Miljoene mense ervaar hul werk as onvervullend en doelloos. Wil God hê dat ons ons werk geniet, of dat ons dit slegs verduur?


Baie mense bevind hulle deesdae in “doodloopstraatberoepe” of in werk wat hulle as doelloos en frustrerend ervaar.  Voel u dat u werk u in ’n eenrigtingstraat aflei?  Moet dit so wees?

’n Onlangse meningspeiling van CareerVision.org wys dat slegs sowat die helfte van Amerikaanse werknemers tevrede is in hul beroepe.  Britse werknemers het soortgelyke vlakke van misnoeë uitgespreek, aldus ’n verslag deur die European Foundation for the Improvement of Living and Working Conditions.  Skrywers James Patterson en Peter Kim berig dat meningpeilings aandui dat tot 90 persent van werknemers nie van hul werk hou nie (The Day America Told the Truth, bl.155).  Hoewel party mense wel tevrede is en betrokke is by hulle werk,  is baie ander mense ontevrede.  Waarom?

Regdeur die grootste gedeelte van die mens se geskiedenis, het die meeste mense hul werk nie as baie aangenaam of selfs bevredigend ervaar nie.  Selfs vandag is werk vir die meeste mense van die aarde se bevolking, nie ’n luukse nie maar eerder ’n “noodsaaklike euwel” in hul stryd om oorlewing!  Soos een geleerde skrywer verduidelik: “Uit ’n historiese oogpunt, is die kulturele norm om ’n positiewe morele waarde te heg aan ’n taak wat goed gedoen is omdat werk ’n persoonlike waarde het, ’n relatief nuwe ontwikkeling ... Werk, vir die grootste gedeelte van die antieke geskiedenis van die mensdom, was moeilik en vernederend ... die Hebreeuse geloofstelsel het werk bestempel as ’n ‘vloek deur God versin met die uitdruklike doel om Adam en Eva se ongehoorsaamheid en ondankbaarheid te straf’... Talle Ou-Testamentiese skrifture ondersteun trouens die beginsel van werk, nie uit die oogpunt dat daar enige vreugde aan verbonde is nie maar wel uit die veronderstelling dat dit nodig was om armoede en gebrek te voorkom” (Historical Context of the Work Ethic, Roger Hill, D.Phil.).

Het iets gebeur om die samelewing se sienswyse betreffende werk te verander?  Is werk aanvanklik as positief en vervullend beskou, waar dit tans oor die algemeen ten beste as ’n noodsaaklike las verduur word?  Die verrassende antwoord is: Ja!

Genesis sê vir ons dat God gewerk het om ons wêreld te skape – Hy het die water en die droë grond geskei en die visse, voëls en landdiere geskape. Genesis maak ses keermelding daarvan dat God na die werk van Sy hande gekyk en gesien het dat dit goed was! Na afloop van die week, nadat Sy werk klaar was, kyk God na alles wat Hy gemaak het en “dit was baie goed” (Genesis 1:31).

God se werk het Hom nie gekwel nie; Hy het dit geniet!  Hy het vir ses dae gewerk en toe gerus sodat Hy Sy arbeid op die sewende dag kon geniet. Sodoende het Hy die weeklikse Sabbat ingestel (Genesis 2:1-3).

God wou egter nie die skeppingsproses op Sy eie geniet nie; Hy wou Sy wêreld en die ontwikkeling daarvan met ander deel.  Een van die hoofredes waarom Hy die mens geskape het, was om in die vreugde van Sy werk te deel.  Ons lees: “Ook het die Here God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee ... Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:8,15).

God wou hê dat Adam en Eva en hul afstammelinge die aangename en opwindende uitdaging moes hê om na die Tuin van Eden om te sien en om uiteindelik die ganse aarde te verfraai!  Hulle het egter gesondig.  Hulle het God se waarheid, Sy oppermag oor hulle en Sy leefwyse verwerp.  Wat was die gevolg?

“En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet” (Genesis 3:17-19).

