei” nie (Openbaring 20:3); dat Satan die “god” van hierdie teenswoordige tydperk is, wat diegene verblind wat nie glo nie (2 Korinthiërs 4:4) en dat Satan vals dienaars het wat ’n “ander Jesus”, ’n “ander gees” en ’n “ander evangelie” verkondig (2 Korinthiërs 11:4).

Wanneer die ewige lewe betrokke is, is dit nodig dat ons seker sal wees van dít wat ons glo. Ons moet dus tot God uitroep vir werklike insig. Dan moet ons gewillig wees om die Waarheid te volg – waarheen dit ook al mag lei. Met God se hulp, sal elkeen van ons ware geloof en moed moet beoefen om dit werklik te kan doen.