Waarom het God die Israeliete van ouds beveel om die sewende-dag Sabbat te onderhou en van watter belang is Sy opdrag vir Christene vandag?


Verskillende godsdienste sonder verskillende dae as vakansiedae en tye van aanbidding af. Terwyl die meeste van die wêreld se 2,1 miljard belydende Christene op ’n Sondag aanbid, is 1,3 miljard Moslems se weeklikse dag van aanbidding, Vrydae. Miljoene Jode onderhou die Sabbat, hulle dag van rus en aanbidding, vanaf sononder op Vrydag tot sononder op die Saterdag.

Maak dit saak watter dae ons onderhou? Gee God om wanneer ons Hom aanbid, solank ons Hom net aanbid? Die meeste belydende Christene aanvaar net wat ookal hulle ouers of kerk hulle geleer het as tradisie. Totdat ek ’n jong volwassene was, is dit wat ek ook gedoen het. Terwyl ek nog ’n seuntjie was, het ek my moeder gevra: “Waarom onderhou ons Sondag, terwyl die vierde gebod in die Bybel ons leer om die Sabbat, die sewende dag te onderhou?” Sy het my ’n vae antwoord gegee, wat ek op daardie stadium aanvaar het. Kan u daardie vraag beantwoord? Watter dag is die Christelike Sabbat?

Waar kom vandag se belydende Christene aan die idee dat Sondag die Christelike dag van aanbidding is? U mag geskok wees om te verneem dat sommige godsdienstige sektes mense leer dat hulle kerk se tradisie meer gesag dra as die Bybel! Let op die volgende stelling van die Anglikaanse teoloog, Isaac William: “Waar word ons in die Skrif aangesê dat ons die eerste dag enigsins behoort te vier? Ons word beveel om die sewende dag te onderhou; maar ons word nêrens beveel om die eerste dag te vier nie ... Die rede waarom ons die eerste dag van die week heilig hou in stede van die sewende, is vir dieselfde rede as waarom ons baie ander dinge onderhou, nie omdat die Bybel so sê nie, maar omdat die kerk dit beveel het” (Plain Sermons on the Catechism, vol 1, bll. 334, 336).

Is William reg? Dra die Bybel, die Woord van God, minder gewig as kerktradisie? Watter voorbeeld het Jesus Christus Self gestel? Let op wat die Bybel sê oor Jesus se eie gewoonte aan die begin van Sy bediening. “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees” (Lukas 4:16).

Ja, dit was Jesus se gereelde gewoonte om op die Sabbat te aanbid! Watter dag van die week was dit? Sedert die tyd van Jesus en eeue voor dit, het die Joodse gemeenskap baie noukeurig hulle onderhouding van die sewende-dag Sabbat gedokumenteer as vanaf sononder Vrydag tot sononder Saterdag. Ons weet uit duisende rekords wat noukeurig gehou is, dat die sewe-dag-siklus van die week nie verbreek is nie. Diegene wat vandag op die sewende dag aanbid, aanbid op dieselfde dag as wat Jesus gedoen het!

Vra uself af: Het Jesus Sy voorbeeld gestel om die Sabbat en al die Bybelse voorskrifte te hou, sodat dit nie vir ons nodig sou wees om dit na te volg nie? Dit is skokkend, maar dit is wat baie predikante vandag verkondig! Het Jesus selfs net een keer aan Sy volgelinge gesê om Sy voorbeeld te ignoreer? Nee! Jesus het nie slegs die gebooie onderhou nie, Hy het ander mense beveel om dit ook te doen. Hy sê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Jesus se antwoord dui duidelik daarop dat Hy van die Tien Gebooie gepraat het.

Paulus se voorbeeld

Ons het gesien dat dit Jesus se gewoonte was om die Sabbat te onderhou. Het die apostel Paulus, die “Apostel vir die heidene” die Sabbat onderhou, of het hy ’n voorbeeld gestel wat toon dat nie-Joodse Christene dit nie hoef te doen nie? Onthou, Paulus is opgelei as ’n Fariseër en het die Skrifte baie goed geken. Die tyd toe Paulus in Griekeland, in die stad Thessaloníka was, het hy vir drie agtereenvolgende Sabbatte vir die Jode in die sinagoge gepreek. Let daarop dat dit Paulus se gewoonte was; hy het gereeld op die Sabbat gepreek. “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus” (Handelinge 17:2-3).