Toe Noag gebore was, is sy naam ’n herinnering dat die mensdom, danksy Adam en Eva se sonde, met onaangename werk geswoeg het.  Tydens sy geboorte sê sy ouers: “Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die Here vervloek het” (Genesis 5:29).  In Hebreeus beteken die naam “Noag” “rus”, wat ’n aanduiding is van die verligting van moeitevolle arbeid wat sy ouers verwag het.

Ja, sonde het aaklige gevolge vir ons wêreld tot gevolg gehad!  Adam en Eva het ’n ideale werk prysgegee – ’n wonderlike omgewing met die perfekte werkomstandighede en uitstekende voordele!  Deur te sondig, het hulle besluit om teen God se bevele te rebelleer, en is hulle uitgedryf uit dié mees herbergsame en  produktiewe omgewing.  Miljarde mense sukkel sedertdien om aan die lewe te bly.

Die Industriële Revolusie was veronderstel om ’n beter lewenstyl tot gevolg te hê weens die vooruitgang tot doeltreffender masjinerie om arbeid te beperk.  Industriële vooruitgang het egter nie werklik die probleme van talle werkende mense opgelos nie. Trouens, die geskiedenis toon dat baie werkers in die meulens en fabrieke in betreurenswaardige omstandighede swaargekry het.  In 1833 is die fabriekswerkers in Engeland en die wanhopige omstandighede wat hulle die hoof moes bied so beskryf:  “Hul gelaat is sieklik en bleek – met ’n eienaardige platheid van gelaat weens ’n gebrek aan ’n behoorlike hoeveelheid vetweefsel om hul wange rond te maak ... Talle meisies en vroue loop asof lam of op ’n vreemde wyse ... onbegeesterd en neerslagtige houding, lomp en uitgestrekte beenbewegings ... dus ’n algemene toonbeeld aan die wêreld van ‘min sekuriteit as ’n menslike wese’, en van ‘iemand wat wreed uit sy regmatige deel verkul is’” (“The Physical Deterioration of the Textile Workers”, The Manufacturing Population of England, P. Gaskell, bll. 161-162, 202-203).

Veral kinders het onder die nuwe gemeganiseerde ekonomie gely, waar baie in werklikheid as slawe gewerk het. Die skrywer gaan voort: “Fabrieksarbeid is ’n soort werk wat in party opsigte heeltemal onvanpas vir kinders is.  Wanneer hulle in ’n verhitte atmosfeer ingehok word, weerhou word van die nodige oefening, ure lank in een posisie werk, met slegs een groep spiere wat aktief is, is dit geen wonder dat skadelike uitwerking op die fisieke groei van ’n kind die gevolg is nie” (ibid.).

Hoewel werkomstandighede oor die afgelope eeu en ’n half grootliks verbeter het, bestaan moderne slawerny vandag steeds in fabrieke. In baie lande ly werkers steeds onder strawwe toestande en moeilike omstandighede.

’n Ware rus lê voor

God het vir ons die sewendedag Sabbat gegee – ’n weeklikse rusperiode van ons arbeid – om ons te herinner dat daar, ná 6 000 jaar waartydens die mens hul eie, selfsugtige leefwyse volg, binnekort ’n duisendjarige “rus” sal kom.  Dit is gedurende Jesus Christus se duisendjarige heerskappy op aarde.  Die Nuwe Testament vertel ons van ’n rus wat vir die ganse aarde kom: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in Sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie ... Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie ... Want wie in Sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne” (Hebreërs 4:1, 8, 10).

Hoe sal daardie duisendjarige rus wees?  Bybelprofesie wys dat dit ’n tyd sal wees wanneer die aarde sal terugkeer na ’n toestand soos in die Tuin van Eden (Jesaja 51:1-3).  Die Skrif verwys ons na ’n toekomstige tyd wanneer “elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom [sal sit], sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:4).  Trouens, die grond sal so vrugbaar wees en die omgewing so bevorderlik vir die onderhouding van menselewe, dat “die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier” (Amos 9:13).  Ons lees: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing” (Jesaja 35:1).

Die vloek van Adam en Eva sal opgehef word, en, die hoofoorsaak van God se vloek – die mensdom se opstand teen en verwerping van God se weë en Wette – sal verwyder word.

