God het die gesin ingestel. Wat vertel Sy skepping ons van Hom en van onsself?


’n Fout kan baie leersaam wees! Daar is ’n ou staaltjie van drie blinde mans wat in ’n land gewoon het waar die mense se god ’n heilige olifant was. Die blinde mans onderneem toe ’n lang pelgrimstog om die olifant te gaan aanbid. Daar gekom, word hulle toegelaat om die olifant te nader en te bevoel sodat hulle die olifant kan ervaar in die afwesigheid van sig.

Die eerste man voel aan die olifant se stert en sê: “Aha, ons god is soos ’n groot slang en is werklik die wysste van alle skepsels”. Die tweede een voel aan ’n massiewe been en sê: “Aha, ons god is soos ’n groot boom wat die hele skepping voed”. Die derde man voel toe aan die groot liggaam van die olifant en sê: “Aha, ons god is soos ’n groot huis waarin al die skepsels kan woon”. Na hul vertrek het hulle al die pad huis toe hewig geargumenteer oor hoe hul god is, omdat elkeen ’n ander deel ervaar het.

Die strekking van hierdie verhaal is gebrekkig omdat ons as vleeslike wesens soos hierdie blinde mans is; ’n geestelike God is bo ons begripsvermoë en niemand moet so voorbarig wees om te dink dat hy of sy kan begryp hoe God werklik is nie.

Dit is verkeerd. Die gebrek in die verhaal is dat ons God, anders as die olifant, bewus is van Homself, weet dat Hy God is en dat hy in staat is om Homself en Sy plan vir die mensdom te openbaar. Die olifant in die verhaal het nie geweet dat hy as ’n god beskou was nie, maar ons God is steeds God, of ons dit weet of nie, en Hy openbaar Homself aan ons. Die feit dat God openbaar wat ons nie vir onsself kan onderskei nie, is van wesenlike belang.

Baie mense leef egter deesdae hul lewens asof hulle een van daardie blinde mans is en reik uit na ’n onbekende olifant. ’n Aantal jare gelede het ’n godsdiensskrywer, Sidney J. Harris, in ’n koerant nagedink oor die verhaal van die drie blinde mans en die olifant. Sy relaas openbaar ’n benadering wat maar al te algemeen is in ons hedendaagse tydvak:

“Veronderstel, veronderstel net dat almal verkeerd is, dat elke geloof gedeeltelik en onvolledig is, dat elke geloofsoortuiging slegs ’n gedeelte van die waarheid aan die stert [die olifant s’n] beet het en onder die indruk verkeer dat hulle oor die hele waarheid beskik? Veronderstel dat gode geskep is na die verskillende beelde van die mens, net soos gesê word dat die mens na God se beeld geskape is? Dus het ons God die Regeerder, God die Landdros, God die Vader, God die Moeder, God die Geneser, God die Strafoplegger en al die ander goddelike rolle ...

“Toe monargie die algemene vorm van regering was, is Hy weergegee as ’n ‘Koning’. Toe slegs mans beskou was as ten volle menslik, is Hy beskou as ’n ‘Man’. Toe die natuurkragte nog nie behoorlik verstaan was nie, is Hy verantwoordelik gehou vir die oorstromings en orkane wat Sy onderdane getref het.

“Wat merkwaardig is, is dat ongeag hoe ons siening van die wêreld verander en uitgebrei het, het hierdie verouderde beelde bly voortbestaan, nie net in ons voertaal nie, maar ook in ons gedagtes ...

“Afgesien van die apostel Paulus se vermanings, is ons steeds meer bygelowig as godsdienstig in ons verbeelding. Die algemene denkwyse word nie deur teologie beïnvloed nie, maar wel deur beeldspraak. Ons neem hierdie beeldspraak as die werklikheid en verander ‘Onse Vader wat in die hemel is’ in ’n ou man met ’n wit baard wat op ’n hemelse troon sit in ’n lugstreek anderkant die hemelpoort.

“Die meeste mense behou die godsdiens van kinders, sonder hul onskuld, sodat wat hulle veronderstel hul ‘godsdiens’ is, eintlik ’n feëverhaal is. Hierdie benadering maak ateïste van die skeptici en suigelinge van die res, tot die wanhoop van die dieper denkers onder die wysgerige vromes van al die sektes” (Miami Herald, 26 Junie 1986).

Die Franse filosoof, Voltaire, het hierdie denkwyse redelik goed opgesom deur te skryf: “As God die mens na Sy beeld geskape het, het die mens beslis die beleefdheid beantwoord”.

God openbaar die werklikheid

Die groot Skeppergod sien dinge egter baie anders as die natuurlike, menslike verstand. Werklikheid is soos God die wêreld sien en Hy openbaar noodsaaklike dinge aan ons deur Sy Woord en skepping wat ons nie vir onsself kan uitmaak nie.

God sê: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9).

Die apostel Paulus, wat ’n groot geleerde was, het die Korintiërs vermaan “sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ’n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie – want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie – maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korintiërs 2:5-10).