Ons sien dus dat Paulus gereeld vir die Jode op die Sabbat gepreek het. Het hy egter ook met die nie-Jode op die Sabbat gepraat? Let op wat hy in die nie-Joodse stad Korinte, in Griekeland gedoen het. “En hy het elke Sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig” (Handelinge 18:4)! Ja, Paulus het vir die heidene op die Sabbat gepreek!

Indien Paulus van die Christene verwag het om ’n Sondagdiens by te woon in die plek van die sewende-dag Sabbat, kon ons van hom verwag het om met Christene, of ten minste nie-Joodse Christene, op die Sondag te praat. Is dit wat die Bybel sê wat hy gedoen het? Kyk na Paulus se voorbeeld in Antiochië, wat die hedendaagse Turkye is. Wat het gebeur met beide Jode en nie-Jode in die sinagoge ná Paulus se gewone Sabbatpreek? “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word” (Handelinge 13:42).

Indien Jesus of die Apostels die voorgeskrewe dag van aanbidding verander het na ’n Sondag, was hier ’n ideale geleentheid vir Paulus om aan die heidene te sê: “Nee, julle hoef nie te wag tot volgende Saterdag nie, ons Christene aanbid nou op ’n Sondag. Kom vergader môre saam met ons”! Hy het dit nie gedoen nie! Wat sê u Bybel? “En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die Woord van God te hoor” (Handelinge 13:44). Paulus het die nie-Joodse Christene op die Sabbat geleer! Hy het ook die nie-Joodse Korinthiërs beveel om sy voorbeeld te volg. Onthou Paulus se opdrag: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1), of: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg” (NV). Ja, Jesus, Paulus en die Apostels het ’n voorbeeld vir alle Christene gestel om die Sabbat te onderhou!

Waarom die verandering?

Aangesien die voorbeeld van Christus en die Apostels duidelik is, mag ons wonder wanneer het die “hoofstroom” kerke dan begin om Sondag in die plek van die sewende-dag Sabbat as ’n dag van rus te hou? Let op: “Tertullianus (202 n.C.) is die eerste skrywer wat uitdruklik die Sondagsrus noem: Ons behoort egter (net soos tradisie ons geleer het) op die dag van die Here se opstanding te waak, nie net teen kniel nie, maar teen elke houding en amp van sorgsaamheid en selfs ons besighede uitstel sodat ons nie enige plek aan die duiwel gee níe” (artikel: “Sunday”, The Catholic Encyclopedia). Dít was nie voor 202 n.C. nie, meer as 170 jaar na die dood, begrafnis en opstanding van die Messias, Jesus Christus!

Later, in die vierde eeu n.C. het die Romeinse keiser Konstantyn Sondagaanbidding dwarsdeur sy Ryk afgedwing. Konstantyn was ’n heidense sonaanbidder. Hy het die volgende edik in 321 n.C. uitgevaardig: “Op die eerbiedwaardige dag van die Son, laat alle landdroste en mense ... rus” (artikel: “Sunday Legislation”, Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge).

Ongehoorsaamheid aan die keiser se opdrag kon vir Sabbatsonderhoudende Christene die dood beteken. ’n Paar jaar later het die Roomse kerk ook ’n ontstellende besluit geneem by die Raad van Laodicea, waarin hulle verklaar: “Christene moenie verjoods deur op die Sabbat te rus nie, maar moet op daardie dag werk en eerder op Sondag rus. Indien enige mense egter gevind word wat verjoods [deur God se Sabbat te hou], laat hulle anatema [vervloek] deur Christus verklaar word” (A History of the Councils of the Church, bl. 316). Christelike Sabbatsonderhouers is toe bestempel as ketters.

Die regering sowel as die kerke het teen die Christelike Sabbatsonderhouers opgetree. Tog het die ware Christenskap van die eerste eeu, wat nooit opgehou het om Christus se voorbeeld te volg deur die vierde gebod te gehoorsaam nie, ten spyte van vervolging deur die eeue heen bly voortbestaan tot vandag toe. Miljoene mense in die Verenigde State van Amerika vergeet vandag dat baie van die eerste Amerikaanse setlaars die Atlantiese Oseaan in die 17de eeu oorgesteek het in hulle soeke na vryheid van godsdiens in die kolonies van Noord-Amerika. Duisende mense het na Rhode Island gestroom om voordeel te trek uit sy koninklike handves wat in 1663 toegestaan is deur Koning Charles II van Engeland en wat godsdiensvryheid in die kolonie gewaarborg het. Tot vandag toe word daardie handves uitgestal in die Providence,Rhode Islandstatehouse.