Insettinge by die werkplek

Die profeet Esegiël beskryf die lewe onder God se Regering: “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee ... En Ek sal My Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in My insettinge wandel en My verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:26-27).

Insettinge of regulasies by die werkplek kan lewens red en ’n veilige en gesonde werkomgewing aanmoedig.  In Suid-Afrika het die Wet op Beroepsveiligheid en Beroepsgesondheid talle regulasies vasgestel om werkomstandighede vir werknemers veiliger te maak  en daardie veiligheidsmaatreëls moet deur werkgewers toegepas word. Lank voor die wetgewing vir beroepsveiligheid en -gesondheid, het God regulasies vasgestel vir ’n veilige en gesonde omgewing.  Byvoorbeeld: “En as iemand ’n put oopmaak, of as iemand ’n put grawe en dit nie toemaak nie, en ’n bees of esel val daarin, moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee” (Eksodus 21:33-34).  ’n Ander Goddelike insetting beskryf ‘n noodsaaklike boubeginsel, naamlik om relings op plat dakke op te rig om ongelukke te voorkom: “As jy ’n nuwe huis bou, moet jy ’n leuning aan jou dak maak, sodat jy geen bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie” (Deuteronomium 22:8).

In die toekomstige Millennium sal die aarde onder Jesus Christus se heerskappy ’n lewendige en gesonde ekonomie beleef.  Genoegsame goedere en doeltreffende dienste sal verskaf word deur mense wat besig en betrokke by hul werk is, en dit boonop geniet! Namate mense begin om God se siening van werk aan te leer en Sy beginsels van liefde elke dag toe te pas deur die inwonende krag van Sy Heilige Gees, sal hulle onbeskryflike vrede en vervulling in hul werk begin ervaar!

Daardie tyd sal opwindend en wonderlik wees.  Maar moet ons eers wag vir Christus se Wederkoms om ’n gelukkiger werkomgewing te geniet?  Wil u graag vandag reeds meer doelgerigtheid en opwinding in u werk en lewe ervaar?  U kan!  Dink na oor hierdie basiese punte om u werk meer geseënd te maak, ongeag watter werk u doen.

Kyk na God om vir u te sorg

Adam en Eva het die fout gemaak om aan God ongehoorsaam te wees en om vervulling te soek met hul eie pogings. Die noodsaaklike eerste stap tot vervulling in u werk is om uit hulle fout te leer, en om God te aanvaar as u Heer – u Baas – die ware heerser van u lewe, die Een wat in al u behoeftes voorsien. Indien u werklik geseënd en gelukkig in u werk wil wees, begin om na Hom te kyk.

Christus leer ons: “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?... Maar soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:30-33).

Indien u God eerste plaas – Sy wil doen en Sy gebooie gehoorsaam – sal Hy u werk en u lewe lei en bestuur. Soos Hy vir die Israeliete gesê het: “Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe ... as jy nogtans die Here jou God vergeet en agter ander gode aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker Ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom” (Deuteronomium 8:18-19).

God beveel ons om dankbaar te wees (Kolossense 3:15). As ons in onseker ekonomiese tye kos op die tafel het – en die werk om dit te kan voorsien – is dit gewis iets om voor dankbaar te wees. Die apostel Paulus vermaan ons: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Die eerste stap om meer vervulling in u werk te kry, is eenvoudig om erkenning te gee aan die God wat dit voorsien.

Word ’n beter werknemer of werkgewer

Hoe kan u beter werkomstandighede ervaar? Een manier is om ’n beter werker te word! Volgens sommige beramings, erken Amerikaanse werkers dat hulle tot 20 persent van die tyd by die werk rondsit en niks doen. Bykans die helfte erken dat hulle bel en sê hulle is siek as hulle eintlik gesond is, een uit ses drink of gebruik dwelms by die werk, en net ’n kwart sê dat hulle hul beste doen by die werk (Patterson, bl. 155)! Wat van u? Is u toegewyd om ’n eerlike dag se werk te doen?

Vind u dit moeilik om met ander mense oor die weg te kom – u kollegas, u medewerkers, of u baas? En as u ’n besonder moeilike baas het? God wys ons hoe om sulke situasies te hanteer: “Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly ... verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God” (1 Petrus 2:18-20).

