Bloed is ’n veeldoelige werkesel vir die menslike liggaam wat vyf afsonderlike funksies vervul wat lewe moontlik maak.
Ons kan dit nie sien nie, maar ons weet dat dit daar is – onder ons vel. Indien dit nie so was nie, sou ons dood gewees het!
Ons bloed – die ryk, rooi stof van lewe – vloei voortdurend deur ons bloedsomloopstelsel en hou ons lewendig. Hoe doen bloed dit? Waarom is bloed so belangrik en presies wat doen dit vir ons?
Bloed speel veelvuldige rolle om lewe moontlik te maak – een stof wat vernuftig ontwerp is om vele doeleindes te dien. Miskien kan ’n denkbeeldige scenario ons help om dit te verstaan.
Gestel dat ’n jong seun in die somer op die speelgrond ’n korfbal-speletjie saam met ’n paar vriende speel. Nadat ’n spanmaat die bal vir hom gegooi het, hardloop hy tussen verdedigers deur na die doelpaal om ’n doel aan te teken. Op sy pad bots hy teen ’n ander speler en hulle val op die grond. Die ander seuns help hulle twee vriende op en gee elkeen ’n klop op die rug. Voordat hy weer begin speel, merk hy op dat sy elmboog effens bloei, maar nie veel nie. Onbesorg vee hy die bloed af en hardloop haastig terug terwyl hy heeltyd glimlag.
Die jongman besef dit miskien nie, maar die merkwaardige ontwerp van menslike bloed het ’n belangrike rol gespeel om sy spel en sy lewe op ten minste vyf verskillende maniere moontlik te maak – vyf take wat bloed elke dag vir ons móét verrig.
Vervoer en ruil stowwe uit
Bloed dien as die liggaam se vervoerstelsel. Elkeen van die 20 tot 40 biljoen selle ontvang voortdurend suurstof en lewensbelangrike voedingstowwe en sorg dat afvalprodukte verwyder word deurdat bloed deur die uitgebreide, veselagtige netwerk van are, slagare en haarvaatjies vloei wat dwarsdeur die liggaam loop.
Ons korfbalspeler se spierselle word deur die voedingstowwe gevoed wat bloed vanaf die spysverteringstelsel vervoer, asook die hormone wat sy liggaam reguleer en motiveer. Adrenalien om sy hartklop te versnel en sy spiere gereed te kry, proteïene om sy gebeente en weefsels te bou en in stand te hou en brandstof wat verkry is uit die ontbyt wat hy vroeër geëet het en dit word alles sonder ophou na sy honger selle vervoer, terwyl hy homself na die doelpaal voortdryf.
Namate hy meer eise aan sy spiere stel, vereis dit meer suurstof om brandstof te kan verbrand. Sy longe neem lug in en dit is die bloed – spesifiek die hoogs gespesialiseerde selle wat eritrosiete genoem word of meer eenvoudig, rooibloedselle – wat die suurstof vervoer na waar dit benodig word. Hierdie eritrosiete wat in ons beenmurg vervaardig word, lyk soos gladde, simmetriese skywe, met ’n bakvormige inkeping in die middel van albei kante. Anders as ander selle in die liggaam, het eritrosiete geen sentrale kern nie. Dit bevat die proteïen hemoglobien, wat suurstof uit die longe neem en die suurstof aan ander selle voorsien waarmee dit in aanraking kom tydens hulle reis deur die liggaam, terwyl dit deur selfs die kleinste mikroskopiese bloedvaatjies beweeg, sodat geen sel van die suurstof ontneem word wat dit voortdurend benodig nie.
Sodra dit by ’n sel kom, verruil die eritrosiet sy suurstof vir koolstofdioksied, wat die liggaam se selle as ’n afvalproduk lewer en vervoer dit na die longe, wat dit vrystel om uitgeasem te word en wat ’n vars hoeveelheid suurstof aan die selle aflewer vir die volgende rit. Saam met koolstofdioksied vervoer bloed ander afvalprodukte na die lewer en niere, wat daardie afvalstowwe uit die bloed suiwer sodat dit met die reis kan voortgaan en meer stowwe kan vervoer.
Verseël lekkasies, mobiliseer troepe en hou dinge koel
Nog twee sleutelrolle wat ons bloed vervul, het ingeskop die oomblik toe ons belowende jong korfbalspeler sy elmboog beseer het.
