Aan al ons Wêreld van Môre-intekenaars: Wees hartlik gegroet! Ons Hoofredakteur, dr. Roderick C. Meredith, het my gevra om hierdie “persoonlike” boodskap te skryf terwyl hy besig is met ander projekte en ook om voor te berei vir ’n paar reise wat voorlê. Ten spyte daarvan dat hy in Junie van hierdie jaar 83 jaar oud word, gaan dr. Meredith voort teen ’n tempo wat vir baie jonger manne ’n uitdaging sal wees. Ek word voortdurend geïnspireer en aangemoedig deur sy voorbeeld om “voluit te gaan” om die Werk van God te doen. Hy besef dat dit nie oor homself gaan nie. Hy hou daarvan om die Wêreld van Môre se personeel aan te moedig met die woorde van die apostel Paulus: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Jesus Christus het Sy lewe daaraan gewy om die ware evangelie boodskap wat God die Vader aan Hom gegee het te verkondig en dit is wat dr. Meredith – en almal van ons by die Wêreld van Môre – nastreef.

Soos sommige van u weet, het dr. Meredith in Joplin, Missouri grootgeword. Hy het eerstehandse kennis van die Groot Depressie-era in die Verenigde State gesien wat gevolg is deur die groot oplewing in die nasionale eenheid wat bevorder is deur die Tweede Wêreldoorlog. Hy onthou ’n Amerika waarin, ten spyte van die geweldige godsdienstige verwarring, feitlik almal saamgestem het oor die belangrikheid van “Bybelse waardes”. Baie van u wat hierdie tydskrif lees sal seker onthou dat dit tot onlangs was dat die Tien Gebooie deur ons samelewing aanvaar is as ’n standaard van betaamlike gedrag. Ontug en owerspel is beskou as ’n skande. ’n Man wat ’n ander man se vrou begeer het, of ’n vrou wat ’n ander vrou se man begeer het, se gedrag is beskou as skandelik en die beskaafde gemeenskap het neergesien op sodanige gedrag.

Standaarde word verwerp

Vandag verwerp miljoene Amerikaners egter hierdie eeue-oue standaarde. Kyk na hierdie verslag deur die skrywer Ben Wolfgang van die Washington Times:

“Volgens ’n nuwe Gallup peiling wat Maandag vrygestel is het meer as 50% Amerikaners vir die derde keer in die afgelope jaar gesê dat hulle ten gunste is van dieselfde-geslag huwelike.

Hierdie getal toon ’n merkwaardige verandering in die openbare gesindheid oor die afgelope twee dekades. In 1996 het net 27% Amerikaners gesê hulle is ten gunste van dieselfde-geslag huwelike. Selfs net drie jaar gelede, was die getal volgens die opname maar 44%.

Die laaste drie meningspeilings in Mei 2011, November 2011 en Mei 2013 se vrystelling het die getal op 53% te staan gebring wat ’n nuwe rekord-hoogte is.

Die verandering is hoofsaaklik beïnvloed deur jong mense. Mei 2013 se opname toon dat 70% van die 18 tot 29-jariges ten gunste is van dieselfde-geslag huwelike. In 1996 was dit net 41% en in 2010 slegs 52% (“Support for same-sex marriage now firmly above 50 percent, poll says”, 13 Mei 2013).

Gallup berig dat hoewel die meerderheid Amerikaners nou ten gunste van dieselfde-geslag huwelike is, aanvaar ’n nog groter meerderheid dat die meeste Amerikaners nog steeds daarteen gekant is.

“Met die dat hulle gevra is oor hulle indruk van hoe die meeste Amerikaners oor die kwessie voel, het 63% gesê die publiek is gekant teen dieselfde-geslag huwelike en 30% het gesê die publiek is ten gunste daarvan. Hierdie inligting dui daarop dat ’n groep van die Amerikaners wat dieselfde-geslag huwelike voorstaan, glo dat hulle menings in die minderheid is, terwyl hulle in werklikheid in die meerderheid is (“Same-Sex Marriage Support Solidifies Above 50 Percent in U.S.”, 13 Mei 2013).

Wat behoort Christene te glo? Hoe behoort ons te reageer op hierdie vloedgolf van verandering? Lees gerus dr. Meredith se belangrike artikel elders in hierdie uitgawe: “Wat isverkeerd met dieselfde-geslag huwelike?” Dit sal u help om die waarheid te onderskei van die media se verdraaiings rondom dieselfde-geslag huwelik omstredenheid.