Wanneer u mishandeling beleef deur ’n bakleierige baas kom daar beslis ’n tydstip dat u moet stop om dit te verduur en van werk moet verander. Voordat u egter haastig van ’n onaangename werkplek wegvlug, maak seker dat u alles in u vermoë gedoen het om u werksituasie te verbeter. Wend ’n poging aan om maniere te vind om u baas te help om sy of haar doelwitte te bereik. Streef na samewerking eerder as konfrontasie. Onthou, “’n sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom” (Spreuke 15:1). Leer opbouende maniere aan om konflik te verwerk sodat u stresvlakke verlaag en u gesindheid meer positief is in die werkervaring!

Indien u oor ander toesig hou, sukkel u om met hulle oor die weg te kom? Bestee tyd daaraan om te leer om u werknemers te bemoedig en te motiveer – selfs die “moeilikes”! Die Bybel sê vir bestuurders om “reg en billikheid” aan werkers te betoon (Kolossense 4:1), en, “laat staan die dreigemente” (Efesiërs 6:9). Regverdigheid, geduld en ’n eerlike poging om u werknemers se doelwitte en behoeftes te verstaan, gaan u ver bring om ’n tevrede en opbouende gesindheid in u onderneming te skep. God sien hoe bestuurders ander mense behandel, welwetende dat Hy hulle “Bestuurder” in die hemel is (vers 9).

Benader werk met passie en ywer

Wat is u passie? Bofbal promotor, Mike Veeck, glo dat passie in die werkplek noodsaaklik is om gelukkig en tevrede te voel: “Die meeste van ons laat toe dat die lewe ons rondgooi. Ons verval in roetine, veral by die werk, en mettertyd dwaal ons deur die grootste deel van ons lewe, veral by die werk. Dit is tyd om onsself uit hierdie gebrek aan belangstelling wakker te skud ...” (Fun is Good: How to Create Joy and Passion in Your Workplace and Career, bl. 6). Passie en ywer moet egter nie verwar word met om ’nwerkolis te wees nie. Die doel is nie om verslaaf te wees aan u werk nie – dit is om iets te doen waarvoor u lief is en wat u dink belangrik is. Om deel te hê aan iets waarvoor u baie omgee sal opwinding in u werk bring en u kreatiwiteit verhoog.

Veeck verduidelik waarvoor hy uitkyk wanneer hy ‘n onderhoud voer met potensiële werknemers: “Wanneer ek onderhoude voer, soek ek vir passie en ek kan binne twee minute sê of die persoon dit het ... Iemand met die indrukwekkendste agtergrond sal nie inpas as hy of sy nie passie het nie. Terselfdertyd sal iemand met ’n beskeie werkrekord en –ondervinding dalk perfek pas” (ibid., bl. 5).

Dit is buitengewoon om werk te vind wat presies inpas by u passie in die lewe. Om egter iets te vind waaroor u opgewonde kan raak, sal u werkgenot grootliks aanhelp. Die toepassing van hierdie beginsel strek verder as die werkplek. Hoewel party mense vandag gou is om ’n vrou se rol as tuisteskepper soos dit in die Bybel beskryf word (Titus 2:5) te verkleineer, is die waarheid dat die bestuur van ’n huishouding ’n vrou geleenthede bied om haar eie passies in versiering en ontwerp, kookkuns, naaldwerk, gesondheid en voeding, begroting, kinderontwikkeling en baie ander areas uit te leef. Die skrywer Alexandra Stoddard sê: “Die toets van ’n ware roeping, het iemand eenkeer gesê, is liefde vir die sleurwerk wat daarmee saamgaan ... Wanneer ons ons werk met toewyding en oortuiging doen, ons trots is op alles wat ons doen, wanneer ons ywerig en passievol is om dit reg te doen, is elke ding wat ons doen belangrik ...” (Gracious Living in a New World, bl. 126).

Koning Salomo van antieke Israel het lank gelede hierdie wyse raad gegee: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:10). Om ons werk te doen – wat ons werk ookal is – met passie en ywer, verhoog ons motivering, dryfkrag en ons genot om daardie taak te verrig.