Die oomblik toe bloedvate stukkend gebreek het, het bloed sy werk begin doen om die stukkende plek te seël. Strukture in die bloed, soos bloedplaatjies, wat ook trombosiete genoem word, het by die plek begin ophoop waar die bloedvate beseer is. Die bloedplaatjies, wat ook in die beenmurg vervaardig word, reageer op seine van ’n beskadigde bloedvat deur iets soos tentakels uit te stoot, sodat dit aanmekaar kan heg en die opening kan “herstel”. Terwyl hulle dit doen, stuur hulle bykomende seine na die bloed uit om meer bloedplaatjies te voorsien en vorm uiteindelik ’n klont wat die bloed laat stol en die opening verseël, die bloed binnehou en die liggaam die geleentheid gee om te genees.
Die werking van bloedplaatjies word vernuftig deur die liggaam gereguleer. Indien ’n mens se bloed te stadig stol, kan dit nie net tot infeksie lei nie, maar ’n mens kan doodbloei. Indien ’n mens se bloed egter te vinnig of te maklik stol, kan dit gevaarlike klonte veroorsaak wat ander dele van die liggaam kan beskadig of beroerte kan veroorsaak. Menslike bloedstolling is ’n verstommende fyn ingestelde meganisme, wat die noukeurigheid van ’n liefdevolle Skepper en geniale Ontwerper demonstreer!
Ons korfbalspeler is egter nog nie buite gevaar nie. Die oomblik toe hy sy elmboog gesny het, kon organismes buite sy liggaam – soos byvoorbeeld verskillende mikroskopiese bakterieë – sy liggaam binnegedring het, wat moontlik ’n lewensgevaarlike infeksie kan veroorsaak.
Sy bloed is egter reeds aan die werk! Volgende aan die beurt is die witbloedselle of leukosiete, wat hulle daaraan toewy om indringers te vernietig en om ’n mens veilig te hou teen onbeheerbare infeksie. Witbloedselle speel ’n beslissende rol in een van die groot wonderwerke van die skepping: U immuunstelsel wat in meer besonderhede bespreek is in ’n vorige artikel, “Oorlogvoering onder u vel” (Wêreld van Môre 2019). Dit is voldoende om te sê dat u bloed oor ’n mikroskopiese troepemag beskik wat voortdurend op die uitkyk is vir die teenwoordigheid van enigiets wat nie daar hoort nie. Sonder hierdie immer-gemobiliseerde troepemag sou ons lewens kort en pynlik gewees het!
Uiteindelik, wanneer ons belowende korfbalspeler van die grond af opgehelp word, vee hy ’n bietjie sweet van sy voorkop af. Hy kry warm! Hier sien ons weer dat bloed tot ons diens is op ’n manier waaraan ons byna nooit eers dink nie. Waar ons sweet, koel ons vel af. Bloedselle wat hitte vanaf die binnekant van ons liggame vervoer, vloei deur hierdie koeler areas van ons swetende vel – stel hulle hittevoorraad vry en neem koeler temperature terug na die kern van die liggaam en verkoel dit. Op koue dae doen ons bloedsomloopstelsel die teenoorgestelde en voer bloed verder van die vel af weg en help die liggaam om meer van sy hitte te behou.
Deur sy uitgehongerde selle voortdurend te voed en van brandstof te voorsien, gifstowwe en afvalprodukte weg te voer, dadelik enige snye te heel en te verseël, stukkende dele met verdedigende troepe binne te stroom en om die jong korfbalspeler se liggaam teen ’n veilige temperatuur te hou is die bloed van ons jong korfbalspeler hard aan die werk en doen voortdurend alles moontlik om hom in die spel te hou.
Dieper lesse
Ons kon tot nog toe nie alles wat bloed in staat is om vir ons te doen, volledig naboots nie. Die rooi vloeistof wat deur ons are vloei, is ’n wonder van ingenieurswese en ontwerp en niks wat die mensdom kan maak, kan enigsins meeding met hierdie verstommende stof nie.
God sê dat lewe in die bloed is (Levítikus 17:11) – dit is nie verbasend as ons sien hoe noodsaaklik bloed vir ons oorlewing is nie! Nóg belangriker as dit is die geestelike werklikheid wat verwys na Jesus Christus. Terwyl ons eie bloed die kern van ons fisiese lewe is, is dit die gestorte bloed van ons Verlosser wat ons in staat stel om die ewige lewe vas te gryp aangesien Sy bloed ons van ons sondes reinig (1 Johannes 1:7) en die uiteindelike “afval-produk” van ons af wegneem.
Selfs nog baie meer as die vindingryke ontwerp en die verstommende vermoë van bloed om soveel verskillende funksies te verrig, hou dit vir ons dieper lesse in en wys ons ver verby hierdie fisiese lewe na die geestelike en ewige dinge van die Een wat dit geskape het.