Waarom het ons samelewing so vinnig homoseksuele gedrag as normaal aanvaar en word dieselfde-geslag huwelike nie net verdra nie, maar selfs as wenslik beskou? Soos dr. Meredith in sy artikel uitwys, was daar ’n gesamentlike veldtog deur homoseksuele aktiviste om hulle saak te bevorder. Baie van die samelewing se mees gerespekteerde opinie-vormers, asook die Amerikaanse president Barack Obama, praat nou positief oor dieselfde-geslag huwelike.

Machiavelliaanse [skynheilige] taktieke?

Die jaar 2013 kenmerk die 500ste herdenking van ’n boeiende klein boekie wat die moderne politieke denke gevorm het sedert dit gepubliseer is. In The Prince, wat deur die Italiaanse diplomaat Niccolo Machiavelli geskryf is, word etlike sake vir regeerders uiteengesit. Dit word deur sommiges as briljant opgehemel en ander sien dit as sinies en selfs boos. Hoe het The Prince ons moderne wêreld gevorm? Kan “Machiavelliaanse” [skynheilige] taktieke gevind word in die onlangse druk om dieselfde-geslag huwelike gewettig te kry? Belangriker nog, watter “Prins” het die ware patroon vir ’n suksesvolle regering uiteengesit? Lees Dexter Wakefield se belangrike artikel elders in hierdie uitgawe om meer van hierdie onderwerp te leer.

Wanneer ons dink aan die talle euwels wat ons samelewing bedreig, kan ons maklik moed verloor en moedeloos word. Dit is dus belangriker as ooit tevore dat ons ons oë op die “groot prentjie” gevestig sal hou. Wat is dan die “groot prentjie” vir ons as Christene? Dit beteken dat indien ons die Heilige Gees wat God tydens die doop aan ons gegee het sal gebruik en namate ons ons in gehoorsaamheid aan Christus onderwerp en volhard tot die einde toe (Mattheüs 24:13), sal ons ’n glorieryke beloning ontvang!

Baie mense wat bely dat hulle in Jesus Christus glo, het maar net ’n vae idee van wat na die dood sal gebeur. Sommige meen dat hulle ’n paar jaar in die “Vaevuur” sal deurbring, waar ’n paar klein sondetjies waarvan nog nie bekeer is nie sal wegbrand voordat hulle ingaan in die “saligmakende visie” van God. Ander dink dat hulle vir ewig passief na hulle Verlosser sal staar, of dat hulle net lofliedere op harpe sal speel en die hele dag in die “wolke in die hemel sal rondrol”. Baie erken dat hulle eenvoudig geen idee het nie.

Die glorieryke waarheid!

Die waarheid omtrent ons bestemming is nogtans baie wonderliker en ongeloofliker as wat enige een hom dit ooit kan begin voorstel! Soos my artikel “U glorieryke bestemming” in hierdie uitgawe verduidelik, is die uiteindelike bestemming van vandag se Christene nie net om te regeer onder Jesus Christus in Sy letterlike Koninkryk nie, maar ook om, nadat alle mense ’n geleentheid gebied is om gered te word en hulle oordeel ontvang het, oor “alle dinge” te heers – die ganse heelal – as volkome lede van die Godsgesin. Dit is ’n ontsagwekkende waarheid wat baie min mense verstaan, nogtans staan dit duidelik in die bladsye van u Bybel!

Liewe lesers, ek hoop dat u deeglik sal besin oor elke artikel in hierdie uitgawe. Dit behoort u te bemoedig, te motiveer en te inspireer namate u daarna streef om nader aan God te kom. Indien u u nog nie verbind het tot God deur middel van die Bybelse doop nie en u besef dat u behoort te leef volgens die waarheid wat duidelik gemaak word in hierdie tydskrif, moedig ek u aan om die streekskantoor die naaste aan u, gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif, te kontak. Ons sal u in verbinding bring met een van ons verteenwoordigers wat u sal raad gee aangaande u toegewydheid aan ons Verlosser. Niks kan belangriker wees as u roeping as een van God se “eerstelinge” in hierdie tydperk nie.

Ongelukkig kan ons duidelik sien wanneer ons na die wêreld rondom ons kyk, dat dit werklik relatief min mense is wat in hierdie huidige tydperk geroep word. Indien u die Waarheid ontvang het, hou met alle mag daaraan vas (Openbaring 3:11). Indien u een van die min mense is wat God roep om Sy Waarheid te verstaan, moet u nie uitstel nie – reageer nou op die Waarheid wat u begin verstaan!