Sewende-dag Sabbatsonderhouers was onder diegene wat na Rhode Island gegaan het op soek na godsdiensvryheid. Stephen Mumford en sy vrou, wat in 1665 na Newport, Rhode Island gegaan het, is die eerste gedokumenteerde Christelike Sabbatsonderhouers wat hulle in Rhode Island gevestig het. Ander het gevolg en teen 1729 het hulle groep so uitgebrei dat hulle ’n groter vergadersaal benodig het. Daardie saal wat in 1729 gebou is word nog steeds in stand gehou deur die Newport Historiese Vereniging.

Indien u ooit in Newport, Rhode Island kom, kan u dalk daardie historiese gebou besoek. Binne-in die saal is ’n hoë preekstoel. Agter die kansel is twee groot muurplate waarop die Tien Gebooie geskryf is. Aan die onderkant van die tweede plaat is die apostel Paulus se kragtige stelling: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet” (Romeine 3:31). Ja, hierdie Nuwe-Testamentiese Christene bevestig hulle getrouheid aan Christus se stelling: “Maar as jy die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie”. Hierdie Christene het Jesus se leerstellings, wat bepaal dat Sy volgelinge die Tien Gebooie behoort te onderhou en gehoorsaam, reg verstaan!

Sabbatariese kerkrekords wat bewaar word in die Newport Historiese Museum, bevat lede se name en hulle bydraes. Dit is insiggewend dat die kerk homself in daardie rekords beskryf as hulle wat “die gebooie van God, die geloof van Jesus en in die besonder die Here se sewende-dag Sabbat onderhou”.

Sommige sewende-dag Sabbatsonderhouers was vooraanstaande burgers van Rhode Island in die 18de eeu. Twee van die kolonie se goewerneurs – Richard Ward en sy seun Samuel, was sewende-dag Sabbatsonderhouers. Selfs die eerste president van Brown Universiteit, James Manning, was ’n Sabbatariër!

Die Sabbat – voor Moses se tyd?

’n Algemene misverstand wat vandag heers is dat die Sabbatsonderhouding vir die eerste keer as ’n Joodse gebruik by die berg Sinaï ingestel is, toe Moses die kliptafels met die Tien Gebooie ontvang het. Is dit so? Nee! Let op hoe die Bybel “die skeppingsweek” beskryf. Ons lees dat God die man en vrou op die sesde dag geskape het. Wat het daarna op die sewende dag gebeur? “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Genesis 2:1-3).

Ja, die sewende-dag Sabbat is ’n herdenking van die skepping en dit wys na die ware God en ware Skepper van die heelal. Dit het betekenis gehad vanaf die skepping en dit is nog steeds van diepe betekenis vir Christene vandag, wat na die sewende-dag Sabbat kyk as ’n vooruitskouing van Jesus Christus se duisendjarige heerskappy op die aarde tydens die toekomstige Millennium.

Waarop het Jesus aanspraak gemaak met betrekking tot Sy verhouding tot die Sabbat? Het Hy gesê dat Hy Here van die Sondag is, dat Sondag die Here se dag is? Nee! Jesus het gesê: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28). Indien Jesus Here van die Sabbat is, watter dag is die Here se dag? Sondag? Nee! Die Sabbat is die “Dag van die Here” en Jesus het self so gesê! Trouens, die uitdrukking “die Here se dag” kom nie een keer voor in die Ou of Nuwe Afrikaanse Vertalings nie. Openbaring 1:10 praat van die “... dag van die Here”. Daar verwys dit na die profetiese tydperk bekend as die Dag van die Here, wat lei tot die Wederkoms van Christus. Dit verwys nie na ’n dag van die week nie.