Indien u u werk wil geniet – geniet u werk!

Bybelprofesie beskryf Jesus Christus se duisendjarige heerskappy as ’n tydperk  wanneer die hele wêreld vreugde en genot sal ervaar (Jesaja 35:1-2,10). God is ’n vreugdevolle God en Sy Gees word vergelyk met “vreugde-olie” (Jesaja 61:3). Vandag swoeg mense deur hulle werk met ’n swaar hart, belas met stres en druk. Jesus beloof egter verligting en “rus” vir diegene wat na Hom toe kom (Mattheus 11:28-30). Ervaar u hierdie “rus” – laat u Jesus Christus toe om u te help om u las te dra en om u op te hef wanneer u terneergedruk is?

Die meeste van ons ken iemand wat ’n aansteeklike sonnige persoonlikheid het en ons het al gesien hoe ’n opgewekte woord of spontane lag op die regte tyd ’n spanningsvolle of stresvolle situasie kan verlig. Lank gelede is Salomo geïnspireer om te skryf: “’n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig” (Spreuke 15:13).

Om ware sukses in ons werk – en in die lewe – te hê, moet ons geniet wat ons doen. Dink hieroor na: “Ek wil hê dinge moet vreedsaam en gelukkig wees want dit is die omgewing wat my die kreatiefste maak ... Mense het ’n sterk behoefte om gelukkig te wees en dit is ’n moeilike ding om na te maak as dit nie eg is nie” (Veeck, bl. 21).

Kan u maklik glimlag en in ’n swaarmoedige situasie die atmosfeer ’n bietjie ophelder? Kan u vir uself lag en uself nie te ernstig opneem nie? Deur iemand te word wat nie net met ywer en passie werk nie, maar ook met vreugde, kan u ’n veel beter werkervaring hê en ander help om ook meer produktief te wees.

Verstaan vir Wie u regtig werk

Vir ’n ware Christen kan selfs die moeilikste en doodloopbaantjie met ’n doel en belangrikheid gevul wees – mits ons onthou vir Wie ons regtig werk! Paulus verduidelik: “Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen” (Efesiërs 6:5-6). U werk kan groter betekenis aanneem wanneer u besef dat u nie bloot vir mense werk nie, maar om God te behaag!

Ons lewens vandag is ’n opleidingskool vir iets baie groter. Adam en Eva is die geleentheid gebied om vir God te werk – dieselfde geleentheid wat vandag aan ware Christene gegee word! God soek na mense wat Hy kan gebruik in die toekomstige Millennium, mense wat aan Hom gehoorsaam is, wat hard werk, wat lief is vir ander en wat passie en genot het vir die lewe!

Dink u u werk is gering, eindeloos en waardeloos? Voel u dat u geen werklike geleenthede het nie? God gebruik die kleinste geleenthede om ware Christene lesse te leer wat hulle in die toekoms op groot skaal kan toepas. Christus verduidelik dit in die gelykenis van die talente: “Want dit [die Koninkryk] is soos ’n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou ... En ná ’n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. En sy heer sê vir hom:Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Mattheus 25:14, 19-21).

God lei vandag Christene op om saam met Hom te regeer – Hom by te staan om ’n wêreldsamelewing te bestuur. Die voorvereiste om saam met Christus te werk in Sy Koninkryk, is nie dat ons in hierdie lewe rykdom en status bereik nie; ons moet liewer karakter en gehoorsaamheid aan God aanleer, liefde vir ons medemens en om algehele geloof in Sy Seun te hê,  welke geleenthede God ons nou ook al gee.

Maak dus die beste van elke geleentheid wat u het – met ywer, passie, vreugde en liefde. Moenie ’n geleentheid laat verbygaan om u werk te benut om u voor te berei vir daardie werk vir God in Sy Koninkryk nie (Mattheus 25:24-28)!

Is u werk ’n vloek? Dit hoef nie te wees nie! Met God se hulp kan ons almal nou die vreugde van werk – op God se wyse – ervaar, en gereed maak vir diepsinnige, vervullende en betekenisvolle werk in God se Koninkryk.