Herbert W. Armstrong wie se bediening van 50 jaar die werk begin het wat deur die uitgewers van “Die Wêreld van Môre” voortgesit word, het altyd gesê: “’n Mens kan nie verstaan wie en wat God is totdat jy verstaan wat beeld en teenbeeld beteken nie”. ’n Beeld is nie slegs ’n vergelyking of beeldspraak nie, maar ’n ware model van ’n groter toekomstige vervulling. Die Skrif leer ons dat die fisiese die spieëlbeeld van die geestelike is en nie andersom nie. Deur te ondersoek hoe dit werk, kan ons help om God se aard en wat Hy omtrent Sy plan vir die mensdom openbaar, te verstaan.

Die regte woorde om ’n begrip mee uit te druk, help ons om aan die begrip te dink. Dit sal dus nuttig wees om hier die betekenis van twee woorde te verstaan. Die woord “antropomorfies” (van die Griekse woord anthropos, “mens”) beteken om menslike eienskappe toe te voeg aan nie-menslike dinge. Voorbeelde van antropomorfiese beeldspraak is “die ongenaakbare woestyn” of “die lang arm van die gereg”. Mense soos Voltaire en Harris na wie vroeër verwys is, neem ’n antropomorfiese siening in omtrent ons begrip van God as Vader of Geneser. Mense is geneig om antropomorfies oor God te redeneer.

Nog ’n nuttige woord is “Teomorfies” (van die Griekse woord theos, “god”). Dit verwys daarna om goddelike of geestelike eienskappe aan fisiese dinge toe te skryf. Om die foutiewe antropomorfiese siening van God in teenstelling te plaas met die Bybelse teomorfiese siening van die skepping, is ’n goeie manier om te verstaan hoe God Sy aard en doel aan ons openbaar.

“Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20). Hier onderrig Paulus duidelik dat fisiese dinge geestelike lesse kan bied en dat ons daarna kan kyk vir insig.

Toe God die heelal geskep het, het Hy van niets af begin. Alles in die heelal weerspieël die afdruk van Sy beplanning. Hy het dit nie geskep met kenmerke wat algeheel vreemd is aan Homself nie. Geestelike dinge – die onsigbare dinge – kan eerder duidelik verstaan word deur die fisiese dinge wat God gemaak het, selfs die Godheid of goddelike aard. Dit maak sin dat God dit sou doen as Hy beplan het om Homself en Sy plan aan Sy kinders te openbaar. God se Gees werk ook in ons verstande om ons in staat te stel om dinge te verstaan soos Hy dit verstaan. Hierdie insig is dikwels die teenoorgestelde van hoe die mens oor God redeneer.

Die Skrif beskryf byvoorbeeld die verhouding tussen Christus en die Kerk as ’n huweliksverhouding. Teoloë en kerkmanne verwys egter gereeld hierna as slegs ’n sinnebeeld of beeldspraak aangesien hulle aanneem dat die huwelik hoofsaaklik fisies en menslik is. Hulle redeneer dat die Bybel ’n antropomorfiese vergelyking gebruik om ons iets aan te bied uit ons eie wêreld waarmee ons ons kan vereenselwig.

Die Bybel sien dit egter anders. Jesus Christus het “ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Efesiërs 1:4). Die huweliksverhouding tussen Christus en die Kerk het dus in God se plan vir die mensdom bestaan voor die instelling van die menslike huwelik. God het nie Christus se huwelik met die Kerk volgens die patroon van die menslike huwelik gevorm nie.

Dit is duidelik dat die menslike huwelik ’n voorstelling is van die verhouding tussen Christus en die Kerk, nie andersom nie. Wanneer u byvoorbeeld ’n foto van ’n vriend neem, het die foto baie van die eienskappe van u vriend, maar dit is beswaarlik die werklikheid. U vriend het eerste bestaan – die foto het later gekom. Dit is dieselfde met die huwelik tussen Christus en die Kerk.

Die menslike huwelik is ’n toonbeeld – ’n afbeelding van ’n veel groter, voorafbestaande geestelike werklikheid wat God van die begin af beplan het. Herbert W. Armstrong het altyd gesê: “Gesinsverwantskappe is Godvlak verwantskappe!” Hy het bedoel dat die huwelik tussen Christus en die Kerk nie antropomorfies is nie; die menslike huwelik en ander gesinsverwantskappe soos vader/seun of broer/suster is eerder teomorfies. God het hierdie verwantskappe in Sy skepping ingebou sodat ons groter geestelike werklikhede kan verstaan en ons daarop kan voorberei.

God is waarlik ’n Vader

Teoloë redeneer dikwels dat die geestelike wêreld hoegenaamd nie soos die fisiese wêreld kan wees nie, dus kan God nie wees soos enigiets wat ons ken nie. Deur hierdie verkeerdelike aanname redeneer hulle dat die begrip dat God se familiale aard (Vader, Seun, Eggenoot, ens.) antropomorfies moet wees en dat God slegs deur beeldspraak ’n vader is, soos die “vader van ’n idee”.