Die boek Hebreërs beeld die Sabbat uit as ’n versinnebeelding van die aarde se duisendjarige rus, sowel as ’n herdenking van God se rus tydens die skepping. Ten opsigte van die antieke Israeliete se ongehoorsaamheid op pad na die beloofde land, lees ons: “Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:8-9). Die oorspronklike Griekse woord vir “rus” in vers 9 is sabbatismos, wat “’n Sabbatsonderhouding” beteken (sien Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words). In die Ou sowel as die Nuwe Afrikaanse Vertalings word vers 9 vertaal as “’n sabbatsrus”.

Ja, daar bly dus ’n Sabbatsrus oor vir die volk van God, selfs tot op hierdie dag! Is dit egter bloot ’n simboliese rus, of is dit ’n letterlike Sabbatsrus? Indien u toegang het tot ’n kopie van die Anchor Bible Dictionary, kan u self sien dat die woord sabbatismos in ander kontekste, met inbegrip van wêreldse Griekse geskrifte wat nie afhanklik is van hierdie vers uit Hebreërs nie, duidelik en letterlik “Sabbatsonderhouding” of “Sabbatsviering” beteken. Daar is geen twyfel dat hierdie vers ’n Nuwe-Testamentiese stelling is van ’n letterlike Christelike onderhouding van die Sabbat nie!

Wanneer Christene ophou om hulle werk te doen, soos God opgehou het met Sy werk (Hebreërs 4:10), dan moet ons vra: Hoe het God opgehou met Sy werk? Die Skrif gee ons die antwoord: “Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus” (Hebreërs 4:4). 
Daar is geen onsekerheid hieromtrent nie! Nuwe-Testamentiese Christene is veronderstel om op die sewende dag te rus, net soos God gerus het! Die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament gee aan Christene die duidelike voorbeeld en opdrag om die Sabbatdag heilig te hou! Indien u die Bybel as u gesag beskou, eerder as kerklike tradisie wat daarop aanspraak maak dat dit die Bybel oorheers, het u geen ander keuse nie! Wat is dus u gesag?

 Die Bybel of tradisie?

Wat het veroorsaak dat die Sondagviering in die plek van die sewende-dag Sabbat gekom het? Die bekende Rooms-Katolieke teoloog James Cardinal Gibbons skryf in sy boek,Faith of Our Fathers: “Maar u kan die Bybel van Genesis tot Openbaring lees en u sal nie ’n enkele reël vind wat die heiligmaking van Sondag goedkeur nie. Die Skrif dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af, ’n dag wat ons nooit heilig nie”. Gibbons erken dat indien die Bybel u gesag is, u geen grond het vir die onderhouding van Sondag nie. Hy skryf dat die Skrif “die godsdienstige onderhouding van Saterdag afdwing”. Gibbons erken dat dit die Raad van Laodicea in die vierde eeu n.C. was wat die oorsaak was – nie die bladsye van u Bybel nie – dat die belydende Christelike wêreld verander het van die sewende-dag Sabbat na Sondagonderhouding.

Eweneens skryf die prominente Suidelike Baptistiese prediker Harold Lindsell, ’n voormalige redakteur van die Christianity Today-tydskrif: “Daar is niks in die Skrif wat vereis dat ons eerder Sondag as Saterdag as ’n heilige dag moet hou nie”.

Wat behoort u te doen? U behoort u Bybel te bestudeer en te besluit of u sal lewe van “elke Woord van God” soos Jesus ons vermaan in Mattheüs 4:4 en Lukas 4:4. Jesus het gesê Hy is die Here van die Sabbat. Hy het gereeld die sewende-dag Sabbat onderhou en Hy het nie die Wet oortree nie. Hy sê: “... soos Ek die gebooie van my Vader bewaar” (Johannes 15:10). Sal u die voorbeeld van Jesus Christus en die opdragte van u Bybel volg? Of sal u hulle teenstaan, ten einde die oorlewering van mense na te volg?

Indien u nog enige twyfel het oor watter dag die Christelike Sabbat is, kyk dan wat die Bybel ons leer oor die toekomstige Koninkryk van God, waar Jesus Christus al die nasies op aarde sal regeer. “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here” (Jesaja 66:22-23).

In God se Koninkryk sal almal die sewende-dag Sabbat onderhou. Wat ’n wonderlike wêreld sal dit nie wees nie. Ware Christene, in hulle aanbidding, is vandag besig met ’n versinnebeelding van daardie tyd.