“Ons word kinders van God en Hy ons Vader uit hoofde van sedelike ooreenkoms ... terwyl Jesus niks van enige ... bonatuurlike, of (sogenaamde) fisiese verhouding met God sê nie” (vertaling uit Encyclopaedia Britannica, 11de uitg., bl. 282, “Christianity”).

Hierdie soort redenasie word dikwels gebruik in die formulering van die drie-eenheid. Die Skrif openbaar egter dat die familiale aard van God nie antropomorfies is nie, maar dat die familiale aard van die gesin eerder teomorfies is. Die menslike gesin is gevorm na God se aard. Diegene wat hul menslike beredenering verkies bo die kennis wat God geopenbaar het, het dit agterstevoor.

Die Vader is waarlik ’n vader en Hy is die werklikheid van wat menslike vaderskap uitbeeld. Jesus Christus is waarlik ’n eggenoot en ons groot, eersgebore Ouer Broer. Die Nuwe Jerusalem word genoem “die moeder van ons almal” (Galasiërs 4:26). Herrese gelowiges is waarlik kinders van God en die Kerk gesamentlik is waarlik ’n bruid, die verloofde vrou van Christus.

Mense mag dink dat God nie soos enigiets is wat ons ken nie. Die Bybel onthul egter dat sommige dinge wat ons ken, soos God is. Hier volg ’n paar voorbeelde:
“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Genesis 1:26). Die Bybel beskryf dikwels dat God en die mens sekere eienskappe in gemeen het, maar God is nie soos die mens nie – die mens is soos God.

Die fisiese skepping en die geestelike is nie onverenigbaar nie. Die skepping is eerder ’n onderafdeling van die geestelike: “Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:28).

Wanneer God ons leer dat “almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word” (Johannes 1:12), bedoel Hy ware kinders. “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (Romeine 8:15-17, Nuwe Vertaling) en om ook “gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (vers 29).

Baie mense kan hulself nie sover bring om te glo wat die Bybel regtig sê nie: dat ons geskape is om die Vader se werklike kinders, seuns van God, mede-erfgename saam met Christus te wees, om saam met Christus verheerlik te word, om gelykvormig te wees aan die beeld van Christus, die eersgeborene is van baie seuns van God. Die Vader maak werklik kinders en bring ons tot Sy heerlikheid en Christus Self noem ons Sy broers (Hebreërs 2:10-11).

Hierdie is nie bloot ’n “soort gesinsverwantskap” of beeldspraak nie. Dit is die werklikheid van ’n gesin. Ons gaan verheerlik word saam met Christus om dieselfde soort seun te wees wat Hy is, hoewel duidelik laer in mag en gesag as wat Hy en die Vader is. Ons Ouer Broer het alle mag in die hemel en op die aarde en Hy gaan die heerlikheid wat Hy en die Vader gehad het “voordat die wêreld was” (Johannes 17:5) met ons deel. Dit is omdat die Vader se groot oortreffende doel vir die mensdom is om onsterflike kinders voort te bring (1 Korintiërs 15:53-54).

Die menslike voortplanting is slegs ’n fisiese voorbeeld van die groter geestelike werklikheid. Dit is waarom Herbert W. Armstrong gesê het: “God is besig om Homself voort te plant!” Die Vader beplan om kinders tot die heerlikheid en eenheid te bring wat Hy en die eersgebore Seun saam geniet. Christus sê: “Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons (Johannes 17:11, vgl. vers 22). Dit is nie ’n vraag óf God een is nie, maar hoé God een is. Die eenheid van die menslike gesin is ’n fisiese voorbeeld van die groter geestelike werklikheid van die eenheid van God.

Die Skrif is duidelik. “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word ... Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy [Christus] verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:1-2).

Dit is ons ongelooflike menslike potensiaal! Ons Ouer Broer sal “ons vernederde liggaam van gedaante verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp” (Filippense 3:21). Hierdie duidelike stellings is so verbasend dat baie mense eenvoudig nie kan glo wat God sê nie. Hierdie kennis wat geopenbaar is, vorm egter die kern vir ’n volledige begrip van die Evangelie van die Koninkryk van God.

Dit is waarom die Lewende Kerk van God, wat Die Wêreld van Môre uitgee, voortgaan om dít wat Herbert W. Amstrong vir so baie jare geleer het oor wie en wat God is, te onderrig. Eenvoudig gestel, “God is gesin,” en om te verstaan wat dit beteken, is die kern van die Evangelie van die Koninkryk van God. ’n Koninkryk het ’n koningsgesin en Christus beloof: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openbaring 3:21).

Die Evangelie van Jesus Christus is die Evangelie van die Koninkryk van God. Dit is die Evangelie wat Hy oral waar Hy gegaan het, verkondig het. Ons Vader se groot voortreflike doel met die skepping van die mensdom is om baie kinders tot heerlikheid in die Koninkryk van God te bring en alles draai om hierdie doel!

Deur ons gesinsverhoudings te verstaan soos God dit sien – as voorbeelde van veel groter toekomstige geestelike werklikhede – help ons om ons ongelooflike potensiaal en toekoms in die Gesin van God te verstaan.